Nuuskommentaar: Heil! Amandla! en “hoernalistiek”

Ave-groetMeer jong Suid-Afrikaners ken dalk die saluut wat die Pukke nou so in die sop het eerder as die Romeinse saluut in die Asterix-boeke, as wat hulle dit ken as iets wat met Hitler te make het.

Die swartmagsaluut, daarenteen, ken almal en assosieer dit as iets wat Julius Malema en sy EFF by die ANC oorgeneem het. Ook Mugabe is baie lief vir sy gebalde vuis in die lug. Die standbeeld van oud-pres. Nelson Mandela op Naval Hill in Bloemfontein staan ook met die gebalde vuis in die lug. Sol Plaatjie se nageslag wou glad nie ‘n standbeeld van hierdie eertydse leier in die ANC goedkeur met die gebalde vuis in die lug nie – dit was net nie hoe hy was nie.

‘n Punt-vir-punt debat oor watter saluut nou die mees onwenslike is, se uitslag sal waarskynlik baie gelykop wees.

Die moderne gebruik van die “Hitler-saluut” word na die Fasciste in Italië teruggevoer, waar Mussolini die glorie van die moderne Italiaanse staat in die eertydse glorie van die Romeinse Ryk wou baai. Die saluut is hierna meer algemeen deur Fasciste gebruik.

Die ironie is dat daar suiwer histories geen bewys is dat die Romeine inderdaad die saluut gebruik het nie. Dit kom nie in die Romeinse literatuur voor nie, en ook nie in enige kunswerke soos skilderye of standbeelde nie.

Die opvatting dat die Romeinse dit gebruik het, het eers veel later tot stand gekom deur ‘n skildery wat Jacques-Louis David in 1784 geskep het.

Rolprente het dit verder gepopulariseer.

Hitler self het erken dat die Italianers die saluut voor die Nazi’s gebruik het, en het beskryf hoe besoekers aan Luther 500, wat deur die pous met ‘n onlekkerte beskou is, hul hande in so ‘n groet gehou het, onder meer om te toon dat hulle nie wapens in die hande het nie, en in vrede kom. Volgens Hitler het die SS toe dié saluut die meer militêre voorkoms gegee. Dit is nou in Duitsland verbied.

Ook nuwe Amerikaners wat die eed van getrouheid afgelê het, het dié saluut gebruik. Dit het as die Bellamy-saluut bekend gestaan, en het sy herkoms gehad in die wys na die Amerikaanse vlag. Pres. Roosevelt  het egter weens die assosiasie met Hitler dié saluut vervang met die hand op die hart.

Die probleem met die saluut is dus een van assosiasie met van die gebruikers daarvan.

Die saluut van die gebalde vuis, plaaslik ook bekend as die Amandla-saluut, het sy ontstaan by die Assiriërs. Dit het mettertyd onder linkse en anargistiese groepe gewild geword (hoewel nie dieselfde arm gebruik is nie – seker dié dat Cecil John Rhodes se standbeeld in die Kompanjiestuin met die linkerhand die “Hitler-saluut” gee), en een van die bloedigste gebruikers hiervan was Stalin. Stalin kwalifiseer waarskynlik om die een man te wees wat met wreedheid nie net by Hitler kon kers vashou nie, maar dalk kan oortref. Historici beraam sy slagoffers op tussen 20 en 60 miljoen. Die saluut is in werklikheid met die ganse Komintern geassosieer.

Die ironie is dat dié saluut ook, onafhanklik van die hoofstroom-ontwikkeling, deur die Amerikaners gebruik is in die Spaanse oorlog.

Mettertyd sou die saluut egter duidelik met swart mag geassosieer word, hoewel die Venezuelaanse president, Wyle Hugo Chavez, dit steeds in die rewolusionêre konteks gebruik het. Dit word ook nou deur Hizbollah gebruik.

Op die keper beskou sou dit skynheilig wees om die een as meer verkeerd as die ander te beskryf, of om die een as aanvaarbaar, en die ander as onaanvaarbaar te beskryf. Hier vind nou lustig ‘n pot wat die ketel verwyt plaas.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid handel egter nie noodwendig altyd oor wat reg of verkeerd is nie, of selfs wat die grondwet magtig of nie. Die vraag is eerder, soos dit in die Bybel gestel word, of dit heilsaam is. 1 Kor. 10:23 lui: “Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is geoorloof,” sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie.”

‘n Goeie analoog was die haatspraaksaak teen Julius Malema oor “Skiet die Boer”-lied. Word na die grondwet gekyk, was dit duidelik verkeerd. Tog het baie uit die liberale ideologiese hoek gemeen die verkeerdheid hiervan kon nie opweeg teen die reg tot vrye meningsuitdrukking nie… dikwels die einste mense wat erg beswaard is omdat sommige mense met ou landsvlae by sportgeleenthede en ander samekomste opdaag.

Die hele kwessie, saam met die Kovsie-insident wat in sommige media nou reeds ‘n rassevoorval, in plaas van beweerde rassevoorval soos die studente se regsverteenwoordiger sê, geword het, het soos ‘n ryp vy in die ANC se verkiesingsveldtog beland. Die ANC gaan apartheid vir alles probeer blameer, die olie, en hierdie soort insidente verskaf die vonk en die brandstof.

Rassisme is geen verskynsel waarop die Afrikaner die patentreg hou nie. Onlangs het die Europese sokkerbeheerliggaam, Eufa, die Russiese klub CSKA Moskou weens die volgehoue rassisme van sy ondersteuners gestraf. Benewens ‘n stywe boete moes die klub ook sy volgende wedstryd sonder toeskouers speel.

Die minister van hoër onderwys hou Maandag ‘n nuuskonferensie waaruit dit gaan blyk watter stappe die minister gaan doen. Gaan hy, soos talle oud-Pukke vrees, nou só ingryp dat die staanplek wat Afrikaans op die Potch-kampus kon uitbeitel, in die slag gaan bly?

Op die oog af lyk dit of ‘n “oorlog” tussen Beeld en Solidariteit ontwikkel het.

Vanoggend skryf Adriaan Basson, nuutaangestelde redakteur van Beeld, onder meer: “Buys se argument klink basies só: Beeld het deur sy onthullings oor ‘n Nazi-saluut op die Puk-kampus vir dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, ‘n “knuppel” gegee om die Puk te transformeer, wat beteken verengelsing op Potch. Ek het baie respek vir die werk wat Buys en sy vakbond doen, maar hierdie aantygings kan nie onbeantwoord bly nie. Eerstens: Beeld het nie ‘n “agenda” teen die Puk of teen Afrikaans nie. Ons enigste agenda is nuuswaardigheid en die publieke belang.”

Op Facebook skryf Flip Buys, ‘n oud-Puk, onder meer soos volg: “Maar die saak het my geweldig ontstel, omdat ek weet hoeveel hier op die spel is. Twee uiters belangrike Afrikaanse instellings waaraan dekades gebou is, se toekoms is hier deur roekelose joernalistiek in gevaar gestel, naamlik die Puk en die Beeld. Die laaste Afrikaanse Kampus, en die laaste Afrikaanse dagblad (in die Noorde). Daarmee bedoel ek die Universiteit wat nou onder minister Nzimande gaan deurloop, en die Beeld wie se redakteur hom nou van ‘n kritiese massa van sy lesers vervreem het.”

Talle mense het in die sosiale media teen Beeld losgetrek, en verskeie het die joernalistiek wat Beeld aan die dag gelê het as “hoernalistiek” beskryf. Verskeie het aangedui dat hulle hul intekening van Beeld gekanselleer het. Van die lesers meen Beeld het in sy beriggewing talle feitefoute gemaak. Die algemene indruk is egter een van frustrasie met Beeld wat in ‘n drukkoker opgebou het, en dat die Puk-beriggewing die laaste stookwerk behels het wat die deksel laat afskiet het.

Basson is nie net ‘n nuusbestuurder nie, maar in eie reg ‘n nuusmaker. Reeds in sy vorige pos as assistent-redakteur van City Press het hy weerlig getrek toe hy baie uitgesproke fout gevind het met die gelykheidshof se uitspraak teen Julis Malema weens haatspraak. Hy is die skrywer van die veelbesproke boek, Zuma Exposed, en sy ope brief aan Chamoné du Toit, een van die Boeremag-beskuldigdes se dogter, het opslae gemaak.

Jesse Duarte van die ANC rig ewe-eens ‘n ope brief aan Basson waarin sy soos volg na sy boek verwys: “I am still reading the book, its not a good read, because it is nuanced opinions that have been regurgitated a number of times.”

Meer onlangs het hy talle Vrystaters die harnas ingejaag oor die wyse waarop die studentehuis-kwessie in Bloemfontein skynbaar sonder die nodige finesse hanteer is.

Die gesegde lui egter ook dat ‘n mens nie swaarde kruis met hulle wat hul ink by die konka aankoop nie. Sedert dié gesegde sy beslag gekry het, het die sosiale media egter die gedrukte media se speelruimte beïnvloed, en is ‘n koerant se argwaan nie noodwendig ‘n skeepsramp nie.

Voorts: In hoe ‘n mate is die huidige koppestamp ‘n skermutseling tussen Adriaan Basson die individu, en die oud-Pukke Flip Buys, Dirk Hermann en ander wat met Solidariteit geassosieer word? Die reaksie teen Basson kom immers nie net uit Solidariteit-geledere nie.

Basson self meen hy word deur Beeld self gerugsteun, en maak dit ook duidelik dat hy Buys nie as individu takel nie, maar in sy Solidariteit-konteks.

As Basson reg is, gaan die saak bepaald in ‘n raadskamer onder die vergrootglas geplaas word, met Solidariteit en moontlik ander instellings aan die een kant, en ‘n afvaardiging van hoëlui van Media24/Naspers waar Basson moontlik die mees junior lid sal wees, aan die ander kant.

Die onlangse gebeure toe Solidariteit die vernaamste eksponent was van beswaar teen die DA se aanvanklike ondersteuning vir ‘n verskerpte rasbegunstigde wetsontwerp, het gou getoon dat Solidariteit en sy lede se mening saak maak.

En selfs al hou Solidariteit as instelling hom los van die koppestamp, is dit duidelik dat die blote feit dat belangrike leiers van Solidariteit deel van die onlekkerte is, ‘n groot uitkringeffek het.

En dan is nog hoegenaamd nie oor die meriete van een van die twee kante se saak besin nie.

Wat duidelik is, is dat Afrikaans die gevaar loop om die groot verloorder te wees.

Oor wat Nzimande vandag gaan aankondig moet ‘n wag-en-sien-houding ingeneem word. Hy het ook by die Vrystaatse Universiteit vir Tegnologie probeer ingryp, maar het in die hof bloedneus gekry. Sy beweegruimte om in te gryp is dus nie onbeperk nie.

Maar Beeld se lesers en adverteerders se reaksiemoontlikheid is nié so beperk nie.

Koel koppe kan die saak weer terug op die spoor kry. Buys het reeds op Facebook soos volg geskryf: “#proPuk Flip Buys skryf: Vriende, ek is jammer dat ek die afgelope dae soms persoonlik geraak het – dis nie my styl nie. By Solidariteit het ek geleer dat ‘n mens nie klein geveggies moet veg nie – ‘n mens is net so groot soos die ‘gevegte’ wat jy veg. Maar die saak het my geweldig ontstel, omdat ek weet hoeveel hier op die spel is.”

Sal almal betrokke kan uitstyg bo klein geveggies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cornelis Swanepoel ·

As ‘n jare lange leser van Beeld, was ek baie teleurgesteld toe ek die aanvanklike berig oor die saluut van die Pukke gelees het. Ek het onmiddellik besef dat hier op konfrontasie afgestuur gaan word en dat Afrikaanse belange in gedrang gebring gaan word.

Ek neem die redakteur van Beeld kwalik dat hy nie meer oordeelkundige oordeel aan die dag gele het nie. Het hierdie persoon ‘n verskuilde agenda teen Afrikaans? Ek kon myself die afgelope week nie sover kry om die Beeld te koop nie

Henk ·

Basson is ‘n verlingse liberaal wat in die kamp van Koos Bekker sy heil gevind het. Hy is een van daardie sotte wat dink hulle kan Afrikaans en die Afrikaner onderdruk en uitwis. Wel die Engelse het dit al sedert voor die Groot Trek probeer en kon dit nog nie regkry nie. Huidiglik is daar ‘n verwoede aanslag op alle fronte om hierin te probeer slaag want dit word deur die siek politici van hierdie land en selfs in die wereld gerugsteun. Tog sal hulle dit steeds nie regkry nie. Hulle VREES die Afrikaner!!! Oor die sogenaamde rassistiese saluut die volgende: Eerstens, waarom is ALLES wat die blanke doen rassisties? As daar twee swartes handgemeen raak is dit aanranding en so ook as daar twee blankes gemeen raak. As ‘n swarte ‘n blanke aanrand is dit aanranding. As ‘n blanke ‘n swarte aanrand dan is dit rassisties. As swartes SLEGS swartes huisves is dit sy reg ingevolge die grondwet. As blankes slegs wittes huisves is dit rassities en teenstrydig met die grondwet. Uit die Bybel leer ons al dat verskillende volke(rasse) in oorloe met mekaar verkeer. Oor verskeie aangeleenthede maar hoofsaaklik oor godsdiens en politiek. Rasse konflik sal daar dus ALTYD wees. Maar hoekom is dit NET rassisties as die blanke die oorhand kry? Dis heel goed as die ANC sy kleure en vlae wat VOOR 1994 dateer rondswaai. Hulle kan hulle “vryheidsliedere” sing soveel en waar hulle wil. Dis rassisties as ‘n blanke ‘n ou RSA vlag vertoon OF die stem sing!!
Basson se dis joernalistiek en die reg van die publiek om kennis te neem van die gebeure. Waarom word dit met soveel passie en toewyding en sensasie gelaai dat dit “haatlik” teen die blanke/ Afrikaner voorkom? Waarom skryf hulle dan nie met soveel passie en sensasie oor die moorde, plaasaanvalle en korrupsie nie?
Laat ons nou NIE doekies omdraai nie, hoe gouer die Afrikaner media soos die Beeld/ Rapport/ News24/ Naspers boikot, hoe beter vir hulself!

Alwyn du Plessis ·

Dot is jammer dat Beeld met swak beriggewing die Afrikanersaak kwaad aandoen. Kom ons lees eerder nie meer Beeld nie

Ansie Pretorius ·

Hierdie het ek sien kom – eers is daar gevoeter en geslaag met die Kovsies. Al wat oor was, was die Pukke en nou gaan daar ook mee geslaag word. Dankie aan almal wat nou bygedra het om ook van die Puk kampus ‘n onveilige plek te maak, want dis wat gaan kom. Kry solank vir al jul kinders woonstelle en jaag so Potch se huis-pryse nog meer op. Gelukkig is my kinders klaar, maar ai! wat van die arme kleinkinders….

Pieter ·

Die afleweraar gaan more se beeld gratis aflewer. Sopas het Basson my met ‘n verbintenis van amper 30 jaar vervreem. Nasê grootman.

Ant ·

So stadig maar seker verloor ons alles wat oor ‘n baie lang tyd opgebou is en vir ons agter gelaat is. Maar steeds woon ons waar ons nog altyd gewoon het en gaan ons aan asof die rower en moordenaar wat nou tussen ons woon, nie daar is nie. Wat gaan dit vat om hierdie volk te kry om te besef wat aan die gang is? Ons stuur ons kinders na die skole waar ons was en die universiteite waar ons was, maar dit is nie meer dieselfde plekke nie. Aanvaar ons die verval omdat ons ewig skuldig is aan die groot vloek van apartheid?. Het ons geen wil om beter te leef nie?

Ek wonder as daar nou een party was wat al die Afrikaner stemme gekry het, of ons Afrikaners wat die grootste gros van die belasting in hierdie land betaal, dalk deur hierdie ekonomiese en politieke eenheid meer sukses sal behaal om ‘n heenkome vir ons kinders te skep?

F. Greyling ·

Die fundamentele fout was om nie te gaan seker maak wat die studente se opset/bedoeling en begrip was toe hulle daai saluut in die dans ingewerk het nie. In die proses is ‘n aanname wat in ‘n joernalis se kop was, oorgeskuif op die studente – sonder om hulle te vra. Dis ‘n variasie van die strooiman-argument, lyk dit my. Swak joernalistiek. Maar net die volgende vir die skrywer van die (baie goeie) stuk. Herman, jy sê daar is geen aanduiding van die saluut in die Romeinse tyd nie – geen kunswerke of beskrywing nie (ek kloof hare hier, maar dis intesserant!). Kyk hierdie link na Wikipedia oor ‘n muurpaneel uit Hadrianus se tyd. http://en.wikipedia.org/wiki/File:062_Conrad_Cichorius,_Die_Reliefs_der_Traianss%C3%A4ule,_Tafel_LXII.jpg

hendrik brand ·

Ek kry toenemend die indruk en ervaring dat koerante, soos ook universiteite (as voorbeeld), hul eintlike doel en funksie verruil vir ekonomiese oorlewing, naamlik getalle (verkope/inskrywings) en geld (inkomste/wins) – dus kan dit verwag word dat in hierdie proses die tradisionele beginsels en waardes prysgegee/verwater word, wat lei tot konflik en frustrasie soos vergestalt in die debatte wat in hierdie kommentare verskyn. Myns insiens is al hierdie dinamika aanduidend van ‘n samelewing in ‘n proses van toenemende morele en waardeverval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.