Nuuskommentaar: Grondgryp: Moenie van plaasaanvalle en die res vergeet

Argieffoto

Geen regdenkende mens sal verskil daarvan dat die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding nou die hoogste prioriteit verdien nie. Dit is reeds duidelik dat die regering hom in ’n string regsaksie gaan vasloop, en as daar reg en geregtigheid is, bloedneus gaan kry.

As iets skeefloop en die Grondwet word wel gewysig is die ekonomie reddeloos in sy peetjie in, voedselsekerheid na die maan en rasseverhoudinge gesink. En as dit van die EFF afhang, gaan daar enorme wetteloosheid wees.

As ’n mens egter die nuus volg, is daar ook ander kwessies wat nie durf links lê nie. Ongelukkig is voortgesette, en moontlik verskerpte plaasaanvalle ’n uitstaande aspek. Nie net die aanval op Naka Drotské val op nie – daar is ook ’n vlaag in die omgewing van die Paarl. Nog ’n opskrif wat in die oog skiet, is dié van ’n boer wat erge brandwonde tydens ʼn plaasaanval opgedoen het.

Die nuustoneel is ’n rukkie “gekaap” deur die heldedaad en dood van die 66-jarige Mita Koromang wat haar siek werkgewer en sy gestremde seun teen huisrowers in Bloemfontein beskerm het. Mita het deur haar dood ’n reuse-lans vir rasseverhoudinge gebreek.

Maar dit wat in dié voorstedelike huis afgespeel het, is ook iets wat nou al lank feitlik daagliks op plase afspeel. ’n Gemene deler is die absolute aggressie waarmee die huismense aangeval word. Dit lyk na ’n taktiek om weerstand te ontmoedig.

Maar plaasaanvalle is ook berug oor die uiterste wreedheid wat daarmee gepaard gaan.

Toe die uwe aangeval is, was die vernaamste vrees ook iets wat uit die talle berigte en nuuskommentare wat oor plaasaanvalle geskryf is, geput is – die lot van mense met gestremdhede wat slagoffers is. Sy eie seun is outisties en beskik oor byna geen spraak nie. Dit kom in kort daarop neer dat aanvallers, hetsy plaasaanvalle of huisrooftogte, glo die huismense besit ’n kluis en dat dit propvol geld en vuurwapens is. Daarom is daar effektief geen grense aan die marteling wat toegepas word om die sleutels en ligging van die kluis te bekom nie. Maar wat as daar geen kluis is nie? Of die slagoffer is te gestremd om te verstaan wat die aanvaller wil hê en kan ook nie antwoord nie?

Enkele maande gelede is ’n jong, outistiese kind erg voor sy ma gemartel en gewond om te sê waar die kluis was. Die gesin het geen kluis gehad nie, maar selfs al sou hulle een gehad het, kon die kind nie antwoord nie. Tydens ’n plaasaanval in die Vrystaat is ’n bedlêende bejaarde wat weens beroerte nie kon praat nie, grensloos gemartel om die kluisbesonderhede te verkry.

In ’n plaasaanval in KwaZulu-Natal enkele jare gelede is ’n bejaarde op sy plaas aangeval. Hy het geen kluis gehad nie, maar die aanvallers het sy voetsole afgeskil om die kluisbesonderhede te bekom. Die man het daarna in die Suid-Kaap by familie gaan woon, maar was vir soveel jare getraumatiseer en sy menswees verguis dat hy skynbaar nooit weer sou herstel nie.

Ek sal die paniek ter wille van my seun nooit vergeet nie. Gelukkig het die moordenaars die hasepad gekies toe die gestremde – nou 25 en 1,85 meter lank, op die toneel verskyn. Die klein en skrale Mita is egter noodlottig beseer.

Terwyl die uwe in die hospitaal chemo kry en ’n TV-onderhoud aan e-TV toestaan, was Mita se familie besig om begrafnisreëlings te tref.

Elke persoon het ’n verantwoordelikheid oor sy en sy gesin se veiligheid. Ongelukkig is ’n ketting net so sterk soos sy swakste skakel, en deur genoegsame intelligensie in te win, weet die aanvallers gewoonlik wat dit is.

’n Tweede stelling klink ongelukkig baie negatief, maar lui dat as dit jou beurt is, is dit jou beurt. Statisties gaan jou dag kom. As huisbrake byvoorbeeld deur behoorlike diefwering en alarmstelsels feitlik onmoontlik gemaak word, word die huismense bloot oorval. Een boervrou, wat op die dorp gaan woon het ter wille van haar veiligheid, is egter oorval en vermoor deurdat die rowers via die plafon van die ongesluite toilet toegang tot die huis gekry het. Waar daar ’n wil is, so lyk dit, is daar ’n weg.

Of die alleenloper-boer by Vredefort wat sy huis in ’n fort, met versterkte mure en skietgate kompleet, omskep het. En toe wag die aanvallers hom buite in en vermoor hom daar, en dra die “fort” leeg.

Om aanvalle te voorkom, is dit ongelukkig nodig om soos die versigtige broekdraer te maak – sorg vir ’n stewige rek om die broek bo te hou, maar net om seker te maak deur ook ’n sterk gordel en kruisbande aan te trek.

’n Netwerk van oplettende en parate bure is noodsaaklik, nie net op plase nie. In my geval was die GPF-lede ongelooflik gou op die toneel, lank voor die polisie opgedaag het, en hulle het ook blitsig die ambulans laat kom wie se telefoonnommer ek nog gesoek het.

Goeie verhoudinge met almal in die omgewing, ook plaaswerkers, is noodsaaklik. Dit kan nie net help om aanvalle te voorkom nie, maar die polisie help om inligting oor die aanvallers te bekom.

Terwyl die voet op die regering se keel gehou moet word oor die vernietigende grondgrypplanne, moet die voet ook begin drukking toepas op die regering se kele om behoorlik teen plaasaanvalle op te tree. Nie net dit nie – daar is baie ander sake soos aanvalle in stedelike gebiede, slaggate net waar ’n reisende kyk, transito-rooftogte, oorlaaide howe en natuurlik korrupsie wat duidelik al met sy endemiese karakter nesgeskop het.

Mag die grondgrypplanne gou nek omgedraai word en van baie korte duur wees. Voor die planne se skade onherroeplik is, laat staan nog die gevolge van implementering.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Paul ·

Die ossewa het sy doel gedien, die nuwe land het ons ingehaal. Ek het ‘n idee die maklikste sal wees om weer ‘n Jan van Riebeeck te soek, vir hom drie skippe te bou, ons kan dit maar Reiger, Drommedaris en Afrikanerhoop noem, dan stuur ons hulle oor die blou water om te soek of daar nie tog nog ‘n plekkie vir ons te vind is nie.

Paul ·

O ja en hulle kan die Drommedaris soos Noag se ark bou, plek vir die groot 5 en ander wilde diere. ‘n Grootringduif sal die eer toeval om met ‘n takkie terug na die skip te keer. Dalk kan hulle ook plantjies van die haak-en-steek saamvat, gewone trosvy, njalaboom, ag sommer so hele ‘n klomp. En natuurlik fluitjiesriet wat mens langs dieriviere kan plant, grasse, sal die seekoeie en ander diere dit nie geniet nie?

Andrea ·

Ek stem 100% hiermee saam. Wens Afriforum wil so n moontlikheid ondersoek. Êrens sal daar n land / eiland/ ysberg / sandduin wees wat ons kan koop en dan bydra tot daai stukkie aarde se ekonomie en ontwikkeling. Eks negatief, ek weet, maar ons sal NOOIT n area vir onsself hier kan beding nie. Nie eens ankerstede nie. Ek voel ons mors ons geld en kosbare tyd hier. Laat ons planne maak om vir ons êrens n holte vir ons voete te koop. Weg uit Afrika asb.

WILLIE ·

WAARS DA LEIER NOU HYT GROOT LAWAAI GEMAAK OOR RASSISME MET DIE DOODSKIS STORIE PAAR DAE GELEDE WAS PETROL OOR BOER GEGOOI NOU WEER WARM WATER OOR BOER SE GESIG GEGOOI HY SE NIKS OOR DIT IS DIT OMDAT DIT PLAAS VERWANT IS TA TA DA

Gert ·

Alida, Willie vra net dat die DA eenders reageer op swart op wit as op wit op swart geweld, maar ons weet almal dit sal nooit gebeur nie.

Ja Nee ·

Daar is niks aan te doen nie, dit sal deurgevoer word want die meerderheid het gepraat en hulself het niks om te verloor nie.

Peet J ·

Stem saam, miskien ook beter om al jou los items van die hand te sit aasook jou eiendom , en dalk ‘n ordentlike mobiele woonhuis of karavaan naby die see te bekom . miskien nog beter om op ‘n boot op die see te gaan woon.

Marlene Bothma ·

Daars so baie plaas aanvalle. Nog sit boere met oop deure en TV kyk of braai buite. Ek dink mense moet teen hierdie van beter weet.

Victim Blaming? ·

Marlene, ons moet versigtig wees dat die mens wat aangerand of vermoor word nie aangekla word nie. As voorbeeld, daar waar jy nou is, is die deure gesluit?

Andrea ·

Ek stem 100% hiermee saam. Wens Afriforum wil so n moontlikheid ondersoek. Êrens sal daar n land / eiland/ ysberg / sandduin wees wat ons kan koop en dan bydra tot daai stukkie aarde se ekonomie en ontwikkeling. Eks negatief, ek weet, maar ons sal NOOIT n area vir onsself hier kan beding nie. Nie eens ankerstede nie. Ek voel ons mors ons geld en kosbare tyd hier. Laat ons planne maak om vir ons êrens n holte vir ons voete te koop. Weg uit Afrika asb.

Pierre ·

Geen DA, Jan van Riekeeck, of skip of whatever gaan ons red nie. Daar is wel een manier en dit is… gaan op julle kniee en bid tot ons lewende God, net Hy kan ons genadig wees en help.

humor ·

Liewe aarde MM waarom plaas julle nie my kommentaar nie??? Wat is fout daarmee. Asseblief plaas dit!!!!!!!!

humor ·

MM is jul nou skoon moedswillig om nie my kommentaar te plaas nie, Daar is regtig geen fout daarmee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.