Nuuskommentaar: Groot oë op klein Allister Coetzee

Allister Coetzee. Foto: Saru

Allister Coetzee. Foto: Saru

Die hoop op Allister Coetzee, die nuwe Bokafrigter, is groot, op sowel as van die veld. Uiteindelik sal sy toets wees of hy die land kan neem na ’n punt waar meriete, en nie velkleur nie, die norm is sodat sport sport kan bly. Die grootste taak vir transformasie bly by die regering wat geriewe op grondvlak moet skep, en rugby-administrateurs wat rugby-ontwikkeling as meer sien as om kleiner spanne se gekleurde sterre op te koop.

Die verwagtinge wat vanuit verskillende hoeke gestel word aan die nuwe Springbokafrigter, Allister Coetzee is groot. ’n Rugbypubliek wat hartstogtelik uitsien om weer ’n Springbokspan te sien waar die hoofdoel nie skynbaar is om in die naaste opponent vas te hardloop nie, maar rugbyvaardighede soos om die lyn met aftrappe en systappe te breek, en vleuels wat weer soos van ouds die ore langs die kantlyn plattrek doellyn toe, tel onder dié verwagtinge. Coetzee sal weet stampkarrugby gaan hom by die rugbypubliek in onguns bring, veral as dit nie ’n groot persentasie oorwinnings oplewer nie. En die oorwinnings wat verwag word, moet nie tot Mickey Muis-spanne beperk wees (teen wie boonop periodiek die onderspit gedelf word) nie.

Coetzee sal baie bewus wees daarvan dat hy, as WP- en Stormers-afrigter, soms kritiek gekry het oor die min drieë wat sy span druk ten spyte van baie oorwinnings. Met die hulp van die nuwe agterlynafrigter, Mzwandile Stick, is die kanse egter minimaal dat stampkarrugby deur die agterspelers ’n belangrike kenmerk sal wees.

Coetzee kon in die Wes-Kaap ook die transformasiejagters stil hou, enersyds weens die groot getal spelers waaruit hy plaaslik kon kies, maar  andersyds omdat hy nie geskroom het om kleiner sterre soos Gio Aplon en Cheslin Kolbe in te span nie. Hierdie spelers het met hul dartellopies spanne wat lief is om die stewel onnodig in te span, dikwels laat skarrel met hul pasellabesit, en daardie bewegings het ook tot heelwat drieë gelei. Veral Australië en Nieu-Seeland span egter nou baie spelers van Polinesiese herkoms in – groot en sterk vaardige spelers, wat ’n groot toets vir klein spelers kan wees.

Dit kan egter aanvaar word dat Coetzee se groot toets van die rugbyveld af sal wees. Die politieke verwagtinge van die transformasiedrywers sal enorm wees. Daar gaan groot teleurstellings wees van goeie spelers wat nie gekies word nie en die vraag of iemand se velkleur teen hom getel het gaan nie oornag verdwyn nie. Coetzee sal in ’n baie, baie goeie verhouding met die rugbypubliek moet staan, terwyl hy die politici nie die harnas in jaag nie.

Die tyd sal leer of Coetzee se aanstelling die proses verhaas dat velkleur geen norm vir spankeuse sal wees nie. Dit is egter nie net in Coetzee se hande nie – daar rus die verantwoordelikheid grootliks op die politici om toe te sien dat die nodige geriewe bestaan om rugby behoorlik in gemeenskappe te laat posvat waar skole dikwels nie eens oor ’n geskraapte sokkerveld beskik nie. Die rugby-administrateurs moet ook gou besef rugbyontwikkeling bestaan nie daaruit om die gekleurde spelers van ander bonde soos die Grens, Boland en SWD op te koop nie.

As welke manipulasie wat nou mag plaasvind nie afgestem is om ’n merietestelsel te versterk nie, praat ons nie meer van sport nie maar maatskaplike manipulasie.

Coetzee het in die verlede bewys hy is nie rasbehep nie. Hy het egter ’n fyn oog om talent raak te sien, en die Bokke kan daarby baat.

Bring vir die land ’n paar mooi oorwinnings, en Coetzee sal die steun van baie hê om sy uiters moeilike taak te volvoer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SkarrelKind ·

Ons moet hom ‘n kans gee ja, maar as mens na die Stormers kyk, was hulle maar ‘n gemiddelde span met een of twee “gelukkies” tussen in. Ek hoop hy rook die pyp, dat ons weer rugby kan kyk en op hou hoef te fokus op politiek. Sterkte AC, maak ons trots.

François ·

Watter SA span was beter as die WP of Stormers die afgelope 4jr wat hy die afrigter was?!

Paul ·

Ja en AC het juis ‘n trofee kabinet vol Superrugby trofees.

Johann Marx ·

Suid Afrika is ‘n land van diversiteit. Baie rasse, elf amptelike tale, BBE en regstellende aksie. Ons baklei onder mekaar oor kwotas en sport, ons haat rassisme saam met die beste van rassiste, ons redekawel oor geloof, politiek, moraliteit, dienslewering, politiek…..ek dink dit het omtrent net so geklink ‘n dag of wat na die fondasies gegooi is vir die toring van Babel. En waarom doen ons dit? GUN die swart spelers ‘n kans….kies ‘n Springbokspan wat NET swart spelers in het. GUN die wit spelers ook dan ‘n kans…en kies ‘n Koedoespan wat NET wit spelers in het. Skryf hulle by elke toernooi in as twee afsonderlike spanne…en laat ons die talent wat daar is benut en geniet……Of nee, o wee, liewer nie. Ek het nou net onthou….dit sal nie 3 minute wees nie, dan stry ons weer oor wie die “beste span” is, die Springbokke of die Koedoes. Dis val mens nogal op dat die diere van die skepping nooit iets anders wil wees as wat hulle is nie….die bokke is bokke, bly bokke, en is tevrede om bokke te wees. Hulle dring nie aan om in die leeu-trop opgeneem te word, en dan die leeus te dwing om te blêr nie. Die volstruise blameer ook nie al die ander voëls omdat hulle nie kan vlieg nie.

alida ·

As die springbokke gewen het sou Heyneke Meyer nou nog afrigter gewees het.

Bets Bothma ·

Sterkte Mnr Coetzee! Dis n joppie wat ek nou glad nie wil hê nie – want jy sal wedstryde moet wen, maar jou spanne gaan vir jou gekies word!

Jan ·

As AC weg bly van alle afreeoorde en op meriete kies. Sal hy sukses behaal

AJB ·

Hoop ons kan mooier en slimmer agterlyn
bewegings sien wat mooi drieë oplewer. Is dit nie lekker nie.

Eliza-beth ·

Jinne Herman, jy skryf die mooiste Afrikaans! Paragraaf 4: “dartellopies”, “pasellabesit” – MAN ek het lekker gelees aan die berig!

Wat-ek-lees ·

Dis tyd dat die toeskouers ook nou getransformeer word. Streng toegangbeheer sodat daar vir elke twee blankes eers agt anderkleuriges by die hekke moet ingaan voordat die volgende twee wittes toegelaat word.

Werner Olivier ·

Kan ons reël dat die Springbok embleem nou afgehaal word van die trui af. Regstellende aksie was sover onsuksesvol in ons land. Wie nou dink dat in Rugby gaan werk is tog belaglik. Kies die spelers op meriete en ek ondersteun graag. Maar nou ja wie is ek?

Tiger ·

Ek stem met jou saam oor die springbok embleem.Die huidige “springbokke” doen die embleem net oneer aan .Jammer maar dis my eerlike mening.Die rugby wereld lag vir ons.

bok-bok ·

Hy gaan hom uitstekend van sy taak kwyt, daaraan twyfel ek nie. Kan nie wag om die stil man se sukses te aanskou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.