Nuuskommentaar: Grondbesetting en grondgryp

Onwettige grondbesetting in Suid-Afrika is nie heeltemal nuut nie. In die betreklike onlangse geskiedenis het die land in verbystering toegekyk hoe die staat van die een vlak na die ander vlak en uiteindelik tot in die grondwetlike hof appelleer in die Modderklipsaak, na die staat reeds in die appèlhof deur die regters aangesê is om ‘n skikking buite die hof te beding en die saak daarvoor afgestaan het.

Met die Sekerheid van Verblyfreg, waarvan die staat homself uitgesluit het, en soortgelyke wetgewing wat dit vir verhuurders baie moeilik maak om wanbetalers en selfs vandale uit te sit, word eiendomsreg reeds onder enorme druk geplaas. Daar kom ook deurlopende gevalle voor waar staatsamptenare botweg weier om die protokol vir plaastoegang toe te pas – ‘n protokol wat der oud-president Thabo Mbeki self onderteken is en onder meer ten doel het om plaasveiligheid op ‘n gesonder grondslag te plaas.

In ‘n betreklike kort tydjie het daar nou in verskillende provinsies soos Limpopo, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en nou selfs by Mthatha in die voormalige Transkei grondbesetting plaasgevind wat waarskynlik regstreeks na die ANC-Jeugliga se dreigemente van grondbesetting teruggevoer kan word.

Met hierdie soort besettings word die grond gewoonlik in “erwe” opgedeel en aan mense verkoop – en meestal is die elemente van swendelary duidelik aanwesig. In een geval het ‘n uitgebreide gesin doodgewoon die plaas wat hulle voorheen besit, en weens bankrotskap verloor het, teruggeneem asof die wettige eienaar geen aanspraak daarop het nie.

Klagtes van lakse polisie-optredes om die besettings hok te slaan word in bykans elke geval gehoor, en uiteindelik moet die eienaars hulle tot die howe wend vir duur uitsettingsbevele – so asof van die eienaar verwag word om eers sy aanspraak op sy eie grond in die howe te laat toets. Die ANC-jeugleier het volgens berigte tydens die optog vir ekonomiese vryheid in ‘n stadium alle nie-swart mense aangesê om hul tasse te pak en na die lande van hul herkoms terug te keer, sodat die grond, wat volgens hom van swart mense en veral die jeug gesteel sou wees, teruggeneem kan word. Die ironie is dat, volgens hierdie redenasie, hy self na iewers in Midde-Afrika moet versit, aangesien die Koi en San die oorspronklike inwoners van die land was.

Persepsieprobleme oor die land se geskiedenis versterk egter ongegronde opvattings. Die FAK het juis reeds met ‘n Afrikanergeskiedenisprojek begin om die ware geskiedenis van die land op ‘n webwerf, (www.afrikanergeskiedenis.co.za) , aan te bring. Die FAK wys daarop dat die weergawe van die geskiedenis wat nou in skole aangebied word onder sommige kenners as die haatgesiedenis bekend staan. Die spreekwoord lui immers, die geskiedenis word deur die oorwinnaar geskryf, en as die geskiedenis ook vertel dat die hede die gevolg van ‘n skikking is, en nie ‘n oorwinning was nie, word dit ook gewoon doodgeskree.

Niemand hoef te twyfel dat die persepsies diep loop dat wit mense swart mense se grond gesteel het nie. ‘n Matiestudent, Charl Swart, het verlede jaar sy meestersgraad in Politieke Wetenskap behaal, en daarin ‘n tabel opgeneem oor hoe verskillende taalgroepe nie net verskillende persepsies oor hierdie kwessie nahou nie, maar hoe die persepsie van grondroof onder alle bevolkingsgroepe, ook Afrikaanssprekendes oor tyd toeneem. (Tabel hieronder). ‘n Tweede probleem wat ervaar word, is dat daar onder diegene wat grondhervorming die hardste bevorder, ‘n groot onkunde is oor wat lewensvatbare landbou betref. Die blote opdeel van die land in klein plasies of hoewes gaan nie die armoedeprobeem oplos nie, dit gaan dit verdiep. Die wêreldgemiddelde reënval is tussen 870 en 990 millimeter, afhangende van die bron en berekeningsmetode. Suid-Afrika se reënvalgemiddeld is 497 mm.

Malema en kie se eise oor nasionalisering en grondbesetting val egter nie bloot uit die lug nie. Hulle beroep hulle op die Vryheidsmanifes, beter bekend as die Freedom Charter wat deel van die ANC en partye soos die DA, en in ‘n laat-stadium die beleid van die ondergegane NNP was. Die angel is in die fynskrif:

“The mineral wealth beneath the soil, the banks and the monopoly industry shall be transferred to the ownership of the people as a whole; Restriction of land ownership on a racial basis shall be ended, and all the land re-divided amongst those who work it, to banish famine and land hunger; The state shall help the peasants with implements, seed, tractors and dams to save the soil and assist the tillers; Freedom of movement shall be guaranteed to all who work on the land; All shall have the right to occupy land wherever they choose;”

As ‘n mens hierdie bepalings lees en meet teen die uitsprake van Malema waaroor verantwoordelike mense die horries kry, klink dit onheilspellend bekend. Dit is egter ook ongrondwetlik, en sommige charteriste, veral diegene wat via die UDF in die betrokke dampkring beland het, insuleer hulle van hierdie soort bepalings deur die grondwet volmondig te omarm.

Dit sal ook die posisie bly solank die beginsel van grondwetlike demokrasie behoorlik omarm en gekoester word, en solank grondwetlike wysigings in pas met die volkereg geskied. Ongelukkig tree die regering dikwels nie in hierdie gees op nie, en pres. Jacob Zuma het gister na berig word weer ‘n waarskuwing gerig dat die howe hulle nie as hoër as die uitvoerende gesag moet ag nie. Dit is ‘n onvars opmerking teenoor die howe wat die grondwet – wat wél hoër is – moet beskerm.

Tabel uit: Public opinion on Land Reform – Charl Swart

Table 5.3 Response to “All land whites own they stole from blacks” by Language

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae