Nuuskommentaar: Godsdiens in skole en die laaste loopgraaf – die hof (tensy die hof geminag word)

hof-hamer

Argieffoto.

Een indruk voortspruitend uit die uitspraak van die Johannesburgse hooggeregshof in die sogenaamde skole-godsdienssaak, is dat die verskillende partye deels mekaar misverstaan het. Albei partye is voorlopig tevrede met die uitspraak, hoewel die uitspraak eers volledig bestudeer moet word.

Die uitspraak is die jongste waar die howe moes ingryp om ’n kwessie te besleg wat eintlik in die domein van diegene val wat verkies is om sekere funksies te verrig, waaronder skole se beheerliggame. Die doel is egter nie hier om in detail oor die uitspraak kommentaar te lewer nie – dit sal ’n rukkie neem om ’n komplekse uitspraak (wat die ACDP tevrede gestel het) behoorlik te ontleed.

Suid-Afrikaners moet gereeld hoor dat ’n minister, of selfs die president, Suid-Afrika se howe daarvan beskuldig dat hulle hul magte “overreach”. Die howe is al daarvan beskuldig dat dit die DA se “regsafdeling” is.

In ’n grondwetlike demokrasie is dit amper vanselfsprekend dat diegene wat oor die impak van die howe kla (wat self ingeboude brieke het) ’n behoefte het om buite die grondwetlike spelreëls te speel.

Soms, waar beginsel- en geloofsoortuigings ’n rol speel, is die afbakening van regte ’n ingewikkelde saak. Normaalweg is dit min of meer duidelik waar ’n reg begrens word, byvoorbeeld ’n rower se reg om ’n loopbaan te voer, word onder meer beperk deur ander se regte op hul lewe en eiendom. Wanneer die rower gevang word en in die tronk beland, word sy reg op bewegingsvryheid ernstig ingekort.

Maar sou ’n sakeonderneming weier om ’n troukoek te bak vir ’n gay-paartjie se troue, is dit baie ingewikkelder om die grens te bepaal. In die VSA het die hoogste hof nou toestemming om tot die hof te appelleer verleen aan ’n voorstedelike bakker van Denver wat weens godsdienstige oortuigings geweier het om ’n troukoek vir ‘n gay-paartjie te bak. Hy is weens diskriminasie vervolg.

’n Onlangse peiling toon dat 57% van die Amerikaanse kiesers meen die bakker behoort die reg te hê om op grond van godsdienstige redes die bak van die troukoek te weier. Daarteenoor glo 29% die bakker moet vervolg word.

Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het daarop gewys dat die skole-uitspraak hier nie in pas met die Amerikaanse model is nie. In die VSA is godsdiensvryheid lank vertolk as ’n posisie van “geen godsdiens” in die openbare sektor, soos by skole, munisipale rade en uiteraard die howe self. (Wie sal die geval van die regter met die beeld van die Tien Gebooie vergeet?)

Omdat ateïstiese groepe ’n behoorlike vendetta teen “oortreders” begin volg het, het die besef mettertyd posgevat: Al partye wat nou eintlik godsdiensvryheid geniet, is die sekulêre en ateïstiese groepe. Christelike organisasies het begin terugkap en veld in die howe gewen. Ongelukkig het van dié organisasies ’n sterk fundamentalistiese uitgangspunt, en is in die proses skade aangerig.

Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), het die uitspraak verwelkom en die strydbyl opgeneem om elke openbare skool wat uitsluitlik Christelik is, aan te durf.

Maar was daar wenners en verloorders in hierdie saak? Na berig word, het Solidariteit en Fedsas, albei van die vernaamste rolspelers, aangedui dat hulle tevrede met die uitspraak is. En hulle het téén Ogod te staan gekom.

Skole mag steeds ’n Christelike karakter hê, maar daar mag nie teen ander gelowe en diegene met geen godsdiens gediskrimineer word nie. Bywoning van godsdienstige geleenthede is ook vrywillig. Dit is inderdaad ligjare verwyder van die skolepraktyk in die VSA waar geen teken van godsdiens toelaatbaar is nie.

Maar hoekom was ’n hofsaak dan “nodig”? Pietersen het teenoor Maroela Media gesê sekere koerante het in hul beriggewing ’n totale vals beeld geskep oor wat Ogod nou eintlik bepleit het. Was dit dan ’n kwessie van grootliks misverstande?

Die onttrekking van SAOU aan die saak nadat hul verweer hersien is, wek inderdaad die indruk dat die standpunte nie so uiteenlopend is nie.

En dan, natuurlik, wat is ’n Christen? Mense wat hulself Christene noem, neem soms selfs binne kerkverband standpunte oor sake in wat radikaal van mekaar verskil. Dit word soms deur die uiterste onverdraagsaamheid teenoor mekaar gekenmerk.

Dit is, kortom, heel moontlik dat sommige Christene hoogs tevrede met gister se uitspraak sal wees, en ander weer hoogs ontevrede en selfs sal aandring op appèl.

Intussen is die belangrikheid van burgerlike instellings om sake ook op die juridiese front te dryf, behoorlik onderstreep. Geen individu kan hom in ’n saak soos hierdie begeef nie.

Die uitspraak het saamgeval met Outa se bekendmaking van ’n verslag wat opgestel is om pres. Jacob Zuma se betrokkenheid by onder meer staatskaping te bewys. Outa beskryf die bewyse in die dokumente as “onweerlegbaar”, en bedoel daarmee waarskynlik dat dit bewyse bevat wat bo redelike twyfel in ’n hof sal kan bly staan. Outa het, interessant genoeg, die hoop uitgespreek dat die saak nou deur opposisiepartye gedryf sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
al

Christene sal altyd van mekaar verskil. Christenskap kan saamgevat en verenig word onder die 10 Gebooie en Onse Vader.
Ek het net een antwoord vir zums en sy maatjies en dis PS 37:8. Moet nie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie, dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hul vertroue in Here stel, sal in besit bly van die land.
13: Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hul dag kom.

Marcel

Ja nou moet die Gay mense ingesleep word by die artikel, vreemd sou ek sê, nou ja dis my eie persoonlike opinie. Christene leef lankal nie meer soos die Bybel voorstel hoe ‘n Christen moet leef nie. In elkgeval laat die een wat nie sondig nie die eerste klip gooi, of hoe? Ek is ten gunste van die uitspraak. Die land se verlede het ‘n klad geplaas op die kerke, en sogenaamde ” kerkmense ” en die Christelike geloof. Haal die balk uit jou eie oog voor jy die splinter in ‘n ander se oog raak sien sou ek dink.

Leendert

Dit is mos nou net reg dat almal oor dieselfde kam geskeer word. Maar Ogod het in die hofsaak juis ook ‘n interdik teen 6 ‘christelike’ skole probeer verkry, wat nie deur die regter toegestaan is nie, en nou is die handskoene éérs af.

Dankie vir ‘n nugtere artikel Herman.

Amen.

Jakobus

Die atiëste beduie in hul kommentare onderaan vorige skrywes, dat dit ‘n oorwinning vir Ogod is, maar dan spoeg hulle vuur, as mens die regte vertolking aan die uitspraak gee, baie aanvallend.

MCH

Née maar dis reg so. Mnr. Hans Pietersen het volgens die artikel nou die strydbyl opgeneem om elke skool wat uitsluitlik Christelik is aan te durf. Wat dit ookal mag beteken.Ek bid dan maar dat hy die Damaskus pad sal loop op pad na die skole.