Nuuskommentaar: Grondroof en plaasaanvalle

grondgryp grond boer

Argieffoto.

Vandag se debat in die parlement, op versoek van die EFF, sal hopelik groter duidelikheid verskaf daaroor of grondonteiening sonder vergoeding tot ʼn wysiging van die Grondwet gaan lei. Sake lyk nie belowend nie as die speaker ʼn versoek vir ʼn debat oor plaasaanvalle van die Vryheidsfront Plus afwys, maar wel die EFF se versoek toestaan. Die ANC is immers bitterlik onlekker met die EFF.

Pas nadat die speaker ʼn versoek van die Vryheidsfront Plus afgekeur het vir ʼn debat oor plaasaanvalle, het sy ʼn debat op versoek van die EFF goedgekeur om die grondkwessie en die Grondwet wel vandag te bespreek. Dit wys waar lê die regering, of dan die Zuma-faksie van die ANC, se prioriteite.

Al is die media stillerig oor die onderwerp, is dit ʼn krisis van ʼn baie groot omvang nadat eers ʼn minister en toe ʼn adjunk-minister en toe pres. Jacob Zuma self, die onteiening van grond sonder vergoedinge in die vooruitsig gestel het.

En maak geen fout nie, die EFF se versoek vir so ʼn debat val nie uit die lug nie. Zuma en kie se uitlatings pas soos ʼn handskoen in die EFF se kraal. Die EFF het ʼn staande uitnodiging aan die ANC gerig om die ANC te help om hieroor ʼn tweederde meerderheid te verkry om die Grondwet te wysig.

Tot dusver was die ANC ver te kwaad vir die EFF en Julius Malema om eers aan die aanvaarding van so ʼn uitnodiging te dink. Buitendien het Zuma tot baie onlangs die versekering gegee die Grondwet se bepalings oor vergoeding sal nagekom word.

Maar skielik lyk dinge anders. Waar minister Gugile Nkwinti en adjunkminister Ayanda Dlodlo nog gepraat het daarvan om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het Zuma tydens die amptelike bekendstelling van die landbougedeelte van operasie Phakisa gesê die beslaglegging sonder vergoeding moet ingevolge die Grondwet geskied.

Op die oog af sou verwag word hy bedoel dit moet geskied nadat die Grondwet gewysig is. In dieselfde toespraak skerm hy egter vir sy verbintenis tot die Grondwet deur (al weer) te meld hy het die wetsontwerp op grondhervorming na die parlement terugverwys om seker te maak dis in pas met die Grondwet.

Hoekom hierdie moeite as die Grondwet in ek geval verander gaan word?

ʼn Eerste raaiskoot is dat Zuma se toespraakskrywer in hierdie geval verbrou het en Zuma die toespraak nie vooraf gelees het nie. Die gevolg is dat dit klink asof Zuma nie weet wat aangaan nie en dink grond kan sonder vergoeding in terme van die bestaande grondwet afgeneem word.

Zuma is egter al genoeg oor die kwessie op rekord dat hy wel weet dat grondroof nie nou grondwetlik moontlik is nie. Vandag se debat sal hopelik groter duidelikheid bring.

Op sy beste kan dit die proses van skeuring in die ANC momentum gee, want daar is baie lede wat weet dat grondroof, soos in Zimbabwe, ekonomiese selfmoord is. Op die oomblik misluk sowat 90 % van die oordragte van kommersiële eenhede aan bemagtigdes. Dink maar net aan die verdwyning van die gewilde Sondagsrivier-lemoene.

Ook Max du Preez verwys in sy rubriek op Netwerk24 na die strydende faksies in die ANC: “Die magstryd in die ANC het ʼn openlike oorlog geword wat elke dag eskaleer. Dít bepaal watter pad gevolg en watter besluite geneem word, nie rasionale beleidsoorwegings nie. En dit gaan minstens tot einde vanjaar met die ANC se leiersverkiesing duur, dalk nog tot middel 2018.”

Du Preez skryf verder: “Landbouers sal veral wakker moet wees nadat Zuma gesê het hy wil grond sonder vergoeding laat konfiskeer. Die tyd vir wag-en-sien en mooipraatjies maak is verby. Georganiseerde landbou sal gou met groter dringendheid ʼn waterdigte ooreenkoms met die regering moet sluit: hulp met heelwat vinniger grondhervorming in ruil vir onbreekbare waarborge vir die behoud van produktiewe plase.

“Die staat was tot dusver erg onbeholpe met grondhervorming en miljarde rande is só gemors. Dit is tyd vir ʼn nuwe, gedetailleerde en holistiese plan, gegrond op die nasionale ontwikkelingsplan, wat alle aspekte van grondgebruik bekyk en duidelike beleid uitspel. Dit moet planne vir heelwat meer volhoubare kleinboere insluit.”

Die voorsitter van die Afrikanerbond, Jaco Schoeman, het hom ook pas in geen onduidelike taal nie uitgelaat oor hoe die grondkwessie ingewikkelder word:

“Om Afrikaner te wees, plaas ʼn mens in ʼn minderheidsgroep binne ʼn veelheid van minderhede. Die dilemma is dat ons, as Afrikaners, besonder lojaal is aan die land, verknog is aan die grond en ons taal met al sy verbruikers koester.

“Omdat ons so passievol is oor die uitlewing van ons taal en kultuur, het dit ons ʼn teiken van die regering gemaak met allerhande gevolge, waaronder dat hulle ons grond wil wegneem. Ons taal word beide deur die regering en diegene wat nie erns het met Afrikaans nie, ook in ons geledere, op die altaar van politieke korrektheid geplaas. Omdat ons lojaal is aan die land, bring dit ons in konflik met die regering, omdat ons krities staan jeens die vernietigende ideologie van die regering.

“Dit is juis hierdie ideologie wat deur nuwe rassisme tot uiting kom, wat die kwessie van grondbesit na vore bring. Die valse beskuldigings deur middel van haatspraak, dat grond gesteel is en regmatig net aan die swart bevolking behoort, verg verdere en dringende aandag. Afrikaners het hul grond op eerbare wyse verkry, het die grond ontwikkel, infrastruktuur gevestig en voedsel produseer.

“Hulle het hulself, selfs hul taal, vernoem na die kontinent waarin hul geboorteland is. Boonop het hul vaardighede so ontwikkel dat hulle as van die wêreld se beste landbouers beskou word en gesog is in verskeie wêrelddele, veral ook in Afrika. Hul knap vaardighede met landbou opheffing en voedselsekerheid word wyd erken, maar in Suid-Afrika word dit vir hulle al moeiliker gemaak.”

Teenoor hierdie aanslag, skreeu die weiering van ʼn debat oor plaasaanvalle ten hemele. Schoeman druk dit soos volg uit: “Ons moet ons stem voeg by die uiterste kommer oor die vlaag van plaasaanvalle. Daar was reeds veelvuldig meer en wreder plaasmoorde en aanvalle as sterftes in die apartheidstryd, die stryd op die grense van Suid Afrika in die 70’s tot die 90’s, of selfs baie internasionale oorloë.

“Die Afrikanerbond vind hierdie situasie uiters ernstig en stel sy strukture, leierskap en kundigheid beskikbaar aan al die inisiatiewe om geweld te stuit. Om slegs die oë toe te maak vir hierdie misdaad kan nie langer geduld word nie. Die blote feit dat selfs ʼn debat in die parlement oor hierdie krisis nie toegelaat word nie, bevestig die vermoedens van onwilligheid, wanbegrip of selfs moedswilligheid, wat verder versterk word deur die gebrekkige optrede van die regering.”

Maar wat kan gedoen word?

Op die oog af kan die ANC, met die EFF se hulp, die vereiste tweederde-meerderheid monster om die grondwet te verander. Kan die opposisiepartye die proses so vertraag dat dit teen 2019 se algemene verkiesing nog nie afgehandel is nie?

Moontlik sal die ANC dan nie meer die vereiste tweederde meerderheid kan monster nie, maar dit sal onder meer vereis dat diegene, wat tot dusver geweier het om aan verkiesings deel te neem omdat dit wettige status aan die huidige bedeling sou beteken, hul houding ernstig pragmaties moet herbesin.

Burgerlike strukture sal ook betrokke moet raak, onder meer met hofsake om te verseker die proses voldoen aan alle wetlike vereistes, soos voldoende openbare deelname.

Uit minister Nkwinti se opmerking het dit verder geblyk die horlosie vir grondeise sal teruggedraai word na die voor-koloniale tydperk. (Hy het ʼn grondsensus uit die pre-koloniale tydperk voorgestel.)

Die swart volke het immers self aan die kolonisering van die land, wat eens die grond van die KhoiSan was, deelgeneem. Dit beteken eenvoudig die KhoiSan se aansprake op grond, soos Nkandla en koning Goodwill se gronde, word ook “lewendig”.

Indien behoorlike aansprake opgestel word, terwyl die proses van Grondwetwysiging nog aan die gang is, soos om prof. Ian Raper se kundige advies in te win, kan dit die ANC dalk uit sy vooropgestelde idees skud.

Alle moontlike opsies sonder bloedvergieting moet beproef word.

Lees ook  Nuuskommentaar:Zuma self die voornemende grondrower en    Nuuskommentaar: Het Gordhan tyd gekoop me tradikale ekonomiese ontwikkeling vir inklusiewe groei?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Prit ·

Se dit al vir jare. EFF en ANC is die selfde party, die een doen en se net wat die ander een nie kan nie weens die useless VN.

PvZ ·

Lekker ou Max. Die regering is besig om hulle af te vee aan die grondwet, en jou voorstel is om ‘n “waterdigte kontrak” weer met die regering te sluit? Ha ha ha. Mense, gaan kyk gerus op die Vryburger, oor die media verklaring wat die Boere-Afrikaner Volksraad gemaak het. Dit is dieselfde verklaring wat die buitelanders gemaak het, na Vrydag en Saterdag se aanvalle op hulle. Dit is al wat verstaan word in Afrika.

hanno visagie ·

Moenie stres nie. Ons NSA-demokrasie het ‘n wêreldklas grondwet. FW se teenwigte sal nou enige oomblik inskop.

PJ ·

de klerk en kie dis seker nou waar die wigte en teenwigte gaan inskop

VerbyPessimisme ·

Aanstap rooies die pad is lank en swaar met die EFF wat jou jaag tot by oom Daantjie in kalwerhok!!

Mvs ·

As dit gebeur…..gaan daar nog meer moord op wittes wees en plaasmoorde gaan drasties toeneem. Verwyder hul wiites op so manier van hul eiendom af. So maklik soos dit!

WitBlits ·

Hulle het gelieg toe hulle vir ons vertel het die ROOI gevaar van die apartheidera is verby en hierdie een val ons sommer van binne ons eie landsgrense aan?

Ou Erdvark ·

Eerstens, die swart volkere van Suid-Afrika was ook kolonialiste wat die gronde van die Khoikhoi en San in die noord-oostelike en oostelike dele van Suid-Afrika gekolonialiseer het.

Tweedens, waarom word die feodale stamkapteinstelsel en koningskapstelsel nog in Suid-Afrika verdra? Dit druis in teen die beginsel van demokrasie. Daardie gronde behoort dan ook onteien te word.

Hierdie goedkoop politiekery en die skep van verdere verwagtinge by die massas gaan Suid-Afrika ten duurste te stane kom.

Ja of Nee? ·

Ek het al menigmaal gewonder wat sou gebeur het indien die NEE-stem sou gewen het? Kan iemand my van die antwoord voorsien?

Klip in die bos ·

Sou dit gebeur dat hulle mense van hulle grond onteien. Mag ek dan ook vir my ‘n stuk grond afkleim .. vra net…

Rynhardt ·

Grondonteiening gaan baie vinniger geskied in SA as wat mense besef.Die staat besit hope hektar grond, maar alles moet van Afrikaners geroof word.Anc en sy faksies het n obsessie met blankes.n Sukses resep vir SA waaraan die Anc-regering, DA en EFF nooit aan gedi k het nie, is Fabriek-boerdery, soos wat ek dit noem.Fabrieke kan landwyd gebruik word om groente-en vrugte te verbou! Land gaan ekonomies groei, werkskepping sal toeneem, vrugte en groente gaan goedkoper wees vir jan publiek, plus die sukses van Fabriek-boerdery kan lei tot groter winkelsentrums en volop werk wat jou ekonomie geweldig gaan laat floreer! SA het geweldige potensiaal, maar bogenoemde sal nie funksioneer in n boewe-staat waar jy met roof-wetgewing alles kan verorber nie!Baie omstrede wetgewing gaan nog kom teen ons mense terwyl bewindhebbers hulself verryk!

Johann ·

maroela, en herman toerien het juis vandag in sy rubriek na ‘n kommetaar verwys wat spot met FW se wigte en teenwigte wat enige oomblik sal inskop. Julle werknemers en editeure is nie op hoogte van die nuus gebeure en skrywes nie, dit is waarom julle sulke dinge mis, maar dan hou julle julle met beuselagtighede en kleinlikhede op om mense se kommentare wat julle nie geval nie, te verwyder. Ek het juis onderaan een van my kommentare vandag daarna verwys. Dit staan nog steeds daar geplaas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.