Nuuskommentaar: Grondwetlike reg om te staak, maar nie om te werk!

Argieffoto

Argieffoto

Die helder kinderogies het dof geword. Die ondeunde gesiggie lyk nou verskrik. Die honger wys in sy ogies, en in die lusteloosheid van sy stap. Hy is skaam, maar die honger laat hom skoorvoetend na die sopkombuis by sy skool drentel – so ongemerk as moontlik.

Dat die kosrakke tuis leeg geraak het, is nie sy toedoen nie. Ook nie sy moedelose ouers s’n nie. Gelukkig is daar mense elders in die land met harte op die regte plek. Hulle dra kos, selfs babadoeke, en ander noodsaaklike items by die tonne by, dikwels te midde van nood in eie geledere. Dit herinner aan die Wes-Berlynse lugbrug wat verseker het dat dié deel van die stad nie deur die kommunisme verslind kon word nie. Die grootste verskil is dat dit nou nie regerings is wat so ingryp nie, maar die gewone burgers en hul organisasies soos Solidariteit en kerke.

Dis ander wat staak, en weer ander wat adviseer dat nog gestaak moet word – ideoloë wat nou, buig of bars, die hennetjie wil slag wat die goue – of liewer, platinum – eiers lê.

Terwyl die regering oral en nog wat sy neus insteek waar dit nie tuishoort nie, is besonder voete gesleep om in die platinumgordel in te gryp – en weer onttrek.

Die regering is reg – dit is lank nie meer ‘n suiwer arbeidsaangeleentheid en loontwis nie. Dis nie eens duidelik of dit ooit ‘n suiwer arbeidsgeskil was nie. Maar nou is dit beslis minstens ten dele ‘n politieke kwessie. Dis ook lank reeds nie meer net ‘n staking nie – dit gaan met intimidasie en selfs moord gepaard – ongelukkig te algemeen in Suid-Afrika as om as ‘n nuwe verskynsel beskou te word.

Werkers het die reg om onder bepaalde omstandighede te staak, maar wat van die wat nie wil staak nie se reg om te werk?

In 2011 het prof. Jane Duncan ‘n artikel oor ‘n geskil tussen mnr. Ngoako Ramatlhodi, toe adjunk-minister van korrektiewe dienste, en prof. Pierre de Vos die lig laat sien. Byna terloops merk sy op dat Suid-Afrika se grondwet nie ‘n bepaling oor die reg om te werk bevat nie.

Hoewel Suid-Afrika, wat dit betref, lank nie alleen staan nie, is dit tog tragies dat die grondwet in wese meer regte verskaf om nié te werk nie. Soms is dit weens goeie redes, soos die verbod op ontoepaslike kinderarbeid, die verbod op slawerny, verbod op onbillike diskriminasie ook in die werkplek en vele meer. Die grondwet bied ook, onderhewig aan sekere ingrepe, die reg om ‘n professie van keuse te kies.

Die kort en die lank is egter dat werkers die reg het om te staak, maar nie die reg het om te werk nie.

Dit is wel hopeloos te eenvoudig gestel, maar dit verminder nie die ironie – en tragiese gevolge nie. Daar kan wel geargumenteer word dat die “reg om te werk” ‘n onmoontlike reg sou wees – as daar nie werk is nie, of geld is om iemand vir werk te betaal nie, is daar net nog ‘n akademiese inskrywing in die grondwet. En die grondwet is nie vreemd aan “onmoontlike vereistes” nie, soos ‘n skoon omgewing (met skoon lug), en ook heelwat van die kinderregte. Tog beteken dit nie dat dit nie in die grondwet moet wees nie – dit stel minstens ‘n ideaal om aktief na te strewe.

Maar kan dit werklik wees dat iemand se reg om te staak so wyd vertolk kan word dat dit die brood uit ander – ook onskuldige kinders – se monde neem?

Presies hoeveel inhoud bly oor in ander grondwetlike bepalings as die afwesigheid van die reg om te werk so vertolk word dat stakers ander partye so benadeel dat hul reg op huisvesting, eiendom, omgewing, vryheid van handel en professie, menswaardigheid, en selfs sy reg op lewe leë woorde word? Wat word van die kinderregte soos die reg op gesonde kos as die koskaste leeg is?

Mag stakers met onredelike eise se staking so ver gevoer word dat dit die land se ekonomie ernstig skaad en nog duisende werksgeleenthede laat verlore gaan?
Baie van die skade wat die AMCU-staking aangerig het kan nie meer herstel word nie.

As daar een goeie ding uit hierdie staking gebore kan word, is dat die regering weer ernstig besin hoe toepaslik sy huidige arbeidswetgewing is in ‘n regstaat waar ook ander burgers regte, waaronder menseregte het, wat deur die staking vertrap word.

Dit beteken nie dat wetgewing wat werkers deur onbillike praktyke deur slegte base beskerm, ook onder die vergrootglas geplaas moet word nie. Nee, daar is nog oorgenoeg slegte base in die land, en slegte base werk selde produktiwiteit in die hand.

Dat die effektiewe aanspreek hiervan nie met groot entoesiasme deur die regering aangepak sal word nie, is ‘n gegewe. Dit sal eenvoudig die hand van radikale vakbonde soos AMCU en NUMSA versterk, dit sal in nog groter steun vir die EFF manifesteer.

En Zuma lyk glad nie na ‘n Thatcher wat so ‘n stryd kan aanpak en wen nie.

Maar het die land nog ‘n ander keuse? Moontlik sal ‘n burgerlike instelling, soos Freedom Under Law, genoeg meriete in die regte, wat nou in die slag bly, sien om die howe te nader en ‘n groter gebalanseerdheid hieroor in die arbeidsreg te weeg te probeer bring.

Want só kan dit ook nie aangaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mandie ·

Ek persoonlik is van die opinie dat die persone wat wil werk die Unie wat die mense aangespoor het om te staak en om aan te hou met die staking moet dagvaar vir verlies aan inkomste, verlies aan veiligheid en sekuriteit en die reg tot basiese behoeftes. Iewers moet standpunt ingeneem word dat ‘n unie gekeer moet word om ‘n hele bedryf lam te lê. ‘n unie is tog daar vom uit te kyk vir die welstand van die Werknemer, dis nie wat nou in Rustenburg gebeur nie. Daar is ‘n punt waar hulle moet besef hulle is besig om die mense wat aan hulle verbonde is kwaad aan te doen en ja dan aanvaar jy die aanbod wat ter tafel gelê is want dis beter as wat mense uitgemoor word omdat hulle wil werk of dat hul families en kinders honger ly! Dis ‘n skande dat ons regering dit enigsens toelaat!!!

Annetjie Rademeyer ·

Mandie, ek stem heeltemaal saam met jou. Hierdie unies moet gedagvaar word vir die verliese van inkomste die afgelope maande want dit wat hulle gedoen het, het absoluut geen positiewe uitwerking gehad vir enige van hierdie werkers of ons land nie behalwe vir hulle self en vir wat hulle wil bereik. Hulle het geen gewete nie en dit maak nie vir hulle saak wie hierdeur ly nie (mense wat wil werk met hul gesinne) en ek kan nie verstaan dat hierdie duisende werkers wat eintlik hierdie ding sien kom, teen hierdie unie gegaan het nie maar steeds saam met hulle gestaan het. Ek wonder nou net waar gaan hierdie werkloses nou n werk kry want nie Amcu of Numsa sal daarvoor sorg nie.

Pieter van der Dussen Senior ·

Gd het die mens in Genesis 1-2 die opdrag gegee om te werk. Vanwee die sondeval moet die mens sedertdien werk om te kan eet. In 2 Tessalonisense 3:10 word duidelik gestel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie moet eet nie. God het aan die mens besondere gawes gegee waarmee hy kan werk en dink. God het ook aan die mens grond en water en reen en minerale gegee om te gebruik wanneer hy sy opdrag, sy roeping, uitvoer om die aarde te bewerk. Enigiemand wat enige mens hinder en verhinder om hierdie roeping uit te voer, sal hom eenmaal voor die regterstoel van die Here Jesus Christus moet verantwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.