Nuuskommentaar: Het Gordhan ʼn politieke vinger in Zuma se oog gedruk?

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Anders as wat kenners verwag het, het min. Pravin Gordhan veral in die tweede deel van sy midtermynbegroting nie van politiek weggeskram nie en op die oog af die vinger diep in pres. Zuma se oog gedruk.

 Vooraf is gewonder of iets van die onmin tussen pres. Jacob Zuma en minister Gordhan in die mediumtermynbegroting sou blyk. Kenners het egter gemeen dit sal nie Gordhan se styl wees om politiek van begrotingsredes te maak nie en nog minder om “klein” byltjies te slyp.

Kort voor die einde van die toespraak het Gordhan egter gesê staatsfondse is nie daar om na mense se eie sakke gekanaliseer te word nie. Min lede van die publiek sou hierdie opmerking op enige ander manier vertolk as dat Gordhan die vinger hard in Zuma se oog gedruk het.

Nie dat dit bewys kan word nie – die probleem is immers wydlopend in die staatsektor en die beweerde staatskaping handel in ʼn groot mate hieroor.

Die toespraak het skerp in die konteks van politiek en meer spesifiek, politiek van onmin gestaan, soos blyk daaruit dat die polisie tydens die toespraak skokgranate moes gebruik om oproeriges buite die parlement tot bedaring te probeer bring.

Gordhan se toespraak kon grootliks in twee dele verdeel word. Die eerste was baie tegnokraties, waar die harde ekonomiese werklikheid so hard geskets is dat dit eintlik moeilik was om entoesiasties te klink in sy oproep dat almal soos in ʼn trop moet saamwerk om die prooi (geïntegreerde en getransformeerde ekonomiese groei) te vang.

In die proses het hy sy ideologiese net wyd gespan en onder meer gewys op die fondse wat hy moet vind vir die nasionale gesondheidsplan, grondhervorming en verskeie ander, meestal omstrede, projekte.

Trouens, in die eerste deel het hy kwalik na probleme soos korrupsie verwys en toe dit wel aan die beurt gekom het, het hy dit terloops in ʼn sektorale verband (hoofsaaklik buite die staatsektor) genoem.

Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

In die tweede helfte van die toespraak het hy heelwat minder tegnokraties gepraat en Gordhan het dit duidelik gemaak dat die ekonomiese doelwitte van die land slegs deur politieke en ekonomiese stappe bereik kan word. Hy het korrupsie hierna verskeie kere aan die bod geplaas en selfs ʼn zero-verdraagsaamheid daaroor beloof, tot die vinger oënskynlik in Zuma se oog gedruk is.

Vanuit ʼn ekonomiese oogpunt het Gordhan dit gestel dat hy sy bes onder die omstandighede gedoen het en dat ʼn moontlike afgeradering nie voor hierdie toespraak se deur gelê kan word nie.

Soos vooraf gesê is, die sukses van die planne gaan afhang van effektiewe implementasie en deur weg te doen met onbeholpenheid in die staatsektor. Hieroor is verskeie beloftes gemaak, wat onder meer ʼn stelsel waardeur die doeltreffendheid van al die munisipaliteite se uitgawes maklik vergelyk kan word, insluit. Dit sal terselfdertyd deursigtigheid bevorder.

Hy het ook ʼn beroep op owerheidsinstellings gedoen om leweransiers dadelik en ten volle te betaal. Wanbetaling deur die owerheid beduiwel die verhouding met die staat.

Gordhan het verwys na die verskynsel van gemeenskapswoede, met ʼn duidelike vingerwysing na die studente-onluste. Hoewel bykomende fondse vir beurse bewillig word, is dit duidelik dat die eise vir gratis onderrig vir almal nie nou naastenby in die oog is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johann ·

Gordhan is nog steeds aan die Ekonomie, wat die ANC geskep het, uitgelewer om die resultate te lewer. Die kaders. Nou klink dit baie pragtig geskilder soos dit ‘n goeie politikus be-aam, maar kom ons kyk komende jaar waar Dawid die wortels gegrawe het. Dit mag dalk wees soos om ekonomiese groei ‘n paar maande gelede as ‘n verwagte 0,90% te projekteer, en dan nou te erken, dit gaan maar 0,50% wees. Dit sal maar dinges-dinges die bult uit gaan. Dalk nie eens die bult uit nie, maar sommer so op die gelyk pad.

Hendrik ·

die groeikoers gaan baie vinnig. miskien nog teen Desember sal dit n 0 wees. my menig hieroor het ek onder meneer Gordhan se toespaak ook op maroela, gegee

Leendert ·

Kom ek vra vir Gordham: “Sing jy van blomme, of sing jy van geld? ……. Nee, nee, nooit nie van geld.”

Alida ·

Mooi so Pravin. Druk al 10 jou vingers in sy oe! Mooi artikel Herman.

JR ·

Alida. Wens dit was moontlik. Maar Nr 1 het nie oe nie. Hy merk nie op hoe alles om hom uitmekaar val nie. Staan blind teenoor realiteit in ons pragtige land. Eerder iets soos warm klap teen oor. Dalk luister hy.

Alida ·

JR, ek dink hulle moet ou Zuma tussen die spul mal studente loslaat dan sal hy sien wat sy sogenaamde demokrasie beteken. Hy se mos dis demokrasie

Jakobus ·

Kom vertel my hoe draai mens die ekonomie en die kaders se koppe binne een jaar om. Daar moet eers baie water in die see loop voor die effekte begin posvat, dalk vyf jaar en langer. Verandering in poste is meestal die antwoord, daardie mense wat in jou waardes en rigting wat jy voorstaan, glo.

Dis een ding om mens positief te kry soos wat Gordhan probeer doen het om mense te laat inkoop en agter hom verenig te kry, maar wat maak jy as die realiteit en die elemente teen jou is?

Of was Gorhan net ‘n opportunis?

humor ·

Dit sal nie help om die vinger in sy oe te druk nie. Die geld moet uit gegrawe word waar hy dit deurgetrek het.

jaco ·

ongelukkig moet alles eers HEELTEMAL in n gemors wees, soos in Zambië in 1990, voor die liberation movement wat jare lank die land swak regeer het, oortuigend uitgestem kan word. En daarna vat dit weer dekades om alles reg te kry.

humor ·

Maroela ek sien julle het my hierdie keer reg verstaan. Ek het regtig bedoel daar moet by Nkandla gegrawe word.

neelsie ·

Demokrasie het plek gemaak vir Zuma-krasie.
Die outokraat ,Zuma, het reeds die land verarm tot n 4e wereld-land.
Hy sal sorg dat sy sakke vol kom,so gou as moontlik,ongeag die land en sy mense!

Schalk ·

Waar gaan die belasting betalers wat nou geteiken word heen vlug. Ek is seker die druk van die ekonomie is op almal en iewers gaan die belasting been leeg gesuig word. Die skaal van mense wat nie belasting pligtig is nie is al verskeie kere gelig en dan kantel die skaal weer terug na die belasting pligtiges.
Die staat moet plan maak met al die mense wat nie werklik belasting betaal nie. Maak VAT 20%. vernaam mense wat in die kontantbedryf is soos taxi eienaars gaan dan bydra tot die ekonomie.

Anoniem ·

bobbo, ja Zuma het miskien aan die slaap geraak en voordat hy aan die slaap geraak het het hy ge he he he. Jy weet mos hy dink alles is ‘n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.