Nuuskommentaar: Gronddebat nie oor ekonomie of wet, maar waardigheid

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Verskeie rolspelers het Woensdag mondelinge voorleggings aan die ad hoc-komitee oor wetgewing vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet gedoen in ʼn voortsetting van die gronddebat. Die voorgestelde wysiging is daarop gemik om dit in die Grondwet eksplisiet moontlik te maak om onteiening sonder vergoeding (OSV) toe te pas.

Suid-Afrika leef nog in die skadu van dít wat die afgelope twee dekades in Zimbabwe met grondhervorming en OSV gebeur het. In ʼn kwessie van tien jaar het Zimbabwe se voedselproduksie met 60% verminder. Tussen 2000 en 2001 het kommersiële plase driekwart van hul totale waarde verloor. Die land se hiperinflasie het in 2008 ʼn hoogtepunt van 500 miljard persent bereik. Dit beteken dat pryse elke 24 uur verdubbel het. Teen 2007 is agt uit tien Zimbabwiërs nie formeel in diens geneem nie en tussen 1998 en 2008 het Zimbabwe se ekonomie jaarliks met byna 7% ingekrimp.

Hierdie nagmerrie van ʼn prentjie word (met baie goeie rede) dikwels as argument teen OSV geopper. By elke liewe geleentheid wat regerings in die moderne geskiedenis OSV toegepas het, het dit verwoestende ekonomiese gevolge gehad.

Hoewel hierdie argumente teen OSV uiters geldig is, gaan hierdie argumente nie vir die regering saak maak nie. Hulle is nie besig met ʼn ekonomiese of selfs regsdebat nie, maar eerder met ʼn debat oor die herstel van waardigheid vir swart mense.

Aldus voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke: “Land is not just an issue of economic or commercial importance – it has meaning at many levels. It is very spiritual. It is in land that we bury our people, we connect and speak to our ancestors. It is land on which churches, temples and mosques are built and it is from land that we eat and survive.”

Grond word dus gesien as die tasbare vergestalting van waardigheid – die stryd om grond gaan oor die stryd om waardigheid. Die regering glo dus dat swart mense se ontneemde waardigheid nét herstel kan word met grondbesit.

In die lig hiervan is ekonomiese waarskuwingsverhaal byna irrelevant. Die regering sal ook nie sommer van plan verander met hierdie beleid nie. Tog móét ʼn mens nie net aan die gronddebat deelneem nie, maar moet jy ook hulle taal praat en hulle argumente oor waardigheid aanspreek.

Die tekort aan en belangrikheid van waardigheid moet eers erken word voordat ʼn mens kan debatteer oor hoe dit verkry moet word.

Een van die groot probleme met die gronddebat is dat die regering waardigheid en grondbesit onlosmaaklik aan mekaar wil verbind. Dit beteken dat ʼn verwerping van die regering se beleid dikwels gepaardgaan met ʼn verwerping van die hele debat. Dit is egter baie belangrik om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Ten spyte van hoe moeilik die regering dit maak, móét daar onderskeid getref word tussen die kwessie van waardigheid en grondbesit. Ons moet erkentenis kan gee aan die soeke na waardigheid en terselfdertyd kan sê dat OSV nié die oplossing is nie.

Hoewel argumentering met die regering waarskynlik nie ʼn ommeswaai in hul beleid gaan veroorsaak nie, is dit noodsaaklik vir verhoudings op grondvlak. Vir gesonde en volhoubare verhoudings op grondvlak om te floreer is dit belangrik vir mense om minstens net mekaar se griewe te erken. Vanuit ʼn opregte erkenning van die ander se probleme kan (en moet) ʼn mens dan intens debatteer oor wat die beste pad na waardigheid vir almal is. Horisontale verhoudinge op grondvlak gaan egter moeilik onderhou kan word indien almal konstant in ʼn verwerping van die regering se oplossings gewone mense se aanvanklike griewe verwerp. Dit geld ook vir alle ander kwessies alkante toe. Hiervoor moet die regering se slegte idees en verval egter nie lei tot horisontale antagonisme tussen mense nie.

Die regering stel álmal teleur. Die antwoord op ons probleme gaan daarom nie by die regering lê nie. Die regerende party sukkel tans om hulleself aan die lewe en bymekaar te hou – wat nog van die res van die land.

Dit is juis hoekom die koestering van gesonde horisontale verhoudinge so belangrik is. Die toekoms en sukses van ons land lê in selfstandige gemeenskappe wat vanuit wedersydse erkenning wedersydse samewerking bewerkstellig. Dit begin egter by ʼn opregte erkenning van mekaar se probleme en struikelblokke. Daarvandaan kan ʼn mens kyk na internasionale bestepraktyk oor hoe om massas mense uit armoede op te hef én hoe om verskillende gemeenskappe in ʼn multikulturele samelewing die ruimte te gee om selfstandig te wees.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, skryf in sy boek Die pad na selfbestuur dat daar groot kommer heers dat Suid-Afrika weens ooreenkomste in beleid en ideologie dieselfde rampspoedige pad as Zimbabwe sal stap. Hy verduidelik egter hoe daar nog meer verskille as ooreenkomste tussen die twee lande is wat ons eie vooruitsigte beter as Zimbabwe sʼn maak. Van die belangrikste verskille is Suid-Afrika se sterk privaatsektor en ekonomie, sterk openbare instellings wat as skokbrekers vir swak regering dien, goeie verhoudings tussen mense op grondvlak, ongelooflike sterk burgerlike samelewing en (vir ons gemeenskap spesifiek) Afrikaners se kulturele kapitaal wat meebring dat ons steeds suksesvol kan wees.

Ons toekoms gaan dus nie in die regering lê nie, maar in die selfstandigheid van en samewerking tussen gemeenskappe self. Daarom moet die regering se rassepolitiek, onbevoegdheid en swak beleidsoplossings nie verhoudinge op grondvlak vergiftig nie. Ons moet eerder die regering as gemeenskaplike vyand, of minstens as gemeenskaplike las, sien en daarvandaan na oplossings soek.

Ten einde nié dieselfde pad as Zimbabwe te loop nie, gaan soveel as moontlik gemeenskappe egter so staatsbestand as moontlik moet wees. Dit is vanuit hierdie staatsbestandheid wat gemeenskappe die stelselmatige verval van die regering kan teenstaan.

Daarom is dit noodsaaklik om in die tussentyd gemeenskapstrukture, verhoudinge en samewerking te bou om ons teen staatsverval te beskerm. Hoe minder mense primêr afhanklik is van die staat en hoe meer staatsbestand gemeenskappe is, hoe beter sal gemeenskappe se kanse wees om self, hoewel nie alleen nie, staande te bly te midde van die verval van die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

MT ·

Solank Afrikaners te skaam is om in die EERSTE PLEK na Afrikanerbelange (taal, sosiaal, maatskaplik, ekonomies, ens.) om te sien, sal die uitreik na ander gemeenskappe – hoe oulik dit ook mag klink – niks beteken nie.

Ander mindersheidsgroepe in SA sal baat by ‘n sterk en onafhanklike Afrikanervolk met eie grondgebied. En ons kan net sterk word as ons so ‘n bietjie meer self-liefde begin beoefen.

Dup ·

Ek moes my erf(grond) KOOP en toe BETAAL om ñ huis daarop te laat bou.WAAROM moet sekeres dan grond,erwe en plase VERNIET kry?
Ek verstaan glad nie wat aangaan nie….

Pieter ·

Vat my plaas brein dood ANC betaal net my verband ook af. Ek sal nie die bank betaal as die ANC my plaas vat nie. Wat gaan die bank doen my dagvaar of my plaas vat wat ek nie meer het nie. Dit is tyd dat ons ouer people los dan kan die ANC vir hulle kos gee. Daar is net een woord vir julle ANC sirkus VOETSEK

Groen Ghoen ·

Dalk is die waarheid dat die ANC/SAKP die 1994-grondwet maar net as ‘n hinderlike tussenstap sien om die Nasionale Demokratiese Rewolusie te implementeer? Watter mag het die teikens van grondonteiening sonder vergoeding werklik om hul belange te beskerm teen die “wil van die demokratiese meerderheid?” Neem die Menseregte Kommissie (MRK) as voorbeeld: Het Leon Wessels, in sy tyd as MRK voorsitter teen Malema opgetree met al sy blatante vergrype? Wat is die waarde van die 1994-grondwet dan indien dit bloot deur die meerderheid gewysig kan word? Watter instansie moet dan die benadeelde minderhede se belange beskerm (die grondwethof pas dan maar net die gewysigde grondwet se bepalings toe)?

Werner ·

Wanneer hulle art 25 verander kan hulle alles van jou vat.Hulle hammer nou net op grond om die mense om die bos te lei.Wanneer jy jou oe uitvee laai hulle sommer nog n paar gesinne by jou huis af in die dorp of stad om saam met jou daar te bly.Ons gaan n baie erger pad as Zim loop want hulle gaan nie net die plaas vat nie maar al jou vee en implimente.Ons kan ons maar regmaak vir die ergste want dit gaan gebeur al hierdie vergaderings ten spyt.

Nico ·

Die Afrikaner volk is ‘n verdeelde volk, nog nooit in die geskiedenis was die Afrikaner volk so verdeeld nie. Die Afrikaner volk kan in drie dele verdeel word, die eerste groep het die land verlaat, weg gehardloop na die verkiesing in 1994, het op vliegtuie en skepe geklim en die land verlaat, tweede groep het hier gebly en gesê ons kan hierdie stelsel laat werk, hulle kan nie sien dat hierdie stelsel besig is om sigbaar in duie te stort nie. Die derde groep Afrikaner wat nog staan het gesê hierdie land is ons land en het niks om verskoning voor te vra omdat ons hierdie land besit wat op ‘n regmatige wyse bekom is nie.

Jan ·

Daar is ander oplossings as OSV. Ek behoort aan ‘n organisasie wat al herhaaldelik voorleggings aan die Minister gemaak het oor alternatiewe wat beste praktyk in die wereld is, maar hulle stel eenvoudig nie belang nie. Hulle ken net Kommunisme as antwoord. Ons voorstelle is die absolute teenpool van Kommunisme. Een van ons voorstelle is byvoorbeeld ‘n 100 jaar Huurpagstelsel soos in Hong Kong van krag was en wat Hong Kong een van die magtigste ekonomiee binne vyftig jaar gemaak het. Groot hoeveelhede grond wat op die oomblik baie min waarde het (bv Staatsgrond) word verniet aan eienaars gegge vir 100 jaar (die oplossing vir die Waardigheids probleem). Dit sluit enige tipe grond in, nie net Landbougrond nie. Gemeenskappe sentrums begin ontwikkel en ontwikkeling “snowball”, ‘n absolute wen-wen situasie, net soos in Hong Kong. Maar nee, die ANC weet beter. Ons weet niks. Hoekom hierdie voorstel nie deur ander partye gemaak word nie, is dalk as gevolg van “vested interests”.

Maalstroom ·

Dié skielike koppeling van “waardigheid” aan grondbesit is ‘n kwasi-regverdiging vir die buitmakings kultuur wat tradisioneel die Afrika manier van selfverryking is.

Tradisioneel was alle grond buite die koning of stamhoof se omheining, “almal” s’n.
Wanneer ‘n man trou, vra hy sy stamhoof waar hy sy hut daarbinne kon oprig. Hy ontvang geen eiendomsreg op daardie grond, wat sg. sy “waardigheid” sou bevestig nie.
Hierdie skielike “waardigheid” wat grondbesit sou verskaf, is ‘n drogredenasie.

Die ANC skram weg van verdienste en “waardigheid” wat slegs deur onderwys en opleiding, en bewese akademiese, tegniese en professionele prestasie, d.w.s harde werk, vergoeding en erkenning volgens verdienste, bereik moet word.
Want “werk” is tradisioneel benede hul politieke leiersklas. Hulle verdien ongekwalifiseerde “respek.”

“Werk” hoort tot die tradisionele laer klas.
Dié diskriminasie tussen die swart politieke leiersklas en hul werkersklas is die werklike “Apartheid” dwarsdeur Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.