Nuuskommentaar: Grondkwessie: Gryp die geleentheid om jou stem te laat hoor

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Wanneer die huidige kwessie van grondonteiening sonder vergoeding hopelik eendag in ’n goeie gees en op gesonde regsgronde besleg is, moet daar nog genoeg goeie gesindheid oor wees sodat daar genoeg bereidheid is om anderkant die draad te gaan handjie bysit om die land se voedselsekuriteit te verseker, en dat daar inderdaad minstens ’n mate van welvaart uit die proses voortspruit.

Dit kan geen kortsigtige proses wees nie, en die slegte verhoudinge in die huidige vasgevang (wat reeds in ’n mate die ekonomie boei) moet so gou moontlik verdryf word.

Kom lewer insette

Vandag begin die eerste van ’n rits landwye parlementêre verhore om die publiek se insette te verkry oor die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet sodat voorsiening gemaak kan word vir die onteiening van grond sonder vergoeding.

Artikel 25, deel van die Handves van Menseregte wat dan verskeie eiesoortige implikasies en prosedures bevat, is die artikel wat meestal blindelings aanvaar is en verhinder dat eiendom in Suid-Afrika sonder vergoeding onteien kan word. Trouens, dit handel oor veel meer as grond, wat nou die hooffokus is van die huidige inisiatief. Dit handel oor alle eiendom.

Wat sê die reg?

Studies en optredes was dus tot dusver meestal gerig op die versekering dat grondeienaars wie se grond afgevat word, behoorlike en markverwante vergoeding kry. Markkragte en die howe as finale arbiter sou hieroor beslis.

Pogings uit verskeie regeringsinstansies was egter om sover moontlik die grond so goedkoop moontlik te bekom, en die “reg op bepaalde grond” was die hoofbepalers, met verskillende norme wat bloot vir grondhervorming en vir restitusie geld. ’n Saamgestelde span, bekend as die ad hoc-komitee vir eiendomsbesit, het enorme werk gedoen.

Maar verskeie kenners het begin suggereer dat artikel 25 inderdaad nie so klinkklaar is dat vergoeding in alle gevalle van onteiening betaalbaar is nie. Selfs werklike kenners het al etlike jare in akademiese werk verwys na die skynbare opening wat sub-artikel 9 laat dat daar in die toekoms gevalle daarsonder sou kon wees. Dis ingewikkeld en ’n mens moet minstens ’n redelike kennis hê van die internasionale regsreëls wat onder meer beperkende uitlegte van bepalings in die Handves van Menseregte laat.

Die sleutel is egter dat ’n beperking nooit so uitgelê kan word dat dit die oorspronklike reg vernietig nie, en dit is baie duidelik: artikel 25 se hoofdoel was die reg op die besit van eiendom, en vergoeding as dit onteien sou word.

(In die geval van die Batebeslagleggingseenheid, wat deesdae met die Zupta-kwessie op die voorgrond bly, word van die standpunt uitgegaan iemand kan nie leef van die vrug van misdaad nie – dit sou verregaande wees om selfs vermeende “diefstal van grond” in landbougeledere met misdaad waarna die Batebeslagleggingseenheid kyk, bloot net te vergelyk. Die proses is in elk geval gekoppel aan ’n regsproses wat die howe insluit.)

ANC-beleid en Malema-invloed

 Sedert einde verlede jaar is onteiening sonder vergoeding ook deel van die ANC-beleid, en pres. Cyril Ramaphosa het dié beleid geërf. Ramaphosa het egter ook ’n ragfyn en komplekse magsbasis geërf wat hom noop om sover moontlik alles vir almal te wees. In die erg rasgepolariseerde samelewing wat grootliks deur sy voorganger geskep is, is dit geen maklike taak nie, en iewers word iemand voortdurend ontstel.

Zuma was inderdaad erg fataal in sy verbandhoudende optrede. Hy het byvoorbeeld verskeie kere gemeld dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Dat hy geen historiese (en geografiese) insig het nie, het onder meer geblyk uit sy woorde “Hoe anders dan?”. Dit pas so aan by sy amptelike stelling dat Afrika die grootste kontinent is en die ander saam daarin kan pas.

Oor sy gronddiefstal-stories het hy hom verskeie klagtes van onder meer haatspraak op die hals gehaal, maar is deur die Menseregtekommissie verslons. Hy het ook amptelik verkondig die grond waaroor swart mense wel beskik, is meestal in die droër en onvrugbaarder dele geleë. Ook hiervoor sou Kersvader eerder die plak as ’n geskenk uithaal.

Intussen ry ook die EFF-leier, Julius Malema, hierdie perd flou terwyl die regspraak voete sleep en rassespanning verhoog.

Die probleem is dat die ANC en die EFF nie die enigstes is wat aanklank by Zuma se geskiedenisweergawe vind nie. Volgens die M-verhandeling van die Matie Charl Swart glo ongeveer 80% van die swart mense dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en dié getal neem toe.

Die beskouing hieroor sny die wit en swart persepsies effektief middeldeur, soos blyk daaruit dat ook swart DA-LP’s vir dr. Pieter Mulder, destyds LP en leier van die Vryheidsfront Plus, oor sy geskiedenisles in die parlement gaan verkla het. Zuma was soos ’n siedende slang. Erkende en gerespekteerde historici het Mulder oor die algemeen gelyk gegee oor sy uitleg, hoewel sommiges kritiek oor sy tydsberekening en styl uitgespreek het.

Kortom, die openbare mening is grootliks volgens raslyne verdeel, en die historiese waarheid word daardeur ondergeploeg.

In die proses van openbare deelname is verwag dat wit mense veel meer betrokke sou wees by die deel waar geskrewe voorleggings gedoen kon word, en dat dié voorleggings gelaai sou wees met dokumentêre en ander bewyse. (Trouens, die TLU-SA het ’n groot kontantprys uitgeloof vir die eerste persoon wat behoorlik ’n geval sou kon bewys dat ’n wit mens sy grond bekom het deur dit van ’n swart mens te steel.)

Kom vertel jou storie

 Hierteenoor is verwag swart mense sou veel meer op die hart hê wanneer ’n geleentheid vir mondelinge getuienis gebied sou word, en dit begin vandag. Hoewel die geleenthede nie wit insette uitsluit nie, is die sittings dikwels so geskeduleer dat dit ver van wit toeganklikheid is, soos in Botshabelo in die Vrystaat.

Dit is ook skoolvakansie en baie meningsvormers het Jan Rondry se karretjie ingespan. Word daar ’n gevoel van “onwelkom” geskep of dat die proses bloot eintlik die inkleur van ’n prentjie wat reeds geteken is, behels, gaan baie eenvoudig nie die belangrikheid so hoog ag om op te daag en insette te lewer nie.

Aan die ander kant, die “wit mense se beurt (vir geskrewe insette)” was baie vinnig, veral om komplekse historiese en regsdokumente op te stel. Baie is ook nie so vaardig met ’n pen nie, en sou graag hul verhale wou vertel.

AfriForum bied nou met ’n rits meer toeganklike vergaderings ook geleenthede vir hierdie mense – en let wel AfriForum gebruik nie die woord “wit” nie, om hul insette te lewer, wat dan deur AfriForum by die amptelike vergaderings oorgedra sal word. Gaan na https://www.afriforum.co.za/onteiening/

Kwasi-gevalle: Petrosi se verhaal

 Daar is deernisgevalle waar enige regsbasis vir ’n eis maar yl mag wees, maar ’n massa emosie saamsleep, soos die prosesse en hul gevolge met die sogenaamde opruiming van “swart kolle”. Met die konsolidasie van tuislande het dit gebeur dat daar steeds swart plase in “wit” gebiede, en wit plase in “swart” gebiede was.

Met die onteienings is verskeie opsies gebied, soos geldwaarde, grondruiling of ander vergoeding, selfs in natura. Petrosi se oupa wou transportryer word, en het ’n span osse en ’n wa gevra in ruil vir sy grond. Hiermee het dit ’n ruk goed gegaan, tot die wa en span osse deur ’n kitsvloed in ʼn droë rivierbedding oorval is, en alles, met vrag en al, weggespoel het.

Geen grond meer, en geen middele om enige welvaart te herbou nie. Petrosi het as arbeider op ’n hoewe oud geword.

Uit verskeie aansprake het dit geblyk dat soortgelyke gevalle as dié van Petrosi, en ook bruin mense wat uit “wit” gebiede na nuut opgerigte bruin gebiede verskuif is, in waarde erg verloor het met piepklein huisies, dikwels ook swak gebou. Trouens, ’n groot deel van die maatskaplike probleme en bendeverwante misdaad word na hierdie sosiale ontwrigting teruggevoer.

Goeie verhoudinge onontbeerlik

Dit is baie duidelik dat ’n kliniese regsproses nié die oorvloed verwagtinge sal kan troef nie. Dat grondbesit, stedelik of landelik, nie outomaties rykdom bring nie, is nou al by herhaling gesien. Die baie bekende Katrivier-lemoene is nie meer te kry nie omdat die nuwe grondbesitters nie hul ervare bure se hand van vriendskap en hulp wou aanvaar nie.

Die proses, wat dit ook al uiteindelik behels, móét ook uitloop op ’n proses van welwillendheid wat nie net voedselsekuriteit sal verseker nie, maar inderdaad ’n proses wat vir diegene wat bereid is om die hand aan die ploeg te slaan, welvaart kan bring. (Suid-Afrika is egter ’n marginale landbouland en daar sal ook mislukkings wees weens natuurlike toestande.) Kundigheid, en die besef daarvan, is noodsaaklik anders gaan daar nog gevalle wees waar selfs ’n gewese minister (toe nog in die kabinet) vir diereverwaarlosing by die DBV aangekla gaan word.

Dit is dus nou noodsaaklik dat ook anderkant die grensdraad gedink word en die beste insette moontlik gelewer word, maar dat terselfdertyd ook hakskene ingeslaan word dat onregte, gevoed deur wanopvattings, nie ’n onhanteerbare tameletjie oplewer nie. “Entitlement” gegrond op verkeerde geskiedenis is immers nou die eerste linie van gevaar. En dat korrupsie nie weer so ’n verlammende houvas op die proses kry wat die vorige so erg gestrem het dat bitter smake nog alledaags is nie.

Onteiening sonder vergoeding nie die weg

 Onteiening sonder vergoeding is nie die weg nie. Dit is nie wat van ’n land in die familie van internasionale reg verwag word nie, en dis ook nie die boodskap wat Suid-Afrika tot dusver uitgestuur het met die bindende internasionale verdrae wat dit onderteken het nie. Deur eensydig hieruit te tree verlaag die staat se status tot internasionale rampokker wat sy eie mense besteel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

honourable member ·

Swartes is klaar grond belowe so maak nie saak wat ons se nie dit gaan so gedoen word. Dis hoekom die boere so uitgemoor word om die proses net vinniger te laat gebeur.

Nettie ·

Nou goed …… in die Apartheidsjare het my Oupagrootjie ‘n stukkie grond besit in die area wat nou Dysselsdorp is. Mense van kleur is dus hervestig op daardie stukkie grond en my Oupa- en Oumagrootjie is ‘n paar pond en sjielings in die hand gestop – kwalik genoeg om vir hulle ‘n dorpserfie en -huisie in Oudtshoorn te koop.

Kan ek nou daai mense wat daar in ‘n sekere gedeelte van Dysselsdorp woon, loop verjaag en sê ek wil my voorouers se grond terug hê?

Ek dink nie so nie.

Herman Toerien ·

Hallo Nettie
Bloot uit my geheue uit, as ek reg onthou, het ‘n blanke boer in die Oos-Kaap redelike groot kompensasie gekry omdat hy aanvanklik met die konsolidasie van een vd tuislande te min betaal is. Die Grondeise-mense wou hom aanvanklik nie help nie omdat geglo is die proses is net vir die restitusie van swart mense bedoel, maar die gewone Hooggeregshof het hom gelyk gegee dat almal wat ingedoen is, kan eis. Ek stel voor doen navraag by die regte mense.

Nettie ·

@Herman – ag, dit was sommer maar so tong-in-die-kies gesê. Ek het natuurlik geen aanspraak op die grond nie; dit is sommer net iets in ons familie – buitendien, dit was rondom die 1920 – 1930’s, toe die dorp munisipale status gekry het. “Way before my time”.

Robbie Williams ·

You cannot legislate the poor into freedom by legislating the wealthy out of freedom.what one person receives without working for,another person must work for without receiving,the government cannot give to anybody anything that the government does not first take from someone else ,When half of the people get the idea that they do not have to work because the the other half is going to take care of them and when the the other half gets the idea that it does no good to work because somebody else is going to get what they work for,that my dear friends is about THE END OF ANY NATION,, You cannot multiply wealth by dividing it,,..””” DR Adrian Rogers 1931 ,, This is whats happening in our country , to compare the educated with the uneducated is like comparing the living with the dead ,,,,!!!! To compare the living with dead is like comparing the living with the dead,,,

Casper Labuschagne ·

Ek het reeds ‘n lywige geskrewe voorlegging ingehandig, juis omdat ek moet werk en nie aan ‘n ellelange proses tydens werkstyd kan deelneem nie.

Om te verstaan wat Ramaphosa en die ANC beoog met grondhervorming, moet mens soos die ANC dink: Eerstens, slegs die ANC kan weet wat goed is vir Suid Afrika, en hierdie beginsel is die wese van die ANC. Wat goed is vir Suid Afrika sal gevolglik goed wees vir die ANC, en die inverse logika is dat die slegste moontlike uitkoms vir Suid Afrika sal wees indien die ANC steun sou verloor. Dus is die instelling van onteiening sonder vergoeding so gou moontlid die heel beste strategie vir die ANC en dus ook vir Suid Afrika. Eertens sal dit meebring dat soveel wittes landuit vlug dat slegs sowat twee miljoen relatiewe arm wittes sal agterbly. Die uittog van wittes sal die rug van die DA breek en die EFF sal toenemend onbenullig word want die ANC is die party wat dan die wittes se eiendom kan uitdeel. Die wit ekonomiese mag sal gebreek wees en die ANC sal in ‘n posisie wees om vir met 80% steun vir die volgende vyftig jaar te regeer. Die gevare van voedselsekerheid asook ekonomiese insinking is van mindere belang omdat slegs die ANC self werklik weet wat goed is vir Suid Afrika.

Dit klink miskien vergesog, maar die Mugabe opsie is om die wittes aan te val en te verdryf eerder as om politieke mag te verloor.

Andre ·

Casper, jy is baie intelligent en ontleed die situasie asof jy ‘n politieke analis is. Dankie dat jy dit so uiteensit sodat ons kan verstaan dat die regering niks aan plaasmoorde sal doen nie, en ook BEE en onteiening sal voortdruk. Ons enigste hoop sal selfbeskikking wees as ons die wat nie kan emmigreer nie wou red.

Eish ·

Ek dink tog meeste mense het elektroniese petisies soos deur IRV ens ondersteun.
Ek dink verder dat die boeregemeenskap by monde van Agri SA ook reeds hul stem laat hoor het. Daar was n parlementêre voorlegging gedoen. Hier is dit duidelik gestel dat hul Ramaphosa se hand wil vat in die saak. So, myns insiens is dit nou oor en uit om insette te lewer deurdat belanghebbendes in soverre dit toekomstige benadeeldes betref, reeds hul sprak gesprook het. Dit is buitendien nie Agri SA, wat 80% van boere verteenwoordig se wens om deel te hê aan buitelandse aktivisme nie. Diegene wat die opsie uitoefen, is myns insiens verseinde deurdat hul besef dat jy nie onderhandelingstafel toe kan gaan sonder om iets op die tafel te plaas nie.

Willem ·

“Let the games begin.” Jip, ek sien van die manne maak in die eerste voorleggings wat vandag begin het op diamantvelde aanspraak. En dan herskryf hulle sommer so uit die vuis die geskiedenis met hul bewerings.

Willem ·

KOM ONS GEE VIR ELKEEN PROPORSIONEEL “SY” LAND TERUG, MAAR DAN MOET HULLE OOK DIT WAT HULLE IN RUIL ONTVANG HET TERUG GEE.

Marlene Labuschagne ·

As die waarheid oor grond kan uirgesorteer word! Dit is nie gevat nie maar verdien deur ruilhandel en of vergoeding is ontvang. Die waarheid moet deurgetrap word! Deur ñ hof om finaliteit te kry…
Almal wat vandag grond besit moet daaronder ly, ongeag kleur anders is dit rasisme!
Dié grondkwessie sonder vergoeding is ook ñ ekonomiese wurg greep wat die land totaal gaan kelder! Soos ek verstaan is dit nie net grond nie maar enige eiendom en of besigheid wat geneem kan word sonder vergoeding?! Wie gaan in ñ land investeer met soveel onsekerheid? Nee, nee, nee vir die kwessie! Waar gaan voedsel vandaan kom as elkeen net op die stuk grond gaan plak? Waar is ware syfers hoeveel grond behoort aan swart en hoeveel wit? Dit bly net ñ rasistiese benadering!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.