Nuuskommentaar: Het jy ’n hart soos Chris Hart?

Chris Hart soos hy op sy Twitter-profiel verskyn. Foto: Twitter

Hoe reageer jy as jy onregverdig deur die post-apartheid-Suid-Afrika getrap word, veral as jy oor die vermoë beskik om met mening terug te slaan? Of probeer jy ’n brugbouer bly en ’n positiewe bydrae lewer?

Verskeie Maroela Media-lesers wat gereeld kommentaar op berigte en rubrieke lewer, soos die uiters begaafde Paul, het ’n besonder stief ontvangs in die post-apartheid-SA gekry. Tog lewer hy gereeld uitstekende, positiewe bydraes.

Suid-Afrikaners hoor gereeld hoe ’n goeie ding dit is om ’n rolmodel te hê om leiding te kry oor hoe om in Suid-Afrika kop bo water te hou. Nie sommer enige rolmodel nie, maar iemand met integriteit wat werklik ’n navolgenswaardige voorbeeld stel.

Voor gesê word of die ekonoom Chris Hart so ’n persoon is, word die horlosie kortliks twee en ’n half jaar teruggedraai. Dit was toe Penny Sparrow opslae gemaak het met haar opmerking dat swart mense soos “monkeys” is.

Maar terwyl, soos ’n Engelstalige joernalis geskryf het, die “pennie gedrop” is, het Standard Bank ’n reusebom neergewerp.

In die spervuur was sy baie bekende en hoogs bekwame ekonoom. Chris Hart was gewild by die media en is byvoorbeeld gereeld deur die media gebruik om op TV ekonomiese ontledings en vooruitskattings te doen.

Toe skors Standard Bank vir Hart en kondig aan dat dit ooreenkomstig die bank se beleid ’n ondersoek gaan doen na ’n “rassistiese” twiet van Hart. Hart het naamlik getwiet, soos deur die media gemeld, dat 25 jaar ná apartheid beëindig is, die slagoffers meer word, tesame met ’n aanduiding van toe-eiening en haat teenoor minderheidsgroepe.

Die twiet het soos volg gelui: “More than 25 years after Apartheid ended, the victims are increasing along with a sense of entitlement and hatred towards minorities …” (3 Januarie 2016)

Hart reageer met ’n tweede twiet: “This tweet has caused offense – never intended for which I apologize wholeheartedly. Meant to be read in context of slow growth rate.”

Drie maande later bedank Hart. Hy skryf soos volg hieroor:

From Chris Hart

“I have elected to resign from Standard Bank in the wake of an unfortunate social media event at the start of the year. Although I have not been found guilty of any wrongdoing after extensive consultation, it is my preference to pursue alternative opportunities.”

Chris Hart se twiet. Foto: Twitter

Een hiervan is om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak, gemik op opheffing.

As gekyk word na Hart se reaksie op die behandeling wat hy gekry het, word sy staal getoon. Op ’n onlangse mediafoto verskyn hy saam met die groep wat tot stand gekom het om dorpe wat skade gely het deur relatief onlangse betogings, te herbou. Die groep het besluit om by Coligny te begin. Maar gaan soek op elektroniese argiewe enige verwysing hierna. Dit lyk of hy nou beskeie en agter die skerms dié rol vertolk. Hy gee wel uiting aan ’n voorneme van sy brief waarin hy verduidelik het waarom hy by Standard Bank bedank het, en sy voornemens, soos om op grondvlak by gemeenskappe betrokke te raak en met opheffing te help.

Dit sluit ook aan by die begrip “politieke korrektheid”, iets waaroor daar in Maroela Media al dikwels uitgebreid geskryf is, maar wat nou op verskeie fronte weer aktueel geword het.

Ons kyk vervolgens in meer detail na die begrip “toe-eiening/entitlement”.

Hart het, soos baie Suid-Afrikaners, wat Helen Zille insluit, asook die meisies wat met die “black facing”-voorval in die sop was, uitgevind dat sekere woorde by swart mense as’t ware by verstek as onaanvaarbaar beskou word. Een so ’n woord is “toe-eiening/entitlement”.

Maar toe-eiening het darem te veel toepassings, ook regstoepassings, om sonder meer in die ban gedoen te word as sou dit rassisties wees. Solidariteit, by monde van Sanette Viljoen, definieer diefstal byvoorbeeld soos volg: “Definisie: Diefstal is die wederregtelike, opsetlike toe-eiening van ’n roerende liggaamlike saak wat:

(i) aan iemand anders behoort en in iemand anders se besit is; of

(ii) aan iemand anders behoort en in die dader se eie besit is; of

(iii) aan die dader self behoort, maar in iemand anders se besit is en sodanige ander persoon ’n reg het om die saak te besit wat regtens voorkeur geniet bo die dader se besitreg, met dien verstande dat die opset om die saak toe te eien ’n opset insluit om die saak blywend te ontneem.”

Kom die ANC se planne om grond sonder vergoeding te onteien nie op ’n vorm van toe-eiening, en dus diefstal, neer nie?

Al meer mense het in hul skrywes die woord begin inspan om ’n gees wat onder sekere mense vaardig is, te beskryf. Een hiervan, en daar is op Maroela Media toe ook daarop gewys, was die vermaarde prof. Willie Esterhuyse. Min mense sal hom as rassis beskou. Lees gerus die nuuskommentaar hieroor hier.

Hoe anders beskryf ’n mens die gees vaardig onder migrante uit die Oos-Kaap wat hulle in die Wes-Kaap kom vestig? Dadelik is daar ’n aandrang op huise, skole (en spesifiek Engels-medium skole), werk, straatligte en vele meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Armand ·

Goed gestel Herman.

Ek is daarvan oortuig dat die kwessie van grond ‘n goed-beplande dwangvoeding is wat kunsmatig op Suid-Afrikaners afgedwing word met die hoop dat dit dié politieke kwessie vir die verkiesing gaan word.

Die Instituut vir Rasseverhouding se navorsing oor wat Suid-Afrikaners regtig wil hê, wys egter dat werkskepping en beter onderwys die regering se fokus moet wees.

Grond[hervorming] is heel onder op die lys, maar tog word dit voogehou as die één ‘regstelling’ wat Suid-Afrikaners se ongelykheid gaan aanspreek.

Maar wie wil werk as Die Staat vir jou sorg – al is die hoe gering? Die Vryheid wat ons Demokrasie beloof, kan slegs werk as verantwoordelikheid (eerstens teenoor jouself) toegepas word. Anders val die fondasies van ons demokrasie inmekaar. Dit gebeur gewoonlik in sosialisme en kommunisme. Dit gebeur ook nou.

Die doel van sosialisme (dit bestaan beslis steeds, deesdae op ander vlakke) is om soveel mag vir so lank moontlik te hou.

Wat behoeftige Suid-Afrikaners nie besef nie, is dat, wanneer grond onteien gaan word volgens die voorgestelde wetswysiging [Artikel 25], die grond of eiendom ook nie aan hulle sal behoort nie.

Eiendom is in staatsbesit – nie in die besit van individue nie.

John ·

Chris Hart is ‘n Ryk Engelsman. Maar dis is waar AfriForum word nou ook deur slim Engelse bestuur en ons boere koop vliegtuie om gereeld die kwasi-eerwaarde-ryk-Engelse-boer Buchan se preke in te adem en sy bybels te koop saam met sy soet ‘Engelse patats’. Hoe lyk dit met ‘n Brit as raadgewer en leier vir ‘n Anglo-Boerevolkstaat… een wat net Engels magtig is en een wat ons plat boere bietjie kan opvoed tov van Britse-gentlemanskap… en anti-rassistiese menswees. Natuurlik is ‘n paar Hollanders altyd welkom, die met hul geradbraakte oop keelgate… vir hul wyse volsinne vir die daaag….

Mrs H ·

Absoluut!!! Was my idee ook. Kan nie verkeerd gaan nie. Selfs as Minister van Finansies! Sal vir ons n voorreg wees, as mnr Hart homself beskikbaar sal stel vir so n reeling.

Tydmors ·

Meneer Hart is geregtig op sy opinie. Steeds vreemd dat Malema se opruiende rassistiese uitsprake en aanhitsing tot geweld en moord NOOIT vervolg word nie, maar dat elke tweet en fb inskrywing van ‘n witte ontleed word en mense agterna van rassisme beskuldig en hulle vervolg word. Selfs Helen Zille se twiet oor kolonialisme was niks mee verkeerd nie. Sy was ‘n vegter vir die onderdruktes haar lewe lank, maar ek stem ook saam dat kolonialisme nie net sleg was nie. Die Kolonialiste soos hulle dit noem was anyway nie die mense wat apartheid ingestel het nie. Rupert mag nie ‘n mening he nie Hart mag nie ‘n mening het nie Sparrow mag nie ‘n mening he nie maar Malema en sy trawante mag joernaliste aanval nie net per mond nie maar ook fisies en NIKS oorkom nie. Mnr Hart sal soos me. Zille en me. Bloch agterkom dat hulle hulle tyd mors om goed te probeer wees vir die sogenaamde agtergeblewenes en onderdruktes .. maak nie saak hoe goed jy vir hulle was of is nie, hulle sal jou in die rug steek of vervolg oor ‘n fb inskrywing, ‘n twiet wat hulle nie pas nie!. Dit is maar dieselfde beginsel as ‘n tuinier wat sy werkgewer om die lewe bring na 15 jaar wat hy in die tuin gewerk het, sy geld verdien en kos gekry het .. LEER TOG NOU !

Carl ·

Kyk wat het gebeur met Piet Retief, Dirkie Uys en hul manskappe en 180 jaar later sit ons nog met dieselfde probleem. Self beskikking is die enigste uitkoms. Ons dink nie dieselfde, ons deel nie dieselfde waardes en ons kulture verskil hemels breed. Daar is nie n ander oplossing

nico k ·

Ek stem saam met Armand dat grond hervorming net ‘n politieke spel is om stemme te wen. Dit gaan nie suksesvol wees nie. As dit ooit gaan gebeur. (Hoeveel grond is al sedert 1994 uitgedeel? En wat was die sukses daarvan? En watter sukses het die grondhervorming in Zimbabwe gehad! )
Maar ek stem nie saam met John nie. Die Afrikaner is lankal nie meer in vyandskap met Engelssprekendes nie. Soos Rip van Wyk slaap jy nog steeds na100 jaar.

Cornelia ·

Toe Johannes die Doper Herodus met God se waarheid teregwys, het hy aanstoot geneem. Herodias het het haar gewreek. Toe Jesus teen Herodus gewaarsku word, het hy anders as Hart, nie om verskoning gevra omdat Hy op tone trap nie maar so geantwoord op ‘n doodsdreigement: Luk 13:32 ” En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar. Dat mense wat die waarheid spreek soos wat mnr. Hart dit tereg gedoen het, is die regte ding om te doen. Om agterna om verskoning te vra omdat ‘n vrot kol aanstoot geneem het, is om jouself te “onthoof.” Ons het nie nodig om water te trap as die Waarheid die enigste hoop op genesing is nie. Wie sal staande die sandstorms trotseer en wie gaan knak? Laat ons staan vir die waarheid.

humor ·

Stem saam met tydmors. Hoe lank sal dit nog neem om die werklikheid van Afrika te aanvaar? Dra ons eie Afrikaanse geskiedenis dan nie n helder verstaanbare boodskap nie.

Hennie ·

Chris Hart is n gentleman! Moet adb nie die Anglo boere oorlog agter die build loop haal nie…julle is beter as dit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.