Nuuskommentaar: Het “Innibos-Afrikaners” Botman doodgemaak?

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

Met woordspel het Adriaan Basson, redakteur van Beeld, na diegene wat Die Stem saam met Steve Hofmeyr gesing het, as “Innibos-Afrikaners” verwys.

Hierdie karikatuur-uitbeelding het ook in ‘n mate vlerke gekry in die ongure taal waarin Afrikaanssprekendes in die daaropvolgende debat deelgeneem het. En ja, baie hét hulself ongelukkig in die proses as kuberghwarre onderskei, en ja, bitter baie hét die Afrikaner in die voet geskiet.

Afsonderlik hiervan is ‘n baie ernstige insinuasie na ‘n groep geslinger wat vir Afrikaanssprekendes hul grondwetlike regte (soos gerugsteun deur die internasionale reg) wil opneem.

Maar is dit nie dalk ‘n baie wye sprong om Afrikaanssprekendes wat graag hul grondwetlike regte, sonder ‘n krieseltjie haatspraak of rassisme wil uitoefen, sommer verantwoordelik te hou vir prof. Russel Botman se dood nie?

Hoewel prof. Jonathan Jansen, rektor van Kovsies, se herhaalde stelling dat iemand die Matierektor, prof. Russel Botman, se dood veroorsaak het, van die begin af media-aandag geniet het, is dit waarskynlik nie juis te ernstig opgeneem nie. Botman was nie ‘n gesonde mens nie, en om rektor te wees is nie ‘n maklike taak nie.

In gister se Rapport het Tim du Plessis in sy rubriek nog na die stelling as “begrafnistaal”, maar nietemin ‘n liederlike stelling, verwys. Jansen is immers bekend daarvoor dat hy hom soms erg blootstel deur van die heup te skiet, en soms sterk taal daarvoor inspan.

Jansen se insinuasie-vraag het egter nie net beperk gebly tot die twee huldigingsgeleenthede – Heidedal in Bloemfontein en die begrafnisdiens in Stellenbosch – nie; hy het ook ‘n artikel in Times Live geskryf onder die opskrif “The big read: Who killed Russel Botman?”

Hierin maak hy onder meer die stelling dat hierdie vraag algemeen onder akademici gevra word, en dat ‘n swart kollega by die US dit aan hom gestel het dat “hulle” hom doodgemaak het. Hierdie vae bronverwysings getuig kwalik van akademiese uitnemendheid.

Ter wille van duidelikheid wat later in die kommentaar nodig is: Jansen verwys na homself en wyle Botman as “swart,” en minstens in hierdie artikel na swart mense as “black Africans”. Jansen meen Botman het onder skoot gekom omdat hy ‘n meer buigsame taalbeleid wou daarstel sodat meer “black Africans” kon inskryf.

Transformasie handel dus nie oor wit en swart (eintlik bruin) nie, maar om Afrikaans noodwendig by universiteite te verskraal om meer “black Africans” te akkommodeer, omdat Afrikaans as “uitsluitingsmeganisme” beskou word. Weereens, soos ‘n ander “swart” rektor, prof. Adam Habib, onlangs gedoen het, word voorstanders van Afrikaans beskuldig daarvan dat Afrikaans as uitsluitingsmeganisme gebruik word. Hulle neem “toevlug” tot die taalregte wat in die grondwet beskerm word, en spring dan dadelik tot die slotsom dat dit tot “wit gedomineerde” kampusse lei wat moreel onregverdigbaar is, demografies onregverdig en akademies gevaarlik. Wat minstens die laaste stelling betref, gebruik talle akademici juis navorsing wat op die teendeel dui. Trouens, die internasionale reg gebruik ook hierdie navorsing om die skep van eiesoortige akademiese instellings voor te skryf – juis om konflik en uitsluiting te voorkom.

Nou wie, volgens Jansen, het Botman se dood veroorsaak? Die beskuldigings loop wyd, maar kan gegroepeer word onder diegene wat Russel se transformasieprogram bemoeilik het. Raadslede, die plaaslike media, die “regsgesinde alumni” en senior mense by die universiteit.

Du Plessis skryf insiggewend oor die Stem-singers: “Maar wie wil dan nou dat die feite in die pad kom van ’n lekker ou stukkie Boere-bashing?” Hoeveel hiervan kan op Jansen ook van toepassing gemaak word?

Wat Jansen se artikel betref – dit getuig minstens van ‘n intense rasbewustheid, en waarskynlik sien hy rasspoke waar die spoke lank reeds verdryf is. Dit sal moontlik nie aan die streng juridiese vereistes van haatspraak voldoen nie, wat nie beteken dat dit nie skadelik kan wees nie. Dit staan baie ver verwyder van sy optrede rondom die Reitz-vier wat die Nederlandse koerant Trouw, hom in ‘n omvattende artikel as oud-pres. Nelson Mandela se opvolgers as versoener laat stel het.

Die meer sigbare kritiek teen die sogenaamde gatvol-Afrikaners het egter nie uit swart (eintlik bruin) geledere, of swart (African)-geledere gekom nie, maar van Adriaan Basson (Beeld), dr. Piet Croucamp en die afgelope naweek, twee Media 24-artikels deur Max du Preez. Basson en Croukamp se artikels is reeds oor-ontleed. Max dra min tot die debat by, maar daar moet tog gevra word na die geldigheid van sy stelling dat die “beswaarde Afrikaners, ondanks hul groot geraas, ’n klein minderheid is”. Hy motiveer sy stelling aan die hand daarvan dat net sowat 12% van die Afrikaners vir partye regs van die DA gestem het.

Maar toon opnames dan nie dat baie van die Afrikaners wat vir die DA stem, dit nie weens saamstem met die beleid doen nie, maar om ander redes soos die opvatting dat die DA die beste platform bied om die ANC te looi?

So geldig soos wat dit veronderstel is om mense se ideologiese oriëntasie aan die hand van hul steun vir duidelike ideologiese partye te bereken, sal dit onwys wees om nie ook te let nie op aspekte soos deelname aan kulturele en burgerlike instellings wat nie noodwendig dieselfde ideologiese gees adem nie, boikotaksies van sekere koerante en die impak op sirkulasie, en ander aanduiders. Kortom, om vir die DA te stem, beteken nie noodwendig dat so ‘n persoon Max, Adriaan of Piet as meningsvormers aanvaar wat “namens” hulle praat nie.

Wat is aan die gebeur dat dit lyk of die ideologiese damme van liberale en negrofilistiese ontleders tekens van ‘n droogte begin toon? Dit is immers simptome van wat nou selfs reeds in akademiese kringe die “gatvolheidsfaktor” genoem word. En die manier om dit aan te spreek is nie om beledigend te raak nie – dit verhard eenvoudig die gesindhede.

En hierdie verdiepte polarisasie waar politieke verskille die eienskappe van vyandskap aanneem, kom ook elders in die wêreld voor. Lees gerus Maroela Media se artikel oor hoe die kloof tussen ondersteuners van die Republikeinse Party en die Demokratiese Party in die VSA verdiep.

Die oorsake van die “gatvolheidsfaktor” is nie moeilik om te vind nie. Gister is nog ‘n bejaarde boer te midde van ‘n onophoudelike vlaag plaasmoorde vermoor. Wetgewing om mense op grond van ras uit werksgeleenthede te wring wat verskerp word – terwyl baie duisende Afrikaanssprekendes reeds hul botter oorsee verdien, dikwels onder gevaarlike omstandighede. Daar is ‘n deurlopende gevoel van taalvervreemding. Daar is munisipale dienste wat lank nie meer as middelmatig beskryf kan word nie, met riool in die water seker een van die gevaarlikste manifestasies hiervan.

Dit sal diegene wat nie gisteraand van RSG se Kommentaar, en die ontledings van prof. André Duvenhage en Theo Venter geluister het nie, loon om die klanksnit van die program te gaan luister. Venter het onder meer ‘n paar keer genoem dat die proses om ‘n nasionale eenheid te vorm, baie lank kan neem. (Ongelukkig is die klanksnit nog nie gelaai dat ‘n skakel aangebring kon word nie – Red).

Maroela Media het onlangs ook berig oor hoe die vertoon van replikas van die konfederasie se vlag in die VSA ‘n klip in die skoen is – 150 jaar na die burgeroorlog. In ‘n artikel in Trouw, skryf Hanne Obbink en Antoine Verbij oor hoe die Nederlanders se negatiewe gesindheid teenoor die Duitsers, hoofsaaklik gevoed uit die Tweede Wêreldoorlog, verander het. Twintig jaar gelede het opnames nog getoon dat 70% van die Nederlanders tussen die ouderdomme van 15 en 19 jaar negatief teenoor Duitsland en die Duitsers gestaan het. Latere opnames toon dat 80% van die Nederlanders die Duitsers nou as simpatieke mense ervaar – dieselfde persentasie as die Nederlanders wat hul eie volksgenote as sodanig ervaar.

Dit alles is veel langer as die tydperk wat verloop het voor oud-pres. Nelson Mandela ‘n rol in versoeningspolitiek begin speel het. Gelukkig was daar nooit ‘n periode in die land se geskiedenis waar daar nie ook mense was wat uit hul pad gegaan het om gesindhede te verbeter nie – trouens, Maria van Riebeeck kry juis hiervoor in die geskiedenisboeke erkenning. Die enorme poel van welwillendheid wat nog buite-om die uitgesproke leierskorpse van bouers en slopers bestaan het ‘n baie lang geskiedenis, maar dit maak daardie poel nie immuun teen die aanslae van diegene wat die gatvolheidsfaktor stook nie – ongeag uit watter politieke hoek.

En moet tog nie die grondwet as die beste ter wêreld besing en dan langlippie trek as iemand sy regte daarin probeer opneem nie.

Ons is tot mekaar veroordeel, en om mekaar veralgemeend as dom, agter die klip of innibos uit te maak, gaan nie help nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Herman, dankie vir ‘n puik kommentaar. strate beter as enige ander van die Boere Bashers (Lees Adriaan, Jonathan, Max en les bes Zelda.

Jessica ·

Jonathan Jansen word nog slegs in die lefty-dampkring en deur sy Afrikaanse groupies ernstig opgeneem en is lankal nie meer al die aandag werd nie – behalwe natuurlik vir die skade wat hy met sy kommentaar kan aanrig as gevolg van sy status.

Hy het boonop self sy yslike “besorgdheid” oor Afrikaans en Afrikaners verraai vir wat dit werklik is – ‘n dekmantel om hom chronies met ons sake te bemoei – met sy insinuasie dat Afrikaanse skoolkinders in Engels onderrig behoort te word.

Hy maak ook geen geheim daarvan nie dat hy en sy gesin tuis Engelssprekend is, wat in die konteks van sy uitlatings oor Afrikaans en Afrikaners ‘n nie-so-onskuldige geurtjie-nie bykry.

Sy anti-Afrikaanse onderrok sleep al meters agter hom aan met sy ellelange lys bedenklike kommentare oor allerlei onderwerpe wat ons grondwetlike regte ten nouste raak.

Boetman (wat so die #$#*** in was) het destyds al daarop gesinspeel dat Jansen met sy verdagte idees nie met die welsyn van Afrikaners en Afrikaans vertrou kan word nie.

Eintlik kan hy maklik opgesom word: hy is ‘n gewaardeerde akademiese top-kader.

Demokraat ·

Sonder kras woorde en onwelriekende insinuasies, het jy jouself in jou stuk hierbo eintlik goed verwoord.

Die Afrikaner moet maar aanvaar dat hy eintlik min tot geen vriende het al sou daar soms klanke tot die teendeel opduik.

Alwyn Beetge ·

Jonathan Jansen het lankal sy eie rassistiese benadering in die politiek deur sy onverskillige uitsprake bevestig. Om te beweer dat die Afrikaners tot sy dood gelei het is uiters oppertunisties van Jansen alhoewel nie onverwags nie.Prof Jansen behoort uit sy pos as rektor van n voormalige Afrikaanse Universiteit verwyder te word.

HEVW ·

Ek is oortuig Jansen is nie opgrond van miriete sy rektorspos waardig nie. Intelektueel beslis nie.Dit staaf sy voortdurende dubbelpratery en sy sensitiewe gebrek tov die reuse verantwoordelikheid wat hy veronderstel is om te verrig.

HEVW ·

Ek is oortuig Jansen is nie opgrond van meriete sy rektorspos waardig nie. Intelektueel beslis nie.Dit staaf sy voortdurende dubbelpratery en sy sensitiewe gebrek tov die reuse verantwoordelikheid wat hy veronderstel is om te verrig. Met so n ingesteldheid strydig teen die gees van die instelling wat jy verteenwoordig sowel as die Grondwet moet daar sekerlik baie spanning wees. So mnr Jansen jy kan dalk vir jou eie dood veantwoordelik gehou word.

Koos Karoo ·

Dit is onbetaamlik vir die rektor van een universiteit om voortdurend negatiewe kommentaar te lewer op ander Suid-Afrikaanse universiteite. Jansen het gedurig veel te sê oor die Noordwes-universiteit, Universiteit van Stellenbosch, en onlangs selfs die Universiteit van Kaapstad. Dit terwyl sy eie UVS veel laer op die amptelike navorsingslys as enige van hierdie drie universiteite staan, en daar veel kwaaier kritiek op hom en sy universiteit gelewer kan word. Interessant dat hy nooit, maar nooit, kritiek lewer op die ander 20 SA universiteite nie….
Sy jongste tirade oor “Who killed Russel Botman?” is onsmaaklik verby en getuig van uiterste swak oordeel, en ‘n oordosis van rassisme, en is kennelik die resultaat van ‘n diepgewortelde probleem van die skrywer daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.