Nuuskommentaar: Hemelvaartdag

Foto: En.wikipedia.org

Opsomming

Hemelvaart is nie meer ’n vakansiedag nie, maar is dit so ’n slegte ding, veral as ’n mens kyk hoe Nederlanders en Belge se verkeersvolumes vir “Hemelvaartnaweek” skerp toeneem, en honderde duisende mense op strande verwag word? Die onus is nou op elkeen om vandag as gedenkdag te leef.

Hemelvaart is sedert die aanbreek van die nuwe bedeling nie meer ’n vakansiedag in Suid-Afrika nie. Tog hou talle kerke vandag ’n Hemelvaartdiens, maar gewoonlik só ingerig dat mense hul gewone werksdag kan afhandel.

Reeds in 1996 was daar ’n beweging in onder meer Nederland om Hemelvaartdag as vakansiedag te skrap. Hemelvaart val egter weens die berekening daarvan altyd op ’n Donderdag (veertig dae ná die Paasfees), met die gevolg dat die Vrydag as Tweede Hemelvaart bekend begin staan het. Dit het beteken dat baie werkgewers hul werkers die Vrydag afgegee het, en slegs met sleutelpersoneel oor die weg moes kom, of die ondernemings heeltemal gesluit het. By ander ondernemings, waar werk gewoonweg aangegaan het, het baie werkers die Vrydag eenvoudig verlof ingesit.

Volgens die Nederlandse pers word enorme verkeersdrukte dié “langnaweek” verwag, en berigte van ’n skerp toename in verkeer is reeds sedert gisteraand ontvang.

Dit het skynbaar praktyk in dele van Europa geword. In die Vlaamse pers word berig oor hoe spesiale veiligheidsmaatreëls op Belgiese strande teen moontlike terreur getref word. Meer as ’n halfmiljoen vakansiegangers word oor Hemelvaartnaweek, soos dit bekend staan, op strande verwag. Die polisie ontken dat dit met die onlangse terreuraanval in Brittanje verband hou, en sê die maatreëls word bloot getref weens die groot hoeveelheid mense wat op die strande saamgetrek gaan wees.

Dat die strande so vol gaan wees, hou moontlik meer verband met die feit dat dit nou in die noordelike halfrond besig is om somer te word, ná ’n lang winter, as wat dit gaan om die werklike viering van Hemelvaart.

Tog is daar minstens ’n deel van die Europese bevolking vir wie Hemelvaart iets beteken.

In 2000 het ’n groot Protestantse kerk in Duitsland, die EKD, skerp protes aangeteken omdat die Frankfurtse Effektebeurs daardie Hemelvaartdag vir die eerste keer gewoonweg sake gedoen het. Ds. Manfred Kock het dit as die “uitholling van de feestdag- en zondagscultuur dat op deze erkende christelijke feestdag” geld beskryf.

In Suid-Afrika bestaan ook ’n wye opvatting dat die viering van geestelike vakansiedae soos Sondae gevier moet word. Die feit dat Geloftedag, deur die aflê van die gelofte, soos ’n Sondag herdenk word (hoewel in ’n stadium erg vir politieke toesprake “gekaap”) het waarskynlik die historiese opvatting dat geestelike herdenkingsdae ook soos Sondae gevier moes word, versterk.

In 1990 pen  prof. Willie Jonker die volgende insiggewende gedagtes in Die Burger neer: “In so ’n land (soos Suid-Afrika waar 75% van die inwoners hul Christenskap bely) behoort Christelike feesdae en tradisies eerbiedig te word. Onder die Christelike feesdae is die Sondag die heel vernaamste. As die Sondag nie meer beskerm word nie en die besondere karakter daarvan nie erkenning geniet nie, sal ons land ’n maklike prooi van sekularisme word. Dit is reeds besig om te gebeur. Christene moet daarteen beswaar maak, nie net omdat ruimte vir die eredienste en Christelike aktiwiteite behou moet word nie, maar ook omdat die Sondag as rusdag ’n geweldige simboliese waarde het wat ons verbind aan die Joods-Christelike tradisie waarin God as Skepper en Verlosser bely word.”

Die konsep van ’n geestelike vakansiedag wat ’n Sondagkarakter behoort te hê lê diep gesetel. In 1995 het onder meer nege kerkgenootskappe in Rhenen, Nederland, die hof vrugteloos genader om die aanbied van ’n motorfietswedren op Hemelvaartdag te verbied. Onder die ander aansoekers was ook ’n landelike beweging wat hom beywer vir die instandhouding van Sondagrus.

Maar Jonker gaan verder: “Die behoud van ander Christelike feesdae as openbare vakansiedae behoort sorgvuldig oorweeg te word. Sommige van die feesdae moet liefs in ooreenstemming met die Westerse tradisie as vakansiedae behou word, maar die kerke hoef nie daarop aan te dring dat alle Christelike feeste openbare vakansiedae moet wees nie. Die ervaring leer dat dit nie sonder meer bevorderlik is vir die egte viering daarvan nie.”

Hy noem ook pertinent die gebruike rondom die Paasnaweek en die destydse Hemelvaartdag wat op ’n Donderdag val, wat daartoe gelei het dat die kerke leeg, en die paaie vol vakansiegangers was.

“Veel belangriker as vakansiedae vir die erkenning van die koningskap van Christus is die bevordering van ’n Christelike etos en lewenstyl, die handhawing van die Christelike karakter van die onderwys en die vryheid van die kerke om die Woord van God onbelemmerd te verkondig.”

Vandag rus baie van die sake wat prof. Jonker genoem het, en waarvoor Christene hulle moet beywer, op ons. Die organisasie Ogod het verskeie openbare skole hof toe gesleep oor hul Christelike etos, en die saak sal in alle waarskynlikheid in die Konstitusionele Hof gaan draai.

Ander kwessies, soos die handhawing van ’n Christelike etos en lewenstyl, word nie ekstern bedreig nie, maar op groot skaal verslons.

Dit moet ook nie uit die oog verloor word nie dat daar druk is om ook met ander Christelike feesdae, soos Kersfees en Goeie Vrydag, weg te doen. In ’n artikel in Die Burger in 2012 laat onder meer dr. Isak Burger, destydse president van die AGS, ds. Cassie Aucamp van die GKSA, en prof. Nelius Niemandt van die NG Kerk, hulle oor die kwessie uit. Hulle het soortgelyke standpunte. Burger sê byvoorbeeld dat hy nie sal betoog of ’n martelaar word vir die behoud van Kersfees en Goeie Vrydag as vakansiedae nie. Aucamp meen gemeentes doen nou inderwaarheid meer vir die herdenking van Hemelvaart as toe dit nog ’n amptelike vakansiedag was, en Niemandt sê NG Gemeentes vind kreatiewe maniere om dit te vier.

Verskillende kerkgenootskappe en kerklike dogmas veroorsaak dikwels dat mense wat hulself Christene noem, mekaar in kommentare op die sosiale media op die vieslikste wyse bykom. Terwyl ons oor dogma kan verskil, is die Bybel  duidelik oor wat as die goeie vrugte van die Heilige Gees beskou word: verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God, liefde (lees gerus 1 Korintiërs 13 wat die liefde behels), vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,  getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, vol genade, onpartydigheid, nie veroordelend wees nie.

Of herinner die wyse waarop ons “namens die Here” teenoor mede-Christene optree eerder aan die slegte vrugte, ook soos uit die Bybel geneem: deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word – te erg om te noem, verwaandheid, uitlokkendheid/skoorsoekerigheid, selfsug, jaloesie, vertel van leuens, skynheiligheid, veroordelend, kwaadwilligheid.

Dat ons nie vandag ’n vakansiedag het nie, en waarskynlik vandag ons gewone dagtaak by die werk afhandel, beteken nie dat ons nié die dag op ’n spesiale manier kan gedenk nie, al is dit net om ’n goeie Christelike voorbeeld aan kollegas en ander mense te stel.

En as dit moontlik is, ná werk die erediens hieroor bywoon.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ai

Partykeer wonder ek hoeveel van die 75% van lewe soos Christene. Dis een ding om te se jys n Christen, dis n ander ding om te lewe soos een. Soos die blykbaar bekeerde musikant Alice Cooper se: “Dis maklik om lelike dinge te doen, maar om n Christen te wees is ware rebellie”. Rebelsheid is eintlik nie n Christen eienskap nie maar as ons die wereld om ons kyk wat als wat sleg is as goed uitmaak en ons staan op teen dit dan is dit tog rebellie. Geseende Hemelvaart aan almal, op die stadium kyk ek op omdat ek… Lees meer »

Michael barnard

Hoekom moet geestelike vakansiedae op n sondag gehou word . Wat maak die dag so spesiaal dis dan die eerste dag van n week. Hoekom hou ons dit dan nie op die sabaddag wat die sewede dag vsn die week is nie dan behoot almal af te wees en te rus volgens christelike geloog.

Ada stevens

Vraag aan prof Willie Jonker. Haal asb v my een plek in d Woord v God, wat sê ons moet Sondag as rusdag hou? Die Woord sê spesifiek dat ons geen jota of titel verander nie. Verklaar dit v my asb.

Ouma

Ek onthou toe ons kinders was hoe ons elke aand pinksterdienste bygewoon het. En met Hemelvaart is hierdie pinkstertyd afgesluit. Dit het die hoeksteen van my geloof gevorm. Vandag hou hierdie Christelike feesdae dae vir bitter min mense egter nog enige waarde in. Dit het ‘n tyd geword wat jou wegneem van jou kerk af en slagting op die paaie veroorsaak. Die ekonomie kry ook ‘n klap met al die vakansiedae. Dus kan hierdie vakansiedae myns insiens eerder weggeneem word. Diegene wat wil, sal nog steeds kerk toe gaan om dit saam met ander gelowiges te gedenk.

Kobus Laufs

Vir my klink die opening’s stelling oor Hemelvaart baie liberaal. Christus die seun van God en het vir ons sonde gesterf, nie net gesterf nie maar is ook verneder en het ook gely, hierdie land is gebou op Christelike beginsels en dit is nie okay of alright dat ons Hom nie behoorlike erkenimg gee nie. Miskien is ek te konserwatief maar ek is eerder dit as te liberaal. As jy Christus jou eerste liefde gemaak het, dan gee jy Hom die eer en respek wat Hy verdien, en dan vereenselwig jy Hom nie met miskien is dit nie te sleg… Lees meer »