Nuuskommentaar: Haatspraak deur politici verhoog geweld, wys navorsing

Bheki Cele Saterdag gedurende sy besoek aan die Kinnears se huis. (Foto: Verskaf)

Baie Suid-Afrikaners is steeds erg ontstoke oor ’n onlangse imbizo wat in KwaZulu-Natal gehou is juis met die doel om landelike spanning in die Newcastle-omgewing te ontlont, kort ná ’n plaasaanval wat die lewens van ’n egpaar geëis het. Die minister van polisie, Bheki Cele, wie se inisiatief die imbizo was, het egter by die geleentheid “uitgehaak” en erg teen die boere uitgevaar. Sedertdien het ’n wye verskeidenheid instansies, kenners en boere hul kommer uitgespreek oor die polariserende effek wat dié insident veral in die streek, maar ook landwyd sou hê.

Prof. James Piazza van die Penn State University het die verband tussen politici wat haatspraak en soortgelyk pleeg, asook geweld, waaronder plaaslike terreur (domestic terrorism) in 150 lande ondersoek. Hy het ’n duidelike verband gevind, waaronder ook in die VSA waar daar ’n toename gevind is sedert pres. Donald Trump tot die politiek toegetree het. Gedurende pres. Barack Obama se twee termyne was daar gemiddeld 26,6 voorvalle van plaaslike terreur per jaar. In 2016, die verkiesingsjaar, het dit tot 67 gestyg. In die daaropvolgende twee jaar, die laaste waarvoor daar reeds statistieke beskikbaar is, was dit onderskeidelik 66 en 67.

Piazza het ook moeite gedoen om nie appels met pere te vergelyk nie, en faktore soos die land se bevolkingsamestelling ook te verreken. Faktore soos ras, etnisiteit en godsdiens is verreken. Ander faktore soos ’n land se welvaartsvlak en die grootte van die bevolking is ook verreken. Hieroor druk Piazza homself soos volg uit:

“Hate speech has also figured prominently in the recent rhetoric of political leaders in a variety of countries including Russia, Colombia, Israel, Egypt, Ukraine, the Philippines, Italy, Greece, Sri Lanka and Iraq. These remarks are not just empty rhetoric or political theater. My research shows that when politicians use hate speech, domestic terrorism increases – in the U.S. and in other countries.”

Die volledige artikel, soos opgeneem in The Conversation, kan hier gelees word.

Gevalle waar politici in Suid-Afrika steun probeer opkommandeer deur gelaaide retoriek teen minderhede in te span (iets wat Piazza ook elders in die wêreld onder die loep neem), is goed bekend. Weens ’n uiters beperkte uitleg oor presies wat haatspraak vir strafregtelike doeleindes beteken, ry min politici aan die pen, en die feit dat die Menseregtekommissie formeel ’n onderskeid tref tussen wat haatspraak deur wit mense en haatspraak deur swart mense behels, het dié kwessie veral tydens die Eben Etzebeth-insident ’n polariserende effek op sy eie gekry, skynbaar in so ’n mate dat hierdie onewehandige houding van die kommissie versag is.

Sou dit nie sin maak om nie net meer ewehandig op te tree nie, maar veral haatspraak deur politici, veral senior politici, as verswarend te beskou wanneer dit kom by strawwe op te lê nie? In die vorige bedeling het dit as verswarend getel as ’n misdaad oor rassegrense heen gepleeg is, juis oor die polariserende uitwerking wat dit het. Bloot geoordeel op die uitsprake en vonnisse van verskeie hofsake, lyk dit of minstens sekere voorsittende beamptes strawwer teen wit oortreders optree waar die slagoffers swart was. Onder appèl is dit dikwels reggestel. Van die bekendste sake in hierdie verband is, byvoorbeeld, dié van die Reitz-vier waar die studente selfs gevonnis is vir oortredings waarvoor hulle nie eens aangekla is nie; die leeukamp-insident waar die wit beskuldigde aan moord skuldig bevind en gevonnis is, terwyl die getuienis bewys het dat hy nie tydens die dood van die slagoffer op die plaas was nie; die sogenaamde doodskisverhoor en die Coligny-verhoor wat nog onder appèl is.

Die blatante diskriminasie teen wit mense met die Covid-19-ramphulp toon duidelik dat die bewindhebbende politici nie gevoelig is vir die rassespanning wat hul rasgerigte dade en uitsprake tot gevolg het nie. Voeg haatspraak hierby en ’n traagheid om dit kort te vat, en dit lyk of Piazza se navorsing ernstig bestudeer en ter harte geneem moet word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oudste

Die radikale linkse Demokrate en hulle meelopers stig die onrus en afbrekende gedrag en blameer Trump en sy admin daarvoor. Net soos Julius en sy meelopers doen in S A. Soos plaasmoorde.

Piet

Dis hoekom Trump uitgestem moet word en Malema geen media aandag moet kry nie. Mense soos hulle maak die wereld ‘n leliker plek.

Fedup

Okay let me give this straight.
Apart from this world wide mess, the masses will turn on their masters once they are done with their targets.
Now where is my little troll?

Trotse Boervrou

Piet, die hele wêreld is deurtrek met rassehaat. Myns insiens is DIT eerder belaglik. Die hele wêreld het BLM te vêr gevoer. Dit het absoluut niks met Donald Trump te doen gehad nie. Oral deur die wêreld wil gewone mense op straat graag hê dat ALL LIVES MATTER eerder die geval moet wees. Om Trump vir rassehaat in Amerika te blameer na BLM is verregaande. Dit is my onpartydige en eerlike mening.

Annette

Ek voel onwelkom in my eie geboorteland. Die rassehaat en onreg maak my naar.