Nuuskommentaar: Godsdiens, sport, terreur en politiek

anc-vlagGodsdienspolitiek

Iewers, waarskynlik in die ANC se “godsdienslessenaar”, het iemand geoordeel die ANC kan stemme werf deur die godsdienskaart te speel.  Die gevolg is die een lomp, en selfs godslasterlike uitlating na die ander deur ANC-leiers wat al telkemale die weerlig van kerke en Christene getrek het. Die jongste voorbeeld is die ANC se adjunk-president, Cyril Ramaphosa, wat kiesers probeer oortuig het God en die voorvaders wil hê mense moet vir die ANC stem.

Die lompheid is stellig te wagte van ‘n party wat in alliansie met die kommuniste is, en wat reeds ‘n string wetgewing deurgevoer het wat eenvoudig Christelike waardes vertrap het. Die lys is al oorbekend – aborsies op aanvraag so ook die wettiging van dobbel…

Boonop het die ANC sy eie kortstondige eie voorneme om kaders uit sirkulasie te haal wat vir korrupsie en ander misdade teregstaan gou nek omgedraai deur te verklaar hulle moet eers skuldig bevind word. Die toepassing sou in hierdie stadium al minstens drie LUR’e geraak het.

Hoe verskil dit wat die ANC doen van die aanslag van partye met ‘n godsdienstige inslag, soos byvoorbeeld partye uit die dampkring van Christelik-volkseie, Christen-demokrasie, en voorheen Christelik-nasionaal?

Die eenvoudige antwoord is dat die Christen ‘n werktuig van God is, en nie sal droom om God as die mens se werktuig in te span nie.

Die werklike Christen-politikus sal daarom nooit droom om namens God te besluit wat God se wil is nie. Daar is wel ‘n deurlopende soeke na die wil van God, met die Bybel as rigtingaanduider.

Dit impliseer ook dat daar ‘n gehoorsaamheid aan God sal wees – en dat daar dus rug styfgemaak sal word teen owerheidsaksies wat duidelik verkeerd is. Die kerke se sterk teenkanting teen die destydse regering se bonusobligasies was ‘n duidelike voorbeeld.

So ‘n party sal ook nie bloot sy vergaderings met gebed open, en wanneer dié “hekkie” oorkom is, die Here saam met die predikant wat die opening behartig het, verskoon en dan voortgaan om rasioneel-sekulêre besluite te neem wat in stryd met die Christelike leer is nie. Die wese van Christenskap is dat die Here die hart bewoon, en so elke Christen se hele lewe rig.

Natuurlik is dit nie so eenvoudig nie. Daar is verskillende vertolkings, en kerke skeur gereeld. Meng nou ‘n kwota politiek in…

Sportpolitiek

Sportpolitiek is deurlopend in Suid-Afrika aanwesig en die woord “kwotas” duik onder meer gereeld op. Pas het die minister van sport ‘n striemende aanval op Bafana Bafana gedoen na die span uit die Afrika-bekertoernooi geboender is. Suid-Afrika se sokkerspelers is nie al wat die weerlig van hul regerings getrek het nie. Na die Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika was Fifa besig om Nigerië te skors omdat daardie land se regering uit woede die span ‘n ruk lank internasionale deelname wou ontsê. Fifa duld geen regeringsinmenging in sokker nie, en Kenia, Griekeland en Iran tel onder die lande wat al geskors is tot hul regerings die knie voor Fifa moes buig. Selfs Brasilië, wat vanjaar se toernooi aanbied, is al byna geskors maar daar het die regering betyds sy Fifa-knieval gaan doen.

Fifa het ‘n bietjie van ‘n geskiedenis dat dit Suid-Afrika effens anders hanteer, maar dit sal waarskynlik net die regering verbaas as Fifa dié keer sy stem dik maak en Suid-Afrika voor ‘n ultimatum stel – dat die minister se uitbarsting die grens oorgesteek het.

Dit is ook goed bekend dat die regering ongelukkig is omdat daar nie op die oomblik ‘n “etniese swart speler”,‘n African African, in die Proteas se toetsspan is nie. Dat dit niks met diskriminasie te make het nie (daar is immers ‘n “African African” in die eendagspan en verskeie swart spelers het al toetskrieket gespeel) is duidelik, maar dit gaan daaroor dat ‘n Suid-Afrikaanse span as “vreemd” ervaar word as daar nie etniese swart spelers in is nie.

Met sokker kan die raskwessie beswaarlik die blaam kry. Trouens, baie mense glo die span sou in die wêreldbekertoernooi beter gevaar het as die hardwerkende, gedissiplineerde hemelbesem, Matthew Booth ʼn speelbeurt sou kry, eerder as om deurlopend te sorg dat nie ‘n enkele witte op die veld sou wees nie. Die potensiaal om beter te doen is stellig daar, want Suid-Afrika het kort na die einde van die isolasiejare, toe daar nog internasionale roes aanwesig moes wees, wel die Afrikabeker gewen. Iets anders verklaar die kreeftegang.

‘n Beskuldiging wat gereeld na Bafana Bafana geslinger word, is dat die spelers wanneer hulle die boonste sport bereik, in regte prima donnas ontpop en dat hul haarkapsels (al is dit rastalokke) belangriker word as moeite om hard te speel. En natuurlik dat geld te belangrik word en dat sportmanskap in die slag bly. Meng nou ‘n kwota politiek in…

Terreur

Een van die mees emosionele dinge wat die huidige regering gedoen het, was om die e-tol teen wil en dank deur te voer. Die stryd hieroor is nog lank nie beslis nie, en dat die kwessie volgens aanduiding in die media ‘n hele dosis chaos oplewer help ook nie dat die kwessie wil gaan lê nie.

Pas is die stelsel ontwrig toe die hoofkantoor ‘n pakkie met ‘n wit poeier ontvang het. Volgens berigte is reeds bevind dat dit nie antraks was nie, maar veiligheid moes in ieder geval eerste gestel word. Die optrede pas perfek in die definisie van terreur.

Waar daar ‘n terreurprobleem is, is daar byna altyd ook ‘n akademiese (en politieke) oefening om hare te kloof: “Wat was eerste – die hoender of die eier?” Is die terreur die gevolg van staatsterreur, of is die staatsterreur die gevolg van terreur?

Die antwoord hang gewoonlik af van wie se kant ‘n mens vat. Lê die persoon se simpatie by die saak van die terroris, sal selfs die geringste daad van aggressie deur die owerheid, soos ‘n dreigement, as staatsterreur beskou word en die optrede van die terroriste “regverdig.” Dikwels tot ‘n vriend of familielid self die slagoffer van die lukrake teikenseleksie van die terroris word.

Is ‘n mens ‘n ondersteuner van die regerende party is, word die blinde oog dikwels gewerp op die regeringsoptrede, en waar vergrype plaasvind, word dit dikwels ontken. So is

daar vandag nog mense wat ontken dat die Nazi’s talle Jode om die lewe gebring het.

Selfs al sou die pakkie wat Sanral ontvang het, heeltemal onskadelik wees, kan die optrede nie goedgepraat word nie. Sou dit egter blyk dat van die redes waarom die VF Plus Sanral by die Verbruikerskommissie verkla geldig is, is dit ongelukkig ook so dat Sanral die grense van staatsterreur toets.

Indien die TLU SA se aansprake dat talle mense in Suid-Afrika weens vrot water sterf juis sou wees, word die grense van staatsterreur ewe-eens getoets.

Maar dit kan nie as regverdiging dien om self tot terreur oor te gaan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae