Nuuskommentaar: Hemelvaartdag

Foto: En.wikipedia.org

Opsomming

Hemelvaart is nie meer ’n vakansiedag nie, maar is dit so ’n slegte ding, veral as ’n mens kyk hoe Nederlanders en Belge se verkeersvolumes vir “Hemelvaartnaweek” skerp toeneem, en honderde duisende mense op strande verwag word? Die onus is nou op elkeen om vandag as gedenkdag te leef.

Hemelvaart is sedert die aanbreek van die nuwe bedeling nie meer ’n vakansiedag in Suid-Afrika nie. Tog hou talle kerke vandag ’n Hemelvaartdiens, maar gewoonlik só ingerig dat mense hul gewone werksdag kan afhandel.

Reeds in 1996 was daar ’n beweging in onder meer Nederland om Hemelvaartdag as vakansiedag te skrap. Hemelvaart val egter weens die berekening daarvan altyd op ’n Donderdag (veertig dae ná die Paasfees), met die gevolg dat die Vrydag as Tweede Hemelvaart bekend begin staan het. Dit het beteken dat baie werkgewers hul werkers die Vrydag afgegee het, en slegs met sleutelpersoneel oor die weg moes kom, of die ondernemings heeltemal gesluit het. By ander ondernemings, waar werk gewoonweg aangegaan het, het baie werkers die Vrydag eenvoudig verlof ingesit.

Volgens die Nederlandse pers word enorme verkeersdrukte dié “langnaweek” verwag, en berigte van ’n skerp toename in verkeer is reeds sedert gisteraand ontvang.

Dit het skynbaar praktyk in dele van Europa geword. In die Vlaamse pers word berig oor hoe spesiale veiligheidsmaatreëls op Belgiese strande teen moontlike terreur getref word. Meer as ’n halfmiljoen vakansiegangers word oor Hemelvaartnaweek, soos dit bekend staan, op strande verwag. Die polisie ontken dat dit met die onlangse terreuraanval in Brittanje verband hou, en sê die maatreëls word bloot getref weens die groot hoeveelheid mense wat op die strande saamgetrek gaan wees.

Dat die strande so vol gaan wees, hou moontlik meer verband met die feit dat dit nou in die noordelike halfrond besig is om somer te word, ná ’n lang winter, as wat dit gaan om die werklike viering van Hemelvaart.

Tog is daar minstens ’n deel van die Europese bevolking vir wie Hemelvaart iets beteken.

In 2000 het ’n groot Protestantse kerk in Duitsland, die EKD, skerp protes aangeteken omdat die Frankfurtse Effektebeurs daardie Hemelvaartdag vir die eerste keer gewoonweg sake gedoen het. Ds. Manfred Kock het dit as die “uitholling van de feestdag- en zondagscultuur dat op deze erkende christelijke feestdag” geld beskryf.

In Suid-Afrika bestaan ook ’n wye opvatting dat die viering van geestelike vakansiedae soos Sondae gevier moet word. Die feit dat Geloftedag, deur die aflê van die gelofte, soos ’n Sondag herdenk word (hoewel in ’n stadium erg vir politieke toesprake “gekaap”) het waarskynlik die historiese opvatting dat geestelike herdenkingsdae ook soos Sondae gevier moes word, versterk.

In 1990 pen  prof. Willie Jonker die volgende insiggewende gedagtes in Die Burger neer: “In so ’n land (soos Suid-Afrika waar 75% van die inwoners hul Christenskap bely) behoort Christelike feesdae en tradisies eerbiedig te word. Onder die Christelike feesdae is die Sondag die heel vernaamste. As die Sondag nie meer beskerm word nie en die besondere karakter daarvan nie erkenning geniet nie, sal ons land ’n maklike prooi van sekularisme word. Dit is reeds besig om te gebeur. Christene moet daarteen beswaar maak, nie net omdat ruimte vir die eredienste en Christelike aktiwiteite behou moet word nie, maar ook omdat die Sondag as rusdag ’n geweldige simboliese waarde het wat ons verbind aan die Joods-Christelike tradisie waarin God as Skepper en Verlosser bely word.”

Die konsep van ’n geestelike vakansiedag wat ’n Sondagkarakter behoort te hê lê diep gesetel. In 1995 het onder meer nege kerkgenootskappe in Rhenen, Nederland, die hof vrugteloos genader om die aanbied van ’n motorfietswedren op Hemelvaartdag te verbied. Onder die ander aansoekers was ook ’n landelike beweging wat hom beywer vir die instandhouding van Sondagrus.

Maar Jonker gaan verder: “Die behoud van ander Christelike feesdae as openbare vakansiedae behoort sorgvuldig oorweeg te word. Sommige van die feesdae moet liefs in ooreenstemming met die Westerse tradisie as vakansiedae behou word, maar die kerke hoef nie daarop aan te dring dat alle Christelike feeste openbare vakansiedae moet wees nie. Die ervaring leer dat dit nie sonder meer bevorderlik is vir die egte viering daarvan nie.”

Hy noem ook pertinent die gebruike rondom die Paasnaweek en die destydse Hemelvaartdag wat op ’n Donderdag val, wat daartoe gelei het dat die kerke leeg, en die paaie vol vakansiegangers was.

“Veel belangriker as vakansiedae vir die erkenning van die koningskap van Christus is die bevordering van ’n Christelike etos en lewenstyl, die handhawing van die Christelike karakter van die onderwys en die vryheid van die kerke om die Woord van God onbelemmerd te verkondig.”

Vandag rus baie van die sake wat prof. Jonker genoem het, en waarvoor Christene hulle moet beywer, op ons. Die organisasie Ogod het verskeie openbare skole hof toe gesleep oor hul Christelike etos, en die saak sal in alle waarskynlikheid in die Konstitusionele Hof gaan draai.

Ander kwessies, soos die handhawing van ’n Christelike etos en lewenstyl, word nie ekstern bedreig nie, maar op groot skaal verslons.

Dit moet ook nie uit die oog verloor word nie dat daar druk is om ook met ander Christelike feesdae, soos Kersfees en Goeie Vrydag, weg te doen. In ’n artikel in Die Burger in 2012 laat onder meer dr. Isak Burger, destydse president van die AGS, ds. Cassie Aucamp van die GKSA, en prof. Nelius Niemandt van die NG Kerk, hulle oor die kwessie uit. Hulle het soortgelyke standpunte. Burger sê byvoorbeeld dat hy nie sal betoog of ’n martelaar word vir die behoud van Kersfees en Goeie Vrydag as vakansiedae nie. Aucamp meen gemeentes doen nou inderwaarheid meer vir die herdenking van Hemelvaart as toe dit nog ’n amptelike vakansiedag was, en Niemandt sê NG Gemeentes vind kreatiewe maniere om dit te vier.

Verskillende kerkgenootskappe en kerklike dogmas veroorsaak dikwels dat mense wat hulself Christene noem, mekaar in kommentare op die sosiale media op die vieslikste wyse bykom. Terwyl ons oor dogma kan verskil, is die Bybel  duidelik oor wat as die goeie vrugte van die Heilige Gees beskou word: verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God, liefde (lees gerus 1 Korintiërs 13 wat die liefde behels), vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,  getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, vol genade, onpartydigheid, nie veroordelend wees nie.

Of herinner die wyse waarop ons “namens die Here” teenoor mede-Christene optree eerder aan die slegte vrugte, ook soos uit die Bybel geneem: deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word – te erg om te noem, verwaandheid, uitlokkendheid/skoorsoekerigheid, selfsug, jaloesie, vertel van leuens, skynheiligheid, veroordelend, kwaadwilligheid.

Dat ons nie vandag ’n vakansiedag het nie, en waarskynlik vandag ons gewone dagtaak by die werk afhandel, beteken nie dat ons nié die dag op ’n spesiale manier kan gedenk nie, al is dit net om ’n goeie Christelike voorbeeld aan kollegas en ander mense te stel.

En as dit moontlik is, ná werk die erediens hieroor bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ai ·

Partykeer wonder ek hoeveel van die 75% van lewe soos Christene. Dis een ding om te se jys n Christen, dis n ander ding om te lewe soos een. Soos die blykbaar bekeerde musikant Alice Cooper se: “Dis maklik om lelike dinge te doen, maar om n Christen te wees is ware rebellie”.

Rebelsheid is eintlik nie n Christen eienskap nie maar as ons die wereld om ons kyk wat als wat sleg is as goed uitmaak en ons staan op teen dit dan is dit tog rebellie.

Geseende Hemelvaart aan almal, op die stadium kyk ek op omdat ek regtig uit na Jesus se koms.

MCH ·

Verseker hou ek dit. Net die Mosaise wette nie want ek offer nie meer nie, die Volmaakte offer is betaal. Ook nie besnydenis nie, Paulus is Jerusalem toe om klarigheid hieroor te kry. Dus, varkvleis, prons, visse sonder skubbe ens is uit. Sabbat begin Vrydag met sononder tot Saterdag sononder.

Ai ·

O goed dankie, kan ek jou vra hoe onderhou jy die Sabbat? Almal wat ek mee praat se “rus” maar beteken dit nou jy moet op die bank gaan le en TV kyk? Dit kan nie wees nie. Wat is ons veronderstel om op die Sabbat te doen?

MCH ·

Soos Jesus en Sy dissipels, rustig.Eerstens n kennisgewing op my besigheid:” Gesluit vir Sabbat” ook in Engels. Sondag is ek halfdag oop. Vrydag voor donker tuis. Rustige aand, gewoonlik bietjie leeswerk. Saterdag, DVD met paslike inhoud en 11h00 kyk ek na n diens op kanaal 263 . Middagete en middagslapie of kuier by my kinders. Eenvoudig. Liggaam en siel moet rus kry.

MCH ·

Kanaal 263 se diens voorafopgeneem om Saterdag te kyk. Dit word Sondae uitgesaai. Die mense is baie naby aan die waarheid.

Ai ·

Gert, ek is self op soek na antwoorde. Eks n bekeerde Christen met baie vrae. Is drie jaar terug gekoop. Ek lees Bybel en bid maar daars baie dinge wat ek onseker is oor. My vrae aan MCH is dinge waaroor ek onseker is. Onder andere is die Saterdag/ Sondag Sabbat iets wat ek al lank oor wonder.

Ai ·

Dankie MCH, ek waardeer jou antwoorde. Eks so drie jaar terug gedoop nadat ek tot bekering gekom het maar daars maar dinge wat ek nog nie seker van is nie. Ek sal bietjie na 263 kyk.

Weereens dankie.

Ai ·

Ek meen gedoop, skies my foon verander dit sommer self na ‘gekoop’…

Michael barnard ·

Hoekom moet geestelike vakansiedae op n sondag gehou word . Wat maak die dag so spesiaal dis dan die eerste dag van n week. Hoekom hou ons dit dan nie op die sabaddag wat die sewede dag vsn die week is nie dan behoot almal af te wees en te rus volgens christelike geloog.

MCH ·

Michael, dis n baie goeie vraag. Die sewende dag Sabbat is Bybels en Jesus en Sy dissipels het dit onderhou en nooit is daar opdrag gegee dat dit verskuif moes word nie. Dis gekaap deur Konstantyn in die jaar 321NC by die beraad van Nicea. Die perd was n sonaanbidder en het dit geskuif na die “eerbiedwaardige dag van die son.” Verder, hemelvaart is nie n Bybelse gedenkdag nie en n rits ander dae soos Kersfees. Jy kan vir jouself bewys uit die Skrif dat Jesus gebore is tydens die huttefees wat so middel September tot middel Oktober is. Dis winter in Israel gedurende Desember en daar is nie n manier dat jy skape en wagters die tyd in die veld gaan kry nie. Die dae wat deur God ingestel is wat ons veronderstel is om te onderhou is byvoorbeeld, Sabbat, Pasga, fees van ongesuurde brode, Pinkster, fees van trompette, dag van verootmoediging, Huttefees. Sien Levitikus 23. Skeel my dus min wat hul met die dae doen, ek hou die Bybelse dae.

Ai ·

MCH, onderhou jy al die Wette van die Ou Testament ook? Dis n opregte vraag, wil graag weet.

Ada stevens ·

Vraag aan prof Willie Jonker. Haal asb v my een plek in d Woord v God, wat sê ons moet Sondag as rusdag hou? Die Woord sê spesifiek dat ons geen jota of titel verander nie. Verklaar dit v my asb.

MCH ·

Help nie jy karring met die prof nie. Ek het die voorsitter van die dogmakommissie van die NG Kerk n hele studie met bewyse gestuur en dieselfde vraag gevra. Antwoord is my lessenaar is vol, dan maak hy net n afskrif van dit wat hul glo en basta verder. Nie Angus Buchan, Burger van die AGS en vele ander het geantwoord op my Navraag nie. Te besig. Wyle Louis Malherbe het gese, ” Moenie so besig raak met die dinge van die Here dat jy nie by die Here van die dinge uitkom nie”

Nel ·

Jy meen seker jy ‘sou’ hom wou vra, want prof Jonker is reeds in 2006 al oorlede.

Dwars deur die OT en ook tydens Jesus se aardse lewe is die rusdag op die Saterdag
gehou.
Na Sy opstanding is die Sondag as rusdag gehuldig . Dit het deel van die uiterlike onderskeid tussen Jode en Christene gevorm. Daarbenewens het Christene nie meer besny nie, maar eerder gedoop. . Hulle het ook nie meer die pasga gevier nie, maar die nagmaal gebruik.

Ouma ·

Ek onthou toe ons kinders was hoe ons elke aand pinksterdienste bygewoon het. En met Hemelvaart is hierdie pinkstertyd afgesluit. Dit het die hoeksteen van my geloof gevorm.
Vandag hou hierdie Christelike feesdae dae vir bitter min mense egter nog enige waarde in. Dit het ‘n tyd geword wat jou wegneem van jou kerk af en slagting op die paaie veroorsaak. Die ekonomie kry ook ‘n klap met al die vakansiedae. Dus kan hierdie vakansiedae myns insiens eerder weggeneem word. Diegene wat wil, sal nog steeds kerk toe gaan om dit saam met ander gelowiges te gedenk.

Kobus Laufs ·

Vir my klink die opening’s stelling oor Hemelvaart baie liberaal. Christus die seun van God en het vir ons sonde gesterf, nie net gesterf nie maar is ook verneder en het ook gely, hierdie land is gebou op Christelike beginsels en dit is nie okay of alright dat ons Hom nie behoorlike erkenimg gee nie. Miskien is ek te konserwatief maar ek is eerder dit as te liberaal. As jy Christus jou eerste liefde gemaak het, dan gee jy Hom die eer en respek wat Hy verdien, en dan vereenselwig jy Hom nie met miskien is dit nie te sleg as ons dit nie meer erken met n behoorlike Hemelvaarts dag nie. Dalk as ons regering Hom weer erken sal dit beter met die land gaan. Konserwiteit is volgens my een van die die grootste boublokke van n behoorlike fodament en as dit Christenskap insluit, dan wankel n land nie soos hierdie land besig is om te wankel nie. As ons begin praat van volhoubaarheid sou ek se dat as jou fondament nie reg is nie, dan is daar nie volhoubaarheid nie. Gee Christus die eer wat Hom toekom.

Johann ·

Kobus dis geen wonder die sonde groei met so hoë tempo in ons land nie, want as Christus vir ons sonde gesterf het kan ons maar leef soos ons wil ons skuld is dan betaal, as ek jou skuld betaal het hoef jy glad nie meer iets te betaal nie en kan jy sondig soos jy wil. Wat die eet gewoontes aanbetref wil ek net vir Petrus sê slag en eet, GOD het dit rein gemaak. Begin leef volgens Rom 8, in die gees want ons leef huidiglik in die geestes tydperk, of wil julle nog soos klein kindertjies gevoed word met melk?

Koos1 ·

Ek is ‘n kind van God Drie Enige. In die begin tye van Petrus, Markus en Paulus het die jong gemeentes daagliks by mekaar gekom om te bid en leer. Met Jesus se koms is die wet en profete vervul. Van die 10 gebooie is almal, behalwe heilig die sabbatdag, deur Jesus herhaal. Ek glo daar is plek vir eredienste, maar dit moet nie die fondasie vir jou geloof vorm nie. Natuurlik moet ons Hemelvaart gedenk want dit is die basis van ons geloof! Maar hoe om dit gedenk hang nie van ‘n kerk of regering af nie, maar van jou verhouding met God.

pie in the sky ·

Ekt onlangs teruggekeer na hierdie goddelose land na drie jaar in Duitsland (wat sommige Suid-Afrikaners seker sal bestempel) as goddeloosliker …. Tog hou Duitsland as Christenland elke Sondag kerke oop en winkels gesluit. Mens kan slegs by hoofstasies se supermarkte jou nood kruidenierswae gaan koop as jy die hele week te aan die slaap was om dit te onthou. Elke Sondag dawer die klokke in katerale en kerke teen die Moslembedreiging wat Europa nou vol in die gesig staar. Suid Afrika debateer hier steeds hoekom en waarom terwyl meer as n miljoen opruk na n oom se plasie om skielik te gaan bid as die nood nou te naby aan die voordeur kom. As die huise aan die buitewyke begin brand, dan stuur ons gou n Watsapp aan al wat leef en beef en sê “bid gou sonder ophou!” … Hoewel SA n “Christenland” is, is gebed by openbare skole beeindig en nêrens by staatsinstasies word meer gebid of uit die Bybel gelees nie. Dis OK…. God has left the kitchen. Maar kyk waar staan hierdie land nou na 22 jaar – dorre land; godddelose land; daaglikse geweld en baie sonder hart, siel of omgee… Ons het almal nodig om dringend introspeksie te doen oor wat belangrik is, wat nie. Hemelvaart IS BELANGRIK vir elke gelowige want dis waar bewys is dat die dood oorwin kan word; dat harte kan verander …

Eish ·

Die Jode het die Torah, maar nie die Messias nie,
Die Christene het die Messias maar nie die Torah nie.
Die Jode het n leeu verwag, maar n lam sonder gebrek gekry en Hom laat slag.
Die Christene verwag n Lam wat geslag is maar n Leeu wat gaan oordeel is op pad.
Openbaring 22:14 ” Salig is die wat sy gebooie doen, so dat hul reg kan he op die boom van die lewe en kan ingaan deur die poorte van die stad.”

Ai ·

Eish- Nie hierdie Christen nie, ek verwag die Leeu van Juda! Maar jyt dit mooi gestel.

Pieter Spire ·

Mense,

Kom ons wees eerlik met mekaar. Bestaan daar werklik vryheid van geloof?

Ai ·

Nee Pieter, nie vir Christene nie. Dis soos “vryheid van spraak”. Ongelowiges het die vryheid blykbaar om Christene die lelikste name te noem en te verkleineer maar Christene mag nie eens se wat die Bybel oor sekere dinge se nie.

Rusdag/Shabbat ·

MCH….bly om iemand te hoor wat Torah onderhou. Op ons Shabbat spandeer ons tyd met die Woord en in SY TEENWOORDIGHEID, want ons wil, SY Woord beveel ons om SY SHabbat te onderhou. Ons gaan nie dorp toe nie, ons koop en verkoop nie, en werk ook nie. Ons onderhou nie die wereldse feeste nie…kersfees, paasfees ens nie, maar SY APPOINTED FEASTS in Lev 23. Dis n opdrag van die VADER. Hier is so baie Suid Afrikaners wat die pad reeds volg. Ons noem HOM op SY Hebreeuse Name YAHUSHUA en YAHWEH, en gebruik glad nie die kerk Name meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.