Nuuskommentaar: Godsdiens in skole en die laaste loopgraaf – die hof (tensy die hof geminag word)

hof-hamer

Argieffoto.

Een indruk voortspruitend uit die uitspraak van die Johannesburgse hooggeregshof in die sogenaamde skole-godsdienssaak, is dat die verskillende partye deels mekaar misverstaan het. Albei partye is voorlopig tevrede met die uitspraak, hoewel die uitspraak eers volledig bestudeer moet word.

Die uitspraak is die jongste waar die howe moes ingryp om ’n kwessie te besleg wat eintlik in die domein van diegene val wat verkies is om sekere funksies te verrig, waaronder skole se beheerliggame. Die doel is egter nie hier om in detail oor die uitspraak kommentaar te lewer nie – dit sal ’n rukkie neem om ’n komplekse uitspraak (wat die ACDP tevrede gestel het) behoorlik te ontleed.

Suid-Afrikaners moet gereeld hoor dat ’n minister, of selfs die president, Suid-Afrika se howe daarvan beskuldig dat hulle hul magte “overreach”. Die howe is al daarvan beskuldig dat dit die DA se “regsafdeling” is.

In ’n grondwetlike demokrasie is dit amper vanselfsprekend dat diegene wat oor die impak van die howe kla (wat self ingeboude brieke het) ’n behoefte het om buite die grondwetlike spelreëls te speel.

Soms, waar beginsel- en geloofsoortuigings ’n rol speel, is die afbakening van regte ’n ingewikkelde saak. Normaalweg is dit min of meer duidelik waar ’n reg begrens word, byvoorbeeld ’n rower se reg om ’n loopbaan te voer, word onder meer beperk deur ander se regte op hul lewe en eiendom. Wanneer die rower gevang word en in die tronk beland, word sy reg op bewegingsvryheid ernstig ingekort.

Maar sou ’n sakeonderneming weier om ’n troukoek te bak vir ’n gay-paartjie se troue, is dit baie ingewikkelder om die grens te bepaal. In die VSA het die hoogste hof nou toestemming om tot die hof te appelleer verleen aan ’n voorstedelike bakker van Denver wat weens godsdienstige oortuigings geweier het om ’n troukoek vir ‘n gay-paartjie te bak. Hy is weens diskriminasie vervolg.

’n Onlangse peiling toon dat 57% van die Amerikaanse kiesers meen die bakker behoort die reg te hê om op grond van godsdienstige redes die bak van die troukoek te weier. Daarteenoor glo 29% die bakker moet vervolg word.

Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het daarop gewys dat die skole-uitspraak hier nie in pas met die Amerikaanse model is nie. In die VSA is godsdiensvryheid lank vertolk as ’n posisie van “geen godsdiens” in die openbare sektor, soos by skole, munisipale rade en uiteraard die howe self. (Wie sal die geval van die regter met die beeld van die Tien Gebooie vergeet?)

Omdat ateïstiese groepe ’n behoorlike vendetta teen “oortreders” begin volg het, het die besef mettertyd posgevat: Al partye wat nou eintlik godsdiensvryheid geniet, is die sekulêre en ateïstiese groepe. Christelike organisasies het begin terugkap en veld in die howe gewen. Ongelukkig het van dié organisasies ’n sterk fundamentalistiese uitgangspunt, en is in die proses skade aangerig.

Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), het die uitspraak verwelkom en die strydbyl opgeneem om elke openbare skool wat uitsluitlik Christelik is, aan te durf.

Maar was daar wenners en verloorders in hierdie saak? Na berig word, het Solidariteit en Fedsas, albei van die vernaamste rolspelers, aangedui dat hulle tevrede met die uitspraak is. En hulle het téén Ogod te staan gekom.

Skole mag steeds ’n Christelike karakter hê, maar daar mag nie teen ander gelowe en diegene met geen godsdiens gediskrimineer word nie. Bywoning van godsdienstige geleenthede is ook vrywillig. Dit is inderdaad ligjare verwyder van die skolepraktyk in die VSA waar geen teken van godsdiens toelaatbaar is nie.

Maar hoekom was ’n hofsaak dan “nodig”? Pietersen het teenoor Maroela Media gesê sekere koerante het in hul beriggewing ’n totale vals beeld geskep oor wat Ogod nou eintlik bepleit het. Was dit dan ’n kwessie van grootliks misverstande?

Die onttrekking van SAOU aan die saak nadat hul verweer hersien is, wek inderdaad die indruk dat die standpunte nie so uiteenlopend is nie.

En dan, natuurlik, wat is ’n Christen? Mense wat hulself Christene noem, neem soms selfs binne kerkverband standpunte oor sake in wat radikaal van mekaar verskil. Dit word soms deur die uiterste onverdraagsaamheid teenoor mekaar gekenmerk.

Dit is, kortom, heel moontlik dat sommige Christene hoogs tevrede met gister se uitspraak sal wees, en ander weer hoogs ontevrede en selfs sal aandring op appèl.

Intussen is die belangrikheid van burgerlike instellings om sake ook op die juridiese front te dryf, behoorlik onderstreep. Geen individu kan hom in ’n saak soos hierdie begeef nie.

Die uitspraak het saamgeval met Outa se bekendmaking van ’n verslag wat opgestel is om pres. Jacob Zuma se betrokkenheid by onder meer staatskaping te bewys. Outa beskryf die bewyse in die dokumente as “onweerlegbaar”, en bedoel daarmee waarskynlik dat dit bewyse bevat wat bo redelike twyfel in ’n hof sal kan bly staan. Outa het, interessant genoeg, die hoop uitgespreek dat die saak nou deur opposisiepartye gedryf sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

al ·

Christene sal altyd van mekaar verskil. Christenskap kan saamgevat en verenig word onder die 10 Gebooie en Onse Vader.
Ek het net een antwoord vir zums en sy maatjies en dis PS 37:8. Moet nie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie, dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hul vertroue in Here stel, sal in besit bly van die land.
13: Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hul dag kom.

Marcel ·

Vandag sit baie van die sogenaamde goddelose in die kerkbanke Sondag vir Sondag. Christene stel nie meer die voorbeeld van hoe Jesus Christus verwag die mens moet leef nie. En die skelms is te vinde, en baie van hulle in die sogenaamde ” Christelike ” gemeenskap. Ek is al male sonder tal ingedoen deur Christene wat ook skelms is. So ek word nie kwaad nie. Karma word mos uitgespreek ha ha ha. Of in die Afrikaanse taal of tradisie sê hulle mos ” Die wiel draai .”

Marcel ·

Ja nou moet die Gay mense ingesleep word by die artikel, vreemd sou ek sê, nou ja dis my eie persoonlike opinie. Christene leef lankal nie meer soos die Bybel voorstel hoe ‘n Christen moet leef nie. In elkgeval laat die een wat nie sondig nie die eerste klip gooi, of hoe? Ek is ten gunste van die uitspraak. Die land se verlede het ‘n klad geplaas op die kerke, en sogenaamde ” kerkmense ” en die Christelike geloof. Haal die balk uit jou eie oog voor jy die splinter in ‘n ander se oog raak sien sou ek dink.

Frikkie ·

Sovêr ek onthou is die kerk gebou reeds vir siek mense Marcel, jy gaan altyd mense kry wat nie voorbeeld is nie , maar sê nie almal is so nie.

Leendert ·

Dit is mos nou net reg dat almal oor dieselfde kam geskeer word. Maar Ogod het in die hofsaak juis ook ‘n interdik teen 6 ‘christelike’ skole probeer verkry, wat nie deur die regter toegestaan is nie, en nou is die handskoene éérs af.

Dankie vir ‘n nugtere artikel Herman.

Amen.

Jakobus ·

Die atiëste beduie in hul kommentare onderaan vorige skrywes, dat dit ‘n oorwinning vir Ogod is, maar dan spoeg hulle vuur, as mens die regte vertolking aan die uitspraak gee, baie aanvallend.

MCH ·

Née maar dis reg so. Mnr. Hans Pietersen het volgens die artikel nou die strydbyl opgeneem om elke skool wat uitsluitlik Christelik is aan te durf. Wat dit ookal mag beteken.Ek bid dan maar dat hy die Damaskus pad sal loop op pad na die skole.

Bloues ·

Daar is so baie verskillende “faksies” in Christenskap dat ek liewer nie wil hê ander mense moet ‘n leiding neem in my kind se Christelikke opvoeding nie. Sekere Christene het sienings en waardes wat grens aan laster teen God.

Francois ·

Ek het nie n probleem dat daar godsdiensvryheid in skole moet wees en dat elke kind self moet besluit of hy n christelike byeenkoms wil bywoon of nie.
My probleem is hoekom hierdie Hans Pietersen net Afrikaanse skole aanvat en teiken en die persepsie laat dat net Afrikaanse skole die skuldiges is. Hoekom klim hy nie bietjie in sy kar en ry townshipskole toe nie. Ek het vir 20 jaar in townshipskole gewerk as ” inspekteur” wat betrokke was by die opleiding van beheerliggame en bestuurspanne van skole. Daai skole het gereeld christelike byeenkomste waarin hulle die Here loof en prys met sang en skriflesing uit die Bybel. Ten minstec2 x per week. In daardie township is 30 skole. En ALMAL doen dit. En so is dit in AL die skole in townships. Glo my. Nou wat is rerig jou agenda Hans Pietersen???

Johann ·

Vra dit ook vir die rektor van Maties: “Wat is jou agenda, Prof Wim de Villirs?” En as jy twee en twee bymekaar sit, kry jy die Afrikaner en sy Taal.

Gert Genade ·

Ek het jare gelede saam met Hans gewerk. Eintlik ‘n aangename karakter. Maar soos baie Afrikaners heeltemal afgesit deur die Broederbondbeheerde, algemeen aanvaarbare godsdiens en politiek en nou moet alles Afrikaans omgegooi word.
Ek het darem ook geleer mens hoef nie die baba saam met die badwater uit te gooi nie, dus is ek ‘n oortuigde Christen, alhoewel ek nie my geloof binne een van die hoofstroomkerke (hetsy tradisioneel Calvinisties of nuwerwets charismaties) beoefen nie.

gatiep ·

Weet nie hoekom dit in hof moet gedoen word nie.
Die ouers wil dit het of nie?
As meeste ouers se ja dan moet dit toegelaat word die res moet dan maar hulle kinders uithaal as hulle ontevrede is

Daan Malan ·

Ek wil ook n klip in die bos gooi en vra of dit regverdig is dat n christen teologiese fakulteit op n universiteit bedryf word. Universiteite ontvang n subsidie van die staat (belastinggeld). Dus dra ek as nie-christen geldelik by tot die christendom. Moet die verskillende kerke nie hulle eie kampusse tot standbring nie! Of kry ander gelowe se opleidingsentrums ook n subsidie van die staat?

Leendert ·

Dit is juis die pad wat toenemend vorentoe geloop sal word, privaat instansies. Dankie Solidarteit vir jul visie en insig met al jul vertakkinge, vir Afrikaans met ‘n Christelike inslag.

Dawie ·

Stem saam Daan, hoekom moet ons belastinbetalers geld gemors word op grade in fabelkunde? En dan kry jy nog doktore ook daarin.

Len ·

Daan Malan – Teologie is n vakgebied net soos enige ander vakgebied. Jy studeer daarin en ontvang n graad. Ek bestempel n graad in Kuns persoonlik as n mors van geld, maar die volgende ou dink nie so nie. As elke vakgebied n afsonderlike instansie moet he, dan gaan ons honderde/duisende universiteite moet by kry om track te hou by jou stand-punt.

Gert Genade ·

Daan, die slegte nuus wat ek vir jou het, is dat ‘n klein deel van die koopprys wat jy betaal het vir nagenoeg elke kruideniersitem in jou spens of yskas, oorbetaal is aan een of ander godsdienstige organisasie, wat sertifiseer dat die produk nie hulle godsdiens se dieetwette oortree nie. Die lede van hierdie godsdienste maak ‘n klein deel van die totale bevolking van die land uit – jy en die meerderheid verbruikers wat die produk koop, subsidieer dus daardie minderheid. (Klink na ‘n winsgewende besigheid om so ‘n akkreditasieowerheid te wees…) Dit sou dus mos eintlik meer regverdig wees as daardie godsdienstige gemeenskappe hulle eie amptenare bevonds, wat dan hulle sertifiseringsdienste gratis aan die vervaardigers behoort aan te bied.
Aan die ander kant het ek agtergekom as mens alle produkte vermy met sulke godsdienstige merke op, jy inderwaarheid heelwat gesonder kan eet. Varsprodukte word oor die algemeen nie gemerk nie, en organiese vleis/suiwelprodukte word gewoonlik deur klein onafhanklike boerderye geproduseer, wat nie belangstel in die akkreditasie nie – mens moet dit maar net direk by die boer koop.

Frikkie ·

Ons moet bly opstaan vir Christenskap al is baie nie opreg nie, is ons plig as Christen. Pres Trump is nie so opreg nie maar hy staan op vir Christenskap, dit is wat tel.

vrikie ·

Aan die beswaardes skryf julle kinders by ‘n CVO skool in, behalwe vir Christelike onderwys kry hulle ook ‘n goeie dosis dissipline daarby, net soos in die goeie ou dae

Johan Neuteman ·

Dit sal nou gesien moet word hoe ernstig mense werklik oor Christenskap in skoolverband is.

Robbie ·

Ek weet dat die kommentaar wat hier gelewer word, nooit by die regte mense uitkom nie, maar ek dink tog daar moet gelewer word.
Ons vra geduurig hoekom dit so sleg in ons land en dan ook in die wereld gaan, maar dit is heel duidelik dat sogenaamde Human rights hoor geag word as die reg van Christus. Verder moet ons besef dat as jy nie in Christus glo nie, jy ook nie in God glo nie, want dit is een en dieselfde wese. Ons moet net besef dat dinge net al hoe erger gaan word. Die probleme wat ons nou in die wereld ervaar is maar net ‘n druppel in die emmer. Dit is dan ook vreemd hoe ‘n hof( Skepsel) uitspraak oor die Skepper kan lewer.

André Groenewald ·

“Onttrekking van Sadou aan die hofsaak”? Bedoel die skrywer die SAOU? Terloops: Die SAOU speel ‘n onontbeerlike rol in die onderwys – veral in die Afrikaansmediumonderwys. Iemand wat die SAOU probeer leed aandoen, doen die onderwys groot skade aan. Soos wat jy moet seker maak wie Sadou is en wie die SAOU is, moet jy jou vergewis van al die feite voor jy jou waag aan ongegronde en skadelike uitsprake.

Landi Slatter ·

Dagsê André

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.