Nuuskommentaar: Groeiende federalisme in WK onder Kaapse Forum

Die afgelope naweek het die nuus gebreek dat gesiene joernalis en meningsvormer Heindrich Wyngaard voortaan aan die stuur van die nuutgestigte Kaapse Forum sal wees. Wyngaard het hierdie Forum saam met AfriForum en ander burgerlike organisasies gestig, met die oog op groter wedersydse samewerking tussen selfstandige gemeenskappe. Rapport beskryf dit as bruin mense wat hul eie AfriForum kry. Hoewel die Forum nie tot bruin mense beperk is nie, maak hierdie bevolkingsgroep ʼn kritieke massa van die Wes-Kaap en daarom ook van die provinsie se sukses uit.

Die Kaapse Forum sal, soos Maroela Media berig, onder andere fokus op die uitbreiding van gemeenskapselfstandigheid in die Wes-Kaap en uiteindelik ook sodoende groeiende federalisme in die Wes-Kaap help bewerkstellig. Wyngaard verduidelik hoe daar na internasionale voorbeelde van federale karaktereienskappe gekyk moet word en, waar moontlik en geskik, toepaslik op die Suid-Afrikaanse konteks gemaak word. Volgens Wyngaard het hulle ʼn regruk-rewolusie in die bruin gemeenskap nodig. Dit is ʼn ongelooflike stap in die formalisering van die kulturele selfvertroue wat bruin Afrikaanssprekendes, soos reeds herhaaldelik in die verlede deur Wyngaard uitgewys, nog moet ontsluit in die vestiging van groter selfstandigheid.

Die stigting van die Kaapse Forum is absoluut ʼn voortvloeisel van die sterk burgerlike kragdadigheid, betrokkenheid en vooruitstrewendheid wat al meer die Suid-Afrikaanse politiek definieer. Hierdie sogenaamde burgerlike politiek vind neerslag in al meer gemeenskappe namate die staat in sy magsvergrype verswak. In die leemte van ʼn vervallende staat staan gemeenskappe toenemend op in die verantwoordingneming van hul eie lot. President Ramaphosa self het die afgelope naweek gesê hoe die “hele huis” van die ANC aan die brand is, verwysend na hoe sleg dit met die party gaan – soos bevestig in die onlangse Instituut vir Sekerheidstudies-verslag, het die interne konflik van die ANC ʼn regstreekse impak op gewelddadige betogings landswyd. Die vooruitsigte van Suid-Afrika onder die ANC is dus nie positief nie.

Hoewel hierdie hele gedagte van grootskaalse gemeenskapselfstandigheid nog ʼn dekade of wat gelede polities as effe laertrekkerig gesien is, noodsaak die omstandighede doodeenvoudig nou toenemende gemeenskapselfstandigheid.

Die kritiek wat teen hierdie tipe selfhelp in die verlede gelewer is, is dat sekere gemeenskappe hulself van die res wil afsny in ʼn monopoliserende vasklou aan en voortbou op eie welvaart deur selfhelpinstellings vanuit kulturele selfvertroue. Gemeenskappe wat in die verlede uit noodsaak selfstandigheid probeer uitbou het, is dikwels veroordeel omdat hulle nie die hele land “wou” red nie – daar is eintlik maar van hulle verwag om staatsdienste aan almal sonder staatsinkomste te lewer. Dit is egter ʼn uiters onrealistiese blik op die wyse waarop burgerlike organisasies as ruggraat van Suid-Afrikaanse gemeenskapspolitiek sal kan funksioneer gegewe die omvang van ons uitdagings.

Suid-Afrika soos wat dit tans bestaan, met inagneming van ons verlede, kan egter ten beste bly voortbestaan wanneer daar ʼn netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe in wedersydse erkenning en respek bestaan. Gemeenskappe kan ingevolge hiervan vanuit selfvertroue en in selfstandigheid na hulself kyk. Geen een gemeenskap is verantwoordelik in voogdyskap vir ʼn ander nie, maar het eerder bondgenote wat op gelyke status en selfstandigheid funksioneer. Hierdie gemeenskappe kan dan vanuit selfstandigheid en selfvertroue met ander gemeenskappe in ʼn netwerk van wedersydse erkenning, respek en interafhanklikheid funksioneer.

Wyngaard noem ook hoe AfriForum een van die min organisasies is wat bereid is om hul kennis te deel met ander gemeenskappe – daarom is hy nie bang om die AfriForum-voorbeeld van selfhelp te volg in die groter ontwikkeling van sy eie gemeenskap nie. Deur die deel van institusionele en historiese kennis en vaardighede, kan gemeenskappe mekaar bystaan in groeiende selfstandigheid.

Die tyd vir die gesprek oor groter afwenteling en federering van magte, regte en verantwoordelikhede is dus ryp. Dit blyk ook duidelik uit die feit dat die DA die afgelope paar jaar groot voorstanders van groeiende federalisme – spesifiek in die byna DA-beheerde Wes-Kaap – en die groter provinsiale afwenteling van magte is. Hoewel die party dit duidelik gemaak het dat hulle self nie afstigting van die Wes-Kaap voorstaan nie, staan hulle wel die gesprek daaroor voor.

Gesprek is reeds oorwinning

Die grootste oorwinning op hierdie stadium is dat hierdie gesprek besig is om gevoer te word. Mense hoef glad nie saam te stem oor hoe presies groter selfstandigheid en selfregering vir gemeenskappe behoort te lyk nie – die blote feit dat die debat weggedraai het van die sterk sentrale ANC-staat in die rigting van noemenswaardige federale karaktereienskappe, is reeds ʼn reuse‑oorwinning. Hier is dit natuurlik ook belangrik om erkenning te gee aan rolspelers soos die VF+ wat histories die gesprek gevoer het in die tye wat dit groot ongewildheid aangewakker het. Ons is nou reeds so ver verby hierdie antagonisme in die debat. Feitlik almal in Suid-Afrika is op die bladsy dat die mag van die ANC verminder moet word met gemeenskappe wat meer bemagtig moet word – mense verskil bloot oor wat op die glyskaal van outonomie wenslik en moontlik is vir Suid-Afrika.

Dit is ook nie ʼn slegte ding nie. Veral binne eie geledere is dit belangrik om volksveelheid te huisves deur verskillende grade van oplossings te verdra. Sommige mense wil bloot deur middel van groter spasies in die privaatreg, eilande van uitnemendheid skep waarin hul vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ander is weer op soek na ʼn groter staatkundige breuk met Suid-Afrika soos wat dit tans bestaan. Almal hoef nie akkoord te hê oor die presiese eindpuntoplossing vir ons om te verstaan dat een of ander mate van groter outonomie en selfstandigheid nodig is vir oorlewing nie.

Die ANC het oor die afgelope byna 30 jaar Suid-Afrikaanse burgers se toekoms en welvaart opgevreet in magsugtigheid – noudat hulle ons tot ʼn groot mate uitgeput het, gaan hulle hulself begin opvreet. ʼn Toekoms onder ANC-lyding is uiters onwenslik in die blote mates van verval en agteruitgang wat dit noodwendig impliseer. Die toekoms lê juis in gemeenskappe wat vanuit selfvertroue, in selfstandigheid, saam met ander gemeenskappe in ʼn netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe ʼn beter grondvlakwerklikheid bou. Suid-Afrika het uit noodsaak ʼn ongekende geharde burgerlike samelewing, ondersteun deur ʼn sterk private sektor – hierin lê ons almal se beste kans op vooruitstrewendheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Janice du Plessis ·

Hallo JM.
Dankie dat jy ons op die fout gewys het.
Ons het dit gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Manie ·

Moontlik, solank as wat hulle nie telkens inval by wie dit die lekkerste lyk nie. Ons het dit ook al baie in politiek sien gebeur.

Boon ·

Dis die beste nuus die afgelope paar jaar. Die voortdurend sentralisering van mag en besluitneming, die rassistiese beleide van swart bevoorregting, en die miskenning van minderheidsgroepe se grondwetlike
Regte van taal, kultuur en godsdiens en werk, is net te veel. Veral as mens die blatante diefstal van staatsgeld en landsbronne in berekening bring. Groter federale magte is die antwoord vir vrede en voorspoed.

Trotse Boervrou ·

Hierdie is wat ons graag wil hoor. Kom ons wees almal trots op ons herkoms. Julle sal van krag tot krag gaan. Ek is dankbaar vir julle en ondersteun die inisiatief volkome. Sterkte vorentoe. Dit is ‘n opwindende tyd wat voorlê. Saam sal ons die land weer opbou. Ons moet net eers van al die gespuis ontslae raak.

Trotse Boervrou ·

Hierdie is wat ons graag wil hoor. Kom ons wees almal trots op ons herkoms. Julle kan en sal van krag tot krag gaan. Ek is dankbaar vir julle en ondersteun die inisiatief volkome. Sterkte vorentoe. Dit is ‘n opwindende tyd wat voorlê. Saam sal ons die land weer opbou. Die gespuis moet net eers tot ‘n val kom. Sien hul is sterk oppad…

Josef du Toit ·

Wes-Kaapse selfstandigheid, om verwesenlik te word, sal krities afhang daarvan of nasionalistiese sentimente onder Kaapse Afrikaanses ontwaak. Uitsluitlik ekonomiesgedrewe CapeXit-praatjies kan vir hierdie rede geen blywende vooruitsig in die harte en sinne van kiesers beding nie.

So ook, Boere kaping van Kaapse Afrikaanses deur transformasie van histories Boere-Afrikaner-bewegings in ‘n breë Afrikaanstalige tent gaan insgelyks nie oortuig nie.

In soverre AfriForum met die stigting van die Kaapse Forum, ‘n struktuur ‘goedhartiglik skenk’ in voogdyskap aan Kaapse Afrikaanses, sonder dat dit op natuurlike wyse uit Kaapse Afrikaanse kring opwel, sal ook die Kaapse Forum niks beduidend uitrig nie.

Kaapse Afrikaanses het wel die keuse om die Kaapse Forum heel deeglik hul eie te maak, op eie voete te funksioneer, maar vir die oomblik is daar nog te veel AfriForum in Kaapse Forum, en te weinig tekens van volksbewussyn onder Kaapse Afrikaanses.

Jacques ·

Kom ons kyk wat gebeur. Dit is teen hierdie tyd baie duidelik dat die DA as gevolg van die sentralisering van mag in die land, ‘n slaaf van nasionale wetgewing is en dus kragteloos om die mense van die Kaap te help….. en hulle ( die Kapenaars) weet dat hulle stem bloot simbolies is.

Die Kapenaars hou ook al lankal die vordering van AftiForum, Solidariteit en Helpende Hand dop en is verseker ingelig omtrent die suksesse van die organisasies.

Dis nou in hulle hande om die “Selfhelp” beginsel op te neem en te maak werk in hulle eie gemeenskappe. Hierdie gebaar van AfriForum is slegs ‘n rigtingwyser en dit sal wonderlik wees as die mense die idee aangryp en hulle eie maak.

Die groot probleem gaan wees as hulle gaan verwag dat AfriForum al die werk vír hulle moet doen.

Pieter9 ·

Baie opgewonde hieroor; my volle ondersteuning. Oopkop gemeenskappe moet saamstaan en eie toekoms skep. Die comrade-brigade (ANC regering) te besig om misdaad opbrengs te verdeel onder mekaar.

Yvonne ·

Wow so gebeur dinge….ANC kan net toekyk…tragies hier kom die klagtes weer

Jacques ·

AfriForum, hoe beplan julle om te keer dat die organisasie nie deur bende-lede oorgeneem word en julle naam dmv assosiasie dan met kriminaliteit verbind word nie?

Hendrik ·

Mense hardloop na elke moonlike oplossing vir die gemors in SA. Eers was die oplossing CR en nou dat die president nie realiseer is dit sessessie vn die Wes Kaap wat onderswteun word die die Kaapse Forum. Ek dink die mens in die Kaap is nou op die regte spoor met die Kaapse Forum en ook sessesie van die Wes Kaap vanaf SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.