Nuuskommentaar: Grondgryp sonder vergoeding en radikale ekonomiese hervorming

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Groot ontsteltenis heers nadat min. Gugile Nkwinti gesê het die Grondwet moet verander word om grondroof sonder kompensasie te kan uitvoer. Dit val saam met pres. Jacob Zuma se aankondiging oor ’n nuwe benadering van radikale sosio-ekonomiese transformasie wat ook breë elemente bevat wat nie anders as anti-wit vertolk kan word nie.

Terwyl verskeie Amerikaanse kommentators ywerig wag op die radikale ekonomiese hervormingsplan van pres. Donald Trump, kondig pres. Jacob Zuma aan dat die land nou ’n fase van radikale sosio-ekonomiese transformasie tegemoet gaan. Die woorde was skaars koud, of die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, stel wetgewing in die vooruitsig wat vir grondgryp sonder kompensasie voorsiening maak, en sal vereis dat die Grondwet gewysig moet word. Hy wil die proses by ’n pre-koloniale oudit oor grondbesit en grondgebruik begin.

Oudpres. Barack Obama se “oorlog teen sake-ondernemings” en Trump se planne om die proses om te keer, het in verskeie artikels wat pas verskyn het, aan die bod gekom. Hieronder tel:

Die artikels behandel ’n wye spektrum aspekte van die beoogde ekonomiese hervorming. Die crux is dat Trump besigheidsbelasting drasties wil verminder om uitbreiding van ondernemings en inisiatiewe te beloon eerder as om dit deur belasting te straf. Dit behels ook die opskorting van subsidies, maar dis nie so maklik nie omdat mense wat daaraan gewoond geraak het, sal baklei om dit te behou. Die aantal Republikeine wat teen ObamaCare gekant was, het volgens peilings op groot skaal van mening verander. Obama word beskryf as iemand wat van die VSA ’n semi-sosialistiese staat probeer maak het, en die groeikoers daarmee gedemp het. Oorregulering was aan die orde van die dag en het hand oor hand toegeneem.

Klink dit nie bekend nie? Selfs waar die Groei- en Ontwikkelingsplan vir minder regulering en burokratiese smoorwerk gepleit het, het min. Rob Davies se departement voortgegaan om meer regulerende maatreëls in te stel.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Davos gelei het, het wye ondernemings gegee aan potensiële beleggers wat op die vermindering van struikelblokke en onsekerhede neerkom. Net om kort hierna deur die president in wese gerepudieer te word, en by Nkwinti ’n stok in die wiel te kry.

Nkwinti is bekend daarvoor dat hy met onbekookte planne vorendag kom, maar eerder as om sy jongste wysheid te ignoreer het ’n groot verskeidenheid instansies hulle kommer daaroor uitgespreek. Dit is immers die jongste teken dat die benoude ANC die EFF se beleid toenemend steel. AfriSake sê dit “wil voorkom asof die regering poog om dieselfde roete te volg wat in Zimbabwe geneem is met betrekking tot eiendomsregte. Dit word veral duidelik wanneer die minister daarna verwys dat die nodige grondwetlike wysigings gemaak moet word om die proses in werking te stel”.

Agri SA reageer soos volg: “Minister Nkwinti who has been implicated in a corrupt land deal, has chosen to deflect the attention on him by making a highly irresponsible statement in Parliament yesterday. The taking of land without compensation has never been on the table from the side of government, as this is contrary to the protection afforded to property by the Constitution. The protection offered by the Constitution extends to all people within the Republic and this protection will be vital for new land owners and entrants to the agricultural sector to obtain finance and investment. Government has given assurances to investors and the sector on many occasions that the taking of land without compensation will not be considered.”

Wat is die kanse dat die ANC die Grondwet so sal kan verander dat grond (of ander eiendom) sonder vergoeding onteien kan word? Op sy eie het die ANC nie ’n tweederde meerderheid in die parlement nie, maar die EFF het die ANC by verskeie geleenthede genooi om op sy stemme te reken as hy so iets wil deurvoer. Saam met die EFF, die NFP, PAC, APC en dalk hier en daar nog ’n stem kan die ANC op sowat 238 van die 400 stemme in die Nasionale Vergadering reken. Tot dusver was die ANC nie geneë om van die EFF gebruik te maak om die wa deur enige drif te sleep nie.

Tot dusver het die ANC allerlei metodes probeer om die verskanste aard van grondbesit en dus vergoeding by onteiening te omseil.

Of dit so eenvoudig is, sal gesien moet word. Daar is basies twee verwysings na spesiale verskansing in die Grondwet, naamlik sekere bepalings wat in plaas van ’n tweederde meerderheid ’n driekwart meerderheid vereis, en die verskanste status van die grondwetlike beginsels wat in die oorgangsgrondwet opgeneem was. Hoewel die kwessie van grondbesit nie in die grondwetlike beginsels voorkom nie, lê dit wel klem op die basiese menseregte wat met ’n werklik demokratiese staat bedoel word.

Dit is egter die minister se gesindheid en die agtergrondperspektiewe waarteen die minister sy voornemens skoei wat nou pla en nou aangespreek moet word. Zuma tel onder diegene wat al by die Menseregtekommissie verkla is omdat hy (by herhaling) gesê het wit mense het hul grond bekom deur dit van swartes te steel.

Dié aanname is onder meer deur die ad hoc-komitee oor eiendomsreg as “die groot leuen” bestempel.

’n Tweede wanopvatting is dat grondbesit noodwendig welvaart beteken. Suid-Afrika is egter ’n marginale landbouland met ’n hoogste reënval wat laer as die wêreldgemiddeld is. Om hier suksesvol te kan boer vereis besondere kundigheid en middele, en daarby genade. Kortom, grondbesit kan baie maklik tot die uiterste armoede lei.

Verder is daar nog ander wanopvattings, soos Zuma wat gesê het die grond wat swart mense gekry het, is oor die algemeen in die droër en onvrugbaarste dele van die land. Dit lei daartoe dat grond buite die werklike reënvalstreke as “beter” grond beskou word en vir herverdeling geteiken word.

En dan is daar die kwessie van korrupsie.

En swart boere word ook deur misdaad geteiken, soos heel veekuddes wat gesteel word, en selfs ’n paar plaasaanvalle en plaasmoorde.

Maar wat presies is “radikale sosio-ekonomiese verandering”? Een van Zuma se vernaamste handperdjies, die minister van kleinsake-ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het dit soos volg in die parlement beskryf: “Die eienaarskap van die middele van produksie moet verander!”…“Ons het nou die mag. Ons gaan nou al die hefbome van mag gebruik om radikale ekonomiese transformasie te bevorder.”

Twee artikels op Netwerk 24 verskaf ’n meer akademiese perspektief met ’n sterk sosiologie-inslag. Trouens, die artikel van prof. Andries Bezuidenhout lê breë ideologiese verskuiwingsvlakke bloot.

Dr. Christo van Rheede, uitvoerende adjunkhoof van AgriSA, skryf onder meer soos volg: “Weens hierdie probleme en ’n gebrek aan die politieke wil om dit op te los, gaan die vergeldende model van radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie soos deur die regerende party in die vooruitsig gestel word, Suid-Afrika duur te staan kom.

“Pleks van om grondliggende kwessies te pak, soos ’n onderpresterende ekonomie, die beperkings wat groei strem, werkverliese, korrupsie, institusionele swakhede, beperkte toerekenbaarheid, asook die mislukking van die parlement om sy toesigfunksie te verrig, het die verplasing van blaam en populistiese retoriek nou die norm geword.”

Bezuidenhout skryf onder meer: “Dis op hierdie punt waar die regter- en linkerkant van die politieke spektrum wêreldwyd besig is om ’n nuwe konsensus te bewerkstellig – ’n posisie wat soms as ekonomiese nasionalisme beskryf word.

“Die Washington-konsensus het baie lank geheers – ’n perspektief wat glo dat die staat se rol tot die minimum beperk moet word en dat vrye handel tot ’n meer gebalanseerde wêreldekonomie sal lei.

“Suid-Afrika het hierdie pad gevolg ná die instelling van die makro-ekonomiese beleid Growth, Employment and Redistribution (Gear) in 1996.”

As egter gekyk word na die artikels van Malkin, Stossel en Kudlow wat hierbo met skakels gelys is, is dit duidelik dat hul verwagtinge baie hoog is dat Trump sal wegbeweeg van oormatige owerheidsinmenging, of dan minstens dit moet doen om die ekonomie se groeisyfers min of meer te verdubbel.

In sekere sin is ons terug by die toutrekkery tussen Friedman en Galbraith oor hoe groot die owerheid se aandeel in die ekonomie behoort te wees.

Met Trump aan die spits kan owerheidsbetrokkenheid dalk net ingeperk word, en word dan stremmend op state ingewerk wat ’n ander koers inslaan. Zuma is onder meer beskuldig dat hy die koers van ’n tweede Venezuela wil inslaan, iets wat alleenlik “moontlik” was toe Venezuela se genasionaliseerde olie volop was en hoë pryse op die internasionale markte behaal het.

Maar Suid-Afrika het nie so ’n bonanza nie.

Ten slotte. Die konsep van radikale ekonomiese transformasie laat geen ruimte vir korrupsie nie. Dit vereis dat daar geen sprake van patronaatskap, staatskaping of iets anders kan wees waar hulpbronne onregmatig “afgetap” of verkwis kan word nie. Pas is byvoorbeeld berig van Mantsopa, ’n munisipaliteit bestaande uit ’n aantal klein Vrystaatse dorpe, wat R1,2 miljoen aan blomme in een boekjaar bestee het, en ook ’n ampsmotor van meer as ’n half miljoen rand vir die burgemeester aangeskaf het, maar nie sy Eskomrekening kan betaal nie.

Kortom, daar is eintlik soveel ander terreine wat roep om vlot gemaak te word, alvorens na ongrondwetlike of uitgediende modelle gekyk kan word om die land se ekonomie volgens potensiaal te laat blom. ’n Benadering van om die gans wat die goue eiers lê te slag is katastrofaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Delien ·

Agri sal niks kan doen nie hul gaan hierdie wet deur voer. Agri kry hul inkomste van boere. Boere gaan nie geld he nie. Hoe gaan Agri kan voortveg sonder geld.
Dis net n kwessie van tyd. Plaasmoorde en die DA se houding hierby dui alles daarop SA gaan Zim volg. Die EFF is ten doel om plase te vat en sonder vergoeding.
Hul hoef net die grondwet te verander en dan doen hul dit wettiglik en niemand sal dit kan stop nie. Dis die feite.

humor ·

Hier het ons met n gorillamentaliteit te make wat met dom sterk hande na alles wil gryp en dit tot in die aarde in wil verwoes. Met hierdie benadiring is rommelstatus die toekomswerkliheid met die noodwendige iternasionale ekonomiese ontrekking.

Francis ·

Almal wat iets hetsy n huis of plaas wou besit moes werk om dit te kan koop !!!!
NIKS VERNIET EN N BIETJIE VIR N TIEKIE !!!!!!!!!

Tiekie ·

GrondROOF, ek is bly dit word nou ROOF genoem, ander naam is STEEL. SO die REGERING onderneem om mense se grond te STEEL? Het hulle die VERGOEDINGSPROSES al probeer deurvoer? Het hulle mense billike geld vir hulle grond (waarvoro hulle betaal het en NIE verniet gekry het nie) probeer? Dit is tipies ANC, hulle is besig om ondersteuning te verloor en doen nou DIESELFDE as MUGABE, gee nou vir alle pelle grond om weer aansien te kry by sy ondersteuners vir wie hule GELIEG het. Die plase wat reeds deur grondhervorming uitgedeel is staan nou BAR EN LEEG< al die diere en plante gevrek, van hoenders tot beeste … daar gaan NIKS aan nie, welkom tot ZIMSA! Wat beteken die grondwet in elk geval nog? En as hy gewysig is vir wie is hy dan nog daar? Dis BELAGLIK man.

AL ·

Hierdie katastrofiese bestel moet gekeer word voordat dit in werking kom! Wat is ons opsies? Ek is nie n boer nie en ek haal my hoed af vir boere. Veral in die onlangse droogte. Die siening dat boere welvarend is kom al n lang pad en ons almal weet dat dit n mite is. Verder probeer die Regering benoude spronge maak omdat hul in n hoek gedruk word oor hul wanbestuur en onbevoegdheid om die land welvarend te bestuur – wat gemoedere laat hoog loop.

Andre ·

Waar is die “slim en geleerde” mense wie so kragdadig voorspel het dat SA “nooit ‘n Zim sal word nie” se insette nou? Die geskiedkundige voorbeelde van blankes wie uitgemoor en van hul plase verdryf is in die Kongo, Zambië, Zimbabwe, ens. was daar vir almal om te sien en van te leer, maar nee, hier sal dit mos anders wees! Daardie boere moes al hoe meer suid vlug en hul in SA vestig, waar gaan hul nou heen vlug? Die regerende party se steun is aan die daal en een van die mees effektiewe wyses om die balans te verbeter in hul guns is om grond aan die mense te gee. Kan ons van die liberaliste verneem wat se oplossings hul nou in gedagte het?

AL ·

Die tyd loop uit vir ons. Laat ons solank steun in die buiteland werf met hierdie saak, die gruwelike en wrede moorde en aanvalle op onskuldige, wetsgehoorsame en belastingbetalende wit slagoffers sodat wanneer die paw paw die fan slaan, ons steun van die buiteland alreeds in plek het.

JC ·

Belangrike punt is, hulle doen al klaar net wat hulle wil EN ONS MOET ONSSELF EN ONS EIENDOM BESKERM SOOS NOOIT TEVORE NIE. In die noorde van ons land gebeur nou wat beskryf kan word as ‘n lae intensiteit burgeroorlog. Die retoriek wat hom nou afspeel, en indien daar OOIT gepoog sal word om dit in werking te stel, gaan, jammer om te se, onvermydelik tot burgeroorlog lei. Trouens, ek voorspel met die huidige klimaat dat ‘n burgeroorlog om die draai is. Feit is, die Afrikaners (boere) gaan nie net staan en se vat oor nie, want dit is hul grond en klaar, en geen hoeveelheid ideologiese of geskiedkundige foutiewe retoriek gaan dit verander nie.
Ek dink as hulle aan die menseregte (ja, eiendomsreg is ‘n mensereg, so dit gaan nie net om grondwet sommer verander nie) raak, moet daar ‘n nuwe skikiking bereik word en die land moet verdeel word. Toegewing vir toegewing. Dit is al hoe dit sal werk, want dit gaan nie net om meerderheidoorheersing en basta met grondbesitters (boere-Afrikaners) nie, maar om “menseregte” en ‘n skikking wat destyds bereik was met die Afrikaners en wat nie sommer eensydiglik verander kan word nie, veral na jare se erkende eiendomsreg en grondwetlike eiendomsreg jurisprudensie. Dit wat ons nou lees wat van die mond kom van Nkwinti is dus in wese ‘n oorlogverklaring. en ons moet dienooreenkomstig gereed wees. Ironie is dat die meeste mense vere voel vir grond en boer en Afrikaners kan dit die beste doen.

John ·

Witmense het reeds die sosialistiese-/kommunistiese-modelle uitgetoets. Dit werk nie. Die hoogste sterftesyfer in Rusland is weens alkoholverslawing. Die nalaterskap van staatsafhanklikheid. Die Afrika-ideologie wil/kan nie weg beweeg van die idee van ‘n paradyslike lewe op aarde en vergrype nie. Parasitisme dus. Almal vra en verduidelik en smeek en en… maar soos ons mielielande gaan die land ook gestroop word. Hoe beveg mens so ‘n probleem? Waar is die De Klerk-towenaars? Of hou hul veilig vakansie in luukse Switserse skioorde?

Johannes Meintjes ·

Die kritiese vraag is of diegene met volhoubare regeringsinsigte wat op redelikheid en geregtigheid geskoei is, genoeg strukture en prosedure sal kan instandhou om die wilde Nuwe (Kommunisitiese) SA op ‘n beter pad van konstruktiewe hervorming geplaas en gehou sal kan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.