Nuuskommentaar: Groot tegnokratiese herevaluering nóú nodig oor kampus-rassegeweld

Die groep Tuks-studente bid saam op kampus Foto: Daniella van Heerden, eNuus (via Facebook)

Die groep Tuks-studente bid saam op kampus Foto: Daniella van Heerden, eNuus (via Facebook)

Die rassespanning op kampusse verg nou ’n deeglike regsbegronde, tegnokratiese ondersoek, om ’n eskalasie tot die vlak van die Slag van Andringastraat presies 75 jaar gelede te voorkom. Dit verg egter ook doelgerigte steun van die politieke leierskap waar ’n Nommer Zero bloot ’n vyfde wiel aan die wa is.

Wanneer na die leserskommentare oor die huidige studente-onrus op veral Maroela Media gekyk word, val dit op hoeveel lesers net een oplossing sien – dat sake deur die Here reggestel moet word. Van Tuks se kampus kom ook berigte van wit en swart studente wat saam in gebed verenig. Ook elders is daar berigte van medemenslikheid wat oor die gevegslinies strek.

Dis natuurlik reg. Dit staan ook in skrille kontras met byvoorbeeld die UV se sekulariseringsprogram sedert prof. Jonathan Jansen die leisels as rektor by Kovsies oorgeneem het en onder meer van gebed by die gradeplegtigheid ontslae geraak het, en God uit die UV se leuse geneem het. God is soewerein, en sy wil sal geskied.

Ons, as mense, het egter ook verantwoordelikhede waar ons ons verstand moet gebruik en dinge na ons beperkte insigte ten beste moet orden. Dikwels is kollektiewe denke ook die Salomosweg.

Sedert 1994 staan daar “transformasie” breed oor die Suid-Afrikaanse samelewing geskryf. By terugskoue kan transformasie as die proses beskou word wat neerkom op die regerende party se beleid wat raakvlakke met dele van die grondwet het. Dit het ’n soort evangelie geword waarteen onder meer universiteitsdosente se geskiktheid gemeet sou word, en dit was dan ook politiek korrek om tydig en ontydig verbintenis daartoe te verklaar, selfs tot ’n hele ruk nadat gesien is dat daar oor ’n wye front erg diskriminerend en onregverdig met die implementering daarvan omgegaan word, en eintlik dikwels in blote transformania ontaard het. Dit is moeilik om hierdie transformania as iets anders as nieu-apartheid te beskryf. Dis duidelik ook ongrondwetlik.

Verskeie strome het saamgevloei om die erge rassistiese aard van die studente-onrus nou te kenmerk. Daar is onder meer die koers wat die ANC-regering onder die presidentskap van oudpres. Thabo Mbeki ingeslaan het. Dit kon maklik vervloei met die swart bewussynsstrominge met Steve Biko as bekende rolspeler, en op sy beurt weer gevoed deur Frantz Fanon soos in gister se nuuskommentaar, Kampus-burgeroorlog, beskryf.

Die chaotiese bewind van pres. Jacob Zuma het mildelik bygedra tot die radikale ontaarding hiervan, tot die punt dat veral jong swart mense selfs die ikoon Nelson Mandela verkwalik oor ’n Kodesa-uitverkoop.

En natuurlik is daar ook nog spore van wit rassisme, waarvan minstens ’n deel reaktief deur post-1994-diskriminerende ervarings gevoed is.

In die deurmekaarspul het die hoenders nou krokodileiers in die hoenderhok uitgebroei.

Die ontstaan van die EFF dien boonop om aan hierdie radikale gedagtes ’n soort interne konsensus te gee, en grootliks sing die #MustFall-veldtogte dieselfde deuntjie, en het dieselfde filosofie en uitgangspunte onderliggend, al is veral in die beginfase mildelik van die sogenaamde nuttige idiote gebruik gemaak om ’n tyd lank selfs ’n beeld van fatsoenlikheid voor te hou. Die Seunse Weenkoor was, en in sommige gevalle is steeds traag om hul aanvanklike omarming los te wikkel.

Die feit is dat ons nou met die gebakte pere sit. Landwyd is al honderde miljoene rande se skade aangerig. Ontelbare hoeveelhede misdade is gepleeg wat wissel van brandstigting, intimidasie, betreding, vandalisme en vele meer. Die vertrapping van ander se menseregte én grondwetlike regte het alledaags geword.

In sy hoofartikel vandag kyk Volksblad ook na ’n meer blywende oplossing as blote reaktiewe optredes: “Die UV se fynkammery van video’s en voorgenome opsporing en vervolging van sondebokke trek ’n streep in die sand. Wedersydse verwyte en ’n uitgerekte proses kan hieruit spruit. ’n Onafhanklike regsgedrewe ondersoek, onder aanvoering van die UV, is ook sterk aan te bevole.”

Op die oomblik is die fokus op universiteite of kampusse waar wit, veral Afrikaans, en swart met mekaar skouer skuur. En ja, dit verdien ’n deeglike ondersoek wat nie net regsgedrewe is nie, maar ook die kundige insette van sosioloë, antropoloë, sielkundiges, historici en politieke wetenskaplikes insluit. Die mandaat moet streng tegnokraties wees om te verseker dat vooropgesette politieke en ideologiese vooroordele nie die skip kelder nog voor die kaai verlaat is nie. En ja, as transformasie, en veral die toepassing daarvan, herbesoek moet word dan is dit ook so. Intussen moet gewaak word teen ’n persepsie van onewehandige optrede.

So iets verg natuurlik ’n onomwonde politieke mandaat, en op die oomblik waai die wind wes. Wat dit betref is Zuma nie Nommer Een nie, maar Nommer Zero. Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, neig om erg stokkies te draai waar sy leiding nou so nodig is (wat gegewe sy rekord dalk ook nie so ’n slegte ding is nie).

Die geskiedenis leer egter dat dit nie altyd die ras-aspek van Fanon se filosofiese denke is wat die vlamme stook nie, maar ook die klassestryd. Dit manifesteer in onder meer onbevredigde beloftes van politici wat oormatige verwagtinge troetel. Ander kampusse loop dus ook periodiek onder vlae van geweld deur. Die ondersoek moet dus ’n omvattender verskynsel onder die loep neem.

Want só kan dit nie aangaan nie. Rasgebaseerde studentegeweld is nie uniek aan Suid-Afrika nie, en ook nie nuut in Suid-Afrika nie. Hoewel sowat 75 jaar verloop het sedert die Slag van Andringastraat in Julie 1940, is daar nog vele lesse te leer oor waartoe dit kan ontwikkel as dit eers wortel geskiet het. Mag so iets nie weer in Suid-Afrika gebeur nie.

Ons moet per slot van rekening onthou dat die rassespanning op kampusse plaasvind teen die agtergrond van onbeskryflike wrede plaasaanvalle, buitenproporsioneel baie en gewelddadig teenoor die gemiddelde misdaadsyfers vir die land, en dit vind dikwels oor rassegrense plaas. Die regering se slaprughouding hieroor verpolitiseer die saak en hou die gevolglike rassespanning in suspensie. Deur die gespanne situasie juis op kampusse te prik laat dus meer opgeboude spanning los as wat net op die kampusse self ontstaan het.

Intussen kan leierskap veel lesse put uit ervaring. Prof. Jansen het kort ná sy aanstelling as rektor die geval van die Reitz-vier, wat tot in daardie stadium uiters bedenklik hanteer is, op ’n prysenswaardige manier hanteer. Meer onlangs het die hantering van die twee Kovsies wat valslik van rassisme beskuldig en geskors is, nie so ’n lekker smaak in die mond gelaat nie. Dit het moontlik bygedra tot die rassespanning wat nou oorgekook het.

Ten slotte. Daar kan nie maar net op regeringsvlak en leiersvlak geploeter word en dan verwag word die studente moet sake self oplos deur hande in gebed te vat nie. Dat so iets gebeur is wonderlik, maar ons moet ook onthou die Here is nie ’n werktuig van die sekulêr of selfs Christen wat na willekeur ingespan kan word om brouwerk te kom regdokter nie. Die Christen is ’n werktuig van God.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Otter ·

Ek stem saam. God is almagtig en hy gee ons opdrag om te bid sonder ophou, en ook dan in Hom te glo. Maar ons moet onthou dat Hy ons in hierdie wêreld gestel het met opdrag om te beerk en bewaak. Ons moet daarom dink en doen ook (denke en dade natuurlik gerig op Sy wil te laat geskied).

Eli ·

Baie dankie vd goeie uiteensetting.
Ek glo deur te bid is verseker die antwoord..MAAR om net hande te vat,bid en dan hoop dinge sorteer homself uit,terwyl ons met oogklappies aan sit en handjies gevou en self NIKS omtrent die saak doen nie is n gekke gedagte..volstruis mentaliteit volksmoord

Mirna ·

Chaos op sulke gerespekteerde en tradisioneel-ordelike plekke soos akademiese kampusse is net so onaanvaarbaar en verkeerd soos rassisme!!!

HEVW ·

Stem saam dat ons met ons harte na ons HOOGSTE BESKIKKER toevlug moet neem, maar die benadering soos hierbo uiteengesit is vreemd aan Afrika. Sien ook hiedie wetteloosheid as satan georkestreer, maar ons moet ook besef dit word toegelaat. Die vertrekpunt moet dus by onsself wees. Daar is baie om voor God reggestel te word. Daar behoort eerstens by ons kerke begin te word.

JC ·

Ons sal nie ophou veg vir Afrikaans nie!

So eenvoudig soos dit. Rys op Afrikaanses!!

Veg vir wat joune is!

Hierdie is ons Sharpeville!

Sarel Strydom ·

Wat my dwars in die krop steek is die rassistiee kommentaar deur mede Afrikaners. Ons het dit nie nodig nie en benadeel net die hele saak. Maroela Media behoort hierdie tipe van Komentare asseblief te verwyder en blok hjierdie mense. hulle bemoeilik net die hele saak.

Thys Gouws ·

Hierdie kampus geweld is uit en uit ras gebaseer. Dit kom vir my voor dat die persepsie is dat slegs witmense rassisties kan wees. Afrikaners is die teiken. Geen gebed, sal die gedagtes van mense wat besig is met nasie en taal moord, verander nie. Bid vir die Afrikaner. Bid vir Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.