Nuuskommentaar: Grondgryp – 2019-verkiesing het belangriker geword

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Te midde van die euforie oor Cyril Ramaphosa wat tot president van die ANC verkies is, het die ANC by die beleidsdeel van sy onlangse kongres ook ’n resolusie aanvaar om grondgryp sonder kompensasie moontlik te maak. Tot onlangs het die ANC, byvoorbeeld in die parlement, daarteen gestem, al het pres. Jacob Zuma self die grondgryp-saak begin bepleit. Zuma se ekonomiese insigte was egter nooit anders as onder verdenking nie, maar dit het nogtans deel van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se verkiesingsveldtog geword. Dit het juis bygedra tot die verligting dat Ramaphosa die pyp gerook het.

Maar toe kom die emmer koue water.

Die kwessie is nie nuut nie en Maroela Media het reeds op 4 Junie 2014 kommentaar hieroor gelewer. Trouens, daar was al oor ’n wye front besprekings en moontlik teenaksies hieroor beplan.

Artikel 25 wat eiendomsreg waarborg maak deel uit van die grondwet se handves van menseregte.

Dit het ook baie diep wortels. In 1995, toe die parlement ook as grondwetskrywende vergadering gefunksioneer het, het die deelnemende partye, waaronder die ANC, ooreengekom dat die VN se deklarasie van Menseregte (1948) en ander konvensies belangrike rigtingwysers sal wees oor wat universele menseregte sal wees (en dus deel van die handves van menseregte sal wees).

Die handves self verwys verskeie kere na eiendomsreg. Artikel 17 hiervan is absoluut duidelik:

  • Everyone has the right to own property alone as well as in association with others.
  • No one shall be arbitrarily deprived of his property.

Artikel 2 lees soos volg:

Everyone is entitled to all the rights and freedoms set forth in this Declaration, without distinction of any kind, such as race, colour, sex, language, religion, political or other opinion, national or social origin, property, birth or other status.

Verskeie partye en instellings het aangedui dat hulle alles in die stryd sal werp dat hierdie grondwetwysiging nie op die wetboek beland nie. Die probleem is dat die ANC saam met die EFF en ’n paar klein partytjies ’n tweederde meerderheid het. Die beste hoop om dit grondwetlik te keer is om die proses op elke denkbare moontlike manier te vertraag tot die verkiesing van 2019, en dan tydens die algemene verkiesing die bordjies só te verhang dat ’n tweederde meerderheid nie meer verkry kan word nie.

Die rede vir die ANC se ommekeer oor die kwessie is lank voor 1994 deur die politieke wetenskap verklaar. Daarvolgens sal ’n “bevrydingsbeweging” wat aan bewind kom vir ongeveer ’n dekade (effektief drie verkiesings omdat die derde verkiesing aan die einde van die dekade gehou word) met sy eie droogmakery kan wegkom deur alles op die vorige regering/kolonialisme te pak. Ná die dekade is die kiesers egter nie meer bereid om daarvoor te val nie, en in die derde termyn moet die regerende party met nuwe idees kom om aan bewind te bly. Grondgryp word dan as spesifieke voorbeeld genoem. Zimbabwe is as klassieke voorbeeld hiervan gebruik.

Die verloop in Suid-Afrika was ook nie anders nie. Apartheid, kolonialisme en selfs Jan van Riebeeck is as redes aangevoer vir alles wat in Suid-Afrika verkeerd loop, terwyl die grondkwessie al sterker geopper is. Zuma self het ’n paar klagtes van haatspraak op die lyf geloop deur te sê wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Die grondhervormingsprojekte het egter om verskeie redes nie van die grond af gekom nie – in elk geval nie tot die mate wat die regering dit wou hê nie al het ’n onlangse grondsensus van Agri SA getoon dat die teikens baie na-aan bereik is, en plek-plek selfs reeds bereik is. Ontsaglike vlakke van korrupsie in die proses was waarskynlik een van die hoofredes waarom die proses nie na wense verloop het nie.

Ekonome het al by verskeie geleenthede breedvoerig verduidelik hoekom grondgryp die boom onder die reeds brose Suid-Afrikaanse ekonomie sal uitruk. Ramaphosa self het probeer gerusstel dat die proses so toegepas sal word dat dit die ekonomie nie sal benadeel nie, en dat dit ook staatsgrond sal insluit. Dit beteken agter dat baie nuanses nog uitgespel sal moet word. In ’n stadium het die ANC beweer baie boere besit grond wat hulle effektief present gekry het deur ’n gekonkel in die aktekantoor.

Dit is moontlik die wortel van Ramaphosa se stelling dat boere wat onwettig grond besit, die grond kwyt sal wees. Onwettige besetting van grond sal ook nie geduld word nie.

Nogtans plaas dit ’n groot verantwoordelikheid op elke verantwoordelike kieser om in 2019 na die stembus op te ruk en die planne dood te smoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Al ·

Die bevolkingsaanwas is nog nooit aangespreek nie, eerder aangemoedig. Dis een rede waarom mense in armoede vasgevang is.
Al gee jy al die grond en werke in SA vir hul, sal dit nie genoeg en volhoubaar wees nie.
Ramaphosa loop op dun ys, want die Zuma kamp het genoeg ondersteuning.
Hoeveel onbenutte staatsgrond lê nie rond nie?

2019 is n baie belangrike jaar inderdaad vir verandering.

pieter ·

vra Zimbabwe of dit gewerk het.LEES IN N TYD SKRIF GROND GRYP HET RHODESIE SE ONDERGANG BEWERKSTELLIG.SIENER HET GESE DIE EMMER BLOED WORD IN RHODESIE OMGESKOP EN VLOEI NA ONS TOE .

Johann Marx ·

Ag asseblief Pieter………..”Vra vir Zim” gaan niks laat verander nie. As jy vir ‘n Kommunis daarop wys dat kommunisme wêreldwyd ‘n mislukking is, is sy antwoord altyd “Ja, maar dis verkeerd geïmplementeer!!” Dieselfde met Zim………..as jy nou vir enige swart politikus vra of Zim se beleid gewerk het, sal sy antwoord wees: “Miskien nie so goed as wat dit kon nie, want dit was nie REG geïmplementeer nie!!!” So moenie Zim gaan vra nie…………..bied weerstand jouself!!

Ronel ·

Die ANC speel die speletjie soos kleinkindertjies sal speel. As die reëls van die game jou nie pas nie, verander dit om die game in jou guns te swaai. Maak nie saak WIE daaronder gaan ly nie.

John ·

Al stem elke witmens in 2019 is dit nie eens ‘n druppel aan die bodemlose emmer nie. Dat die NP-onderhandelaars sowaar die nuwe grondwet goedertrou aanvaar het… Cyril gaan maar net telkens sy hande Pilatusgewys was en se dat hy teen ‘n oormag mede-ANC-besluite te staan kom. Die man het sy kleur destyds gewys. Die trekboere het hul vereenselwig met Israel se stryd om oorlewing. Interessant dat die verloop daar en hier tans weer baie dieselfde is… miskenning van bestaansreg. Goedheid en guns was/is die Afrikaner se ondergang. Ons christelike geloof word verdraaid teen ons ingespan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.