Nuuskommentaar: Grondbesetting, gekookte verslae en anargie

Metropolisielede het op 12 November 2014 met rubberkoeëls op klipgooiers by Nellmapius in die ooste van Pretoria losgebrand nadat die persone onwettig plakkershuise wou oprig. Foto: Daniella van Heerden/eNuus, Twitter

Metropolisielede het op 12 November 2014 met rubberkoeëls op klipgooiers by Nellmapius in die ooste van Pretoria losgebrand nadat die persone onwettig plakkershuise wou oprig. Foto: Daniella van Heerden/eNuus, Twitter

Die EFF se ondersteuning aan plakkers om grond buite Pretoria te beset, is so duidelik anargie dat dit geen debat verg nie… nie eens met die EFF wat meen dis “wettig” nie. Dit onderstreep bloot dat ’n groot deel van die EFF se beleid en styl duidelik uit pas met die grondwet is.

Dit is egter nie die enigste geval van anargie nie. Die mate waarin die parlementêre ad hoc-komitee oor Nkandla hom aan anargie skuldig gemaak het blyk uit die voorspelbare verslag wat dit oor pres. Jacob Zuma se betrokkenheid by die kwessie opgestel het en aan die parlement gaan oorhandig. Die opskrif van Die Burger se hoofartikel,Zuma en sy ‘Frolicke’ vriende , vertel die ganse verhaal. Die Burger meen die hele saak moes voor ’n onafhanklike regter dien, en dan die oordeel: “Dít is die pad wat in elke volwasse demokrasie gevolg sou word. Ongelukkig nie onder ANC-bewind nie.”

Twee optredes van anargie op dieselfde dag – die een net ’n rapsie (maar net so opsigtelik lomp) soos die ander. Die Burger gaan verder: “Hier word alles freneties toegesmeer. Verslae wat téén Zuma bevind, word platgetrap; ánder verslae wat hom onskuldig bevind, word uit die duim gesuig. En siedaar, opeens is daar geen bewyse teen Zuma nie.”

Vir die eerste keer het Suid-Afrika nou ’n Openbare Beskermer wat haar taak met die nodige erns aanpak, maar dit pas nie die ANC nie. Met die aanstelling van Thuli Madonsela het die ANC klaarblyklik ’n ligte mistykie gemaak – sy was dan ʼn parlementslid uit eie geledere wat in hierdie pos ontplooi is. Het sy dan nie mooi verstaan hoe dinge werk nie? Frolick toon immers hoe die ontplooide rolmodel lyk.

Daar is verskeie definisies van anargie, wat nie een strook met die algemene begrip wat Jan Alleman daarvan het nie. In die handel en wandel word anargie beskou as ʼn toestand waar wetteloosheid heers, en veral die gewelddadige misdadigers die botoon voer. Dis ’n baie negatiewe begrip. Die een formele definisie is egter nog meer onheilspellend, en ook van toepassing in Suid-Afrika: “’n Toestand van wetteloosheid of politieke wanorde weens die afwesigheid van owerheidsgesag.”

As Frolick en die vrolike vriende van Nommer Een hul opdragte uit Lethuli-huis kry en dit uitvoer, is dit anargie. Die veronderstelde owerheid hier, die parlement, het dan geen soewereine gesag om objektief sy verantwoordelikheid teenoor die land en sy burgery uit te voer nie. Die opposisiepartye (deel van die owerheid) het gou gesien hoe die wind waai, hulle van die komitee onttrek, hul eie ondersoek gedoen en ’n minderheidsverslag die lig laat sien. Hierin word opsigtelik meer juridies gefundeer na die saak gekyk, en onder meer aanbeveel dat die president uit sy amp verwyder word.

Die verwydering van Zuma uit sy amp, wat ook die land in geheel as beleggingsbestemming ’n reuse guns sal bewys, is egter nie op die ANC se agenda nie. Hier is die persone wat as sondebokke (fall guys) die pyne moet vat reeds aangewys. So ook in die Guptagate-sage. Ja, as die sondebokke redelikerwys moes geweet het die opdragte wat hulle gekry en uitgevoer het is onwettige opdragte, dan bly hulle in beginsel aandadig, maar afhangende van die kwesbaarheid van hul loopbane, darem met baie versagtende omstandighede. Maar dit beteken steeds nie dat die opdraggewers daarom nie met die dubbele roede geslaan moet word nie. Om hulle ’n vrypas te gee is… anargie (en ʼn hele rits ander lelike goggas ook).

Wat die grondbesetting betref – daar het die metropolisie met rubberkoeëls op die besetters losgebrand, weliswaar in reaksie daarop dat hulle onder klippe gesteek is. En dit was nie rubberklippe nie. Die EFF se reaksie op die gebeure is dat dit nog net die begin is.  Strome propaganda is reeds uitgestuur oor die “onnodige geweld” van die metropolisie. In baie van die sosiale kommentare is “spyt” uitgespreek dat die metropolisie nie lewendige ammunisie gebruik het nie, sodat die anargie hier en nou gestuit kan word.

Dit dui op ʼn frustrasie wat oorkook, maar net ander probleme kweek. Die gebeure voor die Farlam-kommissie oor Marikana is ’n goeie voorbeeld van wat gebeur as mense hul lewens in owerheidsoptrede verloor. Advokate eis nou dat verskeie mense, waaronder adjunk-president Cyril Ramaphosa, strafregtelik aangekla word, en indien nie, sal die saak na die Internasionale Strafhof geneem word. Die skietery het nie die groot platinum-staking voorkom nie, en elke belastingbetaler in hierdie land word nou hard geslaan om die skade daarvan te probeer verhaal.

Ilse Bigalke, rubriekskrywer en oud-hoofredaksielid van Die Burger, is bekend as ’n persoon wat hard daarvan werk maak om die silwer randjie raak te sien, en sy maak ook weer so in haar jongste rubriek. Maar die inleiding vertel tog iets daarvan dat die anargie soms dreig om haar ook te laat struikel: “Weens al die slegte nuus wat ons oordonder, gaan dit soms broekskeur om positief te bly. Die oorheersende sentiment is dat Suid-Afrika in die doldrums is en dat die rigtinggewende Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) met pres. Jacob Zuma as die keiser sonder klere bloot ’n papiertier sal bly. Al was dit ’n gegewe, help dit nie dat die Nkandla-komitee Zuma se hande in onskuld gewas het nie. Voorts sal ek my hoed opeet as die nuwe polisie-ondersoek teen hom op enigiets anders as net nog ’n verontskuldiging uitloop.”

Die EFF is volgens sy eie aansprake nie van plan om hom by “ongeregverdigde” parlementêre reëls te hou nie. Kortom, hier kom weer konfrontasie binne die parlement self. Weliswaar is hierdie reaksie ’n kortpad-aanspreek van ’n frustrasie op party-anargie waarmee die ANC nou al lank probeer wegkom, soos met (anargistiese) parlementêre reëls wat al deur opposisiepartye se hofaansoeke in die slag gebly het.

Die refrein op hierdie soort uiteensetting bly dieselfde: Dit toon opnuut hoe belangrik die rol van burgerlike instellings is soos Freedom Under Law, Outa, AfriForum en ander is, wat grondwetlike belange deur behoorlike regsprosesse bestendig. Die vryheid van die media is baie belangrik – solank die media nie in styl optree dat dit deel van die anargie word nie.

En dan is nog nie eens begin krap aan die moontlike anargistiese impak van die skynbaar onafwendbare skeuring in Cosatu nie. Ja, hoe sterker die opposisie teen die ANC word, hoe beter vir Suid-Afrika – en dit sou ook die geval gewees het as die ANC ʼn puik regering “bedryf” het. Maar kan ’n land met soveel anargie nog regtig ’n beduidende mag uit die (lank reeds gediskrediteerde) Leninisme bekostig?

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanno Visagie ·

Is die antichristelike humanistiese sogenaamde wêreldklas grondwet met sy sogenaamde teenwigte en ‘n hoofsaaklik liberaal-humanistiese pers ‘n voldoende en volhoubare bolwerk teen anargie? Nee, maar dis mos OK, want die kreef raak gewoond aan die geleidelik warmwordende water!

Kobus ·

Jip, Beeld het sy paar rubriekskrywers, en dan het ons al amper vergeet, Die Burger het ook een wat in die koor sing.

jakoos ·

Ai, Herman, dat ek jou nou sommer twee dae na mekaar moet aanvat! maar ek het nie ‘n ander keuse nie.

My hoofbeswaar teen jou kommentaar is dat jy die Parlementere komitee se oorwegings en verslag as anargie bestempel. Het jy die komitee se verrigtinge (of selfs net deel daarvan) op die Parlementere TV kanaal gevolg (of het jy insae in die volledige verslag (aanhangsels en al) gehad)?

Ek is nie en kan nooit ‘n ANC of ‘n Zuma ondersteuner wees nie, maar die “anargie” met hierdie Nkandla-komitee het helaas van die kant van die opposisiepartye gekom. Of ons nou daarvan hou of nie, maar die Parlement is die hoogste wetgewende gesag. En as die Parlement besluit om ‘n komitee soos hierdie aan te stel, is dit juis ‘n demokratiese en gesonde stap.

Maar die opposisiepartye het eenvoudig geweier om aan die komitee se beraadslagings deel te neem – onder meer op grond daarvan dat die ANC dit in elk geval oorheers en dit dus nodeloos is om deel te neem. Maar dis mos “anargie”! Dis so goed om te se: Ek erken en aanvaar nie die uitslag van die jongste verkiesing nie en dring daarop aan dat “ons” sieninge van Nkandla as die waarheid en die enigste waarheid aanvaar word. So nie, loop ons uit.

Maar die komitee het taamlik rustig en baie konsekwent na al die verskillende verslae gekyk, selfs ‘n kostelike inset van die parlement se regsgeleerde gekry dat Madonsela nie ‘n sekureiteitsekspert is en dus nie kon bepaal watter goed by Nkandla wel sekuriteit gerig was en wat nie. Ek was nogal beindruk met die wyse waarop die komitee sy werk gedoen het en uiters versigtig was om nie ongegronde en wilde gevolgtrekkings te maak nie.

En ek moet byse dat ek uit die staanspoor nie van Madonsela se verslag gehou het nie – sy het nie haar werk behoorlik gedoen nie.

En die opposisiepartye erken dit. Deur klagtes by die polisie aanhangig te maak en onder meer te vra dat die bankrekenings van sekere mense ondersoek word, doen hulle wat Madonsela moes gedoen het. Maar weer net halfpad want ek dink hulle moet ook eis dat die bankrekenigs van daai argitek en sy selfaangestelde kontrakteurs deeglik ondersoek moet word. Madonsela het ernstig nagelaat om dit te doen en dalk sodoende vir Zuma laat wegkom. As Zuma deur Nkandla verryk is, was dit langs hierdie weg!

Natuurlik was dit voorspelbaar dat Zuma deur die komitee kwytgeskeld gaan word, maar dit is Madonsela se skuld dat dit vir hulle moontlik was om dit te doen! Hier gaan nog sake tot in die Grondwetlike hof oor die ding kom, maar ek voorspel nou al dat die opposisie gaan verloor – en sleg gaan verloor want hulle probeer die Parlement se gesag ondermyn!

Ek wou nog dinge byvoeg, maar sal eers bietjie gaan rus!

jakoos ·

Kobus, het jy die opposisie se “anargie” in die Parlement vanmiddag gesien? Het jy opgelet hoe dit veral die wit mans van die DA is wat soos ‘n klomp “holligans” te kere gaan?

Is jy ‘n DA Lid? En dink jy dit is bevorderlik vir goeie orde?

En dit wil voorkom of die VF+ ook aan die dinge deelgeneem het. Siesa!

Kobus ·

Ja, ek het daai opposisie gesien, genade kan ‘n mens nou met sulke mense oorlog toe gaan! Ja-nee, dit is die probleem, daai opposisie! Hulle is die oorsaak van als wat daar verkeerd gaan.

Ant ·

Ek haal aan: “Dit toon opnuut hoe belangrik die rol van burgerlike instellings is soos Freedom Under Law, Outa, AfriForum en ander is, wat grondwetlike belange deur behoorlike regsprosesse bestendig”

En vir hoe lank gaan die regsprosesse kwytgeskeld wees van die totale verval in SA? As die parlement reeds ‘n grappie is en allerdagse lewe is belagrik gevaarlik en wetteloos, en steeds beroep ons ons op die reg en die internasionale hulp, terwyl hulle graag oorsee vir ons lag as ‘n klomp rassiste. Waar gaan ons hulp vandaan kom?……definitief nie van oorsee nie of van die regering nie.

Ek dink ou Flippie moet gou vir ons se wat hierdie derde weg is, want tyd hardloop uit.

jakoos ·

Herman, ek sien uit na jou kommentaar oor gister se anargie in die parlement en gisteraand se vuisgevegte.

Kobus ·

Goeie more Jakoos, Herman se kommentaar is nou daar, nou sien ons uit na jou repliek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.