Nuuskommentaar: G*tvol vir korrupsie

Argieffoto

Argieffoto

Toe die koalisie Verenig Teen Korrupsie sy veldtog, wat optogte insluit, aangekondig het, het hy stellig nie verwag dat die reaksie so oorweldigend sou wees nie. Beplande datums moes uitgestel word om vir die verwagte groot getalle voorsiening te maak.

Die koalisie self bestaan uit organisasies en mense uit die akademie, burgerlike organisasies, die private sektor en vakbonde. Uit Sondagoggend se godsdiens-nuusprogramme het dit geblyk dat daar ook uit kerklike kringe groot ondersteuning is.

Die feit dat Cosatu se wegbreek-vakbond, Numsa, ten nouste betrokke is, en ook by Nedlac aansoek gedoen het om dit beskermde optogte te maak – dat werkers by die werk mag afneem om deel te neem – het egter ook gewaarborg dat daar diep foutlyne sou wees, en dat die regering nie juis van opgewondenheid oor die veldtog op en af sou wip nie.

Trouens, ook sommige politieke partye soos die DA sou nie te opgewonde wees nie, omdat een van die hoofeise is dat partye die besonderhede van hul skenkers openbaar moet maak. Dat so ’n eis ingesluit sou word, is aktueel onder meer oor bewerings dat die “Fifa-geld” wat Suid-Afrika vir “sokkerontwikkeling” in die Karibiese See-gebied beskikbaar gestel het, in werklikheid deur Jack Warner se politieke party in Trinidad en Tobago benut is.

Kortom, alle partye wat oor die Karibiese fiasko raas, behoort ook hier deursigtigheid in skenkings aan politieke partye voor te staan.

Intussen het Nedlac ’n stok in die wiel van die beplande optogte môre geplaas deur te eis dat die toestemming 14 dae voor die tyd ingedien moes word. Op die oog af ’n billike eis, maar moeilik as die optogte van hierdie omvang maande vooruit beplan, en toestemming vir die optogte reeds in die twee hoofstede, Pretoria en Kaapstad, se toepaslike owerhede verkry is.

Werkers wat by die werk wegbly om deel te neem, is dus onbeskermd en werkgewers kan teen hulle optree, en aldus die SAUK-nuus, selfs afdank.

Die gevolg is dat nog ’n geleentheid, dié keer met Nedlac se instemming, vir Oktober beplan word.

Uit onderhoude met van die organiseerders blyk dat ’n groot deel van die onvrede eintlik handel oor hoe en waar omkoopgeld betaal moet word. Terwyl Suid-Afrika die afgelope aantal jare op die Korrupsie-persepsie-indeks erg agteruit geboer het, veral sedert die Zuma-administrasie aan bewind gekom het, beklee die land die 67ste posisie uit 174 lande. Dat Suid-Afrika die vorige jaar nog die 72ste plek beklee het en nou sy posisie te midde van Nkandla en vele meer effens verbeter het, is vir die meeste Suid-Afrikaners egter seker ’n misterie.

Die feit is egter dat die land ’n dekade gelede nog ’n veel beter posisie beklee het. Op die omkoopindeks vaar Suid-Afrika egter beroerd, en word deur Afrikalande soos die DRK en Ethiopië uitgestof. Dit is dus geen wonder dat gemoedere hoog loop oor tsjôtsjô wat om elke hoek en draai opgedok moet word nie.

Die land is duidelik g*tvol en na verwagting gaan groot getalle mense aan môre se optogte – foutlyne in die reël daarvan of nie – deelneem en die boodskap uitstuur dat dit nie geduld word nie.

Later vandag word die land se misdaadstatistieke, wat self in die verlede onder groot bedenkinge deurgeloop het, uitgereik. Dit terwyl die kommissaris self pas redes moes aanvoer hoekom sy nie geskors moet word nie terwyl ’n kommissie van ondersoek na haar geskiktheid om te dien ondersoek instel.

Haar voorgangers is onderskeidelik afgedank en tronk toe gestuur.

Die misdaadstatistieke vertel ongelukkig nie die verhaal van korrupsie nie – daar is trouens nie so ’n kategorie nie en dit kan slegs uit die handelsmisdaadsyfers afgelei word. En dis ’n tipiese kategorie waar die omvang nie net afhang van die omvang nie, maar ook die vlakke van wetstoepassing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.