Nuuskommentaar: Grootste volk sonder land en lesse vir SA

'n Groep Koerdiese betogers beset die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement op 6 Oktober 2014 Foto: Al Jazeera (EPA)

‘n Groep Koerdiese betogers beset die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement op 6 Oktober 2014 Foto: Al Jazeera (EPA)

’n Groep Koerde is in ’n verbete stryd met die IS gewikkel om die Siriese stad Kobani aan die Turkse grens te verdedig. Oorkant die grens is genoeg Navo-magte, in die vorm van die Turkse weermag, teenwoordig om die stad te beveilig, maar lig nie ’n vinger nie. Trouens, die Turkse regering laat nie eens wapens deur na die Koerde nie, en sit op eie bodem nou met groot onluste opgesaal wat pas die lewens van twee polisiemanne geëis het, soos die Koerde in dié land beswaar maak dat hul volksgenote net oorkant die grens aan hul lot oorgelaat word. Turkye probeer ook keer dat Koerde vanuit Turkye die grens oorsteek om hul volksgenote by te staan.

Dit is ’n mikrobeeld van die dilemma van die Koerde.

Ons lees in die Bybel van die onbuigsame wette van die Mede en Perse. Vandag weet ons presies wie die Perse is, maar wat het van die Mede geword?

Volgens oorlewering is die Koerde nasate van die Mede. ’n Indo-Germaanse volk van tussen 40 en 50miljoen mense, verspreid oor verskeie lande in die Midde-Ooste, maar sonder vaderland. Honderde duisende is in diaspora.

Hoewel die Koerde oor baie jare van letterlik alle kante bedreig is – deur die Arabiere, deur die Turke en deur die Perse (Iraniërs), was daar tye dat dit met hulle beter gegaan het, en groot leiers opgelewer het. Die bekendste hiervan was waarskynlik Saladin, die leier van die Moslems wat Europa geskok het deur ’n einde te bring aan die amper eeu-lange Kruisvaarder Koninkryk van Jerusalem. Saladin het met sy dood oor ʼn gebied regeer wat Egipte ingesluit het, en oor Palestina en Sirië tot in Jemen gestrek het. In Egipte het sy dinastie nog meer as ’n eeu na sy dood bly staan.

Irak

Die naaste aan ʼn eie land wat die Koerde in die moderne geskiedenis kon kom, is Koerdistan in die noordooste van Irak. Dié outonome gebied het geleentheid gekry om te ontwikkel toe die VSA tydens die bewind van Saddam Hoessein ’n vliegspergebied ingestel het, en die bevolking só in effek los van Irak se regering kon staan. Hoessein het voorheen die allerergste misdade teen die mensdom teen die Koerde gepleeg, onder meer deur gifgas teen hulle in te span. Hiervoor sou Saddam na sy omverwerping teregstaan, maar hy is eers verhoor en tereggestel vir wreedhede teen die Sjiïete.

Irak het sowat 5 miljoen Koerde. Hulle werk hard daaraan om ’n onafhanklike Koerdistan uit te roep, en probeer soveel as moontlik belanghebbendes, waaronder die regering van Iran, in die proses inbind.

Turkye

Die Grootste Koerdiese bevolking woon egter in Turkye; byna 14 miljoen uit ʼn bevolking van ongeveer 75 miljoen. Byna ’n eeu gelede, toe die jong Turke aan bewind gekom het, is die Koerde en ander minderhede soos die Armeniërs en Assiriërs (beide Christenvolke) en sigeuners aan volksmoorde onderwerp. Talle Koerde het in diaspora gegaan, en waarskynlik die meeste Koerde in Sirië is vandag afstammelinge van vlugtelinge uit Turkye. Dit bied reeds ’n leidraad oor hoekom die Turke gevoelig is oor Koerdiese aktiwiteite in Sirië.

Turkye, onder druk van die Europese Unie waarvan dit ’n lidland wil word, het die afgelope aantal jare heelwat Koerdiese regte herstel, sodat die taal nou weer vryelik gepraat kan word, en Koerdiese stede kon weer hul Koerdiese name as alternatiewe name terugkry.

Die Koerdiese Werkersparty (PKK) het ’n skietstilstand aangekondig na dekades van terreur teen die Turke, en onderhandelinge is gevoer oor verdere regte. Die PKK-leier, Abdulah Ocalan, is in die tronk waar hy lewenslange tronkstraf uitdien, en het gewaarsku dat sou Kobani in die hande van die IS val, sal die skietstilstand daarmee heen wees.

Sirië

Sirië se Koerdiese bevolking tel ongeveer 2,2 miljoen mense, en is hoofsaaklik in die noorde en noordooste van Irak saamgetrek. Baie is die nasate van die vlugtelinge voor die Koerdiese volksmoord, en het dus stam- en selfs familiebande met Koerde in Turkye. Ook hulle is erg vervolg, aanvanklik deur pres. Bashar al Assad se pa, Hafiz, maar aan die begin van Bashar se bewind, ook deur die seun. Tog, toe die Arabiese lente na Sirië oorgespoel het, was die Koerde, soos ander minderhede, nie oor-entoesiasties om aan die opstand deel te neem nie.

Die rede was juis vrese dat ’n fundamentalistiese Arabiese beweging die opstand sou kaap.

Amptelik is die Turkse standpunt dat die Koerde in wese met Assad kop in een mus is – wat nie te ver van die waarheid is nie deurdat Assad die Koerde redelik uitgelos het sodat hy sy aandag kon fokus op ander opstandelinge. Voorts is Turkye bekommerd dat die Koerde die geleenthede sou benut om ook ’n eie staat te skep, waar hulle ook redelik in die kol is. Hulle beskuldig die Siriese Koerde van bande met, of minstens simpatie vir die PKK.

Turkye is egter, met rede, bekommerd oor ’n herlewing van sessionistiese gedagtes wat onder die Koerdiese bevolking op sy eie grondgebied verkeer.

Iran

In Iran is daar ongeveer 6,5 miljoen Koerde. ’n Poging om ʼn Sowjet-vasalstaat te skep, is betreklik gou onderdruk, en die Koerde is by tye redelik erg vervolg. Iran word egter oor die algemeen beskuldig van die slegte behandeling van minderhede, soos ontoereikende hulp na aardbewings in gebiede wat deur minderhede bewoon word. Ander bewerings teen Iran is kinderteregstellings na bedenklike verhore, die ontneem van grond wanneer daar olie op ontdek word, en selfs die verlê van ʼn rivierloop om ’n minderheid hoog en droog te laat. Hoeveel werklik is, en hoeveel opgemaak of oordrewe, is moeilik om te bepaal.

Koerdiese problematiek

Dat die opkerf van die Midde-Ooste in nuwe state sonder om vir die Koerde ook voorsiening te maak, ’n flater was, is ʼn gegewe, maar om so ʼn staat te kon skep toe die geleentheid daar was, sou ook nie so maklik wees nie, weens die uitgebreide gebied waaroor die Koerde woonagtig is – tot in Rusland en Libanon, en selfs Israel – die sogenaamde Joodse Koerde.

Die Koerde bestaan uit ’n groot aantal stamme wat oor die eeue baie los van mekaar bestaan het, en waar die een stam in voorkoms ook baie van ʼn ander verskil. Wanneer beeldmateriaal van Koerdiese vlugtelinge vertoon word, kan soms maklik gedink word dit is ’n groep Sweedse vlugtelinge, so baie blonde koppe is daar onder die vlugtelinge.

Die gevolg van hul versplintering is dat hulle in elke land waar hulle aangetref word ’n minderheid uitmaak.

Hoewel die meeste Koerde Soenie-Moslems is, is daar beduidende getalle Yazidi’s, Christene (nou dikwels Assiriërs wat verkoerdies is) en ander gelowe. Trouens, die Koerde was oorspronklik meestal Christene, maar is deur die Arabiere tot die Islam gedwing. Dit is juis weens eiesoortige ontwikkeling van hul godsdiens dat hul weergawe van die Soenie-Islam so dramaties verskil van die neo-Fatalistiese weergawe van die Soenie wat die IS aanhang.

In geeneen van die lande waar hulle woon, “pas” hulle nie. Die Turke praat ʼn oosterse taal, terwyl die Koerde ’n Indo-Germaanse taal praat. Sirië en Irak is Arabiese lande, en Irak boonop oorwegend Sjiïties. Iran is wel ook oorwegend Indo-Germaans, maar ook Sjiïties, hoewel die meeste Sjiïtiese Koerde ook in hierdie land woon.

Is daar lesse vir Suid-Afrika?

Op die oog af ja, maar as die komplekse aard van die Koerdiese dilemma verstaan word, sal ook verstaan word dat die een situasie nie sommer blindelings op die ander geprojekteer kan word nie. Dit is daarom baie moeilik om te sê sake kon veel beter gewees het as die situasie “reg” hanteer was toe die geleentheid daar was, soos om vir ’n behoorlike Koerdiese staat voorsiening te maak. Maar die Koerde het in daardie jare ’n groot affiniteit vir Marxisme getoon en Rusland het die Koerde sterk ondersteun – iets wat met die opkerf van die Ottomaanse ryk nie gaaf sou verteer nie.

Waar die PKK en ander Koerdiese terreurgroepe groot seun onder Koerde gekry het, is die vernaamste Koerdiese leiers – meestal in Irak se Koerdistan – nou meer gematig ingestel.

Die Koerdiese saak word nou op ’n manier bemark wat veel aptytliker vir die Westerse oor en oog is. Maar dit is ’n emosionele kwessie. Baie Koerdiese vlugtelinge woon in diaspora, en onder hierdie groepe is vroeër die week in verskeie Europese lande betogings gehou. In Nederland is die parlement se Tweede Kamer deur die loop van Maandagnag beset, en is gesprekke vir die volgende dag beding om Nederland se arm te draai dat Nederland sy deelname aan Amerikaans-geleide lugaanvalle van Irak ook na Sirië uitbrei. Terwyl hierdie gesprekke aan die gang was, het ander die mediasentrum van die Europese parlement beset en hul saak aan die media gestel. In Duitsland het Koerdiese betogers en Islamitiese fundamentaliste handgemeen geraak.

In Turkye se Koerdiese gebiede en selfs in Istanbul en Ankara het betogings plaasgevind, en is hardhandig onderdruk. In sommige gevalle is die betogers ook deur Islamiete aangeval en het die betogings gewelddadig geraak, en is groot skade aangerig – en nou is twee polisiemanne dood en ’n hoë polisie-offisier beseer.

Die ironie is dat terwyl Turkye skynbaar hande gevou toesien wat in Kobani gebeur, vlug duisende Koerde vir veiligheid juis na Turkye, wat reeds met groot getalle Siriese vlugtelinge te kampe het. In die reël het Turkye nie veel probleme om oorgrensoptredes te loods nie, maar die tradisie is juis om dit teen Koerde te loods – nie om Koerde te hulp te snel nie.

Verskeie oorgrensaanvalle is byvoorbeeld al in Irak se Koerdistan op PKK-basisse uitgevoer, selfs met pantserinvalle. Verdwaalde bomme uit Sirië wat in Turkye val, het al verskeie bombardemente uit Turkye opgelewer. Maar noudat die IS aan die voordeur klop, staan die land min of meer hande gevou.

Oor enkele jare breek die eeu-herdenking van die volksmoorde aan. Turkye, wat die bestaan van die volksmoorde nog ontken tref voorsorg omdat die land dit nie gaan vryspring nie. Verskeie Armeense en Koerdiese terreurgroepe het al oor dekades wraak probeer neem, en heelwat terreurdade is teen Turkye gepleeg. Om die geskiedenisboeke te herskryf, kon dit nie besweer nie.

Turkye beskou die demokratiese toegewings aan die Koerde as ingrypend. ’n Groot deel van die Koerde beskou dit as ’n belangrike beginpunt, terwyl ander dit as voldoende onder die omstandighede beskou, en die Turke is meesters om dekades lank al strydende Koerdiese groepe teen mekaar af te speel.

Bykans enigiets wat die Turke doen, gaan as lomp voorkom. Verdere binnelandse toegewings sal waarskynlik nie goed by die Turke afgaan nie, want hulle is dekades lank in verturksing geïndoktrineer en met ’n gedokterde weergawe van die geskiedenis gevoer.

En nou kom daar ʼn aandrang uit Sadou se kongres dat die geskiedenis hier ook op ’n sekere manier aangebied moet word.

ʼn Eeu later sit Turkye nog met die gebakte pere.
Hoekom sal Suid-Afrika anders wees?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae