Nuuskommentaar: Goeie nuus: ’n Oop hart en hand vir ander hê

Die reusekombers word gedra Foto: Konteks, die gesinstydskrif van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Die reusekombers word gedra Foto: Annatjie Sandrock in Konteks, die gesinstydskrif van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Die wêreld kan soms goed leeuwêreld wees.

As die Islamitiese Staat hom nie aan die mees ondenkbare wreedhede skuldig maak nie, dan sal die wreedheid wat met ’n plaasaanval gepaard gaan die gemeenskap tot in sy wese skok – mits die gemeenskap nie al afgestomp geraak het nie.

Die uitbreek van ebola in Wes-Afrika stel ook weer groot eise aan die wêreldgemeenskap, met dokters en ander gesondheidspersoneel wat hul eie lewens op die spel plaas om ander te help. Tog is daar voortdurend berigte dat daar te min geld is om al die hongergeteisterdes te help, of al die vlugtelinge van min of meer menswaardige omstandighede in vlugtelingkampe te verseker.

Tussen al die nuus wat swaar in ’n mens se gemoed nesskopgeleentheid kry, kom die wonderlikste verhale egter van diegene wat opoffer en gee met wat hulle kan. En so dikwels word ervaar dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Só ’n verhaal ontvou hom in die jongste uitgawe van Konteks, die gesinstydskrif van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

Aan die einde van 2013 het ds. Henk Joubert van die gemeente Polokwane (Pietersburg)-Welgelegen ’n uitdaging aan sy gemeente gerig, skryf Annatjie Sandrock. Die uitdaging was om ’n wêreldrekord met gehekelde kniekomberse te op te stel. Hierna volg ’n verhaal van hoe gemeentelede hande gevat het, en begin hekel het. Ander het kos aangedra, ander het ander bydraes gemaak. Selfs van die manne het die hekelnaalde laat klap. (Lees gerus Maroela se berig oor die rekordpoging). Die syfers laat ’n mens se kop duisel.

Met 5 112 x 100g bolle wol is aand na aand, week na week, vir 25 weke lank 23 997 204 kettingsteke in die saal en tuis gehekel… Met presiese beplanning en logistieke orde is 568 kombersies vasgewerk. ’n Minimum van 20 mense moes die 511,2 kg sware opgerolde kombers van 1020m² wat op ’n vragmotor na Oosskool vervoer is aftel en daar op die rugbyveld ooprol. Dit was voorwaar ‘n ongelooflike gesig om 1 278 km wol so voor jou oopgerol te sien. Om te sien hoe aan al die vereistes om te kwalifiseer vir die rekord voldoen word, en om die dag sommer fees te vier met pannekoek en biltong en lekker saam kuier… Daarna is komberse losgemaak, in netjiese bondels opgemaak, mooi met ‘n strik verbind, en op aanvraag uitgedeel aan kinderhuise, ouetehuise en individue wat dit so nodig het. Dit het ons almal klein laat voel,” skryf Annatjie.

Lesers kla gereeld dat koerante en die ander media “net” slegte nuus dra, en dit is dikwels nie ver van die kol af nie. Slegte nuus gebeur en weens die aard daarvan is dit nuus, of selfs sensasie.

Goeie nuus, soos die reën in die Oos-Vrystaat wat op velde uitgesak het wat onlangs onder rampspoedige veldbrande deurgeloop het, is daar egter ook soms. Maar so dikwels is goeie nuus die gevolg van die omgee wat mense vir ander het – kort na die brande het die bale voer van boere wat kon afstaan hul opwagting begin maak. Tydens die brande was daar verhale van ander wat kom help brand slaan het, en selfs hul eie lewens in gevaar gestel het. Daar was selfs tragiese lewensverlies.

Sou dit nie wonderlik wees as ons die koerante opslaan en dit is behoorlik volgeprop met goeie nuus nie?

Maar of dit gebeur is grootliks in ons eie hande. Ons kan nie verwag dat ’n koerant niks oor ongelukke gaan berig as ons self aangeklam agter die stuurwiel inklim, of die blinde oog werp wanneer ’n ander dit doen nie. Kort voor lank is nog ’n motor om ‘n lamppaal gevou. Of as ons voet in die hoek sit as ons die kinders by die skool gaan aflaai, of selfs kerk toe jaag nie.

Ons kan nie kla as ons eie plaas afbrand as ons die skouers opgetrek het toe die vlamme nog beheerbaar op ’n buurplaas gewoed het nie.

As Christene sal die Heilige Gees nie stil in ons harte wees as ons van nood om ons weet, maar die stem probeer dooddruk nie.

Die Welgelegen-gemeente het ’n mooi voorbeeld gestel. En hulle is lank nie al wat ’n verskil kan maak nie. Hul wêreldrekord nie die belangrikste gevolg van hul poging nie, maar wel die harte wat vir ander oop was.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae