Nuuskommentaar: Grondgryp nie sommer vir vat nie

Argieffoto

Al hanteer adj. pres. Cyril Ramaphosa die kwessie hoe diskreet, gaan die kwessie van grondgryp sonder vergoeding hom aan die hakskene begin hap. Boonop is die voorste opstokers vir grondgryp van die swakste politici in die land. Dit sou goed wees as van hulle ontslae geraak kan word.

Teen dié tyd sou selfs die mees onkundige in die land weet wat grondgryp sonder vergoeding beteken, en dat dit teen die grondwet indruis. Almal, so lyk dit, behalwe pres. Jacob Zuma se adjunk-minister van grondsake, Mcebisi Skwatsha, wat meen alle departemente kan dit begin implementeer sodra die ANC dit klaar bespreek het. Die werklikheid is dat dit lank gaan neem om die grondwetlike pad te volg, onder meer uitgerekte onderhandelings met internasionale rolspelers om bestaande internasionale verdrae se wetlike neerslag minder dwingend vir Suid-Afrika te maak as wat nou die geval is.

Skwatsha toon dan ook dat hy geen respek vir sy eie amp het nie, maar boonop heeltemal niks daarvan weet nie. Sy kop behoort dus in ’n eerskomende kabinetsamestelling te rol.

Maar tot tyd en wyl dié proses kan afloop, sal sy kierankies stellig bly braai. Dit ter wille van sy salaris, en ten koste van gesindhede internasionaal en nasionaal.

Veel is al geskryf en ontleed met presies wat bedoel word met uitdrukkings soos “radikale ekonomiese transformasie”. Hoewel die mening daaroor wyd verskil afhangend van die hoek van die kryt waaruit gestoei word, word dit deur sommiges geag as  toe-eieningas waar eienaarskap in die ekonomie en grond aan swart mense oorgedra word.

Die toe-eiening sluit in dat daar nie net ’n gewilligheid van wit moet wees om ter wille van transformasie te moet afstaan en ad infinitum te moet afstaan nie. ’n Nimmereindigende proses van verskoning vra vir wanpraktyke uit die verlede is ook eers nodig sodat die erns van die boetedoening bepaal kan word. Nou hang dit ook nog aan baie Afrikaners se hande, en die vraag word tereg gevra – is daar ’n punt van opofferings maak wat as “voldoende” beskou kan word?

Die onmin oor die Hoërskool Overvaal is nog ’n goeie voorbeeld van waar die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, ’n fiksasie ontwikkel het rondom veronderstelde wit opofferings. Die VF Plus reageer op Lesufi se uitlatings en gebrekkige regsinsig, en noem hom ’n hardkoppige, stout kind wat nie wil hoor nie.

Intussen sloop hy ook positiewe gesindhede wat op die regte basis gebou word.

Terwyl Ramaphosa gelyktydig alles vir almal probeer wees, is daar van sy eie mense wat die proses probeer erodeer. Ramaphosa het dus nie die luukse van wag nie – hy moet sy voorkeure begin duidelik maak ten einde die vrot kolle te kan opruim.

En o ja, dan is daar nog die hele kwessie van korrupsie, plaasaanvalle, mishandeling van vroue en kinders, en vele meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

” Ek het nog nooit sulke twyfelagtige karakters teëgekom nie.”
Aaron Motsoaledi se getuienis in Esidimeni verhoor.
Dit beantwoord alles in n enkele sin.

Zimmie ·

EK wil GRAAG weet hoekom is die grondonteiening MET vergoeding nie deurgevoer nie? ‘n Vriend van ons wag al 7 jaar vir ‘n regeringamptenaar om na hom toe terug te kom nadat hy kennis gekry het dat drie van sy produktiewe plase eise op het. Hy het gese hy sal verseker saamwerk en dat hulle asseblief met hom moet kom praat en onderhandel. 7 jaar later het niemand nog ‘n afspraak gemaak om met hom kom gesels of onderhandel nie. Hulle het al die geld gespandeer wat vir GRONDONTEIENING met vergoeding bedoel was en sit nou met niks nou wil hulle net VAT< en glo my .. hulle gaan . of ons nou skop of skreeu . daar gaan geen onderhandelings wees nie . .ZIM is oppad.

P.G Slabbert. ·

Wat ons voor vir baie lank , hard gewerk het, gaan beslis nie net gevat word!

Alida ·

Al die grond wat al aan hulle gegee is lê brak en word nie bewerk nie.

Andre ·

Hulle het hul eie grondgebiede gehad wat niks aan gedoen is nie. Wil net he en niks self ontwikkel nie.

Onbeskikbaar ·

My grond is totaal onbeskikbaar, dit moet hulle besef voor hulle gaan karring waar hulle gaan probleme optel.

Rinda ·

Hulle is erger dan Rip van Winkel, hy het darem wakker geword. Dis nie sommer van vat net nie.

Vraagteken ·

Miskien kort ek ‘n tinfoil-hoed, maar mens moet wonder hoekom was daar:
1. Die EFF gestig (doen die ANC se vuilwerk)
2. Bell Potinger gehuur
3. Polletike opstokery oor grond
4. Anti-wit-rassisme
5. Ontwapening (CFA wette en internationale bevondsing vir Gun-Free-South-Africa).

Iemand soek n oorlog in Suid Afrika. Maar watter uitkoms verwag hulle en wie gaan baat daarby?

Boland ·

Moenie dat al hulle uitsprake julle omkrap nie.Dis presies wat hulle wil he.Wil paniek saai.Dit gaan nie net van vat wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.