Nuuskommentaar: Grondwet (en sy oepsies) onder die vergrootglas

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Die 20-jarige herdenking van die ondertekening van die Grondwet is pas gevier. Meer as tevore is daar nou verskeie uitwysings van leemtes in die Grondwet wat sake vir die land bemoeilik, veral onder die huidige presidensie.

Euforie oor SA “beste Grondwet ter wêreld het” het stiller geword

Die stemme wat tot onlangs so blindelings verkondig het dat Suid-Afrika die beste Grondwet ter wêreld het, het baie stiller geword, en die behoefte aan grondwetlike verandering word wyd uitgespreek – nie altyd uit bemoedigende kringe nie. Die afgelope naweek het kommentators dit gereeld gestel dat die huidige Grondwet eintlik net ’n voortsetting is van die oorgangsgrondwet wat by Kempton Park onderhandel is. In heelwat opsigte is dit so, veral wat die uitleg van die regte in die Handves van Menseregte betref, maar die oorgangsgrondwet het sake in baie detail hanteer, terwyl die Grondwet self dikwels skraps aan detail is, en hom tot ’n groot mate tot vertolking laat. Die leemtes moet deur onder meer die gemene reg en gewone wetgewing “ingevul” word en uiteindelik speel die konstitusionele hof ’n baie belangrike rol.

Die wetgewing is nie altyd lekker in harmonie met hoe sommiges die Grondwet beskou nie, soos verskeie staatsdepartemente wat die taalwet wat ná ’n groot baklei op die wetboek geplaas is, juis gebruik het om Afrikaans uit die Grondwet te steel. So het die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap sy taalbeleid so gewysig dat Engels, Zoeloe en Pedi sy amptelike tale sal wees. Afrikaans, wat oor ’n volledige ruimteterminologie beskik, is op die ashoop gegooi. Maar kan ons kla as ons swyg wanneer die een skou ná die ander totaal verengels, en padpredikante op die terrein byvoorbeeld slegs in Engels is (met spel- en taalfoute kompleet)?

Soos een regsgeleerde geskryf het, die huidige Grondwet is plek-plek so vol leemtes dat ’n wa en span osse daarin kan draai. In ’n moderne samelewing met ’n gevestigde, gerespekteerde regstelsel, is so iets baie goed, sodat die kundige regters die “inkleurwerk” kan doen.

Leemtes

Nog voor die Renate Barnard-uitspraak het die FW de Klerkstigting reeds ’n paar uitsprake van die konstitusionele hof gelys as in stryd met die Grondwet. Daar is vele minderheidsuitsprake, en in die media is uitgewys dat ’n onlangse uitspraak die konstitusionele hof presies volgens rasselyne verdeel het (met twee swart regters wat buite stemming gebly het). Meermale het die konstitusionele hof egter beïndruk, ook met improvisasie.

Oor die oorgangsgrondwet en sy neerslag in die huidige het ’n bekende rubriekskrywer nie lank gelede nie geskryf die NNP het sy derde span se reserwes na Kempton Park gestuur om die onderhandelinge te doen. Hy is hieroor uit verskeie kringe verkwalik, maar het ook steun gekry.

Ook prof. Marinus Wiechers het in ’n stadium in ’n artikel kritiek op die Grondwet wat hy help skryf het, uitgespreek, en onder meer die leemte aan tande by grondwetlike liggame uitgewys. Die konstitusionele hof het egter onlangs die openbare beskermer met meer tande toegerus – iets wat pres. Jacob Zuma nou onregstreeks in die howe in die sogenaamde staatskapingsverslag betwis.

Mnr. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteitbeweging, het egter onlangs die buitengewone magte waarmee die president volgens die Grondwet toegerus is, in ’n artikel in onder meer Rapport uitgewys. Sedertdien wys al meer kommentators op hierdie vreemde gebrek in die Grondwet. Skrywers aan die Grondwet verduidelik dat hulle met die skryf van die bepalings iemand soos die destydse pres. Nelson Mandela in die oog gehad het, en nooit kon droom dat daar ’n president soos Zuma sou volg, wat daardie magte sou uitbuit om ’n omvattende netwerk van patronaatskap te skep nie.

Respek vir die Grondwet

Met die 20-jarige viering het die president ’n toespraak wat duidelik vir hom geskryf is, voorgelees en onder meer ’n beroep op die publiek gedoen om die Grondwet en sy grondwetlike liggame te respekteer. Dit komende van die leier van dieselfde politieke party wat minder as ’n maand gelede die herskryf van minstens dele van die Grondwet bepleit het, en dieselfde man wat al gereeld gekerm het dat die Grondwet die ANC in sy “demokratiese regeerfunksies” ondermyn. Zuma verstaan duidelik nie die verskil tussen die diktatuur van ’n meerderheid en grondwetlike demokrasie nie.

’n Terugskouing oor hoekom die Suid-Afrikaanse Grondwet as die beste ter wêreld beskryf is, en soms steeds so beskryf word, kom gewoonlik daarop neer dat die Suid-Afrikaanse skrywers van die Grondwet weens die nuutheid daarvan die geleentheid gehad het om te put uit ander lande se toonaangewende grondwette. Daar is byvoorbeeld ruim geput uit die grondwette van Kanada, Indië en Duitsland. In die proses is die Handves van Menseregte taamlik goed met die internasionale reg verweef, maar die heterogene Suid-Afrika het uiteindelik op die staatkundige terrein met ’n oorwegend unitêre Grondwet in plaas van ’n etniese federasie soos in Indië, België, en tot ’n mate Spanje en Brittanje, gesit.

Dit beteken nie die Grondwet is so skraps aan minderheidsregte nie, veral nie via internasionale, geratifiseerde (oftewel goedgekeurde en bekragtigde) internasionale verdrae nie.

Dit word nou goed gedemonstreer in die hofsake van onder meer AfriForum en Solidariteit teen verskeie universiteite oor die grootlikse wegdoen van Afrikaans. In die Kovsie-saak het die advokaat vir Kovsies selfs aangevoer die studente wat teen die verengelsing gekant is, probeer hul grondwetlike regte “afdwing” om die “meerderheid” se wil te frustreer.

Kritiek op Afrikaanssprekendes se pogings om hul grondwetlike regte op te eis, het al onder verskeie akademici in media-artikels deurgeloop.

Is dit wys om aan die Grondwet te gaan torring?

Die ou spreekwoord lui liewer die duiwel wat ek ken as die een wat ek nie ken nie. Terwyl daar onder die voorbeelde wat verander moet word bemoedigende tekens is, is daar ook uit onder meer regeringskant onheilspellende geluide wat oor die aanspreek van “leemtes” oor eiendomsreg handel.

Tegnies is die leemtes in die Grondwet minder as wat die algemene persepsie is. Wanneer ’n mens die klein boekie oor die Grondwet in die hand het, het ’n mens eintlik net ’n fraksie daarvan in die hand. Dit vertak na die internasionale reg, verdrae wat Suid-Afrika geteken en geratifiseer het, hofuitsprake elders in die wêreld wat as presedente gebruik kan word wanneer dit die gees van die Grondwet weerspieël. Suid-Afrika het onlangs ’n verdrag geratifiseer wat reeds 20 jaar gelede (in die Mandela-era) onderteken is, en wat onder meer die grondwetlike leemte van “reg op werk” naas die “reg om te staak” erken. Voorts plaas dit duidelike riglyne oor wat in terme van regstellende aksie toelaatbaar is, en dring op ’n sonsondergangsklousule aan.

Dit lyk nie of die regering weet dat hy dié verdrag geratifiseer het nie. In sy verweer teen klagtes van rassisme wat onder meer Solidariteit teen die regering by ’n VN-liggaam aanhangig gemaak het, het die regering die bepalings van hierdie verdrag op die oog af gewoon geïgnoreer.

Hoe moet ’n grondwet lyk?

Ideaal gesproke moet ‘n grondwet ’n lewende dokument wees (soms, soos in Brittanje, is dit nie ’n geskrewe dokument nie, en in Switserland word baie grondwetlike sake deur konvensie gereël). Dit moet op die harte van mense (insluitend regeringslui) geskryf wees. Die president moet dus nie gereeld gemaan word dat hy sy ampseed geweld aandoen nie.

Dit moet ook verstaan word, soos dat grondwetlike regte, en bepaald die regte in die Handves van Menseregte, nie onbeperk is nie. Iemand kan hom of haar byvoorbeeld nie beroep op spraakvryheid wanneer haatspraak gepleeg is nie. Mense kan nie hul reg op vreedsame protes so vertolk dat die woord “vreedsaam” in die slag bly nie, soos die gebruik van ’n studenteraadsvoorsitter is nie. Vandalisme, intimidasie, brandstigting, aanranding, saakbeskadiging en vele meer bly misdade.

Sodra heterogeniteit ter sprake kom, is grondwetlike hervorming ’n komplekse saak waar die risiko van verloor moontlik is. Dit is daarom jammer dat die grondwetlike beginsels, wat nog as aanhangsel in die oorgangsgrondwet duidelik uitgespel is, se status so onseker is. Baie meen dit het met die aanvaarding van die huidige Grondwet verval, ander meen dit het deel van die gemene reg geword waaruit die vertolking van regte benut behoort te word, terwyl ander meen dit bind alle toekomstige Suid-Afrikaanse grondwette. Dit was immers ’n voortvloeisel van die Nasionale Vredesverdrag, wat ook veronderstel is om soos ’n waaksame vader oor die Grondwet te waak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Jordaan ·

Die grondwet beskerm beslis nie minderheidsregte voldoende nie – rasgebaseerde kwotas, beperkinge op werk en staatkontrakte op grond van ras, Afrikaanse skole en universiteite wat verengels, vernietiging van Afrikaanse kultuurskatte (beelde ) is alles voorbeelde van miderheidsregte wat deur hierdie grondwet skynbaar toegelaat word.

JC ·

Nuwe en veranderde Grondwet: Verdeel die land asseblief!! Ek SAL NIE enige ander opsie oorweeg nie. Indien hul wil karring aan die grondwet SAL ons aandring daarop dat die land verdeel word, maw ‘n voorwaarde daarvoor, aangesien die GW ‘n skikking was.
Wes-Kaap, Noord Kaap, dele van die Vrystaat, Noord-Wes, gauteng en Limpopo vir Afrikaners.
Natal, Oos-Kaap, Mpumalanga, dele van Limpopo, Gauteng en Noord-Wes aan Engelsprekendes en ander bevolkingsgroepe.
Dit IS die enigste opsie vir vreedame bestaan en ‘n toekoms aan die suiderpunt van ons geliefde Afrika VIR ALMAL!!!!
Elke afsonderlike staat mag sy eie wette maak en op sy eie wyse bestuur word bv. die reg om te skiet en wapens te dra en konserwatiewe regbank.

veruschka ·

Ja se ons ook!! Dan kan ons kyk wie is die wat opbou en flureer, en die wat gaan kripeer!

Maria Van Dieweeck ·

Korrek JC! Hulle kan veral stinkvrot Durban kry

JC ·

Dankie Maria :-) Die Multikulturele, diverse en/of heterogene land ding- werk GLAD nie lekker nie. Een groep; in teenstelling met Mandela se visie van geen swart of blanke oorheersing nie; sal ALTYD probeer oorheers en die ander PROBEER onderdruk!!
“IN TIMES OF UNIVERSAL DECEIT, TELLING THE TRUTH BECOMES A REVOLUTIONARY ACT”!! Ons het ons self gebluf deur te dink dat ons, ons kulturele vryhede en taalvryhede kan geniet en uitleef in ‘n NIE-GESEGREGEERDE, HETEROGENDE LAND. Was DIT egter NIE vir die skynbare pogings tot onderdrukking wat nou ervaar word nie, en MEER VRYHEID EN VERDRAAGSAAMHEID, het die prentjie egter heel anders daar uitgesien, HELAAS NIE. Dit wil vir my voorkom asof daar nou WEEREENS gepoog word om Afrikaners op gedwonge wyse te laat assimileer, wat beslis nie sal werk nie soos die Britse Ryk tot hul spyt bevind het. Ironies genoeg, word daar veral by die universiteite gepoog om Afrikaners en Afrikaanses te assimileer tot Engelssprekende “ladies” en “gentlemen” juis deur die einste persone wat ‘n renons moet he in gedwonge assimiliasie en taalassimilasie!!!!

Simon ·

O jitte. Verandering deur die ANC aangevoor kan lol.
Hulle het geen respek vir enigiets wat vir die blanke kultuur belangrik is nie.
Minderheidsregte is iets om op getrap te kan word.
Dit is nog geldige dat die GW slegs met 2/3 meerderheid verander kan word, maar gedagte moet gehou word hoe slu en slinks die voorwaardes omseil sal kan word bv deur die grondwethof.
Die NP se onderhandelaars was nou nie juis die skerpste potloode in die blikkie nie.
Dit was al duidelik tydens die onderhandelingsprosesse van destyds.
Vertrou dat die opposisie wat die restand van die 2/3 meerderheid gaan uit maak steeds die LAND se belang en NIE SAL SWIG VOOR die ANC se belange NIE.
Groot bekommerd is – Grondwet is uiteindelik tog daardie entiteit wat die land en AL sy mense BEHOORT TE BESKERM.

Flippie ·

Die grondwet beteken vir die gemiddelde man op die aarde niks. Omdat die grondwet van ons ‘n regstaat maak, kan enige een hom op die grondwet beroep. Dis alles goed en wel BEHALWE dat die gewone man nie die litegasie kan bekostig nie. BEHAWE die koste aspek is daar ook tyd langdradigheid van hofsake.

Nee wat vir die gemiddelde man ( behalwe afvotkate en prokkerowers) beteken die grondet niks. Dis nie papier werd waarop dit geskryf is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.