Nuuskommentaar: ‘Goeie en slegte rassisme’

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Kan daar iets soos goeie rassisme wees? Die Suid-Afrikaanse regering het in effek ’n klipharde pleidooi hiervoor voor die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie gelewer, en toe nog Solidariteit daarvan beskuldig dat dié beweging weens sy hofsake en klagtes by die VN die proses vertraag.

“Daar kan nie iets soos goeie rassisme wees nie.” So sê Marc Bossuyt, vorige voorsitter van België se grondwetlike hof en nou lid van die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie.

Hiermee het Bossuyt waarskynlik die akkuraatste beskrywing gegee aan die problematiek wat die raskwessie nou internasionaal oplewer.

Die geleentheid was waar Solidariteit die Suid-Afrikaanse regering by die VN weens rassisme verkla het, en ’n lywige verslag in die vorm van ’n skaduverslag op die regering se eie verslag oor die “vordering” met die uitskakeling van rassisme ingedien het.

Anders as in die verlede het die regeringsafvaardiging nie as helde in die stryd teen apartheid na vore getree nie, maar hom teen ’n spektrum kritiese vrae en beskuldigings vasgeloop. Dit lyk of die ANC-regering se wittebrood met die wêreldmening iets van die verlede is.

Suid-Afrika se saak is gestel deur die adjunkminister van justisie, John Jeffrey. Hy het ’n moeilike wegspring gehad omdat Suid-Afrika sy verslag agt jaar laat ingedien het, en hy hieroor oor die kole gehaal is. Jeffrey het ook ’n juweeltjie probeer verkwansel dat dit Solidariteit se skuld is dat vordering so stadig is omdat Solidariteit hom knaend tot die howe en die VN wend.

Eina! Dis bogpratery uit die boonste gestoeltes wanneer ’n mens die onverkoopbare probeer verkwansel.

Jeffrey moes ook ander beskuldigings trotseer, soos die term “omgekeerde rassisme” en dat die regering ou apartheid gebruik om sy beleid toe te pas.

Die slag is nou gelewer, en almal sal asem ophou tot die komitee sy eie verslag voltooi het. Die Suid-Afrikaanse regering moet binne twee jaar ’n verslag indien om te wys tot watter mate vordering gemaak is.

Dié komitee is niemand se strooipop nie, en het byvoorbeeld verlede jaar bevind dat Nederland te min teen rassisme doen.

Dit is gewaagd om die verslag van die komitee vooruit te loop. Gaan die komitee die sweep inlê op die gedaante wat transformasie, of eerder transformania, as rasgedrewe instrument ingeneem het? Dit lyk of kwotas, wat die regering as teikens probeer verdoesel, onder skoot gaan kom. Van die lede het reeds aangedui dat hulle nie die verskil tussen kwotas en teikens kan insien nie.

Bossuyt se stelling dat daar nie iets soos goeie rassisme kan wees nie, impliseer dat hy meen die ANC-regering pas rassisme in sy beleid toe, en probeer dit dan ’n fatsoenlike baadjie aantrek, soos om dit as transformasie en ander terme aan te prys. Bossuyt sien dwarsdeur die truuk.

Maar klink dit tog nie op ’n manier bekend nie? Bitter min van die argitekte en ondersteuners van die ou beleid van afsonderlike ontwikkeling het daarmee bose oogmerke gehad. Trouens, baie van hierdie mense voel vandag nog dat hul motiewe edel was, en dat hulle daarom nie verguis behoort te word nie. Baie was nie eens van die negatiewe gevolge en wanpraktyke wat met die uitvoering gepaardgegaan het, bewus nie.

En dis presies dit wat die transformasiedrywers nou probeer beredeneer – die eindproduk is so “edel” dat die naakte diskriminasie teen mense op grond van hul velkleur aanvaarbaar moet wees. Die komitee se gevoel is duidelik dat die fokus moet wees op iemand se sosio-ekonomiese posisie by begunstigingsmaatreëls, en nie blindelings ras nie.

Uit die beriggewing wil dit ook voorkom dat daar nie ruimte is vir die “nuwe” denke oor rassisme soos dit in die VSA ontwikkel en onder meer na Suid-Afrika oorspoel nie. Maroela Media het dit gister in sy nuuskommentaar onder die loep geneem. Dit kom daarop neer dat ’n sterk rasbewustheid ’n voorvereiste vir nierassigheid is. Die skynbare motief hiervoor is om groepe te kan identifiseer wat op restitusie en “affrimative action” geregtig is, en ook ander te identifiseer wat hiervoor die hand diep in die sak moet steek (byvoorbeeld deur belastings) en ’n skuldgevoel moet troetel. Dit laat geen ruimte vir die persoon wat lankal die rassebril afgehaal het en sonder rasvooroordeel die toekoms wil instap nie.

Maar … is hierdie siening werklik iets nuuts wat van die VSA af oorwaai? Pas die ANC dit nie lankal toe nie? Is die onewehandigheid waarmee wit en swart oor rassisme vervolg word nie lank reeds ’n manifestasie nie? Is die gereelde stelling dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie, nie maar ’n manifestasie van om JUIS rassisties te wees nie?

En om dit dan pikant genoeg nierassigheid te noem?

Dis tyd dat allerhande illusies by die agterdeur uitgevee word.

As Solidariteit met hierdie aksie slaag, word die land en sy mense ’n enorme guns bewys.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Daar is niks met afsonderlike ontwikkeling verkeerd nie, of modelle daarvan. As alle etniese groepe saamgeneem word om hul eie aspirasies en kuturele waardes, uit te leef is dit mos reg so. Dit was nie die probleem nie, die probleem was daardie mense wat bose oogmerke gehad het. Dus was A nie die probleem nie, maar B.

JC

Die Solidariteit beweging is die beste ding ooit!!!

humor

Wag maar die seunse weenkoor sal uit hierdie teorie n nuwe een skep wat volksvreemd is en die perd ry tot net vel en geraamte oorbly.

m

Netso “humor”. Mens kan net lag vir al hierdie strooi. Daar gaan seker nou weer een of ander komitee gestig word om te besluit oor “Slegte en goeie rassisme. Dis so flippen pateties…..

Ben Prinsloo

Herman Toerien watter deel van afsonderlike ontwikkeling verstaan jy nie? Het geen volk die reg om afsonderlik te ontwikkel nie, nie die Duitser van Duitsland, die Fransman van Frankryk of die Afrikaner van Suid Afrika nie? Waar is ons grond sodat ons ook onafhanklik van ander volke ons eie ding kan doen. Baie van ons is nou moeg om vir ander volke te sorg terwyl ons toelaat dat hulle ons regeer, vertrap en uitmoor. Klink dit vir jou reg Herman? Ek vra maar net.