Nuuskommentaar: Godsdiens en diaspora kompliseer Siriese ontrafeling

Terwyl berigte nou weer die wêreld ingestuur word oor die Christendom wat die godsdiens is wat die vinnigste ter wêreld toeneem, en selfs dat een uit tien Chinese nou Christene is wat China se ministerie van godsdienssake oor dié snelle toename bekommer, word die Arabiese domino-revolusie nou deur ‘n opkoms van Moslem-politiek gekenmerk. Dit lyk byvoorbeeld of veral twee Moslemgroeperings besig is om die Egiptiese verkiesing te wen.

Dit verdiep egter die Siriese krisis te midde van verskerpte druk vanuit die Arabiese Bond en ander lande soos Turkye. Hoewel Christene in Sirië ‘n kort lootjie onder die sekulêre Assad-bewind getrek het, was hulle dalk effe beter daaraan toe as wat moontlik vir hulle onder ‘n Moslem-bewind voorlê. Word gekyk hoe die Koptiese Christene in Egipte die wind van voor, of liewer, nog meer van voor gekry het sedert die Mubabrack-bewind omvergewerp is, en hoe die lot van Christene in Irak versleg het sedert Saddam se bewind omvergewerp is, kan die Siriese Christene nie verkwalik word nie.

Sirië met sy sowat 23 miljoen inwoners is in verskeie opsigte ‘n heterogene land. Sowat 74 % van die bevolking is Soenies, 13 % is Sjiïete en tien persent in Christene. Dit is hierdie meerderheid Soenies wat deur die opkoms van Moslem-politiek elders geïnspireer word. Onder die Assad-bewind het die Christene, soos ander minderheidsgroepe ‘n paar gewaarborgde setels in die Siriese parlement gehad, al het die betrokke parlement in ‘n diktatorskap min praktiese gevolg gehad.

Om die Siriese kwessie egter slegs hieraan te meet sou op ‘n oorvereenvoudigde ontleding neerkom. Sirië, soos die meeste Midde-Oosterse lande, se grense is die gevolg van grootliks lukrake buitelandse inmenging, en van die lande is in wese kunsmatig geskep. ‘n Groot Indo-Germaanse Midde-Oosterse volk, die Koerde, is byvoorbeeld heeltemal uit ‘n land uitgesny, met min of meer dieselfde wat die Armeniërs en die Assiriërs te beurt geval het. Boonop is die Armeniërs en Assiriërs meestal Christene.

‘n Komplekse faktor is dat die tradisionele woongebiede van hierdie landlose bevolkings grootliks ooreenstem. Die ooreenstemming het verdere verdiep toe die Jong Turke kort na hul bewindsaanvaarding die Armeniërs, Assiriërs en Koerde op Turkse grondgebied aan volksmoorde onderwerp het, en die getalle in buurlande soos Sirië, Irak, Iran en Libanon aangevul het. Die Armeense bevolking in Ciprus het so toegeneem dat dié bevolkingsgroep selfs ‘n gewaarborgde setel in die Grieks-Cipriotiese parlement geniet. Sowat 800 000 inwoners van Sirië word vandag as Assiries beskou, waarvan baie die afstammelinge van vlugtelinge uit Turkye is. Sowat 100 000 is van Armeense herkoms en vorm die meerderheid van die dorp Kesab se inwoners. Twintig jaar gelede was daar nog veel meer Armeniërs in Sirië. Sowat 10 % van die Siriese bevolking is Koerdies, waarvan die meeste afstam van vlugtelinge uit Turkye.

In Iran het ‘n Koerdiese staat met Russiese hulp kortstondig tot stand gekom, en al is dié staat weens ‘n komplekse aantal faktore nie deur die meerderheid Koerde in Iran gesteun nie, het Koerde na die herowering van dié gebied se lot verder versleg. In Irak het Saddam volgens verslae tot chemiese wapens teen die Koerde ingespan, maar hy is vir misdade teen die Sjiïete tereggestel nog voor hy daarvoor verhoor kon word. Sedert die Bush-senior regering ‘n vliegverbod oor Irak se Koerdistan ingestel het, het die Koerde in Irak ‘n groot mate van outonomie geniet, wat in die post-Saddam-era voortgesit is.

In Sirië is die Koerde se lot nog bedenklik. En al is die Siriese Koerde oorwegende Moslem, is hulle nie so entoesiasties oor die Siriese opstand soos wat verwag sou word nie. Veral onder Assad se pa se bewind het hulle telkemale swaar gely en duisende is om die lewe gebring. Na die Siriese opstand begin het, het die jonger Assad egter ‘n poging aangewend om die Koerde te pasifiseer en bv burgerskap aan talle toegestaan.

Om die minderhede se betreklike watertrappery te verstaan, moet ‘n mens egter ook na die posisie van die Assad-dinanstie self verstaan. Die familie wat die regering so oorheers, kom self uit ‘n minderheid, die Alawiete. Gewoonlik word die Alawiete as ‘n sekte van die Sjiïete beskryf, maar dis ingewikkelder. Die Sjiïete en die Soenies neig om die Alawiete nie as Moslems te beskou nie.

Op die uitsondering van Irak na, het al die Arabiese lande egter Soenie-meerderhede en in wese word die Soenies in Sirië deur die Alawiete onderdruk. Die Sjiïete in Irak het egter ook nie veel ooghare vir die Alawiete nie, en boonop is die nie Alawitiese Sjiïete in Sirië waarskynlik nog slegter af as die Soenies.

Die Assads het die taktiek gevolg wat dikwels deur diktators gevolg word: Alawiete is in die beheerposte in die gewapende magte geplaas, terwyl Soenies oorwegend in senior poste in ander staatsdepartemente aangestel is. Hul stamhoofde se lojaliteit is verder gekoop deur hulle te laat deel in die opbrengste van die korrupsie wat in wese aangehelp is om dié omkopery te finansier, en in hierdie tradisie is demokrasie haas onbekend. Op die jongste korrupsie-persepsie-indeks kry Sirië 2,6 uit tien, wat beteken dat dit aansienlik meer korrup as Suid-Afrika is.
Die owerhede doen ook hul bes om ‘n sekere weergawe van die werklikheid aan die Siriese bevolking voor te hou. Op die persvryheidsindeks beklee Sirië die 173de posisie uit 178.

‘n Faktor wat dikwels uit die oog verloor word, is die invloed van diaspora. Deurdat Turkye die Arabiese Bond se voorbeeld gevolg het deur sanksies teen Sirië in te stel, is byna verseker dat die Koerde, Assiriërs en Armeniërs se sentimente hoogs verdeeld sou wees. Die eeu-herdenking van die volksmoorde aan die hand van die Turke lê voor die deur, en Turkye se halsstarrige ontkenning dat die volksmoorde plaasgevind het, help nie om gemoedere te kalmeer nie.

Boonop het die Alawiete ook erg onder die Ottomaanse bewind gely, en is die Alawiete godsdienstig verwant aan nog ‘n Moslemsekte wat in Turkye sterk onder die duim gehou word. ‘n Interessante verskynsel van diaspora is dat diegene in diaspora dikwels meer radikaal is as diegene wat na die volksmoord in die land van herkoms gebly het. Ierse immigrante in die VSA of afstammelinge van Iere was byvoorbeeld die grootste geld- en wapenvoorsieners aan die Ierse Republikeinse Leër wat ‘n terreurveldtog in Noord-Ierland gevoer het. Die einste IRL was in die Ierse Republiek self ‘n verbode organisasie. Na die Sri Lankaanse weermag die opstand van die Tamil-tiere militêr onderdruk het, het Tamils in diaspora voortgegaan om, dikwels op Mafia-agtige wyse, steeds geld vir die herlewing van hierdie terreurveldtog in te samel. Al-Sabaab is grootliks deur Somaliërs in diaspora gefinansier. Die Armeense terreurgroep, ASALA is feitlik uitsluitlik deur Armeniërs in diaspora gefinansier en gedryf.

Nie dat die groepe in diaspora eensgesind is nie. Toe ‘n Koerdiese leier in Sirië vermoor is, het die Koerde in diaspora nie gevra of hy in ooreenstemming met hul sentimente leierskap openbaar het nie. In werklikheid was hy bekende dissident-denker van Koerdiese sentimente, en dis hoogs onwaarskynlik dat die Assad-bewind van hom ontslae sou wou raak. Tog het Koerde op groot skaal in Wes-Europa Siriese diplomatieke sendings bestorm en selfs ‘n paar kortstondig beset. Moontlik was die oproer bloot ‘n inoefening om mobilisasie te toets wanneer die eeufeesherdinking van die volksmoorde oor enkele jare begin. Na raming is daar in Duitsland alleen ‘n halfmiljoen Koerde in diaspora, waarvan die meeste waarskynlik hul bes probeer om behoorlik in hul nuwe tuisland te integreer.

Die Iers-Amerikaanse voorbeeld toon egter dat dit geen waarborg bied dat daar nie ‘n sentiment gebaseer op romantiek oorbly nie, en dat dit dikwels gevaarlike naïewe gevolge oplewer. Assad is ‘n meester om hierdie situasie uit te buit, en sy dinastie se lewensduur te verleng. Intussen het na raming meer as vierduisend mense in die opstande omgekom. So verskriklik soos dit mag klink, is dit nog onbeduidend teen die uitwissingsgetalle waarvoor Assad se pa gereeld gesorg het.

Met groot getalle migrante uit Afrika en elders wat op Suid-Afrika toesak, en groot getalle veral Afrikaners wat in die buiteland gaan woon, sal die owerhede hier stellig ‘n oog op die verskynsel en manifestasie werp.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae