Nuuskommentaar: Hele land opgeoffer vir een man, Zuma

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Nie Zuma-bashing

Hierdie nuuskommentaar is nie maar net nog ’n poging tot sogenaamde “Zuma bashing” nie, wat reeds só ’n groot omvang aangeneem het dat dit as nasionale tydverdryf beskryf kan word (in elk geval onder daardie Suid-Afrikaners wat die kort lootjie onder die Zuma-bewind trek).

Maar net so kan dit nie geduld word dat die Zuma-administrasie keer op keer die media blameer vir persepsies dat dinge soos geweldsmisdaad en korrupsie handuit ruk nie. In baie lande, soos die VSA, mag dit waar wees dat (sommige) media die persepsie skep dat moorde en verkragting erger word, terwyl dit in werklikheid beter word. Lees gerus die interessante artikel van John Stossel waarin hy onder meer skryf: “Terrorism is a threat. But deaths from war are a fraction of what they were half a century ago, when we fought World War II and the Korean War, and Chairman Mao murdered millions. Despite today’s wars in Iraq, Syria, etc., last decade saw the fewest deaths from war since record keeping began.

Hy merk op dat flieks en videospeletjies wel meer gewelddadig word, maar dit reflekteer nie die werklikheid nie.

Is dit net ’n persepsie dat dinge onder Zuma slegter gaan?

Maar misdaadstatistiek, soos oor plaasmoorde in Suid-Afrika, die land se tuimelende posisie op die korrupsie-persepsie- en omkoopindekse en ’n rits ander indekse, en diensleweringsbetogings, bevestig skynbaar dat die land iewers in die verlede “’n beter plek moes wees” om in te woon. Trouens, die blote bestaan van iets soos die EFF toon dat iets in die samelewing nie pluis is nie.

Op baie van hierdie indekse het Suid-Afrika se kreeftegang versnel sedert mnr. Jacob Zuma president geword het. Maar hoe beïnvloed die werklike agteruitgang en persepsies van agteruitgang Zuma se posisie?

Hierdie is ’n eerlike poging om lyne te vind oor hoe die skynbaar onmoontlike gebeur dat iemand soos Zuma reeds in sy tweede termyn is, en nog geen vaste tekens bestaan dat hy binnekort verwyder sal word nie. Nie dat die president nie selfs “hard probeer” om homself in die spervuur te hou nie.

Prof. Deon Rossouw, uitvoerende hoof van die Etiekinstituut van Suid-Afrika skryf vandag in Media 24 soos volg: “Die OB se verslag oor Nkandla en Zuma se onverkwiklike reaksie daarop het twee foutlyne rakende etiek uitgewys. Die een foutlyn het te doen met die proses vir die hantering van onetiese optrede deur ’n dienende president. Die ander foutlyn het te doen met die wyse waarop politieke gesagsfigure reageer wanneer hulle uitgewys word weens onetiese gedrag.”

Oorleef Zuma volgens die “Saddam-model”?

Hoe gebeur dit dat ʼn hele land vir een mens opgeoffer kan word? Analiste delf diep oor hoe dit gebeur dat die ganse ANC in die parlement bankvas agter Zuma staan in die aangesig van bevindings oor Nkandla, en hoe hy vervolging vryspring selfs na ʼn regter in ’n uitspraak bevind het dat daar ʼn algemene korrupte verhouding tussen Zuma en Shabir Shaik was.

Terwyl Suid-Afrika wyd geloof word vir “die beste grondwet ter wêreld” en dat die land ʼn veelparty-demokrasie onderhou, is dit tog eintlik ongelooflik hoeveel raakvlakke vir die vasweef van mag tussen Saddam Hoesein, tereggestelde diktator van Irak, en Zuma is.

Selfs hul kinderjare het merkbare ooreenkomste.

Zuma se ma was ʼn behoeftige enkelouer – ʼn huishulp. Die jonge Zuma het skaars begin skoolgaan toe hy gestuur is om sy oom se beeste op te pas.

Saddam se ma was ook ’n arm enkelouer. (Hy het die amptelike rekords laat verander om te lui dat sy pa dood is). Hy moes vir sy stiefpa skape oppas. Hy het jonk-jonk weggeloop en is elders in die stam geakkommodeer waar hy kon skoolgaan.

Saddam het Stalin as rolmodel vereer. Zuma toon ’n groot voorliefde vir kommuniste van die SAKP wat hy in buite verhouding groot getalle in sy kabinet en elders insluit.

Daar is egter ook aspekte waar die raakvlakke tussen Zuma en Saddam dun was. Saddam se stam het tot die Soenniete van die Islam behoort, wat sowat 22% van Irak se bevolking uitmaak, teenoor die Sjiïete wat sowat 55% uitmaak. Om sy magsbasis te verbreed het hy nie net sy eie stamgenote in sleutelposte in veral die weermag en veiligheidsdienste ontplooi nie, maar ook uit ander minderhede, waaronder Christene. Die bekende Tariq Azziz, effektief sy regterhand tydens die Amerikaans-geleide inval, is ’n Assiriese Christen. Die Sjiïete en die ander groot minderheid, die Koerde (ook sowat 20% van die bevolking) is met wreedhede onder die duim gehou. Hy is dan ook verhoor en tereggestel vir misdade teen die mensdom vir optredes teen die Sjiïete nog voor hy vir sy wandade, waaronder die inspan van gifgas, teen die Koerde, verhoor kon word.

Hoewel Zuma se stam, die Zoeloes, die grootste in Suid-Afrika is, en daar ook duidelik ’n voorkeur-ontplooiing uit KwaZulu-Natal geskied, word ’n nog groter magsbasis geskep deur ʼn beheptheid met ras. Swart word opgestel as ’n benadeelde meerderheid wat die “reg” het om blankes te benadeel. Die bestaan van instansies soos die Black Management Forum word aangeprys, terwyl dit ondenkbaar is dat soortgelyke instellings vir blankes as enigiets anders as politiek inkorrek, en selfs erg rassisties sou wees. Die beheptheid met “etnies swart” plaas die bruin mense in ’n politieke niemandsland, soos blyk dat daar nou nog net enkele bruin en Indiërlede in die ANC se NUK oorleef, en nie veel meer blankes nie (byna almal SAKP).

Verder het Saddam ’n groot deel van sy magsbasis gebou deur steun aan stamhoofde te verleen sodat hulle lojaal teenoor die leier sou staan. Hierdie stamhoofde was tradisionele leiers eerder as demokratiese verkose leiers, en groot dele van die bevolking is so ingebind sonder dat hulle ooit daaroor geraadpleeg is.

Klink dit nie ook baie bekend in die Zuma-konteks nie, met ʼn deurlopende flikflooiery met die tradisionele leiers? Die jongste is die enorme paleis wat vir die Zoeloe-koning gebou word.

Oor die rol van “amptelike korrupsie” verskil analiste oor die Saddam-era. Minstens sommige stel dit egter dat die vlakke van korrupsie enorm was, en dat so veel as moontlik invloedryke mense daardeur ingebind is, en dus volkome van die goedgesindheid van Saddam afhanklik geword het.

Soortgelyke bewerings word Zuma teen die kop geslinger.

Hierdie soort taktiek werk eintlik net in ’n eenpartybedeling, waar die party (waarin die leier hom onaantasbaar verskans het) nie los te beskou is van die staat nie. Hoewel Suid-Afrika ’n veelparty-bedeling het, is die ANC se oorheersing van so ’n aard dat dit talle kenmerke van ’n eenparty-bedeling aanneem. Dit manifesteer hom in eindelose optredes waar die ANC hom nie van die regering kan onderskei nie, bv. staatskospakkies vlak voor verkiesings, frustrasie met die onafhanklikheid van instellings, en deurlopende poging om hierdie instellings “aan die regering” (lees ANC) onderhorig te stel. ʼn Groot deel van die ANC se frustrasie met die Openbare Beskermer kan hierna teruggevoer word.

Saddam het hom graag met van sy ongeletterde neefs omring. Dit het veroorsaak dat sy kennis oor wêreldsake baie sleg was. Word na die jaarlikse rapportkaarte van die DA en VF Plus vir Zuma se ministers gekyk, lyk dit of dit hier nie anders is nie. Daar was ook al groot bitterheid vanuit die ANC toe opposisielede van die swak gehalte van Zuma se adviseurs gepraat het asof dit gemene saak was.

Zuma is verskeie kere in die wêreldpers, om dit eufemisties te stel, as ʼn grap voorgehou. Van sy optredes lyk of hy in sy eie wêreld leef waar sy opvattings en uitsprake net deur homself ernstig opgeneem kan word. Saddam was by uitstek iemand wat uitsprake gemaak het wat nie met die werklikheid gestrook het nie. Die Amerikaans-geleide invalsmagte het reeds deur die buitewyke van Bagdad aangekom, toe hy nog baie ernstig te vertelle gehad het sy magte is op die punt om die invallers te verslaan. Hierin is hy selfs deur sommige ministers nagepraat sodat een die bynaam Comical Ali gekry het. Sommige analiste meen Saddam het aan ’n soort paranoïese afwyking gely, wat veroorsaak het dat hy sy eie bogstories geglo het.
Maar meestal het min mense vir Saddam se waan gelag – daarvoor het sy bloedspoor net te diep en wyd geloop.

Is Zuma nog in volle beheer?

Die laaste hoofstuk oor Zuma is nog nie geskryf nie. Aan die een kant glo baie analiste dat daar genoeg tekens en bewyse is dat die ANC Zuma nou aan ’n baie kort leiband beet het, om so ver moontlik verdere skade te beperk. Ook in hierdie rubriek is al telkemale geskryf dat dit lyk of Zuma se rol nou hoofsaaklik seremonieel is, en hy as ’n tipe ere-diplomaat aangewend word.

Aan die ander kant is daar ’n opsigtelike verbetenheid om Zuma uit die warm water oor dinge uit sy verlede te hou, en selfs sondebokke aan te wys om die strop namens Zuma om die nek te kry, dat dit lyk of die ANC bereid is om die land enorme skade te laat ly deur Zuma teen gevolge te verskans.

Kop-optel deur Hoofstuk 9-instellings (of nie?)

Intussen lyk dit of daar tog geleenthede opduik vir hulle wat die land wil bestendig en vooruitstrewend wil maak. Oppervlakkig beskou, lyk dit of die ANC se fiksasie met die Openbare Beskermer die aandag weglei van ander hoofstuk 9-instellings wat hulle die kans bied om hul veronderstelde werk beter te doen.

Die Menseregtekommissie het ’n ondersoek na plaasaanvalle begin, en ten spyte van voortydige uitlatings van ’n woordvoerder oor die Kovsies wat in ’n rassistiese voorval betrokke sou wees, tog bevind het dat rassisme in dié geval geen rol gespeel het nie. Dit is ʼn baie vars bries in vergelyking met die inkwisisie-agtige optrede van die Bloemfonteinse kantoor van die kommissie in die Reitz-4-saak, wat ’n sinvolle afloop baie bemoeilik het.

Net so is daar belowende tekens dat die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe onder sy “nuwe bestuur” uiteindelik by die werk uitkom soos wat die grondwet bepaal, eerder as die Mbeki-direktiewe wat as gekaapte doelwitte gedien het. Dit bied in beginsel nou ’n grondwetlike liggaam waar bepaal kan word of die transformasiedoelwitte wat vir die Puk gestel word, nie in stryd met die grondwet is nie.

Maar selfs al is hierdie afleiding korrek, is die wins van twee kommissies darem ’n enorme prys om te betaal vir die sloping van die land en demokrasie soos onder die Zuma-bewind beleef word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Martie van graan ·

Zuma het geen kennis wat in die land aangaan nie, maak jou oe oop en kyk hoe dit gaan, hoe kan jy jou kinders in die land groot maak, maak oop jou oe en kyk boontoe, en hou op om jou geld god te aanbid, en aanbid die ware God, en kyk wat aangaan, alles gaan ten gronde.

jakoos ·

Ek deel jou opmerkings oor misdaad, veral plaasmoorde, maar ek dink om Rossouw van die sg. Etiekinstituut se opmerkings hier aan te haal, is bietjie van ‘n fout.

Die probleem is dat daar nog nie die geringste aanduiding of bewys is dat Zuma “oneties” opgetree het rondom Nkandla nie. Selfs Madonsela se verslag stel dit duidelik dat hy nie gesteel het nie, net bevoordeel is deurdat sekere goed soos die kraal en swembad nie volgens korrekte prosedure en wette gedoen is nie. Dit word al hoe duideliker dat Madonsela se bevinding dat die opgraderings by Nkandla in terme van die Wet op Sleutelpunte gedoen is, NIE korrek is nie. Dit is – en moes – in terme van die 2003 memorandum oor veiligheidsaksies by presidente en ministers se wonings gedoen gewees het.

Rossouw se opmerkings wil impliseer dat hy dink dat Zuma – en die Parlement – nie die reg het om
die OB se bevindings te betwis en bevraagteken nie. Dit kan mos nie wees nie.

Dit is natuurlik moontlik dat Zuma op bedrieglike en korrupte wyse agteraf geld ontvang het van die argitek en die kontrakteurs wat groot geld gemaak het, maar ook dit is nog lank nie bewys of eens geinsinueer nie. Hoekom is daai mense se bankrekenings nie beoorlik ondersoek deur Madonsela en kie nie.

Herman Toerien ·

Jakoos, oor die finaliteit van die OB se bevindings word daar nou ‘n regsaksie gevoer. Ek wil nie die bevinding vooruitloop nie, maar prof. Marinus Wiechers is baie seker dit staan in die grondwet dat Zuma se vertolking verkeerd is. My eie kommer is dat die nuwe grondwet, anders as die oorgangsgrondwet, amper net in raamwerk-formaat geskryf is. ‘n Regsgeleerde het destyds geskryf dis so vaag ‘n wa en span osse kan daarin draai. Die idee is / was dat die “vleis” deur oa wetgewing, regspraak en die toepassing van die gemenreg beslag sou kry. ‘n Mens kan die positiewe van die benadering verstaan – tot die grondwetlike hof sulke bevindings maak soos die Renate Barnard-uitspraak en die onteiening van mineraleregte wat op ‘n manier toe nie onteien is nie. Ek dink wat dit betref was die onderhandelaars bietjie naïef oor hoe sake vorentoe sou kon verloop.
Die tipe instellings soos ons as die hoofstuk 9-instellings ken, is volgens die literatuur feitlik oral ter wêreld nie baie gewild by die politiek nie. Om dié wat rug styf maak teen die regering te straf of op hul plek te hou deur die beursie toe te knyp is ook nie uniek nie. Normaalweg is die konvesie dat hierdie liggame nie bindende bevindings maak nie, maar terselfdertyd lui die konvensie dat die “aanbevelings” vir alle praktiese doeleindes opdragte is. Konvensies weer, is veronderstel om so bindend op die regspraak te wees soos wette. Switserland se regeringstelsel maak bv ongekend baie van konvensies gebruik, soos die rotasie van presidente, en niemand daar sal eens droom dat so ‘n konvensie nie toegepas behoort te word nie. In SA beteken dit ongelukkig dat ‘n mens eers hof toe moet gaan (die City Council of Pretoria vs Walker-uitspraak), wat vir die meeste mense onbekostigbaar is. (Ek sien selfs Cosatu sê sy beursie is plat oor die baie sake waarin hy betrokke is).
Dit spreek vanself dat as die bevindings van Hoofstuk 9-instellings as ignoreerbaar beskou word, raak diebestaan van hoofstuk 9 ‘n grap.
Die rol van causale verband in regspraak moet dalk omsigtig hanteer word, maar in sake van ‘n siviele karakter, soos die regbetaal van geld sonder ‘n kriminele bevinding, kan causale verband in ‘n oorwig van omstandighede nie geïgnoreer word nie. Bv, hier is wat iets wat gebou isgekos het, en hier is wat daarvoor bestee is, en iewers tussenin is daar ‘n tekort van R50 miljoen of so. Saam met ‘n opmerking van ‘n regter wat deur ‘n appèlproses bly staan het, van ‘n algemeen korrupte verhouding tussen ‘n veroordeelde bedriër en ‘n president wat ek nie gaan identifiseer nie, is die causale verband darem baie sterk.
En net ‘n laaste gedagte. Ek wil nog gaan kyk oor die aanspreeklikheid as iemand ‘n onwettige opdrag uitvoer. Ons het geleer die een wat so ‘n opdrag uitvoer, het geen verweer nie. Tog was dit die refrein voor die Waarheiods- en Versoeningskommissie, en daardeur het die plegers gemeen hulle moet skotvry kom. Maar sou die mense wat nou oor die Nkandla-kwessie aangekla word, hulle dan nou suksesvol kan verweer? Of ‘n skakelbeampte wat in opdrag van ‘n rekor iets erg lasterlik na die media stuur haarself teen kriminele laster kan verweer?

jakoos ·

Ek sien die adjunk minister van justisie, ene John Jeffrey, se die OB se bevindinge is nie wet5lik bindend nie want die OP is nie ‘n hof nie.

Na my mening is dit dan ook die kwessie wat in enige hofaksies oor Nkandla oorweeg sal moet word – tesame natuurlik met die kwessie of die OB se bevindinge nie deur die Parlement en enige ander instansie betwis mag word nie. Ek vermoed Wiechers gaan verkeerd bewys word – alweer!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.