Nuuskommentaar: Het Mantashe steelhou teen Zuma ingekry?

Gwede Mantashe en president Jacob Zuma Foto: Vathiswa Ruselo via RDM

Gwede Mantashe en president Jacob Zuma Foto: Vathiswa Ruselo via RDM

Was Gwede Mantashe se praatjies gister, tydens ʼn voetsoolvlak-besoek aan onder meer Evaton, dat die ANC ook grootkoppe aan die pen moet laat ry weens korrupsie, ʼn venynige betrekhou teen pres. Jacob Zuma, of maar net weer bekpraatjies om die ANC ʼn beeld van fatsoenlikheid te probeer gee? Besef Mantashe hoe omvangryk die implikasies van sy voornemens is?

Kort voor pres. Jacob Zuma se sogenaamde 8 Januarie-toespraak die naweek in Gauteng, het die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, gaan voetsoolwerk doen in onder meer Evaton. Tydens sy “long walk” het hy veel te sê gehad wat vir die ore van die media bedoel was.

Sekerlik die interessantste was sy opmerking dat korrupsie saam met diewe en faksionalisme groot bedreigings vir die toekoms van die ANC inhou. Hy het groot gewag gemaak daarvan dat (die ANC) korrupsie moet vasvat; nie net onder die klein mensies nie, maar ook diegene in die hoogste gestoeltes moet vasgevat word. Slegs dan sal die gewone lid oortuig wees van die ANC se erns om korrupsie vas te vat.

Die enigste manier waarop Mantashe hieroor geloofwaardigheid gaan wen, is as die ANC die daad by die woord voeg. Sal die ANC werklik ʼn ander deuntjie begin sing en die pogings om die meer as sewehonderd aanklagte van onder meer korrupsie teen Zuma heringestel te kry?

Nie sommer nie, al lyk dit soms asof Mantashe nie veel ooghare vir Zuma het nie.

Mantashe se uitlatings was egter so wydlopend dat van die media, wat die loop meegemaak het, glad nie oor die fokus teen korrupsie verslag doen nie, maar oor ander aspekte soos dat takke moet leer om die regte en nie die gewildste mense nie as leiers te nomineer. Veral name van mense wat “in die donker” ingesmokkel word, moet verwerp word.

Mantashe se uitlatings is veral belangrik omdat dit die eerste ANC-leier is wat ʼn voorneme-vooruitskouing vir 2017 gee. Zuma se Nuwejaarsboodskap, wat die SAUK tot vervelens op opeenvolgende dae in ooreenstemmende nuusbulletins heruitgesaai het, het meer aan ʼn interskole se “groot brêgh” herinner as ʼn belangrike toespraak van ʼn staatshoof. Buitendien is daar die albatros van geloofwaardigheid.

Asook die gespog van die ANC oor prestasies, sonder om in ag te neem dat ook ʼn ander vrotsige regering min of meer dieselfde en dalk selfs meer, met die hulpbronne sou kon bereik.

Hoewel die 8 Januarie-toespraak eintlik ʼn “huishoudelike” ANC-“hêppenieng” is (waarvoor die Gautengse regering vir die naweek drankregulasies verslap het), is dit tradisioneel ook die geleentheid waar die land vroeg ʼn blik kan kry van wat in die staatsrede wag. Die ANC (en Zuma in die besonder) ondervind immers steeds moeite om ʼn onderskeid te tref tussen die ANC en die regering (behalwe as die ANC in ʼn moeilike posisie verkeer en die onderskeid getref word om blaam te verplaas).

Tensy Zuma homself weer verkiesbaar stel om aan die einde van die jaar tot ANC-president herkies te word en wel verkies word, is hierdie sy afskeidstoespraak in hierdie hoedanigheid.

Zuma se toespraak volg ook kort nadat die ANC (en gevolglik ook die Departement van Internasionale Betrekkinge) ʼn yslike windeier gesluk het deur die DA-burgemeester van Tshwane se besoek aan Taiwan in die skerpste taal te veroordeel. Solly Msimanga word selfs van hoogverraad beskuldig. Maar, so herinner Netwerk 24 die land vandag in sy hoofartikel, in 2014 het minister Rob Davis nog ʼn handelsafvaardiging na Taiwan gelei en bande met Taiwan geloof. Die regering handhaaf ook ander betrekkinge met Taiwan. Die vyeblaar wat nou voorgehou word, is dat Msimanga ereburgerskap van die hoofstad Taipei ontvang het.

In nog ʼn artikel skryf die bekende Rhoda Kadalie onder meer die volgende: “Dit is tyd dat die ANC homself herskep om ʼn mate van vertroue onder landsburgers te wek, anders gaan hy ʼn uitgerekte dood tegemoet wat op hewige verliese in die verkiesing van 2019 sal uitloop.

“Pres. Jacob Zuma was byvoorbeeld die hele 2016 in die kollig omdat hy (onsuksesvol) die ondergang probeer bewimpel het van dié wat sy pogings dwarsboom om ontslae te raak van enigeen wat met aanklagte teen hom sal volhard nadat hy afgetree het. Hy het ook diegene geteiken wat sy verhouding met die Gupta-broers probeer ontrafel.

“Die openbare beskermer se staatskapingsverslag, op aandrang van Zuma self, was nóg ʼn spyker in ʼn doodskis wat maar nie wil toeklap nie.” Lees gerus die hele artikel via die skakel.

Is Mantashe se uitlatings ʼn vroeëre aanduiding van die ANC se herskepping wat Kadalie oordeel vir die party nodig is? Kom Zuma nog geloofwaardig oor vir ʼn groot deel van die land se mense, of sit baie mense eenvoudig die TV af wanneer die SAUK met heruitsendings van dieselfde Zuma-toespraak baie kykers die wille waks in maak?

Is daar nog enige sin daarin om ʼn perdevy as ʼn regte vy te probeer verkwansel?

Tog, Zuma-bashing het ʼn beperkte doel. So onverdiend soos dit ook mag wees, die kiesers moet tog ook verby Zuma na die ANC van môre (na die einde van vanjaar maar veral na 2019) kyk, omdat Zuma se termyne nader aan die eindfluitjie kom. Soos selde tevore, hang die ANC se voortgesette lewensvatbaarheid van Zuma se opvolger af. En tensy die ANC in 2019 nie ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, gaan die keuse van Zuma se opvolger die land hetsy positief of negatief raak.

Hou dus maar nuus oor die Solidariteit Beweging dop oor sy stappe vanjaar om ʼn groter mate van kulturele selfbeskikking te bewerkstellig. Maar nie net dophou nie, neem deel. Want met die onvoorspelbaarheid en veral blaamverplasing van die ANC, is daar min waarborge dat taal- en kultuurgemeenskappe se grondwetlike regte gaan oorleef.

Onthou, die dae van ʼn goedige Zuma wat saam met Steve Hofmeyr en ander bekende Afrikaners braai en Zuma wat vir die Afrikaner ʼn eie Nkandla gun, is lankal verby en diep onder die stof begrawe.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sarie ·

Jy hoop hy is so tai soos ‘n ratel. Die wysiging van die drank wet is weer eens ‘n bewys dat dit vir hulle nie oor die mense se belange gaan nie maar net oor die klein groepie kaders

Connie ·

Steelhoue werk nie meer nie. Daar moet nou reguit gemoker word.

Johann ·

Steelhou, ja, dalk. Sy uitsprake, te enige tyd, egter, kan mens gerus beoordeel teen dit wat hy en wanneer hy dit in die verlede gesê het. Hy het al dikwels so iets kwytgeraak, so terloops, maar altyd saam met ‘n klomp ander goed. Ek glo hy voer eierdanse uit, wil op twee stoele sit, ek dink hy is ook maar bang as Zuma die dag waai, dan is sy tyd ook verby, hy speel veilig, lees die gety en tree daarvolgens op.

Jackson Mthembu is nou ‘n persoon wat kan opstaan vir dit waaraan hy glo.

Jan ·

Dit sal beter gaan as deugde soos geloofwaardigheid, verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid hulle regmatige plek in hierdie land kan inneem. Dan behoort dit nie te gaan oor wat gesê word nie maar wat gedoen word.

Lance ·

Kan die land en al sy mense net 2017 ingaan met n bq moed dat die anc die regte goed begin doen en sê sodat mense weer kan belê in SA en daar WERK geskep kan word …ek moet se ek twyfel sterk as ek na 2016 se skandes op skandes kyk …dis asof hulle net alles vir almal wil verongeluk !

Johann Marx ·

Mense begin nou self beleef dat ‘n “struggle organization” nie noodwending ‘n goeie regering maak nie. Vir 20 jaar struggle jy om gebore te word, struggle jy deur die skool, struggle jy om ‘n job te kry, struggle jy om ‘n eiendom te koop, struggle jy om ‘n ID boek te kry, struggle jy om ‘n kwalifikasie te kry, struggle jy teen inflasie, struggle om elektrisiteit te kry, struggle vir skoon drinwater, struggle vir goeie gesondheidsorg, struggle vir openbare vervoerstelsel, struggle vir infrastruktuur onderhoud……Dis tyd om ‘n regering te kry wat ophou struggle en begin achieve!!!

Rynhardt ·

Nie net moet groot koppe in Anc waai vir korrupsie nie, maar wat baie, veral hoofstroommedia en liberale kommentators egter opsetlik versuim om te se, is dat die Anc strafregterlik aangekla moet word vir die vernietuging van SA ekonmie! Selfs die Anc-jeugliga het verlede haar op rekord erken dat hy die vernietiging van ekonomie ondersteun.Anc gaan ekonomie nie regruk nie, terwyl land net verder gespeel word met demokrasie! Zuma en Anc is nou baie gevaarlik en Anc gaan nie SA op n skinkbord vryelik oorhandig nie.

Johanna Botha ·

Johann jy slaan die spyker op die kop ! Genoeg geoefen !

Leendert ·

Nou wanneer kom die uitklophou? Maak dit dan sommer ‘n voltreffer.

al ·

Die senior amptenare praat uit 2 monde en weerspreek hul soms gruwelik. Hul weet wat goed is vd land tog het hul bankvas agter Zuma gestaan toe 3 ministers n mosie van wantroue indien. Ons moet selfbeskikking ondersteun, want niemand anders gaan dit vir ons doen behalwe onsself.

Jaycee ·

Soos ek dinge lees gaan SA se politieke rigting in die nabye toekoms sterker beinvloed word deur mense van Thuli, Kadalie ens se kaliber. Zuma en sy bende skurke sal welliswaar nie binne paar maande verdwyn nie maar die aanwysers is reeds daar dat dit net ‘n kwessie van tyd is. Die mense raak al hoe meer gatvol vir die ANC se mafia-truuks. En om te glo die strukture wat Zuma geskep het om te verseker by bly aan bewind is onbeweegbaar, is ‘n hersinskim; baie groter en sterker regeringstrukture (Rusland ens) het maklik omgedop. Al wat nodig is, is dat die verandering aanklank vind by die bevolking en die nodige internasionale ondersteuning daar is – en beide hierdie elemente kom nou vinnig nader.

John ·

Mense wat hoop die ANC se kiesers gaan skielik anders dink en ‘ander’ leiers kies, hoop verniet. Sondag se suipfees gaan steeds een wees. En al die probleme en klagtes vergete. Hierdie soort geesvang is eie aan Afrika. Matashe praat en praat altyd en niemand steur hulle aan hom nie. No1 gaan weer groot beloftes maak en almal gaan hom weer eens glo. Hy speel sy onderdane soos ‘n jojo soos Afrika-leiers altyd maar doen..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.