Nuuskommentaar: Grace nie al disGrace in dié verhaal

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

Dit is moeilik om te bepaal hoe Suid-Afrika met enige logika kon dink dat die besluit om Grace Mugabe in staat te stel om die land te verlaat, met diplomatieke immuniteit nogal, vir die land of enige van sy mense enige voordele kan inhou. Wanneer die wiele van die howe gedraai het, gaan daar weer amptenare wees wat, soos in die Gupta-Waterklooflugmagbasis se geval, opdrag kry om die blaam te dra?

In ’n verhaal wat erg herinner aan die geval van Omar al-Basjir, het Suid-Afrika weer eens vrot diplomatieke eier in die gesig opgedoen deur diplomatieke immuniteit aan Zimbabwe se ongure presidentsvrou, Grace Mugabe, toe te staan. Dit lyk boonop of die minister ’n nagtelike handeling min of meer in die geheim verrig het, sodat die “presidentspaar” die land dou voor dag kon verlaat sonder dat ’n persoon of instansie soos in die Al Basjir-geval, die howe kon nader vir ingryping.

Die eindfluitjie het egter nog nie geblaas nie. AfriForum het reeds aangedui dat die immuniteit-kwessie in die howe in ’n hersieningsaansoek uitbaklei gaan word. Slaag AfriForum (of enige ander persoon of instansie) in so ’n aansoek, sit Suid-Afrika met ’n yslike tameletjie. Wat as Grace weer een van haar baie gereelde besoeke aan Suid-Afrika wil bring – die land waar van haar kinders min of meer permanent woon, en waar sy onlangs ’n huis van R45 miljoen aangeskaf het? Luidens buitelandse berigte was sy juis in Suid-Afrika waar sy “miljoene rande” op hierdie luukse woning in Sandhurst spandeer het. Die aanspraak op diplomatieke immuniteit was dus hoogs opportunisties aangesien sy slegs daarvoor sou kwalifiseer as sy met amptelike sake in die land was. Boonop kan diplomatieke immuniteit nie opgeëis word ná ’n gewelddadige daad nie.

Soos in die Al Basjir-geval het Suid-Afrika hom op huishoudelike wetgewing beroep, en wel wetgewing wat die beeld van Suid-Afrika raak. Hoe die minister in haar wildste drome kon dink dat bedenklike diplomatieke immuniteit aan Grace enigiets anders as disGrace vir die land sou inhou, sal net sy (en diegene wat druk op haar geplaas het) weet. Hoe dit die slagoffer van Grace se beweerde aanranding enigsins tot voordeel strek, is ook ’n ander vraag. (Aanranding verjaar nooit.) Moontlik het die minister gemeen die slagoffer het haar kans verspeel toe sy die beweerde groot som geld wat haar vir die terugtrekking van die klag aangebied is, van die hand gewys het.

Die smeerveldtog waaraan die slagoffer sedertdien onderwerp is, strek ook niemand tot eer nie. Provokasie of nie, ’n eerste dame tree eenvoudig nie so op nie, en luidens berigte was dit in elk geval die vyfde keer dat Grace haar aan soortgelyke dade in verskillende lande skuldig gemaak het en toe uit die betrokke lande geglip het – en een vorige keer het sy ook op immuniteit aanspraak gemaak.

Of Suid-Afrikaners ooit presies sal weet wat agter die skerms gebeur het, en wie almal in disGrace opgetree het, is onseker. Dit lyk egter baie waarskynlik dat Robert Mugabe ’n oproep na Zuma sou maak (indien hulle nie tydens die SAOG-beraad persoonlik hieroor gesprek sou voer nie). Luidens berigte het van die SAOG-leiers gedreig om hulle aan die beraad te onttrek sou Grace nie immuniteit kry nie en het Zuma weer die druk na die minister van internasionale betrekkinge verplaas. Maite Nkoana-Mashabane beklee juis nie haar ministerspos weens haar vaardighede nie, maar omdat sy ’n uitgesproke Zuma-lojalis is.

Wanneer die wiel wel draai, en die hersieningsaansoek in die howe slaag, gaan die minister, of Zuma dalk self, bereid wees om pa te staan vir die brousel? Of gaan amptenare, soos in die Gupta-Waterklooflugmagbasis-geval, aangesê word om die sondebokke te word? En gaan diegene wat bereid is om die skuld te dra, dan ook met ambassadeurskappe “gestraf” word en die gehalte van die diplomatieke korps onder verdere druk geplaas word?

Ter wille waarvan?

– ’n Vrou wat haar nie kan gedra nie, ook nie in lande waar sy ’n gas is nie, en haar maklik tot geweld wend.

– Sy is die eggenoot van een van die wêreld se grootste muishondfigure, wat sy land se eens sterk ekonomie deur misplaaste ideologie in ’n gemors gedompel het.

– Boonop het Mugabe hom tydens ’n ampsbesoek aan Suid-Afrika, in die teenwoordigheid van Zuma, aan blatante haatspraak skuldig gemaak toe hy gesien het die joernalis wat ’n vraag aan hom gestel het is wit, net daar omgedraai het en gesê het hy weier om wit joernaliste te woord te staan. Dit was oop en bloot voor die TV-kameras en is landswyd uitgesaai, maar Zuma het versuim om sy plig na te kom en Mugabe oor die vingers te tik.

Hierdie misplaaste “diplomatieke” optrede jeens internasionale muishonde laat Suid-Afrika ook net vaster in die pappot vasbrand. En die spreekwoord bly maar waar: meng jou met die semels…

Moet Suid-Afrika werklik tot by die vlak waarop Mugabe sy land verrinneweer het, afgesleep word?

Onder die Zupta-bewind voel dit immers of Suid-Afrika met Zimbabwe resies jaag ondertoe. Nou is dié gevoel versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Grassie ·

Ian – Gure beteken “sleg” en ongure “baie sleg.” Ek weet dit klink snaaks maar dit is soos dit is.

Herman Toerien ·

Dankie Grassie. In Afrikaans is daar nog so ‘n woord, naamlik aardig. Of iemand aardig is, of onaardig, dit beeld beide negatief uit. Dis eers as ‘n mens ‘n sin maak: “Hy is nie onaardig nie” dat dit ‘n positiewe betekenis kry.

Dux ·

Wonder wat het ons van Zimbabwe nodig, of hoekom is s.a bang om haar te vervolg.. Hoor as hul haar sou vervolg, sou ander Afrika lande teen ons draai.. Hulle het niks om ons te bied en ons nog minder.. Wonder wat gaan aan onder die tafel met Afrika leiers.. Dis net snaaks hul bestuur ‘n land, soos party aangaan behoort dit aan net die leiers hulle nie Zim of enige Afrika land gekoop.. Dit behoort aan sy inwoners.. En hulle moet ook ‘n se hê. Maar almal verryk hulle self.. Dan begin mense in opstand kom, en word onder die inwoners van dieand geskiet.. Vermoor en en..

Eish ·

Dis tragies. Die gesneuweldes in die kruisvuur van politieke ideologie vermeerder skrikwekkend.

Theresa ·

Die bedrag wat sy aan die Sandton huis se koop spandeer het, moet in elkeen van Zim se landstale op elke moontlike manier aan daardie arme drommels verkondig word. Ook hoe sy hier spandeer. Sy het geen reg, maak nie saak wie sy is nie, om iemand aan te rand nie.
Leef haar man nog? lyk soos ‘n robot wanneer hy beweeg – of is dit ‘n nuwe mars?
Die manier hoe mense wat misdaad hier pleeg of sonder toestemming hier inkom, is skrikwekkend. Daarmee ook op rommelstatus – geen grensbeheer nie. Ga.

MANIE ·

Muishonde het nogal die gewoonte om na mekaar om te sien. Ek is baie bekommerd oor afrika se siening van menseregte. Ek het n idee dit is weer besig om drasties agteruit te gaan veral as jy na die sogenaamde leiers se uitsprake luister. Ek vermoed daardie rassistiese kriminele het eiendom hier kom koop om te vlug as dinge te warm raak in die land wat hulle eiehandig verwoes het

Loeis ·

Nes met Nkandla, glo sommige Zim inwoners dalk ook dat die president en kie die reg het om sulke goed te doen. Nie seker of hulle teen hulle president sal draai nie.

In die praktyk is Afrika leiers en hulle binnekring bo die wet verhewe, en dit lyk of hulle nogal gesteld daarop is om daardie status te behou.

Laastens wonder ek sommer waarom Maroela my kommentaar netnou verwyder het? Verduidelik asseblief hoe dit strydend met die voorwaardes was, MM.

Lou ·

Afrika sal altyd afrika bly. Ons is ‘n joke in die oe van die res van die wereld. En hulle gee anyway nie om wat hier gebeur nie……

Dina ·

Dit maak dus glad nie saak dat iemand ernstig aangerand is nie. Die land beveilig bloot nie sy inwoners teen so ‘n tipe buitelandse besoeker nie. Stem eintlik baie ooreen met die algemene situasie in SA. Sommige word oor iets onbenulligs vervolg tot by oom Daantjie in die kalwerhok. Ander kom doodluiters letterlik weg met moord. Soos dit trouens reeds vir jare in die bepaalde aggressiewe dame se land gaan. Onreg wat skrei ten hemele… Daaraan sal wel ook eenmaal ‘n einde kom.

Willem ·

Grace Mugabe gaan niks oorkom nie . Ons kan maar op en af spring maar sy gaan nie aan geraak word nie. Hofsake is n mors van tyd en geld.

Adam ·

Heeltemal korrek Willem en boonop was al die “akteurs” opportunisties in hul optrede tydens die hele drama.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.