Nuuskommentaar: Haat rasse in SA mekaar al meer?

Argieffoto

Argieffoto

Wanneer Suid-Afrika se probleme onder die loep geneem word, lei die antwoord dikwels na die presidentskap van Jacob Zuma. Sy rol in die probleme is ontsaglik groot, maar soms moet ook ander faktore, soos internasionale tendense, verreken word wanneer besin word of die land se rasse mekaar al skuinser aankyk soos die jongste versoeningsbarometer suggereer.

Suid-Afrika is deurspek met probleme. Om ’n lysie van die vernaamstes te maak, is maklik. Vandag verwys Die Burger na pres. Zuma as “dooiegewig” en gister se Maroela Media-nuuskommentaar, Trekpas vir Zuma om SA te red, het teen vanoggend meer as ʼn verbluffende 2 800 Facebook-“shares” van die hoofblad gehad. En Maroela Media se artikel, en waarskynlik ook Die Burger se hoofartikel, is waarskynlik geskryf nog voor Zuma vir Nhlanhla Nene, minister van finansies, die trekpas gegee het, en die land se fiskale krisis in internasionale konteks verdiep het.

Zuma en sy grootliks bedenklike kabinet staan wel sentraal in baie van die ernstigste krisisse wat die land nou teister, van plaasmoorde tot oormatige verwagtinge, die persepsies oor die vlakke van korrupsie en ’n aanslag op die regbank (pas weer), terwyl die droogte self darem nie op Zuma se brood gesmeer kan word nie – die bekamping van die uitwerking daarvan grootliks wel.

Maar al is hierdie krisisse opgelos, en die land se verskillende bevolkingsgroepe kom nie oor die weg nie, haat mekaar selfs, dan beteken die oplossings min. Ook hierin speel Zuma ’n rol, soos sy uitlating dat sy lojaliteit eerstens teenoor die ANC en dan die land lê.

Die probleem van groep versus groep manifesteer hom gereeld deeglik in die mate waartoe sommige groepe hul polse wil afkou oor die hopelose manier wat die ANC, en veral Zuma se ANC, die land “regeer”, maar ander vind net nie fout nie, of nie genoeg fout om hul kruisies elders te gaan trek nie. Dié skeidslyn loop dikwels tussen swart en wit. Dit is met die vorige algemene verkiesing goed getoon toe een meningspeiling so min wit steun vir die ANC in sy steekproef gekry het dat die uitslag van hierdie steun op nul gestel moes word.

Terwyl wit mense, en al meer bruin mense en Indiërs, die ANC se rasbenepe beleid en wetgewing al hoe meer as blatante rassisme en die herinstelling van apartheid ervaar, dui peilings daarop dat groot getalle swart mense dit steun. Die woede onder jong swart mense manifesteer in verskeie hoedanighede, soos die aanslag op Afrikaans op kampusse. Kommentators lewer in rubrieke gereeld hul menings oor hoe die probleem opgelos moet word. Heelparty van hulle loop onder ernstige kritiek deur vir “oplossings” wat wesenlik daarop neerkom om die beginsels van ’n homogene land op ’n besonder heterogene land te wil toepas – al is dit om “homogeniteit” deur ’n gemeenskaplike taal, Engels, te skep.

Dit is teen dié agtergrond dat die jongste versoeningsbarometer van die Instituut vir Versoening en Geregtigheid ’n paar belangrike aanduiders gee.

As na die verslag se opsomming gekyk word, lyk dinge inderdaad nie goed nie. Die meerderheid (61,4%) respondente glo dat rasseverhoudinge sedert 1994 versleg het, of dieselfde gebly het. Die meerderheid hiervan skryf dit aan die voortgesette sosio-ekonomiese ongelykheid tussen rasse toe. Altesaam 67,3% van die respondente het aangedui dat hulle geen of min vertroue in die ander rassegroepe het.

Soos gebruiklik is die barometer ook vol teenstrydighede. Altesaam 52% van die respondente glo Suid-Afrika het sedert 1994 vordering gemaak op die weg van versoening.

Ná die vorige barometer toe die meerderheid (en groeiende getal) Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle hulle eerstens met hul eie rassegroep vereenselwig en dan as Suid-Afrikaners, was dit te wagte dat die Instituut met meer aandag na hierdie kwessie sou kyk. Volgens die jongste barometer vereenselwig die meeste hulle steeds primêr met hul rassegroep, maar 75% het aangedui dat hulle dit as baie belangrik beskou (hoewel nie noodwendig die belangrikste nie) om hul identiteit as Suid-Afrikaners te ervaar. Altesaam 71% meen dis belangrik om na Suid-Afrika as ’n verenigde nasie te streef.

Die verslag behandel ook hoe, na die opstellers se mening, die agterstande met dienste in townships in die vorm van “#FeesMustFall” na die kampusse oorgespoel het. Groter radikalisering het egter ook ingetree, soos die verskerpte momentum van die gedagte dat swart mense deur Mandela uitverkoop is. Die voorwaardes van die onderhandelde skikking word al meer uitgedaag, en die trant al dringender en met minder ruimte vir kompromieë, aldus die verslag.

Wanneer met aandag na die tabelle gekyk word, is die prentjie egter minder swartgallig. Op die vraag wat respondente as die belangrikste kenmerk van versoening beskou, het 19,2% aangedui dit beteken gewese slagoffers moet gewese oortreders vergewe. Net 10% meen dit beteken om die ongeregtighede van die verlede aan te spreek en ’n meer gelyke gemeenskap te skep. Net 2% glo dit beteken dat rassisme aangespreek moet word. Daar is kommerwekkende tekens ook, soos dat net 1,3% van die respondente glo dit behels die tref van kompromieë.

Ook ander syfers temper die harde oordele van die verslag se opsomming. Op die vraag of die respondente self, of hulle families en vriende sedert 1994 rekonsiliasie ervaar het, het meer as die helfte van die swart respondente bevestigend geantwoord, en byna die helfte van die wit respondente. Min of meer dieselfde tendens speel hom af op die vraag of daar sedert 1994 vordering met rekonsiliasie gemaak is. Dié keer het meer as die helfte van die wit mense egter saamgestem, maar minder as die helfte van die bruin mense het instemmend geantwoord.

Weens die skynbare teenstrydighede in die bevindings, en die relatiewe klein steekproef van net meer as 2 000, sal dit onwys wees om bevindings te slaafs na te volg. Sommige ontleders het juis in die slaggat getrap deur hul menings net op die opsomming te skoei, en boonop te gebruik om hul eie opvattings oor onder meer die debat oor die rol van Afrikaans by drie universiteite te motiveer.

Om die studente-onrus na die dienste-onmin in townships deur te trek, is boonop net deel van die prentjie. Dit staan ook in ’n internasionale konteks, en die grootste gemene deler is ’n onverdraagsaamheid teenoor ander menings, en ’n dikwels vandalistiese reaksie daarop. Die Christian Science Monitor het juis nou ’n interessante artikel geplaas, Yale professor resigns: Can “civil dialogue” share space with student rage?

Die artikel is ’n besprekingsonderwerp op sy eie, maar in die volgende paragraaf kan tog heelwat ooreenkomste tussen die situasie by Yale en op Suid-Afrikaanse kampusse gesien word: “The depth of these students’ anger and frustration has stunned many administrators and professors. And in public reactions, these students often have been characterized as ‘coddled’, naive, and perhaps even dangerous ‘social justice warriors’ bent on bringing down the hallowed traditions of open debate, a bedrock principle in the European West.”

Ons keer terug na die vraag in die opskrif van hierdie nuuskommentaar: “Haat rasse in SA mekaar al meer?”

Uit die versoeningsbarometer se tabelle lyk sake nie so donker nie. ’n Mens moet egter waak om in ’n heterogene gemeenskap ’n simplistiese model van relatiewe deprivasie toe te pas. Die spanningsvlak is nie noodwendig net die verskil tussen realiteit en sosio-ekonomiese verwagtinge van een groep nie, maar die somtotaal van hierdie en ander onvervulde verwagtinge, soos die grondwetlik begronde verwagting van moedertaalonderrig, en die verskraling van Afrikaans soos nou deur die Kovsieraad goedgekeur. So kan daar baie ander kwellinge wees wat by die spanningselemente getel moet word.

Wat duidelik is, is dat sake meer professioneel en proaktief aangespreek moet word as die huidige, want die land is veronderstel om ’n grondwetlike demokrasie te wees, wat ook minderheidsregte waarborg.

Wat ’n mens terugbring by Zuma as dooiegewig.

Die vraag kan ook gevra word of die ANC se afkeer van “tribalism” nie noodwendig ook negatief sal reageer op die Afrikaner se trots op identiteit en opeis van grondwetlike minderheidsregte nie. Dit geskied dan teen die agtergrond van ’n afkeer in “tribe” maar ’n beheptheid met ras, soos in wetgewing vergestalt word.

En wat op die een of ander manier op “non racialism” neerkom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eddie

Maroela kan ek julle een ding vra??? Almal het hulle wyse van dink en wil dit graag deel met ander. Maar om eerlik te wees dit voel of mens nie n stem het in sekere gevalle nie. Ons praat die waarheid oor hoe ons voel oor sekere berigte en doen die moeite om deel van n gesprek te wees. Ja julle en die res van die mense wat op Maroela is het die reg om hulle se te se en laat weet hoe hulle regtig voel. Ons blankes is moeg om op eiers te loop om altyd die regte goed… Lees meer »

Schalk

Ja!! Rasse haat mekaar beslis meer. En die rede daarvoor is die ANC regering. Hulle is besig om n nuwe generasie rassiste groot te maak. En die nuwe generasie wil nie om tafels gaan sit nie, hulle wil doodmaak. En die sogenaamde sosio- ekonomiese ongelykheid tussen rasse, Wie moet die blaam daarvoor kry. Jy kry n skool maar gaan brand hom af, jy gaan studeer en brand die universiteit af. Maar kom ons gee die ou sondebok apartheid die skuld.

Andries

Verseker haat ons mekaar meer , Ek kan nie n ANC stemmer hanteer nie , dit is niemand anders se skuld waar ons sit nie want hulle hou die ANC in mag

chrisp

Ja die haat is meer en word nog net sterker deur wetgewing onderandere maar ook ‘n kunsmatige kamma “nasie”.Wat geensins bestaan nie.

Johan

Ja, beslis. Ek is wit en trots daarop. Lees nou reeds oor die dokter met haar uitstekende resultate in eksamen. Is afgekeer die eerste keer toe sy medies wou swot. Hoekom saam met mense werk wat nie wil saam met jou werk nie net omdat jy wit is. Hul voer eerder Kubanse dokters in. Chinese kry swart bemagtiging. Hul kan maak net wat hul wil, ek sal nogsteeds ñ blanke persoon bly. Klomp swart mense haat wit mense. Die regering het nog nooit vir my iets gedoen nie en ek verwag ook niks nie. Ek wil ook nie verander nie.… Lees meer »