Nuuskommentaar: Het China werklik Korans gekonfiskeer?

As ’n land ’n minderheidsbevolking sou gelas om hul Bybels of Korans in te lewer vir konfiskasie, of anders erge strawwe in die gesig te staar, sal ’n polemiek van “epidermiese” proporsies verwag word. Maar toe berig is dat dit juis is wat die Oeigoere (Eng: Uyghurs, Ned: Oeigoeren) van China, wat hul Korans moet inhandig, te beurt geval het, was daar skynbaar weinig reaksie. Of was dit in die eerste plek fopnuus. Herman Toerien het gaan krap en dit is duidelik dat daar ’n byenes is.

Gister het die Nederlandse gehaltekoerant Trouw ’n taamlik omvattende artikel gepubliseer oor China wat die Oeigoerse bevolking van die provinsie Xinjiang, opdrag gegee het om hul Korans, gebedsmatjies, en ander religieuse voorwerpe in te handig. Erge straf is die voorland van diegene wat nie gehoorsaam nie. Radio Free Asia is as bron vir die jongste verwikkelinge gebruik. Die stasie, wat deels met Amerikaanse hulp bestaan, spesialiseer volgens aansprake op objektiewe nuus.

Teen vanoggend het koerante soos Metro en Daily Mail met berigte gevolg, maar Radio Free Asia is telkemale vir die kern van die nuus gekrediteer.

Maar is dit die waarheid, fopnuus of doodgewone propaganda? ’n Mens het immers ’n koor van protes uit Moslemlande, lande met groot Moslembevolkings en Moslemorganisasies verwag. Selfs protes van internasionale menseregte-organisasies sou te wagte wees.

Selfs die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) het in sy jongste nuusbrief hieroor geswyg terwyl die lot van verskeie ander volke sonder selfregerende tuislande uitgelig is.

’n Soektog deur Google lewer egter geen leidrade op nie. Interessant, dit blyk dat China ook ’n groot drukker en uitvoerder van die Koran is.

Wat egter wel duidelik is, is dat die Chinese owerheid al jare lank teen die Oeigoere optree. Dit volg na separatistiese geweld van Oeigoerse herkoms, tot in die hartjie van Beijing. Op die oog af is die optredes teen die Oeigoere dus in wese teen enige separatistiese ambisies gemik, en die duidelikste manifestasie daarvan is die Oeigoere se aanhang van die Islam. Die afgelope aantal maande is berig dat mans nie “ongewoon” lang baarde mag dra nie, vroue is sterk ontmoedig om sluiers te dra, en die gee van Islamitiese name is selfs verbied.

En nou die berig oor die Koran. In die konteks van optrede waaroor wel deeglik en wyd berig is, lyk dit heel waarskynlik, hoewel baie vrae nog bly hang. China erken 55 minderheidsgroepe amptelik, wat saam sowat 8,84 % van die bevolking uitmaak. Die bekendstes is die Tibettane, die Oeigoere en die Mongole. Daar is ook verskeie nie-erkende minderhede. Die meerderheid staan as Han-Chinese bekend.

In hul hartland, Xinjiang, is ’n beraamde Moslembevolking van 23 miljoen, wat onwaarskynlik lyk omdat die outonome provinsie se totale bevolking in 2010 op net meer as 21 miljoen gestel is. Die Oeigoere maak 45 % van die bevolking uit, en die Han-Chinese 40 %. ’n Ander beduidende groep is die Kasakstane wat 6,5 % van die bevolking uitmaak. Dit lyk baie waarskynlik dat die Moslems die grootste deel van hierdie bevolking uitmaak.

Hoewel optrede teen die Oeigoere gemik is, lyk dit of ook reeds op redelike skaal teen die Kasakstane opgetree is, en dat van hulle, veral na besoeke aan naasliggende Kasakstan, redelike tye agter tralies beland het.

Die Oeigoere maak deel uit van die wêreld se Turkmeense bevolking, wat onder meer in lande soos Kasakstan, Oesbekistan en Turkmenistan meerderhede vorm.

Die beweging wat hom tot terreur wend in sy afskeidingstryd teen China staan as die Oos-Turkmenistan Onafhanklikheidsbeweging bekend. In reaksie op die terreur het China formeel in 1996 sy “slaan hard-strategie” van stapel gestuur en in 2014 vyf mense weens terreurdade ter dood veroordeel.

Die etniese verwantskap met die Turkmeense wêreldbevolking laat voortdurend die soeklig val op betrokkenheid van onder meer Isis, Al Kaïda, die Taliban en ’n verskeidenheid ander bewegings.

Dit is steeds nie duidelik of die nuus oor die konfiskasie van Korans en ander religieuse voorwerpe fopnuus of werklik is nie.

Of is daar ’n ander rede vir die groot swye oor wat gebeur het?

Die aanloop tot die Katalaanse referendum oor onafhanklikheid, asook van die Koerde van Irak se Koerdistan, het ten spyte daarvan dat dit in wese saamgeval het, taamlik min nuusdekking geniet. Eers toe die Spaanse regering met geweld op die Katalaanse verkiesing toeslaan, is behoorlik van die gebeure kennis geneem. Dit was baie duidelik dat talle lande en regerings taamlik met ’n bek vol tande gesit het omdat magspolitiek en moraliteitspolitiek nie so lekker saamloop nie.

Duidelikheid oor wat werklik in China gebeur het, sal weldra aan die lig kom – as ondersoekende joernaliste met hulpbronne bly delf in die storie.

 

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Sal nie verbaas wees as dit die waarheid is nie Herman. China het ‘n rekord van hierdie tipe optrede – dink maar aan hulle onderdrukking van Falun-gong, arrestasie van baie van hierdie “afvalliges” en die “verdwyning” van baie van hierdie gevangenes. Voeg daarby die gerugte oor wat met die gevangenes wat verdwyn gedoen word en dit is nie so onwaarskynlik nie. Meeste lande is egter al vasgevang in die greep van die Chinese beleggings en geld en sal hulle ogies styf toeknyp.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.