Nuuskommentaar: Grondgryp hét nie ander naam

Argieffoto.

Gaan die land nou ekonomies sink, soos verskeie ekonome gewaarsku het dit kan gebeur as die regering grondgryp sonder vergoeding deurgevoer sou kry? Of bied die feit dat dit nog net ’n parlementêre komitee se aanbeveling is nadat met veral die geskrewe voorleggings blatant gekierang is, nog genoeg tyd om die verloop van die proses in die howe te stuit?

Al staan pres. Cyril Ramaphosa op sy kop en fluit deur sy tone, gaan dit niks aan die feit verander dat die beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet Suid-Afrika as land finaal oor die afgrond gaan dwing nie. Dis nou as met die huidige mamparra-planne deurgedruk word. Ramaphosa het byvoorbeeld pas die Europese Unie toegespreek en weer sy versekering gegee wat maar nie die gewenste uitwerking, vanuit Ramaphosa se oogpunt beoordeel, wil hê nie. Boonop, terwyl Ramaphosa wal probeer gooi, geveins of nie, baljaar die EFF en stuur wanklanke die hele beskaafde wêreld in.

Die “gematigde” uitsprake wat Ramaphosa maak, sal kwalik ’n idioot om die bos kan lei. Die hoofaanspraak, naamlik dat alles volgens die wet en Grondwet sal geskied, beteken absoluut niks, want dit is in hierdie stadium duidelik dat die ANC, om nie van die EFF te praat nie, juis die Grondwet gaan probeer wysig om die land heel “wettig” in sy kanon in te stuur.

Versekerings dat dit so gedoen gaan word dat die ekonomie en voedselsekerheid nie bedreig gaan word nie, verklaar aan kundiges bloot dat die besluitnemers geen kennis van die ekonomie het nie. Ramaphosa se versekerings oor ekonomiese bloei ná die wetgewing deurgevoer is, laat hom taamlik laf en onkundig op wêreldverhoë klink.

Boonop gaan die wêreldverhoë ook deur ander instansies soos Agri SA uit Suid-Afrika met ’n ander boodskap toegespreek word. En dié keer maak die boodskap sin. AfriForum het reeds, tot uiterste frustrasie van die regering en vyande van AfriForum hierdie veld betree.

Kort nadat aangekondig is dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge die parlement hof toe gaan sleep oor prosedurefoute wat tot dusver gemaak is, het AfriForum soortgelyk gereageer.

AfriForum het sy besluit soos volg gemotiveer: “AfriForum het vroeër vanjaar ’n memorandum én ’n petisie – wat standpunt teen onteiening sonder vergoeding ingeneem het en deur meer as 250 000 van AfriForum se lede en ondersteuners onderteken is – by die parlement ingedien.

“Die parlementêre komitee het dit egter duidelik gemaak dat hulle hierdie petisie en memorandum verwerp, asook die feit dat 65% van die skriftelike betoë oor die algemeen teen onteiening sonder vergoeding gekant is.”

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is baie duidelik dat die komitee ’n politieke doelwit het en bereid is om ooglopende prosedurele gebreke in die proses te ignoreer om sy mandaat uit te voer.”

Die ironie is dat AfriForum minstens ’n deel van hul regskoste kan finansier uit ’n betaling van regskoste deur die EFF aan AfriForum nadat die twee instansies in die hof slaags was, en die EFF met koste teen hom tweede gekom het.

Dit is baie moeilik om te dink hoe die saak betyds vir volgende jaar Mei se verkiesing in die howe afgehandel sou wees, selfs al wen die parlement die finale appèl.

Maar wat as Ramaphosa se steun vir die wetgewing net oëverblindery is – dat hy swart steun konsolideer, en terselfdertyd daarop reken dat verantwoordelike instansies die proses deur die howe sal laat sink?

Hierdie kwessie is immers as ’n tikkende handgranaat aan Ramaphosa nagelaat met Ramaphosa wat tot in daardie stadium teen onteiening sonder vergoeding gekant was. Dit is immers deel van Ramaphosa se strategie om van sy teenstanders ontslae te raak deur die howe en ander instellings hul werk te laat doen. Dit lyk egter onwaarskynlik omdat die ekonomiese gevolge baie erg rampspoedig sal wees.

Dit kan so maklik gebeur dat hierdie planne in die geskiedenis opgeteken staan as die mees rasverdelende gebeurtenis in die land se geskiedenis.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jan Nel ·

Dagsê Herman

Ek lees jou artikels getrou en ek weet dat lof soms maar yl gesaai word in die rigting van die skrywer. Baie dankie vir jou objektiewe uitkyke en menings, sonder te veel emosie wat die skrywes van hul waarde kan beroof.

Baie sterkte ook aan jou met jou persoonlike uitdagings, wat ek verstaan daar menige van is.

jaco ·

onteiening sonder vergoeding lê voor die deur, maar Afriforum mors tyd en geld op ‘n simpel hofsaak teen Grace Mugabe

Charles ·

Ons (Afrikaners) en ander inwoners van die land; wie in uiterste ellende en onsekerheid- “Afrika-styl”- gedompel sal word; is in die geveg van ons Lewe!

Feit is: die VN Handves van Regte verbied Onteiening sonder vergoeding; feit is: selfs die Afrika Handves van Regte- verbied pertinent onteiening sonder billike en regverdige vergoeding- albei waarvan SA natuurlik ‘n ondertekenaar van is.

John ·

Wie en wat was/is die ANC nou eintlik? Die geskiedenis van die groep, wat in die verlede soos ‘n terroriste-bende gefunksioneer het en groot ondersteuning van liberale groepe in die buiteland en plaaslik geniet het, het nog nooit van die teendeel getuig nie. Die wet word gewysig sodat die grondwethof sy hande in die lug kan gooi en se: Kyk, ons hande is afgekap. Die EU weet hul uitvoere gaan toeneem na SA want kosskaarstes sal voorkom. Almal wat Trump haat gaan CR steun want human rights is mos hier gebore. CR preek teen rassisme en xenofobie, maar hy is ‘n toonbeeld daarvan.

Charles ·

Miskien moet ons alle regte in hierdie nou-vreemde-land oproep, ons grond vrywillig afstaan, asook ons taal se bestaan in SA oproep, ons reg om te bestaan, ons kultuur- en om asiel aansoek doen in Nederland.

Andre ·

Afrika hou nie van opvoeding, eiendomsreg, wette, reels en regulasies nie.

Chris ·

Soos altyd n puik artikel Herman Toerien.Grond afvat links en regs?Iemand het nie mooi gedink nie.Punt.

RG ·

Puik artikel en opgesom. Dankie Herman.
Ek verstaan egter nie waarom mense dink dit is rasse verdeling terwyl COPE ea ook daarteen stuit.
Charles, ek het by jou iets geleer.

Paul ·

Herman, lees gerus die artikel oorSteve se betoging vandag by die Amerikaanse ambasade, ook die kommentare onderaan. Gaan lees dan ook CR se konneksie met Bosasa, op die internet, en dis nie geld wat sy seun verdien het nie.

Paul ·

Ek haal ‘n berig van tyd gelede uit die Engelse pers aan:

In Parlement president Ramaphosa reacted to a question from the DA and said he confronted his son about the Bosasa payment, Andile Ramaphosa explained that the money was for advisory services provided to Bosasa.

“He advises both local and international companies and this payment, I can show you Mr Maimane that I asked him at close range whether this was money that was obtained illegally, unlawfully and he said this was a service that was provided.”

Nou waarom het Ramaphosa hier bo in die parlement gejok? Nou vertel dat sy seun nie binnelands met Bosasa besigheid doen nie, maar dat die R500,000 ‘n skenking aan hom was vir sy veldtog om presidentskap van die ANC en dat hy nie van die skenking bewus was nie. Dus is dit duidelik dat die voormelde gesprek nie met sy seun plaasgevind het nie.

Johanb ·

Eers het hulle die staatsinstansies geplunder, en nou gaan hulle vir die finale slag, om blanke grond te plunder. As die ekonomie in duie stort gaan hulle alles wat beweeg en blank is blameer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.