Nuuskommentaar: Grondwetlikheid en die burgerlike samelewing

Dié naweek vind die stigting van ‘n a-politieke sambreel-politieke burgerregte-organisasie plaas wat ‘n belangrike rol kan speel om munisipale dienste in die land weer op dreef te kry.

Te midde van gereelde kommer oor die stand van grondwetlikheid en die regering se ingesteldheid teenoor die grondwet, meen staatsregskenners dat ‘n sterk burgerlike samelewing in Europa ‘n belangrike element van die verskansing van grondwetlikheid uitmaak. In Suid-Afrika word bykans alles verpolitiseer, ook dele van die samelewing wat grondwetlik gesproke juis a-polities moet wees, soos die staatsdiens. Trouens, daar is selfs ‘n formele kader-ontplooiingsbeleid, met rampspoedige gevolge.

Burgerregte-organisasies kom gereeld vanuit politieke geledere onder skoot, selfs wanneer hulle die grondwet en grondwetlike meganismes inspan om politieke leemtes aan te spreek, soos ‘n rugraatlose regering wat Moody’s genoop het om Suid-Afrika se graderingsvooruitsigte na ‘n negatiewe aan te pas. En ja, die breë prentjie handel in ‘n groot mate oor die vrye teuels wat Julius Malema geniet om die land se kredietwaardigheid te verongeluk. Ons sal darem vandag weet of sy kierankies begin braai.

Die te stigte oorkoepelende burgerraad vir grondwetlike regte wil juis die grondwet inspan om die kundigheid wat buite-om die regering en sy ondersteuners bestaan, aan te wend om munisipaliteite weer op dreef te kry. Uit die beskikbare inligting is dit duidelik dat dit nie op weerhouding van dienstegelde gemik is nie, en ook nie op konfrontasie nie. Dit mik in ruil vir die aanbied van talente en kundigheid dat daar deelname aan die ganse proses is – van die strategiese beplanningsfase, deur die begrotingsfase tot die doeltreffende uitvoering. En dat die grondwet hiervoor voorsiening maak.

Die gedagte is dat almal so mede-verantwoordelikheid vir die doeltreffende funksionering van die munisipaliteite neem, en dat hofsake, dispute en langdurige spanning vermy sal kan word. Regsprosesse om selfs die ooglopende reg te stel, kan baie uitgerek verloop. In Bloemfontein het ‘n groot groep meentheuisinwoners die hande gevat, en hoewel ‘n proses van onderhandelings met die elektrisiteitsdiensverskaffer, Centlec, gevolg word, stuur die enorme tarief waarteen hulle aangeslaan word op ‘n hofsaak af – wat volgens aanduidings eers oor twee jaar gaan plaasvind. Volgens koerantberigte is Nersa al verskeie kere aangehaal dat dit die naarheid in is oor Centlec se vertolking van die regsposisie waar grootmaattariewe plus piektydtariewe teenoor residensiële tariewe gestel word. Dit skreeu teen die beginsel van natuurlike geregtigheid wat in die handves van menseregte verskans is.

In dié stadium het belanghebbendes uit meer as 200 stede en dorpe aangedui dat hulle deel van hierdie oorkoepelende liggaam wil wees wat Saterdag in Pretoria gestig word. Bykans elke verslag oor die stand van munisipaliteite, van die Ouditeur-generaal tot die Minister van Finansies se jaarlikse oorsigverslag, van groendruppel tot bloudruppel, bring ‘n skrikwekkende prentjie na vore. Een van die mees aktiewe burgerregte-organisasies, Afriforum, het pas ‘n belangrike rol gespeel om die Tshwane-metroraad se rioolwerke langs die Apiesrivier tot rampgebied verklaar te kry. Met die hoë vlakke van MIV-voorkoms onder die land se bevolking, kan die rioolbesmetting van water lewensgevaarlik wees, volgens Amerikaanse studies wat in Tanzanië uitgevoer is.

Om ‘n oorkoepelende burgerregte-organisasie tot stand te bring is een deel van die proses. ‘n Volgende is om munisipaliteite te oortuig om van die geleentheid gebruik te maak om weer doeltreffend te word. Aan die ander kant kan munisipaliteite ook nie werklik oorleef sonder die fondse wat nou op talle plekke in trustrekenings inbetaal word, en dus nie vir vermorsing beskikbaar is nie.

Op die oog af lyk dit of die wind gedraai het en daar in senior regeringskringe kommer is oor die vermorsing van staatsgeld op alle regeringsvlakke. Die parlementêre Skoor het pas syfers bekend gemaak wat daarop dui dat staatsdepartemente verlede jaar ‘n totaal van R21 miljard vermors het; ‘n skerp styging op die vorige jaar. Na berig word wil Skoor dié tendens nek omdraai. ‘n Hele paar ministers het nou al die wind van voor gekry oor astronomiese hotelrekenings. Die fonteintjie begin tekens van droogte toon, en Moody’s het nou aan die regering getoon hoe belangrik dit is om nie net ‘n gesonde ekonomiese beleid toe te pas nie, maar dat die persepsie daarvan ook deeglik moet geld, maw daar moet ‘n keuse tussen Malema se invloed en ekonomiese herstel gemaak word – die land kan nie beide kry nie.

Op die 2010-korrupsiepersepsie-indeks van Transparrency International word Suid-Afrika se gradering van 4.5 as hoogs korrup beskryf. Dat Suid-Afrika tot die Brics-lande toegelaat is, hou voordele in, maar uit ‘n persepsie-oogpunt ly die land tog skade, aangesien die ander deelnemende state, veral Rusland, voor die voet nog swakker op die korrupsie-persepsie-indeks vaar. En as Bric-lande, het daardie persepsie al goed posgevat. Ook op ander indekse is Suid-Afrika in daardie geselskap die koning met die een oog wat in die land van blindes die toon aangee.

Die saamloop van omstandighede mag dalk nou die politieke wil skep om die te stigte burgerraad se hand te wil vat – tot almal se voordeel. Die oorkoepelende raad sal egter by voorbaat weet dat dit ook in ander kringe nie met ope arms ontvang sal word nie. Sommige opposisiepartye sal die stigting waarskynlik as ‘n mosie van wantroue ervaar.
Dit bied aan die breë opposisiepolitiek egter ook die geleentheid om weg te beweeg van ‘n persepsie dat sommige partye juis gedy in die klimaat van polarisasie wat die land skynbaar op ‘n koers na ‘n tweepartybedeling, en dus ‘n verarmde demokrasie begin plaas het. Die tendens hou boonop die moontlikheid in dat polarisasie verdiep en verskans kan word.

Werk die burgerregte-opsie, baat die politieke spektrum en sal belangepartye ook weer ‘n beter kans staan om ondersteuners te trek wat nie voel hulle moet eers ideologie links laat, en saamgroepeer om die ANC tot ‘n val te bring nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae