Nuuskommentaar: Hang hulle!

Eugene de Kock Foto: OFM

Eugene de Kock Foto: OFM

In Maroela Media se jongste Klikbek-peiling word gevra of die doodstraf as antwoord op misdaad in Suid-Afrika heringestel moet word. Sowat 90% van die respondente dink so – nie ‘n verrassing nie, as in ag geneem word dat dit in die konteks gevra is van die dood van ‘n vierjarige kind wat kilometers ver buite sy ouers se gekaapte motor gesleep is. Ook op Facebook het die vraag enorme reaksie ontlok.

Maar dit is nie al waar hierdie kwessie opgeduik het nie.

In ‘n artikel in Beeld, skryf dr. Piet Croucamp na aanleiding van die afwys van parool aan Eugene de Kock oor sy ontsteltenis dat leiers van die ou bedeling weier om pa te staan vir die dade wat De Kock gepleeg het, of minstens empatie vir De Kock te toon onder meer: “Tot my spyt het ek die afgelope week aan (genl. Johan) Van der Merwe geskryf dat ek teen my grein – en ten spyte van my weersin in die doodstraf – dalk sou kon wegkyk as hy aan sy nek geswaai het aan die einde van apartheid. Dis maar hoe ek oor oudpres. FW de Klerk en die meeste ander apartheidsleiers ook voel.”

Hierna opper hy weer Steve Hofmeyr se sing van Die Stem.

Kan sake oor die verlede so eenvoudig beskou word?

Suid-Afrika het destyds met ‘n omvattende aanslag te kampe gehad. Bomme het in strate ontplof, en burgerlikes – ook babas – is op plaaspaaie opgeblaas. Daar was bomme op die strandfront, en mense is in ‘n dameskroeg afgemaai.

In antwoord op wat as die totale aanslag bekend gestaan het, is ‘n tipe “oorlogskabinet” in die lewe geroep, wat as die Staatsveiligheidsraad bekend gestaan het. Dit is deur ‘n sekretariaat, bekend as die SSVR bygestaan. Op provinsiale vlak het dit bestaan uit die gebiedsbestuurstelsel (GBS) waarvoor die weermag die sekretariaat voorsien het. Dit het weer uit ‘n groep sub-GBS’e bestaan, en hulle op hul beurt uit mini-GBS’e. Elke mini-GBS, dus in effek elke gehuggie, dorpie of stad, het ‘n gemeenskapskakelforum gehad, bestaande uit burgerlikes van alle bevolkingsgroepe. Dit het gewoonlik in wese die werk van verhoudingskomitees gedoen, en in sommige gevalle dit selfs vervang.

Die GBS’e het op hul beurt ook verskeie spesialiskomitees gehad, waarvan die Kommunikasiekomitee (Komkom), die staatkundige, ekonomiese en maatskaplike komitee (Semkom) en die Veiligheidskomitee (Veikom) die onderdele gevorm het. Feitlik alle departemente was lid van Semkom, terwyl die staat se kommunikasieliggame ‘n belangrike rol in Komkom gespeel het. Veikom het bestaan uit departemente met ‘n veiligheidsfunksie, uitgesonderd Nasionale Intelligensie wat geen uitvoerende mag gehad het nie.

Semkom het hard daaraan gewerk om die rewolusionêre klimaat te verminder deur sosio-ekonomiese agterstande en ongelykhede te probeer aanspreek. Dit was hard aan die werk om ‘n klimaat vir staatkundige hervormings te skep. Die denkrigtings is duidelik te sien in omvattende ondersoeke wat die staatkundige komitee, en ook maatskaplike komitee van die presidentsraad gedoen het – verslae wat nog die grondslae gevorm het van die regering en die Nasionale Party se opdragte aan hul Kemptonparkse onderhandelaars. Hierdie voorgestelde staatkundige modelle was op hul beurt geskoei op internasionaal-bekende modelle wat juis ontwerp is om diversiteit op ‘n regverdige manier te ondervang.

Die hoofoogmerk van die stelsel was om die veiligheidstrategie op alle vlakke te koördineer, om opdragte in af te kanaliseer, en om terugvoering te gee. Die funksies was beperk tot die gewone lynfunksies van departemente, en alles was wettig, of dan veronderstel om wettig te wees.

Die lede was gewone mense wat naweke graag gebraai het, en Sondae in die kerk plek langs ander gewone mense ingeneem het. Dit het nogtans meestal ‘n enorme veiligheidsklaring tot die vlak van Uiters Geheim vereis.

Het hier onheilighede plaasgevind? By geleentheid het die veiligheidspolisie in die Bloemfonteinse Sub-GBS aangedui dat hulle nie meer verslag aan dié komitee mag lewer nie. Die komitee het dit onaanvaarbaar gevind, en die saak via die kanale by die SSVR gerapporteer. Die volgende maand moes die veiligheidspolisie maar weer verslag lewer. Niemand was veronderstel om ‘n eie agenda buite hierdie raamwerk te bedryf nie.

Toe die Waarheid- en Versoeningskommissie met sy werksaamhede begin, was die lede, of minstens die meeste lede van die stelsel, baie verbaas oor watter van die mense wat nie net saam met hulle in die stelsel gedien het nie, maar saam met hulle gebraai en op die kerkbanke gesit het, met ‘n stofstreep afgesit het om te gaan bieg. Bieg vir die allerverskriklikste goed, en aanvoer dat dit opdragte was wat uitgevoer is. Opdragte wat beslis nie deur die veronderstelde kanale en instansies gekom het nie.

Dit is seker moontlik dat sommige van diegene wat nou skouers optrek en sê hulle was onbewus van die booshede, in werklikheid daarvan bewus was. Dat almal in die stelsel, en dus byna alle bestuurders in die staatsdiens, daarvan bewus moes wees, is gewoon onwaar.

Indien daar iewers ‘n bose, formele agenda was, was die grootste gros van die betrokkenes op die ergste nuttige idiote.

Die sluiting van die Nasionale Vredesakkoord en die afskaffing van die Veiligheidsbestuurstelsel het alles in elk geval verander.

Croukamp se bemoeienis met De Kock se lot is heel waarskynlik suiwer humanitêr en mede-menslik. Min mense sal daarvan verskil dat dit lofwaardig is.

Die wyse waarop Croukamp egter in sy frustrasie klappe uitdeel, en ander kollektief aanspreeklik wil hou, kan egter baie maklik ontspoor en die persepsie laat posvat dat hy eintlik ‘n skulderkentenis van ‘n breë spektrum onskuldige mense wat niks anders as goed bedoel het nie, probeer opvorder. By gebrek aan so ‘n skulderkentenis, word talle sulke mense eenvoudig skuldig bevind en by wyse van spreke, wil sien dat hulle aan die nek swaai.

So maak hy sy eie motiewe verdag.

Oor of De Kock, en die sterwende Clive Derby-Lewis vrygelaat moet word, het Maroela hom reeds breedvoerig uitgespreek. Ook oor die Kovsierektor, prof. Jonathan Jansen, se herhaalde insinuasies oor die dood van prof. Russel Botman.

Hierdie soort opvattings herinner al meer aan diegene wat ‘n obsessie met samesweringsteorieë het. Vir samesweringsteorieë hoef daar geen feitelike basis te wees nie, dit is voldoende dat die teorie bestaan. Volgens ‘n onlangse Rasmussenpeiling loop samesweringsteorieë dik onder die Amerikaners. So glo 41% van die Republikeine dat pres. Barack Obama nie ‘n Amerikaanse burger is nie. Altesaam 24% van die Demokrate glo die Amerikaanse regering het vooraf geweet van Al Kaïda se beplande aanvalle op die Twin Towers en die Pentagon. Veertien persent van die Amerikaners glo daar was in werklikheid geen maanlanding nie.

Binnekort gaan grootoog-liggelowiges weer die jaarlikse wolhaar e-pos aanstuur dat die aarde en Mars só na-aan mekaar gaan beweeg dat Mars so groot soos die maan sal vertoon. Dié gerug het ‘n aantal jare gelede ontstaan toe die aarde en mars inderdaad naby mekaar was, en deur ‘n sterk teleskoop so groot soos die maan (sonder ‘n teleskoop) sou vertoon. Die teleskoop-gedeelte is in die wolhaar-weergawe weggelaat en ‘n yslike twakstorie is geskep wat elke jaar horde mense vang – al is Mars ook in daardie stadium dalk juis op sy verste punt van die aarde.

Hoekom moet feite nou ‘n lekker (wolhaar-) storie bederf? Hoekom moet feite nou voorafgesette opvattings kom bebodder? Hoekom feite inspan as iemand se propaganda nou so ‘n lekker weergawe skep? En onthou, die mens reageer op sy persepsie van die werklikheid – nie die werklikheid self nie.

Dit is hierdie geneigdheid om blind vir werklikhede te wees, en al te graag wolhaarstories te glo, wat regtig baie skade aanrig. En wanneer dit oor mense se integriteit, motiewe en moraliteit handel, kan sulke wolhaarstories iemand by wyse van spreke “aan sy ek laat hang”.

Maar as die wreedhede alles wél opdragte van bo was, dan is dit onaanvaarbaar dat diegene wat daarvoor verantwoordelik was, hul manskappe agterlaat. Dit kan nie deur voete was en net halfpad bieg, terwyl die waarheid hulle nie vrymaak nie, geregverdig word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Leon Kaltwasser ·

Sal eers lyfstraf moet terugbring voordat jy aan doodstraf kan dink. Lyfstraf was voorheen beperk tot mans 21 jaar en jonger. Lig daardie ouderdomsperk tot 30 jaar – maks van 12 houe wat in sessies van 3 houe per slag gedoen kan word. (maw 4 pakke slae as die oortreder 12 houe straf gekry het).

Sadie ·

Ek wonder partykeer sterk of Dr Croucamp se betrokkendheid werklik oor De Kock as mens gaan of eerder oor sy hatigheid vir die Afrikaner. Nog ‘n manier om die Afrikaner swart te smeer.

Hendrik ·

Dr. Piet Croucamp se onderrok hang erg uit. Hy is in der waarheid min met die lot van Eugene Kock gepla – hy doen niks om Clive Derby Lewis se lot, wat selfs in ‘n meer benarde posisie is, aan te spreek nie. Hy probeer bloot vir mense soos generaal Van der Merwe en FW de Klerk bykom, en Eugene de Kock is sy voertuig daarvoor.

Miskien moet Croucamp hom nou maar liewer van die Afrikaner af distansieer en sy herkoms ontken – hy het dit in elk geval verloën. Beide De Kock en Derby Lewis het hulle skuld aan die gemeenskap, ingesluit die swart gemeenskap, dubbel en dwars betaal en behoort sonder versuim vrygelaat te word.

Wat Croucamp betref, siende dat hy nie glo ons land se regering het reeds inplof nie, kan hy gerus maar na Zimbabwe verhuis. Ons stel nie meer in sy kommentaar in die koerante of oor die radio belang nie.

Jessica ·

Piet Croucamp is ‘n geharde ANC-apologeet wie se prekerigheid slegs nuuswaardig is weens die prominensie wat Naspers se publikasies daaraan gee.

Sy verspotte – en boonop uiters swak – argumente wat mense met allerlei akademiese aanstellings en fieterjasies probeer imponeer, is al oorberug vir hul roekelose veralgemenings en oordrywings en is, altans wat hul inhoud betref, werklik nie al die aandag werd nie.

Hulle weet lankal dat hy in die Apartheidsera vasgesteek sit en dat die blote gedagte aan die woord “Afrikaner” sy goed gedokumenteerde paranoia en iewerigheid oor Apartheid aktiveer.

Normaalweg laat dit hom in verwoede orasies en hartroerende arias teen al wat Afrikaans en wit is losbars, wat natuurlik “n wye teenreaksie sal uitlok en dus goed vir verkope is.

Daarby is hy ‘n gevolmagtigde en hoog aangeskrewe lid van die Beeld-vriendekring, wat hom onmisbaar maak vir hul projek om Afrikaners van ‘n verbeelde dislojaliteit teen die land en hiperrassisme te bevry.

Peter Rossfour ·

As Piet Croucamp so besorg is dat Eugene de Kock sy verdiende loon moet kry,ook by implikasie die arme Derby Lewis, waarom kyk hy nie bietjie na die “fatally ill” Schabir Schaik en Selebi nie? Is dit omdat hulle nie Afrikaans genoeg is nie? Of is hulle soos almal weet deel van die “Elite untouchables”? Schaik moet n lopende wonderwerk wees, want hy is mos vrygelaat omdat hy sterwend was. Om bloot humanitêre (lees ANC agenda) redes nogal! EISH!

Myns insiens sal Croucamp n beter diens aan die land en sy bevolking lewer as hy hom liewer beywer om diegene soos Schabir Schaik en sy “untouchable” bondgenote lewenslank agter tralies te kry waar hulle hoort. Miskien kan hy daardie ander verkleurmannetjie, Zuma vra om hom te help.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.