Nuuskommentaar: Groot verantwoordelikheid van identiteitspolitiek

identiteit

Argieffoto.

’n Ketting is so sterk soos sy swakste skakel, en die huidige nuusdekking oor die Ahmed Timol- en doodskissaak hou juis die potensiaal in om die Afrikaner se beeld, danksy enkelinge se optrede, erg te skaad; die horde goeie mense ten spyt wat nooit sou droom om aan so iets mee te doen nie. Uiteindelik kan dit tot ’n verskerping van ’n aanslag op kultuurgoedere soos Afrikaans laat toeneem (al is die meeste Afrikaanssprekendes nie wit nie), en tot ’n toename in rassistiese haatspraak soos dit waarvoor Edward Zuma, seun van pres. Jacob Zuma, nou oplaas by die Menseregtekommissie in die sop is.

Terwyl die land deur die goggas wat deur die #GuptaLeaks onthul word, geskok en verstom word, speel ’n ander verhaal hom af – die herondersoek na die dood van Ahmed Timol, glo aan die hand van die polisie. Terselfdertyd is daar die sogenaamde doodskissaak wat die aandag trek. Die twee sake is nog nie afgehandel nie, maar dit het reeds ’n giftige uitwerking.

Veral die Timol-saak laat vrae ontstaan oor in watter mate is ondersteuners van die vorige bedeling mislei oor presies wat aangaan – dit wat werklik aangegaan het? Is die tallose goeie mense wat ex officio in die verlengstrukture van die destydse staatsveiligheidsraad, soos die GBS’s, en op hul beurt weer talle substrukture soos die Semkom, Komkom en Veikom, veiligheidsklarings en al vir die gek gehou? Tot op die vlak van gemeenskapskakelforums waar mense van verskillende bevolkingsgroepe gereeld saam koppe bymekaar gesit het om verhoudinge te verbeter en knelpunte aan te spreek. Heelwat van dié forums het die rol van verhoudingskomitees op hulle geneem.

Hierdie goeie mense, wat selfs die voorsitters van die onderskeie komitees ingesluit het, kon alleen kopskuddend toekyk hoe van diegene wat soos engeltjies vergaderings bygewoon, en suiwer terugvoering gegee het, soos vlakhase afgesit het na die Waarheids-en-versoeningskommissie se verhore en gaan bieg het oor sake wat nooit in die amptelike strukture ter sprake was nie, en beslis nie deel gevorm het van die opdragte wat vanaf die Staatsveiligheidsraad gekom het nie. Heel dikwels is aangevoer dat hulle “opdragte” uitgevoer het. Onwettige opdragte mag nie uitgevoer word nie, maar in die skemerwêreld van ’n totale aanslag (al word die bestaan daarvan in baie kringe ontken) het die grens tussen wettig en onwettig dikwels persepsiegewys afgewater geraak.

Minister Adriaan Vlok het heelwat later skielik ’n ander deuntjie begin sing en met ’n voetewas-veldtog begin om effektief te bieg oor watter booshede wél in sy departement gepleeg is.

Hierdie wanpraktyke het skynbaar geleidelik ontwikkel sedert aanhouding sonder verhoor in 1960 praktyk geword, en 11 500 mense in vyf maande so aangehou is.

Oor watter politici geweet het, en wat presies hulle geweet het, sal lank gestry kan word. Die feit is egter dat die Afrikaner nie kollektief verkwalik kan word, en dus gestraf kan word nie, vir dinge wat doelbewus van hom weerhou is.

Veral in ’n land waar rassistiese haatspraak algemeen is, moet daarteen gewaak word om te veralgemeen, en om die liederlikhede wat sommiges aangevang het, op die kollektiewe identiteit van almal te plaas. Prof. Jonathan Jansen, oud-rektor van Kovsies, het juis onlangs op hierdie kwessie van “kollektiewe skuld (moet) dra” gewys toe hy verduidelik het hoe die stigma aan Afrikaans die oorlewing van die taal op universiteitsvlak onmoontlik maak.

Of identiteitspolitiek ’n goeie of slegte ding is, sal mense verskil afhangende van die deel van die politieke spektrum waarop hulle verkeer. Dink maar aan Max du Preez en lede van die Seunse Weenkoor se gereelde gesanik oor Solidariteit en AfriForum, en Max wat kla dat dié organisasies ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het.

Feit is, identiteitspolitiek bestaan. In die geval van die ANC, veral nou onder Zupta-bewind, is ’n sterk pigmentokrasie ingevoer. By ander, soos die Voortrekkers, is dit veral kultuur wat identiteit bepaal. En dit maak deel van ’n wye internasionale tendens uit. ’n Nuwe peiling toon byvoorbeeld dat Amerikaners meer positief teenoor die Boy Scouts ingestel raak, en nou op 75 % staan. In 2013 was dit nog 65 %. En selfs nog meer Amerikaners staan positief oor die Girl Guides.

Identiteitspolitiek plaas egter ’n enorme verantwoordelikheid op daardie individue wat deel (wil) uitmaak van ’n bepaalde identiteit. Een wat met ’n verkeerde optrede in die openbare oog beland, kan die hele groep se beeld en aspirasies ’n lelike knou toedien. Elke deelnemer word inderdaad ’n ambassadeur vir sy kollektiewe identiteit, en moet daardie “amp” met waardigheid en insig kan dra.

Tim du Plessis het onlangs tong in die kies in Rapport geskryf oor die Afrikaner wat oor ’n geen beskik wat hom voorskriftelik en onverdraagsaam maak. Hy kon net sowel byvoeg, ’n brandende begeerte, indien nie obsessie nie, om van elke platform gebruik te maak om diegene wat kerke, publikasies, politieke partye, taal en ander aspekte met ons deel, met vitrioel te bestook.

Selfs die interpretasie van die Christelike geloof het ’n twispunt geword. Sosiale media bied juis ’n ideale uitlaatklep daarvoor (hoewel dit ook al ’n heel paar in die sop laat beland het).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gerhardus Petrus Padda ·

Elke kultuur het nog altyd mense opgelewer wat anti sosiale gedrag openbaar. Om n kultuur op sulke mense te oordeel is absurd.

Dit is egter wat gebeur in SA met Afrikaners. Die ander SA kulture word egter geoordeel op hulle beste mense. Wat ook absurd is.

Dit is egter deel van n sielkundige oorlog. Die elite (ook elite Afrikaners) het besluit dat Afrikaners nie meer mag bestaan nie en hulle gebruik hierdie tegnieke saam met ander tegnieke om dit baie moelik te wees om n Afrikaner te wees. Jy betaal n hoë sosiale prys om een te wil wees.

Terloops hierdie tegnieke is welbekend en as jy in n fisiese oorlog met n vyand is, word dit gebruik deur die intellegensie agentskappe om die vyand te demoraliseer. Boelies ken hierdie tegnieke ook baie goed. Jy oorwaardeer die slegte en onderwaardeer die goeie. Jy val die kind se ouers (geskiedenis) aan ensovoorts.

Therese van Schalkwyk ·

Om jouself deesdae as Afrikaner te beskou, geskied beslis “op eie risiko” .
Afrikaner-‘bashing’-artikels wemel op ‘ons’ bekende betaalwebwerf.

Puik kommentaar deur Petrus Padda! (hierbo)

Vreemd hoe gereeld beklemtoon word dat die meeste Afrikaanssprekendes nie wit is nie, en terloops, dis iets wat ten sterkste betwyfel kan word, want tweedetaalsprekers tel tog nie? Nóg ‘n bewys dat ‘Wit en Afrikaans’ ‘n dodelike kombinasie is.

Die “voetewas-veldtog” gaan heel waarskynlik nooit tot einde kom nie.

Eish ·

Hier is nou n multifaset artikel. Ek wil net graag n stuiwer in die armbeurs gooi oor die veiligheidsmagte van die tyd onder bespreking. Dit help nie ons hol nou weg en pleit domonnosel en veroordeel mense oor die gebeure van die tyd nie. Die oorlog is op twee fronte baklei, eerstens op die landsgrense deur die weermag en binnelands deur die veiligheidstak van die SAPS en in n mindere mate Nasionale Intelligensie (Genl. Lang Hendrik van den Berg, Neil Barnard) waaronder die Burgerlike Samewerkingsburo ( dirty tricks)asook Militêre intelligensie. Die grense is beskerm deur soldate. Hul doelwit, die uitwissing, doodmaak, skiet, bom, whatever, van die vyand. Oorgrens operasies is gereeld uitgevoer. Nie om die Woord te verkondig nie, om mense uit te wis. Binnelands was die taak om stedelike terreur sover moontlik te verhoed en te stop. Ook hier was dodelike geweld gebruik. Byvoorbeeld die Silverton bankbeleg in die vroeë tagtigerjare. Intelligensie, maw die vyand se planne, was onontbeerlik ten einde effektief die stedelike terrorisme hok te slaan. Elke gevangene is ondervra, uitkenning dmv die terroriste foto album gedoen ens, ens. Indien dit nie daarvoor was nie, het ons honderde gevalle van stedelike terreur gehad. Verseker het die hele hierargie geweet van die optredes. Dis absolute onsin indien hul dit ontken.Nou wat op aarde is die verskil tussen die weermag se optrede en binnelandse veiligheidsmagte se optrede? Die doel vir beide was die eliminasie van die vyand ten einde n veilige omgewing binnelands te verseker.

Eish ·

Hoekom hul wel mos skarrel vir die waarheid en versoeningskommissie is uitsluitlik aangesien die politici hul soos n warm patat laat val het. Jy kan nie vir my sê hul opdragte was onwettig nie. Genugtig, wat van die soldate op die grens?

rassie ·

Stem saam dat dit onregverdig is om my kinders en kleinkinders vir apartheid verantwoordelik te hou.

Kulturele identiteit, soos Afrikaner identiteit, het twee kante, naamlik selfidentifisering en identifisering deur buitestaanders.

Alhoewel daar nog nooit iets soos Afrikaner eenheid in enige vorm was nie, was daar tydens apartheid binne die Afrikaner ‘n groep met politieke meerderheidsmag wat hulself die reg toegeien het om ‘n geforseerde definisie van die “tipiese” Afrikaner en van ‘n “tipiese” Afrikaner lewensbeskouing te formuleer.

Hierdie “tipiese” Afrikaner identiteit was duidelik gekenmerk deur ‘n rasse- en kulturele meerderwaardigheidsbeskouing. Dit het duidelik in ideologie en praktyk tot uiting gekom.

Hoe andere dus die Afrikaner geidentifiseer het, was dus presies hoe die Afrikaner homself gedefinieer het.

Daar bestaan tans geen Afrikaner organisasie wat die mag het om die Afrikaner identiteit te kaap nie. Jonger Afrikaners besluit tans uit vrye wil wat hulself as Afrikaner identiteit beskou en by watter groepering hulle tuis voel.

Die huidige geslag van kulturele Afrikaners is wel steeds in wisselende mate die produk van kultuuroordrag vanaf die ouer geslag. Die vraag is of ou, tans onaanvaarbare, Afrikaner kentrekke steeds deur die ouer geslag aan hulle oorgedra word of nie en of onaanvaarbare gedrag van jonger Afrikaners aan kultuuroordrag toe te skryf is of bloot aan ongekultifeerde kriminele gedrag.

Indien eersgenoemde, gaan ons kinders dieselfde kritiek verduur as die ouer geslag en sal hulle ongelukkig dan self die gevolge moet dra. Die Afrikaner in geheel ongelukkig ook en kan goedbedoelde Afrikanerprojekte sodoende skade lei.

John ·

Om balans te bring moet die opleiding van die groep teen apartheid bekyk word. Baie ANC-lede het in die noorde van Afrika, in Rusland, Kuba en selfs in Israel militere opleiding ondergaan veral tov van terrorisme. Wilde stories het destyds die rondte gedoen. Staatsbestuur was nie een van die vakke nie. Tekortkominge op die’ gebied is deesdae duidelik te bespeur. Bomdreigemente is feitliks daagliks ontvang en winkelsetrums en skole is geteiken. Daar is gedurende die huidige ondersoek deur oud mk-lede getuig dat hulle geleer is om nooit te bieg onder dwang nie, wat op erge kondisionering dui. Sou die veiligheidsmagte hierdie mense in wolkombersies toevou? Doen enige regering dit onder sulke omstandighede en met ons lang verlede met menige onderonsies? Tim beledig ons Afrikaners deur almal van ‘n geen van onverdraagsaamheid te beskuldig. Is dit sy probleem? Miskien is die skoen eerder aan die ander voet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.