Nuuskommentaar: Grondroof: Het Zuma vet middelvinger by ANC gekry?

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Kan ons nou weer vryer asemhaal nadat die ANC teen ’n EFF-mosie gestem het om die Grondwet te wysig om grondroof moontlik te maak? Dit blyk dat katvoet loop aangewese is omdat die ANC sy standpuntinname agterna taamlik dubbelsinnig gestel het. Maar wegbly van die stembus in 2019 om welke rede ook al, weeg nie op teen die gevaar dat so iets tog uiteindelik deur die parlement gevoer word nie.

’n Minister en ’n adjunk-minister stel dit ná pres. Jacob Zuma se staatsrede oor radikale ekonomiese transformasie dat die Grondwet gewysig moet word om die onteiening van grond sonder kompensasie moontlik te maak. Hulle word nie gerepudieer nie. In teendeel, tydens die amptelike bekendstelling van die landbou-gedeelte van operasie Phakisa spreek Zuma hom ook uit ten gunste van grondroof (in ’n land waar ’n TV-kyker wat die SAUK boikot deur lisensiegeld te weerhou ’n roofkyker genoem word, is iemand wat iemand anders se grond sonder betaling wil vat sekerlik ook ’n grondrower). Weliswaar het Zuma die onsinnigheid bygevoeg dat die grondroof in terme van die Grondwet sal geskied.

Nou het die EFF, soos te wagte, ’n debat oor die kwessie in die parlement aangevra en sy 6% setels onvoorwaardelik aangebied om die ANC in staat te stel om die vereiste tweederdemeerderheid te kry.

En toe gaan stem die ANC téén die mosie, en verduidelik dit glo met onteiening moet “regverdige” kompensasie betaal word (wat nie noodwendig markwaarde is nie).

Boonop het die UDM en Agang die EFF se mosie ondersteun. Die PAC en APC se steun was te wagte. En as die ANC die mosie gesteun het, sou van sy surrogaatpartye soos die NFP sekerlik ook die mosie gesteun het.

Maar wat het gebeur dat die ANC sy rug gedraai het op dít wat Zuma en sy kabinetslede so duidelik in die vooruitsig gestel het? Maroela Media het in gister se Nuuskommentaar voorsien dat ’n ja-stem van die ANC dié party kan laat skeur. Daar sal immers heelwat ANC-parlementslede wees wat sal weet dat die ANC se steun vir die mosie gister so te sê sou verseker dat die land met lof rommelstatus sou verkry, en nie weer sal kan afskud nie. Met die belastingbetalers reeds so swaar belas, sou die soustrein ook nie meer lank gestook kon word nie. Trouens, die ekonomiese inploffing wat sou volg op steun vir die mosie sou Nenegate na ’n beginnerspiekniek laat lyk.

Of was die ANC bloot skynheilig om teen die EFF-mosie te stem omdat die EFF sake vir Zuma so bemoeilik? Die ANC se houding teenoor die EFF het immers daartoe bygedra dat die EFF sy gedoogde steun aan DA-geleide alliansies toegesê het om munisipaliteite te regeer waar die ANC nie volstrekte meerderhede kon behaal nie. Dit terwyl die gedoogde steun skielik veeleisend kan word en die EFF word soos ’n ongetemde donkie wat op ’n dag die briljante idee kry om met sy ruiter al langs ’n doringdraad af te hardloop en sy ruiter so onsagkens af te skuur.

Of was Zuma en sy meelopers se steun vir grondroof bloot ’n poging om Zuma ’n populistiese kleed om te hang met die hoop dat dit sy raklewe so ’n bietjie sou verleng? Zuma span immers die rassekwessie gereeld in om sy beeld by sy volgelinge te bestendig.

Hieroor het dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus hom soos volg in die parlement uitgelaat: “Dit bly jammer dat wit mense altyd die sondebok gemaak word wanneer grondhervorming ter sprake is. Oor grondbesit moet dit duidelik gemaak word dat die regmatige eienaars van grond en eiendom in Suid-Afrika diegene is wat daarvoor gewerk het, wat dit betaal het, en wat ʼn titelakte in die titelaktekantoor het… Die regering moet ophou om wit mense die skuld te gee vir alles wat fout is. In hierdie geval is dit die onbevoegdheid van die regering self wat nie vordering kan maak met die proses (van grondhervorming) nie.”

Uit die agterna-verduidelikings van die ANC is dit egter ook duidelik dat die ANC agter verskeie ondersoeke en ’n “pre-koloniale grondoudit” skuil alvorens die laaste woord gespreek word. Oorgerustheid is dus nie van pas nie.

Soos sake nou staan behoort Zuma sy hande vol te hê. Twee van sy mees lojale ministers daag nie vir hul bevestigde afsprake by parlementêre gekose komitees op nie. Een moet die SASSA-krisis hanteer en het op die oog af geen benul van hoe om dit te doen nie. Die ander moet ma staan vir die SAUK wat pas ’n verlies van meer as R400 miljoen vir die jaar gely het (al het Hlaudi Motsoeneng so gespog dat hy al een is wat die SAUK op so ’n gesonde winsgrondslag kan bedryf). Al hoe meer ekonome waarsku dat minister Pravin Gordhan se begroting nie so ’n tegnokratiese meesterstuk is as wat talle “kenners” vanuit die staanspoor voorgehou het nie. En is daar toe ’n sjebeen naby die parlement wat ’n nuwe LP gereeld kan gaan opsoek? ’n Paar hofsake hang oor Zuma se kop en met een kan hy baie lank tronk toe gaan.

Boonop speel Zuma saam om die bespiegelings oor ’n kabinetskommeling wat op hande sou wees, lewend te hou. Almal weet ’n kabinetskommeling is dringend nodig, onder meer om die kabinet drasties te verklein, om bewese onbekwame ministers te pos, en bekwame nuwe bloed in te bring. Die uitgerekte onsekerheid oor wanneer die kabinetskommeling gaan kom, werk net so onbestendig op die ekonomie in as die vooraf wete dat Zuma nie juis ’n rekord het van raakvat met geskikte ministers het nie.

Voor en kort ná die 1994-verkiesing het verskeie kenners daarop gewys dat in ’n tipies gedekoloniseerde staat die nuwe regering twee verkiesings daarmee kan wegkom om die skuld vir alles wat verkeerd loop op die vorige bedeling te plaas. Dink maar aan al die slegte goed wat Zuma voor Jan van Riebeeck se deur gaan lê het. Daarna wil die kieserspubliek nie meer hoor van verskonings nie, en word ander populistiese metodes aangewend, soos grondroof. Zimbabwe is ’n goeie voorbeeld. Hoewel hierdie verduideliking grootliks in onbruik verval het, skemer daar tog iets deur, veral tot die mate waarop onverantwoordelike politici roekeloos met die kwessie omgaan om die “status” van populisme te verwerf.

Maar minstens vir eers kan asem geskep word oor die kwessie van eiendomsreg (wat nie net landbougrond kan raak nie). Die proses om so ’n grondwetlike wysiging deur die parlement te voer kan nou met gemak, met die hulp van hofsake, tot na 2019 se verkiesing uitgerek word. Benewens die kwessies van artikel 25 oor grondbesit en kompensasie, kan verskeie ander regte ook deur die howe of die openbare beskermer getoets word, byvoorbeeld of rassisme as motief die wetgewing onderlê.

Maar dan moet kiesers  en potensiële kiesers pragmaties wees en hul kruisies gaan trek. Hulle moet kennis neem van watter partye vertrou kan word, en watter nie. Agang en die UDM het hulself gediskwalifiseer. Die EFF was en bly gif.

Wat ook nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die potensiële verloop van hierdie sage gewys het op die kwesbaarheid van die Grondwet. In leserskommentare is byvoorbeeld gespot dat mense nie bekommerd hoef te wees nie, want “die wigte en teenwigte sal nou enige tyd inskop”.

’n Bekende rubriekskrywer is enkele jare gelede in briewe deur sogenaamde Cape Libs gelooi oor hy geskryf het die destydse regering / NNP se onderhandelingspan by Kempton Park was saamgestel uit die regering se derde span se reserwes. Soos die tyd die rubriekskrywer reg bewys het, het hy die “titel” van ’n “neo-konserwatief” afgeskud. Van die Cape Libs het omtrent net die Seunse Weenkoor oorgebly (waarvan een op die oomblik oor die grondkwessie min of meer nootvas saam met die geteikende slagoffers sing). So ver bekend was hulle nog nie baie verbaal oor wat ’n groot krisis kon wees nie, en beslis nie so vinnig uit die blokke soos om adv. Gerrie Nel te kritiseer omdat hy by AfriForum in diens getree het nie.

Sluit so ver moontlik by verantwoordelike burgerlike bewegings aan, en help bemagtig op dié manier kollektiewe pogings om die Grondwet ook vir minderhede en die waarheid te laat werk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

PvZ ·

Nee, ons kan nie asem haal nie. Dit het gister nie oor grond gegaan nie, maar oor die ANC wat vir die EFF wil wys hy is baas. As die mosie deurgegaan het, het Julius op die parlement se stoep gestaan en gesê hy bepaal indirek die ANC beleid. Ons almal bespiegel tog oor dit in die koerante…. En hoe kan ons asemhaal as die alternatief is, “onteiening met vergoeding”? Wat van ons kinders? Ons is polities verskriklik dom.

Leendert ·

100% korrek, dit is die eerste wat gister deur my kop gegaan het, toe die ANC vir die EFF beduie, hulle sal hulle nie laat voorsê nie, ongeag die ander twee of drie redes wat die ANC aangevoer het.

AL ·

Ons kan nie op ons louere rus nie, maar ek glo vir nou het die Hoër Hand ingegryp. Die wat intellegensie het, sal weet dat grondroof n reeds wankelende ekonomie die afgrond kan indryf.
Ons almal weet teen die tyd dat niemand in Zimbabwe meer die wit monopolistiese kapitaal kan blameer nie. Mugabe staan man alleen voor sy honger en arm landsburgers.

Ferdi ·

Nee glad nie die ANC se 5 stap plan. 5 stappe voere toe en 3 terug na dat dit 5 keer gedien is kom niemand dit meer agter nie, en sien daar ons grond is weg. Dan vra ons hoe de hel het hulle dit reg gekry. Stadig voeren toe dis hoe

JC ·

Dankie Herman, ek se ook, sluit aan asseblief by burgerlike Afrikaner organisasies. Dit is al hoe ons Afrikaners gaan oorleef, deur saam te staan eerder as om tegelykertyd in verskillende rigtings te trek.

Jane ·

Nee glad nie, moenie te rustig raak nie, die EFF se aansluiting by die ANC gaan hulle uiteindelik dwing om daartoe oor te gaan. My vraag is egter HOE verander jy TANS ‘n grondwet as jy NIE 70% steun het nie? Tweedens HOE verander jy ‘n grondwet wat ‘n MEERDERHEID magtig om ‘n MINDERHEID se grond/besittings/eiendom te VAT sonder vergoeding? Hoe maak jy wette wat teen enige normale beginsels en ordentlikheid indring. Sluit dit dan ook die diefstal van ander besittings van mense in? Jy kan dus enige huis betree, enige grond betree, enige winkel betree en STEEL? Gaan diefstal dus nie meer gestraf word volgens die ander wette nie omdat dit indruis teen die Grondwet se bepalings? Maak ons STEEL nou LEGAL?

Johan. H. ·

Stem saam JANE: Moet hulle nie vertrou nie,, Hulle is ontsettend geslepe…. Pasop Mense, Al verloor hulle nou n bietjie , more kom hulle met ander taktiek, Hou jou grond en huis en besittings so lank as moontlik en as jy verkoop ,verkoop dit aan n mede afrikaner wat ingelig is asook die kennis het om dit te gebruik, Moenie oorgee of gaan le nie,,Die Hieenas wag

Pendoring ·

Pasop vir ‘n samewerkings ooreenkoms tussen EFF en ANC in 2019. Met 67% maak hulle net wat hulle wil met die grondwet. Moenie die DA weggooi nie. Hulle traagheid om oor aktuele sake (rassistiese uitlatings in sosiale media) te reageer laat ‘n mens ook wonder na watter kant die mantel gedraai is.

EMDRI ·

Hiers n baie groter prentjie wat homself uitspeel. Onthou iemand nog NP se STRATCOM in die 80s deur ondergronds en in die geheim die AWB onder leiding van EUGENE TERBLANCHE te stig as teenvoeter vir ANDRIES TREURNICHT SE KP. Die doel was om die “Regse” stemme te verdeel. Was n baie suksesvolle strategie, totdat Eugene Terblanche se EGO die oorhand gekry het. Wel volgens my mening het die ANC presies dieselfde gedoen. In die openbaar het hulle sogenaamd van Malema ontslae geraak. Malema kon nou uitgaan en uitsprake maak soos grondbesetting en grondgrype sonder vergoeding, hy en die EFF het eerste WIT MONOPELISTIESE KAPITAAL gebruik toe hulle by die JSE betoog het sowat 2 jaar gelede. Malema kan al hierdie wilde uitsprake maak om die water te toets, omdat hy nie soos die ANC REGERING veronderstel is om binne die sogenaamde raamwerk van die Konstitusie te werk nie. Toe die EFF 6%,van die stemme verkry he in die laaste ALGEMENE VERKIESING, het die ANC en veral ZUMA en sy binnekring hierdie refrein voortgesit. Malema se EGO het egter oorgeneem en hy het nou ‘n bedreiging en verleentheid vir die ANC geword, dis hoekom hulle gister teen die EFF gestem het.

Die res van Afrika teen 'n minderheid ·

Hierdie saak het net begin momentum kry. Malema was in Zim om tips te kry hoe om sy wrede land-grab mentaliteit uit te voer. In my opinie is hulle reeds besig om voor te berei vir dit – as ek die polisie is sal ek hulle bietjie dop hou. Net snaaks met al die geweld teen buitelanders deesdae dat al die slegte dinge wat in ons land aangaan toegeskryf kan word aan buitelanders. Nigeriers = drugs, mensehandel, Mosambiekers & Zimmies = plaasmoorde, die hoofopsweper by Tuks se fees must fall = hy was ‘n Swazi of iets (kan nie onthou nie), en ons ou liewe Mal-ema – hy is ook nie in SA gebore nie. So hierdie verwoestende mentaliteit kom van die res van Afrika af en hulle wil dit wat hulle in die res van Afrika toegepas het, ook hier toepas. Ons hou geen bedreiging in finansieel of opstand gewys nie, so wat is die doel? Hoekom dit doen? Sal hulle land gryp by swart boere ook of gaan dit oor wit boere? Die ANC moet begin kyk wat om hulle aangaan – hulle is die volgende target!

John ·

Die EFF moes die ANC al gepols het oor so ‘n samewerkingsooreenkoms want laasgenoemde het nie te verbaas gelyk nie. Daar is dus vooraf besluit hoe om te reageer. Wat miskien ook ‘n rol speel is die feit dat die ANC, sy meelopers en vriende eerste wil kies en keur onder die mega-plase. Te veel hande in die skatkis moet dus vermy word. Hierdie groen monster kan ontaard in rooi veldslae voor plaashekke. Die ANC werk ook moontlik aan ‘n slim plan om die wereld ‘n rat voor die oe te draai wat sou toon dat alle grondtransaksies bo verdenking sou wees om rommelstatus en die wereldhof vry te spring en om die IMF ea instellings in die duister te hou met behulp van groot waarhede oor hoe wit mense hul plase nou eintlik sou bekom het… ‘n soort 1984-herskrywing van ons land se geskiedenis…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.