Nuuskommentaar: Going, going, gone, Gupta?

Pres. Zuma , Atul Gupta en Noxolo Kiviet. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma , Atul Gupta en Noxolo Kiviet. Foto: Flickr/GovernmentZA

Gaan die Guptas se skynbare vertrek uit Suid-Afrika dalk pres. Zuma se politieke einde verhaas? En is die Zuptakrasie se impak ook nou die nek ingeslaan? Herman Toerien ondersoek ’n paar aspekte.

Die nuus die naweek dat twee van die Gupta-broers die land vroeër die week “vir goed” verlaat het om hulle in Dubai by hul ander broer aan te sluit, het die tipiese kenmerke van ’n 1 April-storie gehad – behalwe dit was nie 1 April nie.

Die volle prentjie moet nog ontvou.

Die Guptas, wat uit Indië na Suid-Afrika geëmigreer het, is veral daarvan beskuldig dat hulle hul in Suid-Afrika aan staatskaping skuldig sou gemaak het. Hulle sou hul baie hegte vriendskap met pres. Jacob Zuma, wat van die jare 90 dateer, gebruik het om ’n reuse-sakepraktyk op te bou.

Ironies is die van Gupta, volgens minstens een taalhistorikus, van die Sanskrit-woord goptri, wat beteken “goewerneur” of “beskermer”, afgelei. Trouens, daar het lank ’n Gupta-dinastie oor ʼn groot deel van Indië geregeer, en is eers deur die invalle van die Hunne tot ondergang geknou. As die bewerings waar is dat die Guptas se invloed só sterk geword het dat hulle persone as kabinetsministers en in ander sleutelposte in die staat en semi-staatsektor kon aanstel, het hulle hier inderdaad as Zuma se “goewerneurs” opgetree, en uit hul Johannesburgse Saxonwold-woning (wat as ʼn kitsch-paleis beskryf is) die land regeer. Die Guptas het dit as leuens afgemaak.

Dit is interessant dat die Guptas, sou hulle inderdaad permanent na Dubai verhuis het, nie na Indië teruggekeer het nie. Mense van Indiese herkoms wat in die buiteland woon en ʼn fortuin gemaak het, is dikwels traag om na Indië terug te keer omdat hulle, dikwels as die nageslag van werkers wat vir harde werk op onder meer suikerrietplantasies na ander wêrelddele geneem is, uit die onderste kastes kom.

Hoewel Indië die kastestelsel afgeskaf het, speel dit in Indië (en dikwels ook in Indiërgemeenskappe elders ter wêreld) ’n groot rol om status te bepaal, en kan dit in veral huwelikskeuses vreemde taboes oplewer. Dit loop selfs op moord uit om “familieskandes” af te weer.

Om bloot op die van Gupta te oordeel uit watter kaste “ons” Guptas sou stam, is onmoontlik. Dié van is dwars oor Indië deur mense van alle Indiese volke en kastes aangeneem. Van die bekendste sub-kastes waarmee die van Gupta geassosieer word, staan veral as handelaars bekend. So is daar bitter arm Guptas in van Indië se armste state, en een so ’n persoon is ’n jaar of wat gelede weens ’n bende-aanval en verkragting van ’n jong vrou op ’n bus ter dood veroordeel.

Omdat kastes amptelik verbied is, is dit ook moeilik om te bepaal of “ons” Guptas uit ’n “hoër of “laer” kaste kom. Dit blyk dat hul familie in Saharanpur (van daar hul Sahara-rekenaars) in die deelstaat Uttar Pradesh, redelik suksesvol was. Hul verhuising na Suid-Afrika was na berig word die gevolg van ’n visioen van hul oorlede pa dat hulle na Suid-Afrika moet verhuis omdat Afrika die superkontinent van die toekoms sou wees.

Voorts blyk veel teenstrydighede oor die Guptas se invloed in Indië en selfs Saharanpur uit berigte en soms selfs dieselfde berig. Dit is egter duidelik dat die Guptas met hul geld hul invloed en belange probeer terugwerk het na Indië, soos die bou van ’n peperduur tempel, maar minstens nie naastenby met dieselfde soort sukses as in Suid-Afrika nie. Die Waterkloof-insident was nog ’n voorbeeld van gunswerwing.

Tog slaan die minagting uit hoë Indiese kringe deur oor die “opdringerige” Guptas, en het ’n skynbare versoek van die Indiese president om tydens ’n Brics-beraad in Durban ’n gesprek met Zuma te voer, dadels opgelewer omdat die Suid-Afrikaanse regering vereis het die afspraak moet via die Guptas gereël word.

Die Guptas se rol, via Estina, by die omstrede Vrede-suiwelprojek is welbekend. Na berig word sou die Guptas sorg dat ’n Indiese makro-suiwelmaatskappy by die projek betrokke raak. Die maatskappy het egter geen kennis van so ’n moontlike betrokkenheid nie.

Trouens, die Guptas kon nie eens daarin slaag om hul eie Sahara-rekenaarmaatskappy aan die groter Sahara-rekenaarmaatskappy van Saharanpur gekoppel te kry nie.

Kortom, dit lyk of die Guptas, ten spyte van hul rykdom, in Indië nie naastenby dieselfde “status”, invloed en “stand” sou kon verwerf as in Suid-Afrika nie. En hier het dinge nou te warm geraak, sodat selfs dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, die verhouding tussen die regering, die ANC en die Guptas as toksies beskryf het.

In die Engelse pers het die woord “cabal” (kabaal) ook reeds opgeduik om die Guptas te beskryf. Hoewel die definisie ’n geheime klein kliek is wat die regering rysmier, het dit ook ’n rassistiese konnotasie ontwikkel deurdat dit gewoonlik gebruik word om sulke klieks bestaande uit mense van Indiese herkoms te beskryf.

Trouens, sommige waarnemers meen dat die storm wat nou oor die “Zuptakrasie” ontstaan het, noodwendig binne die volgende paar maande tot die politieke ondergang van Zuma gaan lei. So het ’n onlangse onbewysbare storie van Julius Malema dat Zuma met sy onlangse besoek aan Dubai “sakke vol geld” vir die Guptas na Dubai geneem het, skielik weer nadat die Guptas juis na Dubai uitgewyk het, die wenkbroue laat lig – al is dit steeds onbewysbaar. Zuma klou egter soos ’n neet, en is op die oog af bereid om mense, die Guptas inkluis, sonder aansien des persoons vir die wolwe te gooi om self “skoon” uit die debakel te kom.

Of dit moontlik gaan wees om die ganse Gupta-netwerk uit te snuffel en op te rol sal nog gesien moet word. Dat dit besonder belangrik is, is egter ook so, want na berig word beklee van hierdie mense sonder die nodige bekwaamheid poste waar bekwame aansoekers weggewys is, of selfs uitgewerk is. Die ekonomie kan nie met ’n klomp pap wiele optimaal funksioneer nie.

Die Guptas speel nou ’n teer troefkaart – deur hulle uit te werk word ’n klomp werksgeleenthede waarvoor hulle gesorg het in gedrang gebring. Dit sluit in dat die vernaamste banke nie meer bereid is om hul bankiers te wees nie. Ook ander bedrywe het reeds bande verbreek.  Met Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers is werksgeleenthede nie te versmaai nie.

Maar het Suid-Afrika nie in die proses om die Gupta-ryk te bou, veel groter ekonomiese skade gely nie? Na raming het die Nene-debakel waarin die Guptas glo ook ’n paar lang vingers in gehad het, die land bykans oornag R500 miljard gekos.

Boonop is dit nog glad nie duidelik, ten spyte van bedankings uit Oakbay Investments, dat die Guptas se rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie tot niet is nie.

Die Gupta-ryk is veels te kompleks en verweef om tot so ’n gevolgtrekking te kom. Buitendien is die wêreld danksy moderne tegnologie kwalik so groot soos ʼn neutedop, en kan hul belange met gemak vanuit Dubai bedryf word.

Met Dubai se wette is dit boonop hoogs onwaarskynlik dat die Guptas daar sal sake doen op ’n manier wat selfs net effens herinner aan hul manier van sake doen in Suid-Afrika.

Dit sal interessant wees om te sien of die Guptas se vertrek dit makliker sal maak om Zuma uit sy nes te rook. Die media stook die vure met mening, en dan kan min “onaantasbares” staande bly. Boonop het die “onaantasbare” Guptas se aftog die jagters bloed laat ruik.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rene ·

Die hoop beskaam nie. Dit gaan bietjie moeilik wees vir hulle om geld uit die land te neem as geen bank met hulle wil besigheid doen nie. Dalk deur hulle handlangers kry hulle dit reg, maar die paaie sal nie gelyk wees nie. Ek hoop van harte dit beteken wel die einde van die Zuptakrasie. Die tyd sal leer.

Sarie ·

Snaaks die banke het baie lank met die mense besigheid gedoen. Die Guptas het selfs die DA van verkiesingsgeld voorsien. Wonder altyd kon hierdie slim ekonome nie hierdie kabaal vroeër voorspel en stop gesit het nie. Trevor Manuel en sy vrou se verbintenis met ABSA stem my ook nog altyd ongemaklik. Die Guptas is seker maar soos die Oppenheimers wat die vorige regering laat bokspring het.

alida ·

Goeie artikel Herman. Een ding is seker die EFF en DA het die been in die hande gekry en gaan hom nie los nie. Al kos dit hoeveel hofsake sal hulle sorg dat Zuma moet bedank. Hy het ons land miljarde gekos en gaan my verstand te bowe dat sy kabinetslede dit nie raaksien en hom wegjaag nie. Het die sot nie ‘n gewete nie? Hy het die hoogste Eed voor God afgelê en nou verontagsaam hy dit. Siek mens wat hy is!!!

Leon ·

Ek stem 100% saam Alida. Dit laat my altyd dink aan Mugabe. Sy land is basies daarmee heen, daar is hongersnood maar tog word hy ondersteun en ingestem…

Kobus ·

Die vraag hoekom Zuma se parlements lede hom nie weg jaag nie, Alida, is baie duidelik. Val hy, val die meeste van hulle saam met hom. Die lys is te lank om hulle almal hier by die naam op te noem. Dit gaan nou oor slegs een ding, en dit is almal se beskerming oor mekaar se korrupte bedrywighede. Al gewonder hoekom sê Gwede Mantashe almal met inligting moet na hom toe kom daarmee, maklik , hy skiet dit af of vee dit onder die mat. En siedaar, Zuma en sy vingerpoppies is veilig.

Joann ·

Dit is net oe verblindery. Ruik groot rot. Zuma gaan bly hy het te veel om te verloor. Parasiet.

Johannes Meintjes ·

Dit gaan die verstand te bowe dat daar skynbaar al oor jare nie deur die ANC regeer word nie, maar bloot baadjies vir boeties, vennootskappe tot persoonlike aanwins, gekonkelde internasionale kontrakte soos bv. vir wapens en die gewraakte Gauteng e-Tol, swak OVK (IEC) administrasie, wanbesteding op munisipale vlak, korrupsie en uitbuiting van die burgers plaasvind – sonder dat enige sisteem, stelsels, wet, orde, groep of instansies daarin slaag om effektief enige regeringsorde en waardetoevoegende burokrasie te verseker!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.