Nuuskommentaar: Goedkoop politiek in die afwesigheid van sukses  

Maxine Waters. (Foto: CHANDAN KHANNA/AFP)

Maxine Waters, Demokratiese kongresverteenwoordiger van Kalifornië in die VSA, het haar die naweek uitgelaat oor die hofsaak waarin die polisieman Derek Chauvin tereg staan vir die moord op George Floyd.

Waters het Saterdag gesê dat aktiviste meer konfronterend in die strate moet word indien Chauvin nie skuldig aan moord bevind word nie – hulle moet seker maak dat mense weet hulle is ernstig hieroor.

Die eerste belangrike feit is dat die Chauvin-saak nie so eenvoudig is soos wat dikwels geskets word nie. Die bewyse teen Chauvin is op die absoluut minste omstrede en nogal skraal. Dit is daarom nie so ʼn gegewe dat hy skuldig aan moord bevind gaan word en bevind behoort te word nie.

Dan moet ʼn mens jouself ook afvra of openlike geweld as reaksie regtig regverdigbaar sal wees. Veral in ʼn saak waar die feite nie op besliste en onbetwisbare skuld dui nie.

Laastens is dit belangrik om daarop te let dat Waters ʼn geskiedenis het om gewelddadige optrede aan te moedig of te regverdig. Waters is gemaklik daarmee om oneerlike en goedkoop politiek vir haar eie gewin aan te wend. Sy tree gereeld soos ʼn aktivis op, eerder as om net doodeenvoudig die werk van ʼn politikus te doen. Die ironie hiervan, en dalk juis die rede hiervoor, is dat dit met gewone mense op grondvlak in haar staat regtig nie goed gaan nie.

Kalifornië was die afgelope vyf jaar een van die tien top-state in die VSA wat mense die meeste verlaat. Vir gewone mense word omstandighede in die staat al meer ongunstig – ongelooflike hoë belastingkoerse, hoë lewenskoste, politiek en ook ʼn toenemende probleem met hawelose mense dryf duisende mense jaarliks uit Kalifornië.

Tog kies Waters die goedkoop politiek van rassepolarisasie bo ʼn poging om daadwerklik ʼn positiewe verskil in haar gemeenskap te maak. Dit is egter glad nie ʼn vreemde verskynsel nie.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, het gister kommentaar gelewer oor die onlangse onthulling dat meer as ʼn derde van alle senior staatsdiensbestuurders nie oor die nodige kwalifikasies vir hul poste beskik nie. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch het eers verduidelik hoe baie wysheid hy al teëgekom het by mense sonder grade en waarom die “nodige kwalifikasies” nie so belangrik is nie. Hiervan het Ndlozi egter niks gehou nie:

“Shame on you. How desperate must you be to defend school fearing whites whose rise in society is due to their ugly white skins that you encourage people not to go to school if they want to be wise? [..]”

Verder het Ndlozi ook op Twitter genoem hoe die “wit rassistiese” boere wat tans in die Piet Retief-saak vervolg word in die tronk moet vergaan. Dit ook oor ʼn saak met baie omstrede en onduidelike feite.

Nes Waters is Ndlozi goed daarmee om goedkoop politiek te bedryf. Hy stel ook net belang in goedkoop korttermyn “oorwinnings” eerder as daadwerklike langtermyn sukses.

EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi. (Foto: Facebook)

Hoewel Ndlozi en sy party hulle tot irrelevansie geradikaliseer het, is dié goedkoop politiekery redelik algemeen. Die ANC self is steeds oortuig daarvan dat die rassekaart ʼn maklike manier is om ʼn goedkoop oorwinning te kry. Rassisme, wit ekonomiese mag en die nalatenskap van apartheid kan altyd blameer word vir die probleme wat onder (en weens) die ANC se heerskappy verdiep én ontstaan het.

Hoe meer dié politici daarin misluk om goeie werk te doen, hoe meer speel hulle goedkoop politiek. Die ANC het oor die afgelope 27 jaar bewys dat hy nie ʼn moderne land suksesvol kan regeer nie – wat hy wél kán doen, is om al sy mislukkings op apartheid en witheid te blameer. Die EFF is eintlik net ʼn randfiguurparty wat bloot nie die kennis of vermoë het om te regeer nie – wat dié party wel kan doen, is om wit mense vir alles te blameer en oor enige iets van rassisme te beskuldig.

Die rassekaart is immers iets wat altyd werk. Dit is minstens wat dié tipe politici dink.

Die een ding wat hulle nog nie besef nie, is dat die rassekaart se dae getel is. Veral wanneer dit kom by die doeltreffendheid daarvan op grondvlak. Namate dié politici misluk, verswak die omstandighede waarin hulle kiesers leef. Hoe slegter die omstandighede word, hoe moeiliker word dit vir dié kiesers om hulle leiers se mislukking te ontken.

Verder verskil mense se ervarings op grondvlak oor die algemeen wesenlik van die politici se uitlatings – veral in Suid-Afrika. Hoewel rassepolitiek van die regering se kant sleg is, is die grondvlakverhoudings tussen verskillende rasse steeds regtig goed. Die gebruik van rassepolitiek gaan daarom weens verskeie omstandighede op grondvlak al moeiliker raak om suksesvol te bedryf.

Rassepolitiek op die skaal wat dit tans bedryf word, is onhoudbaar en daarom hopelik amper op ʼn einde. Hoewel daar altyd rolspelers sal wees wat hierdie as aanvaarbaar sal sien, gaan dit onder gewone mense al meer ongewild en ondoeltreffend word.

Daarom moet gewone mense op grondvlak ʼn nuwe era van gesonder horisontale verhoudinge en politiek bou. Verhoudings waarin mense nie volgens ras met mekaar in interaksie tree nie, maar in kultuur. Hierdie verhoudings vanuit kultuur is nie net meer volhoubaar nie, maar weerspieël ook veel meer die werklikhede op grondvlak. Waar ras irrelevant tot iemand se aard en vermoëns is, bepaal kultuur weer fundamenteel waar mense vandaan kom, wat hul gebruike, tradisies, instellings en waardes is. Kultuur is wat werklik saak maak.

Ons gaan onsself ook moet help. Politici soos die ANC en EFF is regtig vasgevang in hul eie ondoeltreffendheid, slegte idees en eie belange. Indien ʼn mens ʼn beter wêreld wil hê, gaan jy dit self moet bou. Namate hulle vermoëns verswak, gaan radikale rassepolitiek al word wat hulle het om te bied.

Daarom moet dié politiek ook as sodanig hanteer word – goedkoop. Iets wat ʼn mens maklik kan bedryf, maar wat onvolhoubaar is. Dit is eerder belangrik om ten spyte hiervan self beter werklikhede en verhoudings op grondvlak te skep. Indien dit van dié goedkoop rassepolitiek politiek afhang, gaan ons dalk vir ewig wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blikkies ·

Baie Dankie Monica, Baie Goed gestel en nie veel meer om te se nie. Ek wil net graag jou volgende vers aan haal ‘Die ANC het oor die afgelope 27 jaar bewys dat hy nie ʼn moderne land suksesvol kan regeer nie’, daar wil ek net my twee sent byvoeg en se hulle kon absoluut niks suksesvol regeer of Bedryf nie, en kan ook niks wys wat hulle bygevoeg het vir opgang nie. Die stuk is heel gepas om net weer te wys hoe swak leiers, ongeag posisie of waar in die wereld hulle is goedkoop Politiek en die Rassekaart moet gebruik om hulle tekortkominge te regverdig, en onder die mees ongeskoolde en oningeligte burgers hulle as leiers voor te gee. n Lewe van Leuns om jou velkleur en kriminele optredes aan die wereld te regverdig. Sies Maxine Water, ANC en die EFF.

Hans ·

Wat kan jij verwag van mense wie se bokamer gevul is met saagsels?

Eclectus ·

Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.