Nuuskommentaar: Het Gordhan tyd gekoop met radikale ekonomiese ontwikkeling vir inklusiewe groei?

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die begrip radikale ekonomiese bemagtiging is onlangs deur pres. Jacob Zuma in sy staatsrede gebruik en het in die wyse waarop hy dit ingespan het, ’n slegte reukie opgedoen. Nou staan dit ook sentraal in die begroting, maar sommige ekonome wys daarop dat dit veel meer rasioneel aangebied is. Maar het dit nie tog maar ’n bykomende kombers van ongemaklikheid oor die begroting getrek nie?

Die hoofopskrif van die tesourie se gids vir Jan Alleman oor die jongste begroting lui: Radikale ekonomiese ontwikkeling vir inklusiewe groei. Die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, het dus nie net musiek in die parlement gemaak om pres. Jacob Zuma se ore te streel nie. Daar word  bedoel om dit ’n werklikheid te maak.

Die vraag is of die begroting werklik so gestruktureer is dat so iets ’n werklikheid kan word.

Die hoofprobleem is egter dat toe Zuma onlangs met sy staatsrede hiermee vorendag gekom het, het hy dit só aangebied dat ontleders feitlik voor die voet daarmee fout gevind het. Boonop is die destydse aankondiging vermeng met groot kluitjies oor die rassesamestelling en herkoms van grondbesit in die land, die werklike aandeel van swart mense in die ekonomie, en ’n totale onbegrip van watter faktore die ekonomie laat groei.

Om bloot by een ras te vat en vir ’n ander te gee beteken immers nie groei nie. Trouens, as dit uit die hande van gesoute en bedrewe entrepreneurs en beleggers geneem word, en bloot uitgedeel word, kry die groeipotensiaal ’n ernstige knou. Dis immers, volgens baie ontleders in die VSA, een van die hoofredes hoekom Donald Trump die Amerikaanse presidentsverkiesing kon wen – oudpres. Barack Obama het te hard probeer om van die VSA ’n semi-sosialistiese staat te maak, en so die aansporings vir diegene wat meer werk kon skep, gesmoor.

Ryk van Niekerk, redakteur van Moneyweb, meen die president se woorde was provokatief, terwyl Gordhan rasioneel, logies en gesaghebbend geklink het. Hy wys daarop dat Gordhan almal, ook die wittes, ekonomies wil ontwikkel.

Die probleem is dat Zuma ’n swak president is wat soos ’n neet bly kleef, en Gordhan, so knap soos hy mag wees, aan Zuma se genade uitgelewer is en enige dag die trekpas kan kry. Uiteindelik kan Zuma se weergawe van die radikale ekonomiese groei bly staan, en deur ’n Hansie-my-kneg-opvolger praktyk toe geneem word.

In Suid-Afrika slurp die staat sowat 30% van die BBP op, en smoor die ekonomie. Daadwerklike stappe om dit terug te werk sou veel meer bemoedigend wees as om ’n omstrede term soos radikale ekonomiese transformasie in te span.

Die land sal asem ophou om te sien of die superbelasting nie ook die skep van werksgeleenthede gaan smoor nie. Saam met die nuwe minimumlone wat volgende jaar in werking tree, en die beoogde suikerbelasting later vanjaar, kan baie mense hul werk kwyt wees.

Voorts het ’n minister en ’n adjunk-minister sedert die staatsrede aangedui dat die Grondwet verander moet word om grondroof  sonder kompensasie (herverdeling van grond genoem) moontlik te maak. Die waarde van grond maak ’n belangrike deel van die boer se vermoë uit om produksiekapitaal te bekom, en daarsonder sou baie die groot droogte nie kon oorleef nie. En hoeveel buitelandse beleggers gaan toustaan om te kom belê waar hulle hul beleggings sonder kompensasie kwyt kan wees as die politieke winde in die land net effens draai.

En daar was nie juis ’n groot gedruis van Zuma of Mantashe om die minister en adjunk-minister te repudieer en sigbaar genoeg te bestraf dat die publiek gerusgestel sal wees dat die twee in die wind gepraat het nie.

Selfs soos sake tot nou gestaan het met die regering se rasbenepenheid as vertrekpunt tot omtrent alles, is die ekonomie reeds met remskoene toegerus. Pas is ’n verslag van die Europese Unie se kamer van koophandel uitgereik wat daarop dui dat internasionale sakevertroue in die land sedert 2012 afgeneem het, en dat SEB as die mees negatiewe faktor hiervoor uitgewys is, aldus ’n mediaverklaring van die VF Plus. Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, sê dit bevestig die party se standpunt dat SEB tesame met ander faktore soos regstellende aksie (RA) die groot remskoene is wat ekonomiese groei in Suid-Afrika kniehalter.

“Die wêreld is besig om raak te sien wat in Suid-Afrika gebeur, en bevestig ook dat die jarelange pogings van die VF Plus om die internasionale gemeenskap hieroor in te lig deur onder meer voorleggings aan die Verenigde Nasies (VN) te doen, nie op dowe ore geval het nie.”

Die hele konsep dat wit mense (en waarskynlik bruin mense wat daarin geslaag het om ekonomies die beperkings van die verlede te oorkom) moet opdok om swart armoede teen te werk, blyk by voorbaat weerstand te ontlok. ’n Peiling wat pas deur die NP Van Wyk Louw-sentrum van die FAK bekend  gemaak is, dui daarop dat 70% van die Afrikaners meen hulle het reeds genoeg gedoen om versoening in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Die VF Plus het ’n sterk pleidooi gelewer vir die verhoging van BTW in plaas van ander belasting, omdat dit sal verseker dat almal ’n bydrae sal lewer. Omdat basiese voedselsoorte van BTW uitgesluit is, sou ’n verhoogde BTW die armes nie erg raak nie.

Die opvatting dat restitusie ’n voorvereiste vir versoening moet wees, is nie net ’n deel van die regering se uitgangspunt nie, maar maak ’n belangrike onderdeel uit van swart bewussyn in Suid-Afrika en die VSA. Die verhoging van BTW sou teen die agtergrond van die regering se rasbenepenheid nie vlerke kry nie. Dis egter ’n onderwerp op sy eie.

Dis voldoende om te sê dat die rasonewehandigheid wat in die land ervaar word nou op groot skaal deur die Solidariteit Beweging aangedurf word en die regering daaroor in elke moontlike plaaslike en internasionale forum gaan opdreun. Sukses is ook al tevore behaal waarop uitgebou kan word.

En dis eintlik allerverskrikliks dat hierdie hele kwessie met ’n begrotingsrede van Gordhan in verband gebring moet word, ’n man wat tot dusver vriend en vyand met sy tegnokratiese insig beïndruk het.

Gelukkig vir Gordhan is die algemene vertroue wat Suid-Afrikaners in hom het so groot dat die politieke angel wat nou van regeringskant gelig en rondgeswaai word, min of meer ignoreer word in ontledings van die begroting. Nie almal is ewe tevrede met die tegnokratiese aspekte nie, soos die DA wat ongelukkig is omdat die gordel met staatsbesteding nie stywer ingetrek word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

AL ·

Pravin Gordhan is eintlik ons president se meerdere wat intelligensie en opvoeding betref. Zuma gooi die buzzword van radikale ekonomiese transformasie rond en PG het onderwys as deel van radikale transformasie uitgewys. Ons moet druk plaas dat die onderwyssektor presteer ten einde om die jeug werksvaardighede te leer om hulself te bemagtig.
Indien die jeug werklik in landbou belanggestel het, sou hul nie verstedelik nie.
Al sou die loon dalk vir hul te min gewees het, sou hul wou ondervinding opdoen en dis nie die geval nie. Helaas is daar min werkers wie belangstel om op n vervelige plaas hul lewe te slyt.
Daarom moet daar eerder gekyk word in watter beroepskeuse hulle hulself wil bemagtig.

Leendert ·

Almal dink Gordhan is die groot towenaar, MAAR hy lewer net die begroting om die boeke te laat klop, wel hy probeer, met al die jakkalse en kaders wat om sy hakskene hap, ook die Nommer 1. As die begroting gelewer is, klap almal hande, dan gaan dit maar weer op die ou trant voort. Dit is WAT die departemente met die begroting maak (nie Gorhan nie) en HOE hulle dit doen, DIT is die kruks. Ons land is nou onteenseglik op pad na waar die plase heen op pad is, O’ja en ook bykans alle departemente en die land in die algemeen, elke jaar verder die afgrond in. Nou jaag ons nog die intrepeneurs ook weg.

Cherokee ·

Jy is hopeloos te roekeloos met die woord ‘almal’. ‘n Tipe van breinspoeling is besig om pos te vat. Maroela se kommentators sal ANC stem as hulle Gordhan sodoende kon instem as SP.
Geen goeie syfers en talente met finansies kan dit wegredeneer dat hy lid is van die ANC waaruit Umkhonto we Sizwe gestig is en winkel- en stasiebomme geplant het. En dat hy dit destyds goedgekeur het, nie.

cor ·

My beskeie mening oor die begroting is dat daar iets goeds gaan gebeur nl. die gravey trein ryers moet nog meer belasting betaal, so die gravy kom teen ‘n prys en nie verniet nie.

Johann ·

En Gordhan het gesê dat almal hul regmatige deel moet betaal. Is om 45% belasting as individu te betaal regmatig? Kon daardie mense nie dalk by wyse van toegewings, of dalk ‘n ander manier gevind word om werk te skep met daardie geld wat nou na die regering toe gaan nie? Wat van belasting verminder? Ook die remme wat groei demp, of dood smoor, los maak? Is dit moontlik in ‘n welsynstaat? Ek dink van nee, ons gaan mettertyd almal verarm.

Heinrich ·

Ek sal nie omgee om meer te betaal vir sekere items nie, solank ek weet dat dat alles ordentlik aangewend word en nie 30% aan Nando vir staatsamptenare moet afstaan nie.

Hendrik ·

Gordan het ook vir ons tyd gekoop. Ons moet sorg dat ons (Afrikaners) skuld vry kom en daarby ook ekonomiese selfstandig word. Begin ook om eie ondernemings te ondersteun sodat BEE en regstellende aksie se effek nigeer kan word.

Johann ·

Moenie verbaas wees as die ANC regering binne die volgende 24 uur die positiewe impak wat die begroting sou hê, met een of ander onbesonne daad ongedaan maak.

snoefie ·

lekota van cope het die waarheid mooi verduidelik. die cabinet /parlement wat die grootste, enkele verteerder van staatsfondse is, is onnodiglik groot. om dit in te kort gaan uiteindelik die enigste oplossing wees.

HANS ·

Daar is n gesegde: “You cannot mutiply wealth by dividing it.” Solank dit die heersende denkpatroon van die regering is, is daar net een uiteindelike vooruitsig naamlik algehele ineenstorting van die ekonomie.

Wat die regering ook nie inagneem nie is dat beleggers hulle fondse in n oogwink van een uithoek na die ander skuif indien dit vir hulle beter opbrengste en meer beleggingsekuriteit inhou. Beleggers neem nie besluite gegrond op emosies nie.

Alida ·

Nugter weet wat in daai stortkop aangaan!! Pravin weet hy moet groot slotte aan daai geldkluis sit.

Johann ·

Alida, Pravin is nie die engel wat hulle hom uitmaak en wat almal dink nie. Lees wat beduie Dawie Roodt vandag, hier op die webwerf, van die begroting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.