Die finale goedkeuring van die wetsontwerp op onteiening is nou in die hande van die man wat by herhaling verkondig wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, naamlik pres. Zuma.
Pogings om die werklike toedrag van die geskiedenis aan Zuma voor te hou, het nie ʼn duik aan persepsies gemaak nie en trouens eerder ʼn verontwaardigde reaksie ontlok. Boonop is Zuma nie baie spraaksaam oor wie se grond swart mense gevat het toe hulle hulself in die land kom vestig het en wat dan van hierdie KhoiSan-eise sou word nie.
Dit krap dat die ANC spog dit beteken nou die einde van die beginsel van vrywillige verkoper, vrywillige koper. ʼn Waardeerder-generaal sal nou ʼn realistiese prys bepaal, wat die vraag laat wat gebeur in gevalle waar die waardasie so laag is dat die onwillige verkoper nie sy verbande en lenings op dit wat onteien word, kan aflos nie.
Omdat die woord “eiendom” nie behoorlik gedefinieer word nie, is dit tegnies moontlik dat nie net huise en plase onteien kan word nie, maar ook vee en selfs pensioenfondse. Die ANC se vreemde weiering om hierdie onsekerhede op te klaar, is onrusbarend.
Vrese van spesiale gevalle waar onteiening sonder vergoeding kan geskied, is ook nie heeltemal besweer nie. Dit hou verband met die gebruik van die woord “voogdyskap”, wat in die geval van die land se mineraleregte, op onteiening sonder vergoeding neergekom het en deur die Konstitusionele Hof goedgekeur is. Volgens regsadvies wat Agri SA ingewin het, lyk dit egter asof daar wel woord-skanse in die wet hierteen behoort te wees.
Boonop is ʼn wetsontwerp uit die kabinet onderweg wat grondgroottes gaan beperk.
Hoeveel ander “ondersteunende wetgewing” gaan nog hul opwagting maak om die staat se honger na grondaankope, maar met ʼn leë staatskas, te bevredig? Die regering skep verwagtinge wat steeds enorme eise aan die uitgedunde staatskas sal stel, al sorg die waardeerder-generaal dat pryse “realisties” is.
In sy staatsrede het Zuma gesê wetgewing sal voortaan aan behoorlike sosio-ekonomiese toetsing onderwerp word. Dit is nie nou gedoen nie, maar Zuma verkondig gereeld grondbesit is rykdom (wat tot dusver in grondhervormingsaksies dikwels die teenoorgestelde was) en daarom is so ʼn ondersoek seker oorbodig geag.
Presies hoe wys dit was om die wetsontwerp goed te keur terwyl twee graderingsagentskappe sommetjies maak of Suid-Afrika se kredietgradering afgegradeer moet word, sal binnekort blyk. Indien dit tot rommelstatus bydra, was dit ʼn bitter duur proses. Dit is in elk geval moeilik om te sien hoe dit nie beleggersvertroue kan skaad nie.
Dit sal nou interessant wees om te sien of iemand of ʼn instansie die grondwetlikheid van die wetgewing in die howe sal gaan toets. Die Vryheidsfront Plus het reeds gesinspeel op leemtes in artikel 25 van die Grondwet, wat dit laat lyk asof die probleem eerder by die Grondwet as die wet lê.
Die groot probleem gaan intussen wees dat die wetgewing en die gepaardgaande propaganda, groot verwagtinge kan skep oor ʼn Utopia wat voorlê en dat enige poging tot realisme as polariserende “pretbederwery” beskou word, met ʼn toename in spanningsvlakke in die land.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
40 Kommentare
Oe nee, om in die hande van n man met meer as 780 sake Teen hom te wees, is om in die vuur te spring en jouself te verkool n baie maklikder opsie. Dis tog wat vir jou wag, of nog iets erger!!
Goeie artikel Herman. Die skelm sal natuurlik al die grond vir homself en sy duisend kinders opeis.
Die term “grondgryp” is misleidend. Dit gaan nie oor grond alleen nie. Dit gaan oor ENIGE soort eiendom.
Die skrif is teen die muur.
Ons manne, de klerk en kie het darem n uitstekende skikking vir ons beding nogal met wigte/teenwigte en al pragtig