Nuuskommentaar: Grondgryp sonder vergoeding en grondhervorming

land-grond-landbou-deur-edouard-tamba-unsplash

Foto: Edouard Tamba/Unsplash.com

Soms is die “telkaart” ʼn bietjie misleidend omdat die woord “grondgryp” soms net in die opskrif van sulke berigte, artikels en rubrieke voorkom. Die opskrifte is in die reël nie die pennevrug van die betrokke skrywer nie, maar van geoefende subredakteurs vir wie ander oorwegings ook geld, soos die spasie wat vir die opskrif beskikbaar is, die aandag wat dit kan trek en die treffendheid daarvan. Dit verskaf nietemin data dat die regering se misleidende woord “grondhervorming” bedoel is om te sus, en ’n soort morele onderbou aan hierdie roofsugtige poging te heg terwyl die ekonomie verwoes word.

Bygesê, twee betekenisse van die woord “grondgryp” bestaan. Die eerste is die doodeenvoudige kriminele besetting van grond, wat soms met die blatante versuim van die polisie die indruk skep dat daar ’n element van wettigheid in steek, maar danksy onder meer AfriForum se werk die polisie in die howe laat bloedneus opdoen het. Onlangs het die EFF in die Vrystaat aangekondig dat dié instansie nou gaan begin om plase in die provinsie af te vat en aan sy 70 raadslede in die provinsie se munisipaliteite uit te deel. Dit is gewoon voorgenome boewery en ruik na intimidasie en teistering.

Suid-Afrika stuur met die regering se planne op rampspoed af soos die byna gewaarborgde verklaring van die land tot rommelstatus. Die planne is reeds ten dele deur die ekonomie verreken, en met Donderdag se nasionale begrotingsrede sal belastingbetalers sien, en daarna voel, wat die koste daarvan was. Toegegee, voorgenome grondgryp sonder vergoeding is nie al faktor nie; staatskaping, korrupsie, die uitvloeisel van plaasaanvalle, ander misdaad en vele meer het ook effek op die ekonomie. Daarmee saam die regering se louwarm en soms selfs volslae koue of ontkennende reaksie hieroor wat modderige voetspore laat.

Ja, om dit so te bewoord is sinies en straks erg oordadig, maar “look at the score board”.

Het ons te doen met ’n vorm van politiek korrekte bewoording om byvoorbeeld die aanvanklike Ramaforia te laat herleef? Pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap word opsigtelik van binne die ANC bedreig, en hierdie opponente staan nie ver agter by die EFF- en BLF-haatsaaiers wat geen erg het aan die nasionale vredesakkoord nie. Ongelooflik soos dit mag klink, maar die feit dat Zindzi Mandela steeds “ambassadeur” in Denemarke is ná haar woorde-diarree oor wit mense wat ten spyte daarvan dat hulle onwelkome indringers in die land is, hardkoppig aanbly, bewys dat sy en haar denkgenote meer as net geduld word.

En in watter heelal is dit geregverdig dat iemand grond met ’n lening of ʼn verband koop, en die ontneemde eienaar wat geen vergoeding gekry het nie bly steeds vir die uitstaande skuld verantwoordelik, soos die banksektor volgens berigte aandring?

Dit behoef geen profeet om te voorspel dat die banksektor en ander gewone leners, soos landbou-instansies, met so ’n reëling in duie gaan stort nie.

Landboustreke soos Hennenman word reeds erg geskaad omdat banke nie produksielenings wil toestaan nie, uit vrees dat die grond sonder vergoeding gegryp kan word.

Om die grondgrypplanne deur mooi woorde met ’n suikerlagie toe te draai flous net die politiek korrektes. Die impak op die ekonomie kan hoogstens ʼn bietjie gerem word, maar wanneer die werklikheid verreken is, neem die ekonomie wraak.

So is daar eens aangedui dat geen boer wat produktief sy grond benut hoef te vrees dat sy plaas vir grondgryp oorweeg sal word nie. So ook die versekering dat net eienaars wat meer as 12 000 hektaar besit. Word nou 12 000 ha in die Richtersveld of Karoo bedoel, of ’n plaas aan die reënkant van die lyn wat gebiede met verskillende reënval skei? Of het die 12 000 ha-perk betrekking op plase waar besproeiing moontlik is, of sal plase weg van enige rivier ook in aanmerking kom?

Neem maar die Amerikaanse minister van buitelandse sake se waarskuwing ter harte, tensy u nog ’n paar “hoes of betaal, is die wet van Transvaal”- begrotings wil beleef. Of ons kan deel word van die lande soos België wat kyk na belastingverligtings sodat minder burgers aan die verkeerde kant van die broodlyn leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jinny jualinda ·

Die regering toets die weerstand van die boere, en hoe banger die boere is om teenstand te bied, hoe verder verskerp die regering se boelietaktiek, en hoe minder respek het hulle vir die Afrikaners of boere. Hulle het baie beloftes gemaak aan hulle volgelinge wat nagekom moet word, en omdat hulle nie van hulle eie weelde wil deel nie, vat hulle net eenvoudig nog af van die klaar vertrape minderhede.

Alet ·

Die banke moet nou maar die versekering gedeelte inbring by lenings – soos met motors. As iemand my motor “gryp” betaal versekering uit en ek kan die bank betaal wat ek skuld en weer ryding aanskaf. So moet die banke nou maar maak met grond. Want grondgrype is niks anders as goedgekeurde diefstal. So dan moet die versekering maar die waarde van die grond uitbetaal – die bank kan hulle geld kry en ek kan vir my ander blyplek kry. Ons land se ekonomie is baie vinnig besig om heeltemal in duie te stort. Die goudpotte is leeg. Daar is niks meer om te vat nie Die mense aan bewind verstaan dit nie…

Johan Venter ·

Daar waar ek lees sien ek in die opskrifte van die berigte, of in die berigte self, word gewoonlik van ‘grondonteiening’ gepraat. Ek volstaan maar met die woord ‘grondgrype’, die een val net saggies op die tong, maar maak dit nie minder van ‘verkeerd’ nie. Dit laat my daaraan dink as mens vir iemand beduie ek sal jou ‘piets’, ‘wiks’, ‘raps’ of streepsuiker gee, ‘n pakslae klink darem so seer.

Jims ·

Indien n boer byvoorbeeld R10mil vir n bank (enige bank) skuld en die bank hou n verband van R10mil oor die plaas as sekuriteit en die boer se plaas word”gegryp” sonder enige vergoeding sal die bank nie daardie verband kanselleer indien die skuldlas nie vereffen kan word nie. Hoe sal die eiendom in die akteskantoor oorgedra kan word indien daar steeds n verband teen die eiendom van krag is? Ek sal graag wil weet hoe die regering te werk sal gaan om wel so n eiendom oor te dra sonder die samewerking van die bank.

Pieter ·

Die vorige president van Agri-SA, Dan Kriek, het die naweek geskryf dat grondhervorming nodig is, omdat die betrokke 1913 Wet verkeerd is. Duidelik vry hy na die ANC se belange. Dit sal goed wees om die 1913 gebeure in die lig te sien van post 1902 gebeure (Anglo Boere oorlog II), stam -en grensoorloë van die geskiedenis, kommunale vs kommersiële boerderye en opvattings van daardie tyd. Ekonomiese ontwikkeling van die platteland berus op ‘n sterk landbousektor. Daar is talle plase in kommunale/stambesit wat leeglê. My ou plaas is ook onteien, op grond van voorvader grafte, net om alles te stroop en te verkoop. Die verwoeste plaas is nou weer in die vrye mark.

Toy ·

Die boere gaan verseker nie net terug staan dat hulle grond net gevat gaan word nie, die regering gaan nog sien wat in ‘n boer sit. Die boere word onderskat.

Grassie ·

Ek dink die korrekte benaming van die ANC se voorgenome grondonteiening sonder vergoeding is grondroof. Om iets te roof beteken om dit met geweld af te neem. As die slagoffers weier om die grond te verlaat sal hulle polisiemanne of pandoere stuur en hulle met geweld verwyder. Dit is baie beslis roof.
Wanner die ANC met mooi praatjies die proses probeer regverdig is dit een groot blufspel. Al wat hulle wil bereik is om deur wetgewing ‘n deur oop te maak vir grondroof, Daardie deur sal nooit weer toegemaak kan word nie, die proses sal onomkeerbaar wees.

Grassie

Johan Venter ·

Grassie, ek stem, dit sal soos die groot wegraping wees, net daar sal niemand oorbly om te roof of te gryp nie.

Johan Venter ·

Grassie, maar as jy die naam waaronder jy kommentaar lewer na Grassie toe wil verander, is dit maklik, klik op jou naam, daar waar jy ingeteken is, dan kry jy ‘n skerm met jou besonderhede waar jy die ‘skuilnaam’ kan wysig.

Grassie ·

Johan – dankie vir jou raad. Ek het al alles moontlik gedoen om dit reg te stel. Kobus Bezuidenhout van Maroela het ook probeer. Daar is iewers ‘n kinkel wat niemand uitgestryk kry nie.

Johan Venter ·

Grassie, Kobus het my ook al met iets gehelp, wel heel iets anders, maar sal dit nie werk as jy jou profiel afskakel nie, jy sal dan seker wel al jou kommentare tot op daardie stadium geplaas verloor, en dan registreer jy heeltemal van nuuts af?

Jaco ·

Ek besit 2 huise, so 25km uitmekaar. Albei is op erwe wat BAIE kleiner is as 12000 hektaar. So gaan ek nie onteien word nie, of gaan 1 huis onteien word omdat dit “onregverdig” is dat ek 2 het en ander mense het niks?

Cherokee ·

Ek het nie geweet Jaco, dat boere wat net een plaas het, beveilig is teen onteiening nie.

Johan Venter ·

Herman, mens moet maar goed luister wanneer Cyril Ramaphosa die dag praat en hoe hy woorde inspan, juis dat mens nie onkant gevang word nie.

Hy het dit mos in dié tyd benadruk dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom is en toe daarna vir almal wat wil hoor vertel dat diegene wat dit ontken, pleeg verraad.

Dit was nie verniet nie en daarom kap hy nou al meer die hake in en gebruik dit om hul siening en propaganda betreffende die NGV te regverdig. Hy sê die NGV sal die ongeregtighede wat gepleeg is tydens kolonialisme en apartheid, toe slegs ʼn klein minderheid toegang gehad het tot behoorlike mediese sorg, regstel.

Vervolg ….

Johan Venter ·

Vervolg van bostaande kommentaar:

Hierdie sal hy soos die tyd aanstap al meer en met drif verkondig, soos ‘n refrein sal dit raak.

Mens moet ‘n kundige kry wat al sy toesprake en selfs hoe hy destyds met Roelf onderhandel het ontleed, dan sien mens hoe sy gedagtes werk.

John Steenhuisen het mos nou die dag met sy repliek op Cyril se staatsrede ‘n wig tussen hom en die ANC probeer indryf en hom genooi om weg te breek, hy hoort nie daar nie en hom toe aangeprys oor sy pluspunte.

Mens kon Steenhuisen se strategie met ‘n stok aanvoel en het onmiddelik geweet dit sal nie werk nie, hy het nie eens ‘n saadjie gesaai nie. Cyril het dit met ‘pokerface’ sit en aanhoor. Die DA sal eers moet uitwerk hoe Cyril en die ANC se kop werk.

Johan Venter ·

Welkom Grassie, ons gesprek hier bo verwys, ek is bly jy het reggekom!

Maria ·

Die beste grond is in tuislande. Miskien moet hulle dus by Zwelethini begin. Hy kry meer as R50mil per jaar en hy is nie die enigste ‘koning’ nie, daars nog honderde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.