Nuuskommentaar: Grondwet – Hulle baklei so lekker want hulle stry so lekker

Dit is nie soseer dat die ANC die grondwet wil verander nie – baie ander partye wil ook veranderinge aan die grondwet sien – maar dit wat die ANC wil verander en die ideologiese redenasies daaragter is wat onthutsing veroorsaak.

Baie ooreenvervoudig kom dit daarop neer dat die ANC die skikking waarvolgens die huidige grondwet tot stand gekom het, nou as “oorgangsmaatreël” beskou en dat wysigings nou nodig is om transformasiedoelwitte beter te rugsteun. Dit behoef geen profeet om te weet dat die gesamentlike spanningsvlak op die kumulatiewe spaningshipotese in enige heterogene samelewing in so ‘n aanslag gaan verdiep nie. Polarisasie gáán verdiep. Ten spyte van ontkennings stuur dit af op ‘n situasie van ‘n etniese swart Herrenvolk waar net die wil en wense van daardie ideologies-gemanipuleerde groep saak maak – versoeningsmeganismes soos vir plek- en straatname, die erkenning van regte vir kultuur- en godsdiensgemeenskappe en selfs die geskiedenis word slegs dié van die oorwinnaar – al is die oorwinning ook bloot ‘n stuk historiese fiksie.

Vyfdekolonners se vloermoere om tog a-la negrofilistiese denke nie dié meerderheid aanstoot te gee nie, boemerang in hul gesigte. Die ANC het iets in sy kop, en buig of bars, by daardie doelwit wil die party uitkom al daal Suid-Afrika op bykans alle indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die mediavryheidsindeks, innovasie-indeks en vele meer. Volgens die Economist-demokrasie-indeks tel Suid-Afrika onder die lande wat ‘n gebrekkige demokrasie het.
Namate tyd verloop, voeg al hoe meer grondwetkenners dwars oor die politieke spektrum hul stem by diegene wat aanvoer dat die grondwet heelwat foute bevat.

Die toets van ‘n suksesvolle grondwet, al is dit nie noodwendig ‘n goeie grondwet nie, is dat dit in die harte van die burgery moet leef. Met soveel aandrang van oor die hele spektrum dat die grondwet gewysig moet word, is dit duidelik dat dit selfs nie te midde van intensiewe bemarkingsveldtogte, daarin kon slaag nie. Wat die ANC egter nou die afgelope jaar opper, is nie in pas met wat enige tegnokraat as verbeterings sou beskryf nie. Dit kom op ‘n grondwetlike staatsgreep neer, en veral as die grondwetlike funksies van die howe ondergrawe is, plaas dit die land stewig op die koers van ‘n meerderheidsdiktatuur. Dit pas mooi in by die model van die nasionale demokratiese revolusie, en selfs met Julius Malema nou uit die weg, volgens sommige heethoofde eintlik maar doodgewone revolusie in die Kubaanse tradisie.

Hoewel die ANC in sy jongste dokumentasie nie klem op die aantasting van die howe se funksies plaas nie, is dit wel deeglik inbegrepe. Deur die grond- en eienaarskwessie as sonsondergangsklousules te beskryf, word die vinger regstreeks in die howe se oog gedruk. Volgens die huidige grondwet, waar die kwessie van grondbesit in die handves van menseregte ondervang word, word die howe as finale beregter benoem. Dit is al lankal ‘n doring in die ANC se vlees, en modelle is selfs reeds voorgestel waar dit heeltemal weggeneem word. Die roekelose wyse waarop die ANC nou met konvensie en die onderhandelde grondwetlike beginsels omgaan, kan in wese die posisie voor die nasionale skikking herstel. En dit is een waar groepe as vyande, eerder as bloot opponerende politieke magte, teenoor mekaar staan.

Sowat ‘n jaar en ‘n half gelede het die ANC-aanhanger, prof. Jakes Gerwel in sy rubriek in Rapport geskryf die ANC mag moontlik ‘n vrot regering wees, maar hy was beswaard omdat die ANC dikwels as landsvyand voorgestel word.
Die ANC kan bewys dat Gerwel verkeerd is oor die opmerking oor vrot regering, en reg is oor die landsvyand.
Om in algemene belang te regeer soos die demokrasie vereis moet die ANC egter werk maak van die persepsie dat korrupsie in die land endemies is, dit moet kaderontplooiing staak omdat dit die skeiding van magte skaad, dit moet op gehalte ingestel wees …’n baie lang lys ongelukkig.

En as die ANC ‘n sonsondergangklousule soek, dink tog gerus aan die opskorting van “affirmative action.” Nie môre nie, maar gister. Want “affirmative action”, anders as regstellende aksie, is nie grondwetlik nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae