Nuuskommentaar: Herbesinning oor die media

(Argieffoto: Mahesh Patel/pixabay)

As die mensdom een ding vanjaar geleer het, is dit dat ’n behoorlike, omvattende herbeoordeling van die media nie langer uitgestel kan word nie, want hoe langer die uitstel, hoe langer gaan die uitskel agterna voortduur.

Dis geen geheim nie dat die meeste media in Suid-Afrika klippe kou, en sommiges het selfs al grafstene opgerig, veral na die impak van Covid-19 behoorlik gevoel is. Maar selfs na ’n ekonomiese herstel, meen sekere mediarolspelers daar gaan steeds ’n inkrimping van minstens 6% in beweegruimte vir die media wees. Selfs die digitale media wat hoop om die meeste voordeel te trek uit die oorlewingspotensiaal wat waarskynlik gaan bestaan, sal moet vinger trek om mededingers met kwaliteit te troef.

En kwaliteit in die media kos gewoonlik geld. ’n Groot knelpunt hier is dat mediagroepe hul direksies ook verjong het, en sommiges se direksies byna weens ’n gebrek aan kundigheid verlam geraak het. In sommige gevalle kan die blaam hiervoor minstens ten dele op verpligte SEB geplaas word. Kommunikasiekunde (in sy wydste konteks) is ongelukkig een van daardie professies wat te veel bestuurders in multifunksionele ondernemings, soos onder andere die staatsdiens, meen ’n maklike werk is (en benewens familiebande, bloot ʼn “vaardigheid” in Engels) vereis.

Die teenoorgestelde is egter die waarheid. Benewens ʼn kundigheid oor die kommunikasie-aspekte soos oorredingskommunikasie, interkulturele kommunikasie, horisontale nie-paternalistiese kommunikasie en vele meer, moet ’n joernalis oor ’n enorme algemene kennis oor ’n magdom onderwerpe beskik, hy of sy moet die skryfkuns onder die knie hê, moet die taal waarin gekommunikeer word behoorlik magtig wees, en vele meer. By tye het ander oorwegings as vaardigheid, kennis en etiek te veel bygedra by die aanstelling van direksies en selfs in sekere kernbelangrike bestuursposte. Dit het saamgeval met ’n verjongingskultuur, onder andere ter wille van besparing, maar ook onder andere ten koste van ’n gewoonlik goed gevestigde korporatiewe geheue.

Nie alleen het dit tot ’n algemene verlaging in standaarde gelei nie, maar op korporatiewe vlak is te dikwels baie dom strategiese foute begaan.  Op die gehaltevlak het dit soms hard gekreun – foute soos om na “seksies” in wette in plaas van na “artikels” te verwys, en organisasies wat “verban” in plaas van “verbied” word, is algemene foute as die teks sonder die nodige taalkennis uit Engels vertaal word.

’n Oudredakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, skryf in sy boek, Koerant, wat pas verskyn het onder meer oor wat hy ’n hartseer besluit noem om Volksblad net ’n digitale koerant te maak.

Vanjaar het honderde joernaliste hul werk verloor, en vryskutjoernaliste het soms meer as die helfte van hul inkomste verloor. Baie kundigheid is ook verlore omdat senior joernaliste wat geïdentifiseer is as geskik om jonger joernaliste touwys te maak, ook op die een of ander manier verlore gegaan het. Vir ’n ware joernalis is dit nie net sy inkomste wat geraak word nie, maar sy trots op sy produkte wat hy gedruk ontbeer. Dis omtrent soos om sy siel en wese te verwyder.

Daar is ook verskillende vereistes vir verskillende soorte pennevrug, en weer omstandigheidsvariasies. ’n Berig sal met aanbieding en inhoud verskil van ’n artikel. ’n Rubriek (die Engelse column) verskil weer van ’n hoofartikel. Boonop verander die “voorvereistes” deurlopend, en die toon word op ’n internasionale vlak deur die toonaangewende kundiges aangegee. Sekerlik die behendigste en veelsydigste in die buiteland is die Franse skrywer wat rubrieke in Nederlands skryf, Sylvain Ephimenco, die Amerikaners Patric J. Buchanan en Michael Barone. Buchanan het by geleentheid erken dat hy elke dag die rubrieke van minstens sewe ander lees om seker te wees hy is op koers.

Dit is nie net die lesers wat ontevrede raak oor die invloed van fopnuus, regeringspropaganda, ontkenners, samesweerders en produkte van verdomming nie, maar verslaggewers wat moeite gedoen het om sy of haar feite behoorlik agtermekaar te kry (bv. dit eers deur die kundige bron te laat nagaan) en dan vreeslik deur ʼn leser wat heel duidelik niks van die onderwerp weet nie, met vitrioel besmeer te laat word nie. Dit hou uiteraard ’n bedreiging vir persvryheid in deurdat ’n publikasie sat kan word om elke nou en dan in ’n woordestryd oor twak betrokke te moet raak. (As eie riglyn hou ek by wat my kerk glo, soos dat die aarde rond is.)

As ’n algemene reël is dit beter dat ’n nuuskommentaarskrywer by ’n stel beginsels hou eerder as ’n bepaalde politieke party. Hy kan natuurlik privaat steun wie hy wil, maar darem in gedagte hou dat leserskritiek gewoonlik oorweldigende uit ’n bepaalde politieke blok kom, en moet dus nie verwar word met hoeveel steun of teenkanting vanuit bepaalde sienswyses voortspruit nie.

Die kortverhale en vervolgstories wat nou besig is om sekere koerantgroepe se nuuswebwerwe te oorstroom mag uit lesersreaksies beoordeel, veel gewilder wees as nuus, veral nuus met diepgang. Hier is egter ’n magdom bemarking- en gedragsbeginsels wat die besluitnemers in gedagte moet hou, bv. wat die adverteerders verkies. ’n Politieke party sal moeiliker by ’n instansie adverteer wat ’n “vlak” inhoud bied aan mense wat in die reël hulle nie aan politiek steur nie. Oor die algemeen het mense met minstens ’n redelike opvoedkundige peil meer koopkrag as iemand wat glad nie in nuus belangstel nie. Die beginsel van assosiasie met inhoud trek in alle waarskynlikheid meer advertensie-nabootsers as lesernabootsers (“To be better than the Joneses”).

Mediamengsel-advertensies wat via spesialisagentskappe bekom word, kan as moontlike oplossing verkry word eerder as bloot ʼn oop beleid waar die werwers enige media kan nader, maar dan in effek vir meer as een (gewoonlik dikbek) baas.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

volksblad is maar ongelukkig deel van daai nuus waaroor herbesin moet word.

Fedup ·

Tell the truth and stay with it, no matter what.
Don’t be condescending.

Saartjie ·

Ek het die anderdag ‘n tweet gesien waar Netwerk24 se Pauli van Wyk hand om die lyf saam met Julius Malema poseer vir ‘n foto toe hy hulle kantore besoek het. Ek het daar en dan Huisgenoot, Beeld en enige ander Netwerk24 produk gekanselleer. Maroela Media bly die beste!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.