Nuuskommentaar: Het die Afrikaner lesse uit Sri Lanka te leer?

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Hoe sou die Afrikanerdom daaruit gesien het as die geskiedenis net effens anders verloop het? Seker die interessantste voorbeelde om leidrade te kry is die Burghers van Sri Lanka.

Met die onlangse besoek van Sri Lanka se krieketspan aan Suid-Afrika, het een naam besonder opgeval, naamlik Jeffrey Vandersay. Ons is gewoond aan vanne van Portugese herkoms in die Sri Lankaanse span, soos Mendez, De Silva en Perreira. Maar wat van ’n van van skynbaar Nederlandse herkoms met ’n Engelse voornaam?

Boonop is sy volle name Jeffrey Dexter Francis Vandersay. Maar in werklikheid behoort die naam nie so uit te staan nie.

Sri Lanka se bevolkingsamestelling word gegee as oorweldigend Singalees (ongeveer 75% van die bevolking), die Tamils (net meer as 11% van die bevolking), die Moors (net minder as 10%), en die Bhurgers (minder as 1%).

Daar is nog ander klein groepe wat onder andere die afstammelinge van die oorspronklike inwoners is, dit wil sê wat die eiland gedurende die laaste ystydperk bereik het toe dit weens die lae seevlak aaneenlopend met Indië was, en moontlik selfs daarvoor. Boonop was die twee landmassas tot enkele eeue gelede deur die misterieuse Adamsbrug verbind.

Die interessantste twee groepe is egter seker die Moors en Burghers. Die name van die twee groepe verklap onverwags baie van hul herkoms. Die Moors, hoewel baie heterogeen, is meestal Moslem, terwyl die Singalese meestal Boeddhiste is, en die Tamils Hindoes. Hul naam hou verband met die More van Noord-Afrika wat onder meer Spanje lank beset het, en is deels die afstammelinge van ou Arabiese seehandelaars wat hulle aan die kus van Sri Lanka gevestig het. Hul getalle is deur Moslems van Pakistan en Indië, asook ander Moslemlande aangevul. Baie praat egter Tamil.

Die benaming Burgher is inderdaad verwysend na die Afrikaanse woord burger, en ’n oorblyfsel van die tydperk waaarin Nederland in die 17de eeu die kusgebiede van Sri Lanka by die Portugese afgeneem het, en beheer behou het tot 1796, toe die Nederlandse gebiede van Sri Lanka deur Brittanje afgeneem is.

Die Burghers was afstammelinge van die Nederlandse bevolking, wat met Sri Lankane vermeng het. Hulle is Christene, en praat nou Engels as voertaal, maar is ook Singalees en/of Tamil magtig. Streng gesproke is daar ook ’n groep, bekend as die Portugese Burghers, wat meestal Rooms-Katoliek is.

Vandersay (oorspronklik Van der Say) maak deel uit van die Nederlandse Burghers, wat ten spyte van die verengelsing gesteld bly op die naam Dutch Burgher wat onder meer ook in die naam van ʼn groot kultuurbeweging, die Dutch Burgher Union asook die beweging se eie joernaal (in Engels), opgeneem is.

Die Burghers het reeds in die koloniale tyd onder die Britte ’n vorm van selfregering gekry, en word ook in moderne wetgewing erken wat hulle, na berig word, eintlik verplig om die Europese vanne te behou. Hulle is toe in eie woongebiede saamgetrek waar hulle ’n unieke boustyl ontwikkel het.

Hulle het lank onder veral Engelse beheer baie van die topposte in onder meer die staatsdiens beklee, maar sedert die heersende Singalese dit begin oorneem het, hulle hoofsaaklik in die handel en ander professies begeef. Baie het die land na onder meer Kanada, Australië en Nieu-Seeland verlaat en dikwels daar hul identiteit behou. Daar word bereken dat van die sowat 100 000 Bhurgers wêreldwyd, ongeveer 40 000 hulle nog in Sri Lanka bevind.

Onder die Burghers van Nederlands-Vlaamse herkoms is daar baie bekende “Afrikaanse” vanne (hoewel nie noodwendig van Nederlandse en Vlaamse herkoms nie), soos Nell, Meyer, Albrecht, Conradi, De la Harpe, De Bruin, De Vos en vele meer.

Vandersay word egter nie in die opspoorbare lyste van Burgher-vanne van Nederlandse herkoms opgeneem nie, waarskynlik omdat die van Van der Say eers ’n draai deur Brittanje gemaak en verengels het voor die van in Sri Lanka gevestig geraak het. In een van die oudste verwysings na die van in Sri Lanka het ene Paul Brodie in die jare tussen 1841 en 1844 in die St. Paul-kerk in Kandy met Elisabeth Vandersay in die huwelik getree. (Die kerk is Anglikaans.) Vir die interessantheid, in 2013 was die predikant ’n persoon met die naam van Neil van Dort.

Jeffrey Vandersay laat egter geen twyfel oor sy Burgherskap nie. In ’n onderhoud met ’n koerant het hy verklaar dat hy ’n gebore  Burgher is. Hy het ook krieket vir die Burgher Recreational Club, maar interessant ook vir die Moors Sport Club en die Sinhalese Sport Club, gespeel. Sy ideaal is om eendag toetskrieket vir Sri Lanka te speel. Daar is nie aanduidings van diskriminasie teen Vandersay nie, en in die media het hy die “status” van ’n “held in afwagting” ten spyte daarvan dat ’n wisselvallige vorm van briljant tot vrot en ’n langtermynbesering sy opgang strem. Hy het ook eers die span na Suid-Afrika gehaal nadat die snelbouler, Lasith Malinga, weens ’n besering onttrek het.

Ook uit die joernaal van die Dutch Burgher Union blyk dit dat moeite gedoen word om Burgher-individue wat presteer, soos in die polisiediens, se prestasies in Sri Lankaanse verband, uit te lig. Baie was ook ywerige sportmanne, en heelwat se name word met hul vertonings in “rugga” uitgewys.

Ten spyte van heelwat ooreenkomste in die geskiedenis van Suid-Afrika en Sri Lanka, is daar ook reuseverskille. Beskawing op Sri Lanka met enorme stede waarvan die bouvalle gevind is, en indrukwekkende waterwerke, oeroue dokumentasie en bykans wêreldwye kontak getuig van indrukwekkende beskawings wat tot voor Christus terugdateer.

Wat die huidige betref, is die politieke omgewing waarbinne demokrasie en demokratiese regte kan ontwikkel ook aansienlik anders as in Suid-Afrika. Waar Suid-Afrika die 37ste posisie op die demokrasie-indeks beklee, beklee Sri Lanka die 69ste posisie. Beide word as gebrekkige demokrasieë geklassifiseer.

Boonop beklee Sri Lanka die 141ste posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks, teenoor Suid-Afrika wat die 39ste plek beklee.

Teen dié agtergrond is dit te wagte dat die bestuur van die Dutch Burgher Union stellig nie te veel aandag by die oorweldigende Singalese regering wil trek deur bande aan te knoop met Afrikaanse organisasies nie. Nié na Sri Lanka ’n twintig jaar lange burgeroorlog teen die Tamils om meer regte sonder veel oplossings onderdruk het nie.

En sonder gestruktureerde uitreiking is dit ook nie moontlik om die potensiaal in nouer bande te bepaal nie.

En dalk word Vandersay nog, soos die legendariese Muttiah Muralitharan, ’n “eensame” Tamil in die Singalees-oorheersende span, ook ’n draaiboulsensasie. Die verwagtinge is groot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

Dit sal my niks verbaas as die vandersay se oorsprong lê in die Nederlandse Van der Zee,wat ook as Vanderzee geskryf word en beteken afkomstig of wonende by die see.Die Engelse het mos maar ‘n manier om vanne te verengels.Soms as een vir jou ‘Baie dankie’ sê klink dit baie keer na ‘Buy a donkey’.

JC ·

Hehe, lag ek nou, oulik Frans C. Kan jy nou meer; “Buy a donkey” hehe!

Arie ·

Gedink die naam kon oorspronklike ook van der Zaai gewees het.

johann ·

Baie interessant. Het self gewonder oor die van. Wonder of daar boere wat krygsgevangenis was wat agter gebly het en of van die manne die plaaslike dames net aantreklik gevind het.

Piet Snot ·

Johann, daar het so 20 agtergebly, maar nie oor die liefde nie. Hulle het bloot geweier om trou te sweer aan die kroon (‘n repatriasievereiste). Een van dié, Henry Engelbrecht, het later die eerste hoofwildbewaarder van die wêreldklas Yala Nasionale Park geword (die Krugerwildtuin van Sri Lanka).
Uiteraard het hy mettertyd met ‘n plaaslike vrou getrou, toe dit blyk dat hy nie sou kon terugkeer huistoe nie, en sy afstammelinge woon nou nog daar.
Oor die ander manne wat agtergebly het, kon ek nie verder detail opspoor ie. Ek dink hulle het stuk-stuk teruggekeer.
Die boerebegraafplaas in Diyatalawa bestaan nie meer nie – ek wou dit in Desember gaan soek, maar dit was onmoontlik om te vind.

JC ·

Baie, baie interessant. Dankie Herman:-) Indien ‘n volkie (die “burghers”) van maar ‘n raps oor die 100,000 hul taal, kultuur en identiteit as belangrik, waardig van beskerming en betekenisvol kan ag, wat nog te se van ons + – 2, 700-000 miljoen Afrikaners net alleen in Suid-Afrika? Nee wat, ons moet ‘n aggressiewe houding inneem wanneer dit by ons selfbeskikking kom en klaar-niks minder sal werk nie. Ek dink wat ons moet doen (want ons is beslis in ‘n briljante en bevoorregte posisie agv tegnologiese vaardighede en ons teenwoordigheid op die wereldwye web om so te kan doen, meer as ander volke) is om ons saak internasionaal op die spits te dryf en so druk op die ANC te plaas. Dit sal dan bykomend daartoe wees dat ons eintlik lank reeds besef het; en lank reeds dienooreenkomstig optree; dat ons OP ONS EIE IS IN DIE GEVEG! Terloops, ek merk op dat daar baie fakkeldraers vir ons kultuur en taal oorsee is soos bv. Chris Karsten, Hilda Smits en Ilse van Staden om maar net enkeles te noem.

Genealoog Erdvark ·

Geagte mnr Toerien, BAIE dankie vir hierdie uiters interessante artikel. Ons varkerasies moedig altyd ander Suid-Afrikaanse soogdiere aan om ‘n genealogiese studie van hul voorgeslagte te maak. Eendag mag jy ook deel van jou nakomelinge se voorgeslagte wees.
Kombineer die familiegeskiedenis met Suid-Afrikaanse en wêreld geskiedenis, geologie en DNS-studies en siedaar: “WYSHEID: Deur vooruit te kyk maar die verlede te ignoreer, sien ons nie die toekoms nie. [Vry vertaal]” – Chen Ziang 661 – 702 n.C.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.