Nuuskommentaar: Het Brasilië SA se Fifa-lesse ter harte geneem?

world-cup-2014-600x337Hoe onthou Suid-Afrikaners die vorige Sokkerwêreldbeker wat in Suid-Afrika plaasgevind het?

Sommiges sal die euforie onthou – die ontsnapping van die harde werklikhede van ‘n misdaadgedrewe land. Onder die de facto tussentydse regering van Fifa met pres. Sep Blatter aan die stuur het Suid-Afrikaners kortstondig ‘n land beleef waar byna alles weer skynbaar behoorlik gefunksioneer het.

Ander onthou die sokker, en dat Suid-Afrika se Bafana Bafana kortstondig uitpresteer het, maar nie genoegsaam om vele gasheerlande dit na te doen wat op tuisbodem die trofee omhoog kon hou nie.

Ander onthou die post-euforiese depressie toe die werklikhede van die land na die toernooi ingesink het. Vakbonde wat mooi na die regering geluister het en hul stakingseisoen tot na die sokker uitgestel het, het hulle, anders as dié wat die komende toernooi as bykomende hefboom gebruik het, in die regering se toe hand vasgeloop. Onder meer die onderwysers, waarvan baie toe die leerlinge geoffer het.

Hoeveel van die tydelike beterskap was werklik? Veral mense wat danksy die internet in buitelandse koerante moes lees van wrede aanvalle, ook op buitelandse toeriste, in hul eie (gasheer)-stede het gewonder.

Of die irritasie met die kits-sokkerskrywers wat skielik opgeduik het, maar behalwe entoesiasme, niks van die werklikheid op die veld weergegee het nie.

Die uwe self het geleer brul. Nie vir die sokker nie maar vir die verdwaalde knaap of twee wat steeds elke wan en dan sy f*&^zêla ontdek en dit luidkeels in die woongebied aanhef – veral tydens die Sondagmiddagslapie of selfs tydens die kerkdiens.

Hoe gaan sake in Brasilië verloop?

Benewens die Kaap na Rio-wedvaarte, en dat beide Brasilië en Suid-Afrika lede van Brics is, is daar enorme verskille tussen die twee lande.
Brasilië is bykans eendragtig sokkermal, waarskynlik selfs meer as in ander Latyns-Amerikaanse lande waar sokkerkoors al groot moleste tot gevolg gehad het.

Dié sokkermalligheid word goed gedemonstreer in die sogenaamde sokkeroorlog wat in 1969 tussen twee buurlande, El Salvador en Honduras, uitgebreek het. Daar was reeds spanning tussen die twee lande, toe hulle in twee kwalifiserende wedstryde vir die eindtoernooi in Meksiko teen mekaar te staan gekom het. Sake was op breekpunt toe elkeen sy tuiswedstryd gewen het, en die derde, beslissende wedstryd toe in Meksiko gespeel is. El Salvador het gewen, en het kort na die wedstryd Honduras ingeval. Die oorlog het net ‘n 100 uur geduur voor die Organisasie vir Amerikaanse State ‘n skietstilstand teweeg gebring het – maar nie voor beide lande meer as 2 000 ongevalle gely het nie. Enorme skade is aan infrastruktuur aangerig.

Brasilië is ‘n ernstige aanspraakmaker op die 2014-troon, hoewel daar ‘n vreemde pessimisme by baie Brasiliane heers. Onder die faktore wat hiertoe bydra is dat die vorige keer toe die land die gasheer was, die land in die eindstryd van 1950 teen die “geringe” buurland, Uruguay in die hek geduik het. Dit was ‘n vernederende nasionale ramp.

Brasilië het ‘n geraamde bevolking van ongeveer 200 miljoen. Altesaam 17 stede het bevolkings van meer as ‘n miljoen inwoners. Ses van hierdie stede het meer as 2 miljoen inwoners.

São Paulo, waar die openingswedstryd vandag plaasvind, het meer as 11 miljoen inwoners. Rio de Janeiro het meer as ses miljoen inwoners. Nie eens al hierdie makro-stede kon as gasheerstede optree nie omdat twee kleiner stede ook gasheerstatus gekry het.

Die bouwerk aan die stadions en ander infrastruktuur vir die toernooi, het net soos in Suid-Afrika nie altyd so flink verloop nie. Minstens agt konstruksiewerkers aan die stadions het omgekom – die laaste kort voor die toernooi tydens die afronding aan die stadion vir die openingswedstryd. Onder die verwante sterftes tel drie werkers wat vroeër die week dood is tydens die konstruksie van ‘n monospoor. ‘n Lid van die publiek is na ‘n sokkerwedstryd dood toe ontevrede toeskouers toiletbakke uit die stadion se ablusiegeriewe geruk, en ander toeskouers buite die stadion daarmee bestook het. Die oorledene het as’t ware van ‘n pot-hou omgekom.

Die grootste uitdagings was waarskynlik aan die bouwerk aan die stadion in die Amasonestad, Manaus. Groot dele van die konstruksie is van Frankryk ingevoer, en moes in die Amasonerivier op verskeep word tot naby die stad. Tot die aanbring van die voorgeskrewe stadionstoele was problematies, omdat die stoele in die oerwoudhitte sou smelt. Om te keer dat die stadion na die toernooi ‘n wit olifant word, is dit so ontwerp dat dit vir alternatiewe gebruike ingeruim kan word, onder meer ‘n tronk.

In die aanloop tot die toernooi moes Brasilië plan maak met verskeie misdaadverwante probleme – soos dwelmbendes en bendes wat met die ghetto’s verbind word. Die veiligheidsmagte het reeds ‘n paar jaar gelede hard begin toeslaan – so erg dat dit weersin ontlok het. En van die bendes het terugbaklei. Korrupsie, wat endemies in die regering is, is aangepak, maar het ook ‘n mate van verdeeldheid tot gevolg gehad. Brasilië beklee nou die 72ste plek op die korrupsiepersepsie-indeks, dieselfde posisie as Suid-Afrika. Ook die vorige jaar het die twee lande gelyk gelê, naamlik 69ste, maar voor dit het Suid-Afrika flink agteruit geboer, en Brasilië sy posisie verbeter.

Suid-Afrika beklee, danksy ‘n misverstand deur Verslaggewers Sonder Grense dat pres. Jacob Zuma weier om die sogenaamde snoerwet te teken, ‘n betreklik goeie 42ste posisie op die presvryheidsindeks, terwyl Brasilië die 111de plek beklee.

Vir die eerste keer in baie jare kon Brasilië nie deur sokkerkoors verenig word nie, maar dit mag wees dat dit gou sal verander.

Maar as Brasilië nie as die wenner uit die stryd tree nie, gaan die regering sy hande vol hê om sake gestabiliseer te hou.

Veel tyd is daar nie, want in 2016 is Rio de Janeiro die gasheerstad vir die 2016 Olimpiese Spele. Weer sal die regering sy hand baie diep in sy sak moet steek om gereed te wees vir hierdie uithanggeleentheid, en Brasilië moet intussen ook die probleme met sy sosio-ekonomiese ongelykheid uitstryk.

Vir die volgende paar weke – so verkondig die buitelandse media – staan Brasilië egter onder Fifa se pantoffelregering. Oor ‘n paar weke sal almal weet of Brasilië daarby gebaat het of nie.

En terloops – Brasilië laat nie die fuffuzela’s toe nie. ‘n Spesiale ratel sal vir die geraas sorg, maar daar is voorskrifte dat dit nie skadelike desibels mag bereik nie. Daardie les het Fifa én Brasilië as gevolg van Suid-Afrika geleer, en is daar darem een minder potensiële oorsaak vir ‘n Latyns-Amerikaanse sokkeroorlog.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae