Nuuskommentaar: Grondige rede tot grondwetlike kommer

Foto: Maretha Maartens

Foto: Maretha Maartens

Persepsies oor grond in die besonder, en eiendomsreg in die algemeen, was in Suid-Afrika lank voor 1994 ‘n brandpunt, soos blyk uit die manier waarop die Vryheidsmanifes dit bewoord.

Dit was pas weer die tema van ‘n konferensie oor eiendomsreg wat deur AfriSake aangebied, en waartydens ‘n vyfpuntplan voorgestel is. ‘n Opsomming van die problematiek verskyn onderaan die nuuskommentaar.

Op die gevaar af van stereotipering, duik die volgende gereeld op oor uiteenlopende persepsies as dit by grond kom:

– Sowat 85 persent swart mense glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, terwyl die omgekeerde syfers by blanke persepsies geld. Dié bevindings is netjies in die meestersverhandeling van die Matie, Charl Swart getabuleer.
– Die besit van grond is gelyk aan welvaart. Ten spyte van die talle boere wat jaarliks uitboer, en die groot persentasie nuwelingboere wat noustrop trek word die persepsie oor welvaart gereeld deur onder meer pres. Jacob Zuma self voorgehou.
– Grond in swart besit is hoofsaaklik in die “droë en onvrugbare dele van die land – oa by monde van Zuma self, terwyl die land se reënvalisotope ‘n heel ander verhaal vertel.

Die (oor)gerustheid oor eiendomsreg soos verskans in die grondwet, blyk mettertyd te simplisties te wees. Die grondwetlike hof se uitspraak oor mineraleregte het duidelik waarskuwingskote afgevuur.

In ‘n studie, DIE BETEKENIS VAN DIE BEPALINGS VAN DIE 1996 GRONDWET DIE AANHEF EN HOOFSTUK 1, 1998, wys prof. Francois Venter op verskeie aspekte van die vertolking van die nuwe grondwet. Hy wys onder meer daarop dat die begrippe “regstaat” en “rule of law” nie heeltemal dieselfde betekenis het nie. Ruimte ontbreek om op die implikasies hiervan te borduur.

Vanuit die politiek-wetenskaplike hoek is dit duidelik dat daar lank reeds ’n toutrekkery is oor waar die finale mag gesetls is – in die parlement (lees Luttuli-huis) of in die grondwet soos bewaak deur die howe? Vroeg in sy bestaan het die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) reeds die regering self as die grootste oortreder van die taalbepalings van die grondwet uitgewys.

Reeds voor 1994 het politieke wetenskaplikes daarop gewys dat die regering, wanneer dit nie meer apartheid vir alles wat verkeerd loop kan blameer nie, verdere populariteit gaan probeer verwerf, en moontlik Zimbabwe sal probeer nadoen waar grond onteien is en aan “die mense” besorg is. In die geval van Zimbabwe het dit sonder kompensasie geskied.

Daar was in Suid-Afrika ’n gerustheid dat die grondwet – in die geval van die Suid-Afrikaanse grondwet deel van die Handves van Menseregte – willekeurige onteiening sonder kompensasie verbied.

Tot die uitspraak oor minerale regte …

’n Ad hoc-komitee oor eiendomsreg funksioneer al etlike jare, en het ook reeds ’n konferensie aangebied waar die subtema, “Die groot leuen”, reeds verklap het hoe ver denke in die land uiteengedryf het.

In 2011 het die Cristen-Demokratiese Party die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwiti, gedaag om te verklaar of sy uitspraak dat die regering bereid is om die grondwet te verander, nog te versoen is met die grondwetlike beginsels waaroor by die Kemptonparkse onderhandelings ooreengekom is. Die FW de Klerkstigting het ook reeds aan die hand van uitsprake deur regeringswoordvoerders daarop gewys dat die regering minstens sekere dele van die nasionale vredesakkoord nie meer as geldend beskou nie.

Die somtotaal is dat oorgerustheid nie meer van pas is nie.

Die vyfpuntplan wat by die konferensie aanvaar is, kan dus nie op die rak lê en stof vergaar nie. Dit behels:

1. Legitieme en ordelike grondherstel vir individue wat hul eiendomsreg in die verlede verloor het, moet plaasvind, maar op so ‘n wyse dat bestaande eienaars nie hul regte verloor nie.
2. Herverdeling as regeringsdenkraamwerk moet bevraagteken word. Herverdeling word toenemend in verband gebring met ANC-nepotisme, swak dienslewering en korrupsie.
3. Regsaksies moet van stapel gestuur word om die regsbeginsels van eiendomsreg te beskerm.
4. Verskansing van persoonlike bates teen moontlike staatsvergrype moet plaasvind.
5. Politieke en ekonomiese druk moet op Internasionale vlak uitgeoefen word.

Die afgelope algemene verkiesing het getoon dat die parlementêre stelsel nie voldoende beskerming bied nie. Saam met die EFF en waarskynlik partye soos die APC en PAC kan die ANC ’n tweederde meerderheid monster. Die spesiale verskaninsings (’n driekwart meerderheid) wat sekere beginsels van die grondwet vereis, moet dus so ver as moontlik aktief dwarsliggend in die grondwet neerslag vind, en dit gaan waarskynlik komplekse regsaksies verg.

En dit toon op sy beurt hoe belangrik dit is dat geskikte burgerlike instellings soos AriForum en Solidariteit bemagtig word.

En daar is nie tyd tot môre vir voetslepery nie.

Opsomming van regsposisie

1. Die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog om 20% van ‘n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van ‘n waarde wat deur die staat (ingevolge die Wetsontwerp op Eiendomswaardasie) bepaal sal word.

2. Die Konstitusionele Hof se uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die minister van minerale en energie het die begrip “ontneming” onderskei van “onteiening”. Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir ‘n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as ‘n sg. bewaarder optree.

3. Die Groenskrif op Grondhervorming het ten doel om eiendomsreg radikaal te herontwerp, onder andere met ‘n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal inperk. Binne hierdie konteks word daar ook ʼn grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte rakende dispute oor titelaktes verkry.

4. Die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “Versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” beoog om tot 50% van ‘n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hulle arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding word hiervolgens die aan eienaar betaal nie.

5. Die Wetsontwerp op Onteiening stel dat onteiening vir die openbare belang en doel kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net op grond van toepassing nie maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op ‘n ad hoc-wyse bepaal en het herverdeling as doelwit.

6. Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde. Als in die naam van die sogenaamde regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier van die wet.

7. Die Wetsontwerp op Infrastruktuurontwikkeling beoog om sogenaamde ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die Presidensiële Infrastruktuurkoördineringskommissie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig die openbare doel en belang.

8. Die Wet op Ruimtelike Beplanning en die Bestuur van Grondgebruik beoog ’n gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sogenaamde ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkostebehuisingsgebiede te integreer.

9. Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van die Sekerheid van Verblyfreg verbreed die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes. Uitsettings word strenger bestuur en behels ‘n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.

10. Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.

11. Die Wysigingswetsontwerp op Huurbehuising staan groter regulering van die verhuringsmark voor. Huurtribunale word ingestel om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.

12. Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water & Beleidshersiening verbied die verhandeling van waterregte en stel ’n gebruik-of-verloor-beginsel vir waterregte in. Gelykheid (insluitend rassetransformasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae