Nuuskommentaar: Grond en krag

Die huidige fokus op grondbesit terwyl die rand tuimel, diensleweringsproteste in ‘n poefie-oorlog ontaard het, en die land aand vir aand op ‘n kragkrisis huiwer, herinner op ‘n manier aan Nero se vioolspelery toe Rome gebrand het.

Volgens oorlewering is die brand daarna bloot op die Christene se brood gesmeer. Die werklike oorsake het nie die nodige aandag gekry nie.

Dat die grondkwessie nou bepaalde aandag sou geniet was te wagte. Dit was die 100ste herdenking van die inwerkingtreding van die Naturelle Grond Wet, en dat grond ‘n besliste deel van vanjaar se verkiesing sou uitmaak is voor 1994 reeds deur politieke wetenskaplikes as feit gestel. Dié vaste ete is ontwikkel uit soortgelyke modelle elders, soos Zimbabwe, dat ‘n “bevrydingsparty” ongeveer 15 jaar het (twee verkiesingstermyne, maar ‘n derde verkiesing aan die einde van die tweede termyn) om alles wat verkeerd loop op die vorige bedeling te pak. Hoewel Suid-Afrika volgende jaar sy vierde verkiesing in die huidige bedeling hou, is tot betreklik onlangs nog openlik probeer om apartheid vir die probleme te blameer, maar dit het elke keer Suid-Afrika se buitelandse geloofwaardigheid net verder gerysmier.

Nou moet grond ‘n groot deel van die skuld dra, en terselfdertyd as lokaas vir die verkiesing dien. Die beeld wat uitgedra is, moes weliswaar erg gedokter word, soos om die indruk te skep dat swart mense voor die wet baie grond besit het, maar daarna veel minder. En omdat grondbesit – selfs onekonomiese lappies, met welvaart gelyk gestel word, word hierdie “verlies” aan grondbesit vir die huidige vlakke van armoede verantwoordelik gehou.

Die gevaar is natuurlik dat die ware feite ook in die proses van so ‘n herdenking aan die lig kan kom. Kykers na SABC 2 se Afrikaanse nuus kon gisteraand sien en luister hoe ‘n heel ander stel feite op die kassie geplaas is, naamlik dat swart mense en die staat later meer grond besit het as in 1913.

Daar was hartseer gevalle. Sommige mense het die kontant eerder as plaasvervangende grond verkies, en was kort daarna weens ‘n verskeidenheid redes hul kontant ook kwyt. Met groot gesinne was dit moeilik om uit die siklus van armoede te breek.

‘n Tweede werklikheid is dat grondbesit en ‘n suksesvolle boerdery daarop nie altyd sinonieme is nie, veral onder die grootliks marginale landboutoestande in Suid-Afrika, en weens die afwesigheid van landbousubsidies wat baie van Suid-Afrika se mededingers op die wêreldmarkte geniet.

Die kragkrisis bied terselfdertyd aan die regering die ideale geleentheid om te toon hoe dit in algemene belang, en nie net in die belang van sy ondersteuners nie, te regeer.

Na wat berig word, het Suid-Afrika se kragtekorte ontstaan toe die destydse regering besluit het om miljarde rande eerder aan wapentuig as nuwe kragstasies te spandeer. Die daaropvolgende wapenskandaal sleep voort.

Die situasie is egter ook deel van ‘n komplekse stel feite, waarvan die afwesigheid van grondstowwe nie een is nie. Suid-Afrika het enorme steenkoolreserwes, asook volop sonlig, wind, plase en aanlegte wat groot hoeveelhede metaangas lewer, uraan en skynbaar ook groot hoeveelhede skaliegas. Boonop is daar in die seegolwe en getye ook potensieel enorme hoeveelhede hernubare, skoon krag opgesluit.

Elkeen van hierdie aspekte kom ook met ‘n sarsie uitdagings en probleme. Relatiewe koste, veral oprigtingskoste, speel onder meer ‘n groot rol. Die tegnologie van sonkragselle ontwikkel nog vinnig, wat dit nou veel goedkoper en lonender as enkele jare gelede maak. Ook windkragtegnologie ontwikkel. Waar die norm tot onlangs nog 3 megawatt per turbine was, is dit nou al 5,5 megawatt. Om 8 megawatt op te lewer is al in die oog.

Die proses om skoon, hernubare krag tot die bestaande netwerk toe te voeg vorder nog stadig, soos die goedkeuring wat ‘n Wes-Kaapse projek van die provinsie se omgewigsowerhede gekry het. Maar uiteindelik kan baie druppels ook ‘n emmer volmaak.

Om ‘n gesonde en stabiele klimaat vir ekonomiese ontwikkeling te skep, vereis ‘n hele verskeidenheid faktore. Die blaam-spel is nie een daarvan nie. Deeglike uitgewerkte planne, waarvan sommiges selfs aanvaar is maar op die rakke staan en stof vergaar of deur ander wetgewing gerysmier word, deug ook nie. Om swak voorbeelde te stel was nog nooit ‘n goeie idee nie.

‘n Jaar is ‘n bitter kort tyd om nou nog werklik ‘n saakmakende verskil te maak. Om binne ‘n jaar korrupsie onder beheer te bring, is bykans onmoontlik al is die politieke wil ook hoe sterk. Om ontwikkelingsplanne in werking te stel neem tyd, en die nasionale ontwikkelingsplan self maak vir aansienlike voorbereidingsfases voorsiening.

Intussen is daar in baie huise min of selfs geen kos op die tafel nie.

Van die beloofde wasmasjiene vir almal wat reeds in 1994 beloof is, is daar nog minder sprake.

Dit is vir die ANC uiters belangrik om volgende jaar met die verkiesing goed te doen. Dit is die jaar na die party sy 100-jarige bestaan gevier het, en gehoop is dat die viering ‘n momentum sou opwek wat tot ‘n reuse verkiesingsoorwinning sou lei.

Die ANC het besluit om waarskuwings in die binneland en uit die buiteland te ignoreer dat dit ‘n fout is om pres. Jacob Zuma as president te behou om die populistiese wa te probeer flou ry, en dit slaag deels.

Tog verkeer die ANC voor die eenvoudige keuse: Tree nou dadelik as regering van die dag op wat in algemene belang regeer en bied daardie suksesse voor volgende jaar se verkiesing aan. Of verval heeltemal in die blaamspel, en speel viool. Maar onthou, dis nie meer so maklik om die blaamspel te speel en gewoon daarmee weg te kom nie. Diegene wat geblameer word, het nou aansienlike middele soos die internet om die waarheid ook deeglik bekend te maak. En intussen jaag dit spanning op.

Onlangse onthullings oor spioenasie toon boonop dat buitelandse regerings baie goed ingelig is oor wat werklik aan die gang is. Om met bogpraatjies ander voorstellings te probeer doen skaad gewoon geloofwaardigheid.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae